Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Waarom aandeelpryse tuimel
15 Augustus 2019

As ’n mens sien hoe ’n gesogte aandeel se prys op wat algemeen die mediumtermyn genoem word, met tussen 80% en 90% val, lei dit onvermydelik tot die vraag: Hoekom het ek dit nie sien kom nie?

Verskeie “stewige” plaaslike aandele het die laaste paar jaar sulke dalings beleef – en baie pyn vir sowel aftreefondse met groot beleggings as kleinbeleggers veroorsaak.

Daarby was daar genoteerde maatskappye wat gely het onder korporatiewe bestuur kwessies (beeldpoetsery vir onetiese gedrag en soms doodgewone bedrog). Laasgenoemde is veel moeiliker om op te merk.

Hoe vermy mens die toekomstige verloorders?

“Op die heel basiese vlak tuimel aandeelpryse wanneer daar ’n beduidende verskil tussen verwagtinge en die werklikheid is,” sê Jean Pierre Verster, stigter en uitvoerende hoof van Protea Capital Management.

Jean Pierre Verster, stigter en uitvoerende hoof van Protea Capital Management

“Dis veral wanneer beleggers besef dat hul verwagtinge nie met die werklikheid strook nie. Daarom moet hulle hul verwagtinge aanpas. Wanneer hulle hul verwagtinge skielik afwaarts moet aanpas omdat hulle besef dat die werklikheid nie so optimisties is as wat hulle gedink het nie, lei dit daartoe dat ’n aandeelprys ineenstort.”

Die laaste paar jaar is die verwagtinge van verskeie plaaslike maatskappye aangepas. Die kunsmisvervaardiger Omnia se aandeelprys het in die vyf jaar tot 30 Julie met meer as 85% geval.

Gus Attridge, adjunk- uitvoerende hoof van Aspen

Aspen Pharmacare het in dieselfde tydperk met 69% geval. Die inligtingtegnologiemaatskappy EOH, met meer as R16 miljard se verkope in sy jongste boekjaar, het in die afgelope vyf jaar met meer as 80% getuimel – met amper die helfte van die daling wat sedert die begin van die jaar aangeteken is.

Die suiker-en-styselprodusent Tongaat Hulett het die afgelope vyf jaar met 91% gedaal, en die verhandeling van sy aandele is op 10 Junie opgeskort. Dan is daar natuurlik Steinhoff. Hy het 98% van aandeelhouers se waarde vernietig deur die wanvoorstelling van sy finansiële prestasie en batewaardes oor baie jare. Dié maatskappye is welbekend en goed nagevors. Dis nie maklik om die valstrik van ’n tuimelende aandeelprys te vermy nie, en dis iets wat die hele beleggingsbestuursbedryf probeer regkry.

Fundamentele faktore

Een manier om ’n aandeelprys wat na onstuimige water vaar raak te sien, is om die maatskappy se sogenaamde fundamentele finansiële faktore te ondersoek.

“Wanneer ’n mens na fundamentele faktore in beleggings kyk, moet jy onthou dat beleggings ’n holistiese oefening is,” sê Verster.

“Daar is nie net een of twee of drie aanwysers wat vir jou die volle prentjie sal gee van wat deur aandeelpryse weergegee word nie.” Aandeelpryse is geneig om te daal wanneer ’n maatskappy slegter as verwagte finansiële resultate, waaronder verkope- en nettowinsdata, verklaar.

Dít was die geval toe Aspen vir beleggers gesê het dat die inkomste vir sy 2018-boekjaar met sowat R1 miljard sou daal, hoofsaaklik weens ’n sterker randwisselkoers. Die daling is herhaal toe die maatskappy vroeër vanjaar gesê het sy wins vir die halfjaar sou laer wees.

Omnia se aandeelprys het einde 2017 skerp gestyg nadat hy ’n groter-as-verwagte wins en effense hoër verkope aangekondig het. Die teenoorgestelde het gebeur toe sy voljaarresultate ses maande later ’n winsdaling getoon het.

Adriaan de Lange, uitvoerende hoof van Omnia

Einde verlede jaar het sy aandeelprys verder teruggesak toe hy ’n verlies vir die eerste ses maande van die 2019-boekjaar aangekondig het. EOH se aandeelprys het in die eerste helfte van verlede jaar weens laer wins ’n soortgelyke negatiewe reaksie getoon, en Tongaat Hulett s’n het dit in die tweede helfte van verlede jaar gedoen.

