Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Waar gaan die lopie in skuld met negatiewe opbrengste eindig?
20 Februarie 2020

Uitleners kry verbruikers nie sover om geld uit te gee nie en die bateprysborrel groei terwyl die prys van skuld daal. Kan dit onverpoos voortduur? 

Foto: Shutterstock

Verlede jaar het ek geskryf watter vreemde verskynsel negatiewe skuldopbrengste is, waar mense geld uitleen sonder om ’n opbrengs op hul belegging te kry.

Hulle kry trouens minder terug as wat hulle uitleen, dus betaal hulle in effek die lener om by hulle geld te leen. Ek het toe gesê dis mos absurd en het onderneem om ’n opvolgrubriek te skryf. Wel, die goeie nuus is dat hierdie die opvolgrubriek is.

Die slegte nuus is dat dit nog net so gek is. Ek weet ook steeds nie regtig hoe dit gaan eindig nie, maar ek het ’n paar gedagtes. Nog goeie nuus is dat skuld met ’n negatiewe opbrengs einde verlede jaar volgens Bloomberg tot sowat $11 duisend miljard afgeneem het ná ’n hoogtepunt van $17 duisend miljard in die middel van 2019.

Simon Brown

Dit daal dus, maar sowat ’n kwart van skuld met ’n beleggingsgraad lewer steeds negatiewe opbrengste. Nou ja, negatiewe opbrengste is nie juis iets nuuts nie.

’n Bate soos goud bied nie opbrengs nie, terwyl die bergingskoste daarvan dit in effek ’n bate met ’n negatiewe opbrengs maak. Verder het selfs geld in die bank al dikwels rentekoerse laer as inflasie verdien, wat ’n negatiewe reële opbrengs beteken aangesien jou bestedingsvermoë afneem: dis ’n soort negatiewe opbrengs.

As ’n mens egter betaal word om skuld op te neem – en Jyske Bank, die grootste uitlener in Denemarke, het verlede Augustus tienjaar-huislenings met ’n negatiewe opbrengs aangebied – sal ons tog sekerlik almal soveel skuld as moontlik opneem? Dit sal batepryse opjaag, want ons sal ons trommeldik leen om bates op te koop en geld te maak.

In wese is dit die belangrikste ding van negatiewe skuldopbrengste: dit is ’n aansporing vir bate-aankope, wat welvaart laat toeneem en in teorie tot inflasie lei. Nou het ons batepryse gesien styg, maar nêrens ter wêreld sien ons verbruikersinflasie nie.

Bate-inflasie

Ons sien bate-inflasie, maar nie inflasie in die daaglikse lewe nie, want skuld met ’n negatiewe opbrengs gaan na bates eerder as verbruiksbesteding.

Uiteindelik sal beleggers egter ondanks die negatiewe opbrengste na batepryse kyk en weier om die opgeblase pryse te betaal. Dan sal die hele sirkus uitmekaarval, almal kies die hasepad en batepryse stort ineen.

Dié soort ineenstorting van batepryse is iets wat sentrale banke gewoonlik hanteer deur rentekoerse te verlaag. Nou is rentekoerse egter reeds só laag dat ’n verdere verlaging die negatiewe opbrengskoerse net laat verdiep, en só ontrafel als verder.

Ons sien bate-inflasie, maar nie inflasie in die daaglikse lewe nie, want skuld met ’n negatiewe opbrengs gaan na bates eerder as verbruiksbesteding.

’n Grafiek wat ek nie kan kry nie, maar baie graag sou wou sien, is hoe die wêreldwye bruto binnelandse produk (BBP) oor ’n tydperk met batewaardes oor dieselfde tydperk vergelyk. Daar is sekerlik ’n ál groter gaping tussen BBP en batepryse, waar batepryse teen ’n vinniger tempo as BBP styg.

Opbloei in batepryse 

Dit is die opbloei in batepryse wat ons tans sien, in groot mate danksy negatiewe opbrengste. So, hoe wen die spiraal weer af? Die wêreld se ekonomie is verslaaf aan skuld. Soos met enige verslaafde wat sy verslawing te bowe moet kom, is dit ’n moeilike en pynlike proses.

Behoort ons dan ’n grootskaalse kwytskelding van skuld op soewereine vlak en miskien selfs op korporatiewe vlak te sien? Dit sal die verkeerde boodskap aan leners stuur en net die volgende skuldborrel verseker.

’n Ander alternatief is dat ons óf ernstige batepryspyn gaan ervaar óf dat ons miskien ’n nuwe werklikheid betree het – dié van lae en negatiewe rentekoerse.

’n Ander alternatief is dat ons óf ernstige batepryspyn gaan ervaar óf dat ons miskien ’n nuwe werklikheid betree het – dié van lae en negatiewe rentekoerse.

Hoekom moet rentekoerse in elk geval hoog wees? Die teorie is dat dit die uitleners beskerm teen leners wat wanbetaal. Maar wat as die uitleners soewereine state is wat die vermoë het om geld te druk? Het die uitleners dan soveel beskerming nodig as wat voorheen gemeen is?

Ek besef ek lig probleme uit sonder om werklik oplossings te bied, maar soos die Chinese vloek blykbaar lui: “Mag jy in interessante tye leef.” Dis sowaar wat ons doen. Ek weet nie hoe dit gaan uitspeel nie, maar ek is seker dat langdurige goedkoop skuld gevaarlik is.


Meer oor:  Skuld  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.