Reuben Beelders, beleggingshoof en portefeuljebestuurder by Gryphon, ondersoek ’n reeks fundamentele aanwysers om koop- en verkoopsbesluite te neem.

“Die DuPont-ontleding van die opbrengs op aandeelhouersbelang is ’n baie basiese, maar baie doeltreffende manier om te kyk hoe ’n maatskappy gevaar het,” sê hy (lees die kassie op bl. 42).

Die bate-omsetverhouding is vir Beelders belangrik, want dit wys hoe doeltreffend die balansstaat is om omset te genereer. “Ek het geleer dat wanneer maatskappye baie verkrygings doen, dit die maatstaf is wat eerste die verlangsaming begin aandui,” sê hy.

“Bestuur kan die wins versoet, maar omdat daar te veel vir aangekoopte bates betaal is, kan hulle nie ’n opbrengs bo die kapitaalkoste behaal nie.” Selfs ’n inkomste- of verkoopstyging moet met omsigtigheid bekyk word. Waar inkomste vinnig toeneem, maar voorraad vinniger toeneem (gemeet as ’n persentasieverandering teenoor die vorige jaar se syfers), is dit gewoonlik nie ’n goeie teken nie, volgens Beelders.

Die maatskappy sal sy kontant in voorraad moet investeer – wat ’n vorm van bedryfskapitaal is, en dié soort kapitaal verdien nie ’n opbrengs nie, sê hy. Net só is ’n winsstyging nie noodwendig ’n voorbeeld van ’n gesonde maatskappy nie.

“As ’n maatskappy se wins toeneem, maar dit gebeur omdat hy onnodige skuld aangaan, sal die langtermyn- uitwerking negatief wees, al is die korttermyn-resultate dalk ‘goed’ ”, sê Beelders.

“As ’n maatskappy se wins toeneem, maar dit gebeur omdat hy onnodige skuld aangaan, sal die langtermyn- uitwerking negatief wees, al is die korttermyn-resultate dalk ‘goed’ ”, sê Beelders.

Bedryfskapitaal, wat in die meeste gevalle debiteure, aandele en kontant insluit, kan ook vir probleme in ’n maatskappy se geldsake dopgehou word. Maatskappye met lang bedryfskapitaalsiklusse, byvoorbeeld om debiteure in kontant om te skakel, moet baie versigtig bestuur word.

Dit geld ook dié met lang aanvoertye vir kapitaaluitbreiding, sê Beelders. ’n Voorbeeld is Sasol en die konstruksie van sy Lake Charles Chemicals Project in Amerika. ’n Maatskappy se vermoë om ’n groot deel van sy wins in kontant om te skakel, is nog ’n fundamentele aanwyser om ’n aandeel se welstand te bepaal.

“Ek glo sterk aan ’n onderneming se vermoë om kontant te genereer en om hoë vlakke kontant as ’n persentasie van die wins te genereer,” sê Beelders.

“Al lyk dit dalk onbeduidend, was daar ’n paar gevalle van bedrog uitgevang toe maatskappye, wat ’n groot wins verklaar het, nie voldoende ‘kontantbelastings’ betaal het nie.” Dié maatskappye verklaar ’n rekeningkundige wins, maar die onderliggende wins vir belastingdoeleindes wys dat die wins nie is soos dit lyk nie, sê hy. 

Wat die toekoms inhou

Aanwysers op grond van vrygestelde finansiële resultate wys na die verlede, sê Verster. Om gapings in die mark te bepaal, soos ’n aandeelprys wat gaan val, moet beleggers die verskil tussen die verwagtinge van ’n aandeel en die onderliggende onderneming se werklike situasie bepaal, sê hy.

“Die grootste verwagtinggapings is soms wanneer die toekomsvooruitsig baie van ’n maatskappy se onlangse geskiedenis verskil,” sê Verster.

“Jy moet besef dat jy bestuur terwyl jy in die truspieëltjie kyk, terwyl jy deur die voorruit behoort te kyk.” Benewens kwantitatiewe faktore is daar kwalitatiewe faktore wat nie deur finansiële state weergegee word nie. “Dis nogal belangrik om te bepaal of die maatskappy se toekomstige finansiële state van die finansiële state van die onlangse verlede sal verskil,” sê hy.

“Die grootste verwagtinggapings is soms wanneer die toekomsvooruitsig baie van ’n maatskappy se onlangse geskiedenis verskil,” sê Verster.

“Dis ’n geleentheid vir daalverkopers om heelwat wins te maak.” Wanneer ’n maatskappy ’n “buigpunt” bereik en daar kan bepaal word dat sy toekomstige finansiële posisie baie van sy onlangse verklarings sal verskil, kan daalverkopers hul verwagtinge vinniger as die res van die mark aanpas, sê Verster, wat ook aandele kort verkoop. “Sodoende kan ’n daalverkoper nie net kapitaal teen ’n tuimelende aandeelprys beskerm nie, maar ook wins daaruit maak.”

Skuld en verkrygings

’n Skuldbelaaide maatskappy kan ’n waarskuwingslig vir beleggers wees. Voorbeelde is die ongenoteerde klerekleinhandelaar Edcon, wat sukkel om uit sy skuldsituasie te kom, Omnia, wat sy lenings herstruktureer en ’n regte-uitgifte van R2 miljard aangekondig het, en Tongaat, wat krediteure gevra het om terugbetalings van sy skuld van R11 miljard tydelik te vries.

Die meeste ondernemings moet ’n mate van skuld hê om hul opbrengs op aandeelhouersbelang te vergroot, sê Beelders. Te veel skuld is egter volgens hom dikwels die oorsaak van baie mislukkings. “Dis ironies dat die mislukkings selde in goeie tye voorkom, soos wanneer ’n maatskappy groei en die sektor waarin die maatskappy bedrywig is, goed vaar,” sê Beelders.

“Die oomblik dat die groei egter verlangsaam of ophou, word die skuld ’n las wat nie gedra kan word nie. Dan is daar probleme.” Die grootste aandeelprysdalings word gewoonlik met hoë skuldvlakke geassosieer, sê Verster. As ’n maatskappy se wins voor finansieringskoste laer as verwag is, sal ’n hoë skuldvlak en groot rentebetalings die daling van die maatskappy se netto wins vergroot.

“Skuld vererger altyd ’n maatskappy se finansiële prestasie,” sê Verster. As ’n maatskappy die mark te- leurstel, sal die bestaan van skuld tot ’n groter winste- leurstelling lei. As die teleurstelling groot genoeg is en die skuldvlak is hoog genoeg, kan dit selfs tot die moontlikheid van ’n regte-uitgifte lei, sê hy.

Die doel is om koste te verlaag en beter winsgewindheid mee te bring as met die twee besighede se afsonderlik bedrywighede, sê Verster.

“In sulke gevalle val die aandeelprys aansienlik, want daar is ’n verwagting dat die bestaande aandeelhouers se belange verwater sal word as die maatskappy verplig word om kapitaal te verkry,” sê Verster. In baie gevalle gebruik maatskappye skuldfinansiering om ander ondernemings te verkry. Groei wat deur verkrygings aangedryf word, moet met omsigtigheid bejeën word.

“Ek is al meer as 20 jaar by finansiële markte betrokke, en daar is selde ‘goeie’ verkrygings,” sê Beelders. “Die paar ‘goeie’ verkrygings wat ek gesien het, was in die algemeen van maatskappye wat niemand anders wou hê nie, en gevolglik is ’n lae prys vir hulle betaal.” Verster se siening stem hiermee ooreen.

Die ontleding van historiese samesmeltings en verkrygings toon dat die meeste van dié transaksies nie werklik waarde vir aandeelhouers toegevoeg het nie. “Hulle lei tot waardevernietiging omdat die koper gewoonlik te veel betaal,” sê Verster. Baie verkrygings word daarmee geregverdig dat hulle “sinergie” sal skep waar gedupliseerde koste in die saamgesmelte besigheid uitgeskakel word.

Die doel is om koste te verlaag en beter winsgewindheid mee te bring as met die twee besighede se afsonderlik bedrywighede, sê Verster. “Die probleem is dat die verkryger ’n premie met die verkryging betaal en gewoonlik al die voordele wegbetaal wat die saamgestelde entiteit aan die begin sou toekom,” sê Verster.

Bestuur

Wanneer beleggers vertroue verloor of hul verwagtinge van ’n maatskappy se bestuur skerp verlaag, sal die aandeelprys onvermydelik volg. Eenmalige gebeure, soos wanneer ’n maatskappy se uitvoerende hoof of finansiële hoof weggaan, is ook waarskuwingsligte, sê Beelders.

Hy noem ook maatskappye waar die direksie deur een persoon oorheers word, veral wanneer dié persoon “die maatskappy opgebou het” en die direkteure aangestel het. Verder moet beleggers op die uitkyk wees vir veranderinge aan rekeningkundige beleid – veral dié wat met die kapitalisasie van uitgawes en depresiasie en amortisasie gepaardgaan, sê hy.

Veranderinge in hoe maatskappyinligting, soos finansiële state, aan beleggers voorgehou word, moet ook met agterdog bejeën word. “Verander die bestuurspan byvoorbeeld gereeld die verslagdoeningsegmente? Indien wel, is dit gewoonlik ’n slegte teken,” sê Beelders.

Wanneer ’n aandeelprys tuimel, moet die maatskappy aandag gee aan die gebeure wat daartoe gelei het. In uiterste gevalle van aandeelprysdalings vra direksies die aandelebeurs om die verhandeling van hul aandele op te skort. Is dit egter die regte benadering? “Die skade is gewoonlik reeds berokken, en ek reken die beste manier om dit te hanteer, is om met die mark te praat en presies te sê wat jy weet,” sê Beelders. ’

'n Skerp verandering – óf styging óf daling – in ’n aandeelprys is op sigself nie voldoende regverdiging om die aandeelverhandeling op te skort nie, sê Verster.

'n Skerp verandering – óf styging óf daling – in ’n aandeelprys is op sigself nie voldoende regverdiging om die aandeelverhandeling op te skort nie, sê Verster.

Daar is egter ’n regmatige rede om verhandeling op te skort. “Die enigste objektief regverdigbare rede vir die opskorting van aandeelverhandeling is wanneer belangrike nie-openbare inligting vir sommige in die mark beskikbaar is, maar nie alle markdeelnemers het toegang daartoe nie,” sê Verster.

Wanneer ’n maatskappy besef dat net sommige markdeelnemers toegang tot sulke inligting het – of dit nou positief of negatief is – het hy ’n geldige rede om die verhandeling van sy aandele op te skort, sê hy.

Tongaat het die verhandeling in sy aandele in Junie opgeskort te midde van die afhandeling van die herstrukturering van die maatskappy se bedrywighede en skuld. “Die besluit om die verhandelingopskorting te versoek, het gespruit uit die direksie se kommer dat daar onvoldoende inligting is om dit vir beleggers moontlik te maak om ingeligte besluite te neem terwyl ons omvattende oorsig aan die gang is,” sê Michelle Jean-Louis, woordvoerder van Tongaat.

Volgens Beelders is doeltreffende kommunikasie in sulke gevalle noodsaaklik. “As die bestuurspan ’n gemors gemaak het, moet hulle vroeër eerder as later afgedank en deur ’n gerespekteerde span vervang word,” sê hy.

Dit is wat Tongaat gedoen het deur Gavin Hudson in Februarie as sy nuwe uitvoerende hoof en Rob Aitken in Maart as sy nuwe finansiële hoof aan te stel. Hoe meer ’n maatskappy sy beleggers betrek, hoe beter word hul verwagtinge bestuur. En die beste raad om verwagtinge te bestuur, hou met kommunikasie verband. “Ek sal, totdat die saak opgelos is, so veel moontlik met die mark bly kommunikeer,” sê Beelders.

Wanneer dinge verkeerd loop

Maatskappye se kommunikasie met beleggers in moeilike tye verskil baie. Die kunsmisvervaardiger Omnia het onlangs ’n regte-uitgifte aangekondig in ’n poging om sy skuld te verminder.

Die maatskappy het die ondersteuning van 98% van sy aandeelhouers gekry om die R2 miljard te verkry wat hy nodig het, volgens Adriaan de Lange, uitvoerende hoof van Omnia.

“Sedert die aankondiging van sy skuldsituasie en regte-uitgifte vroeër vanjaar het Omnia se bestuur die interaksie vergroot en vergaderings met individuele aandeelhouers gehou,” sê De Lange.

“Die JSE word by die interaksieproses ingesluit. Omnia soek voortdurend maniere om sy kommunikasie met alle belanghebbendes te verbeter en gaan tans sy beleggersverhoudingsprogram na met die doel om die kommunikasie te verbeter.”

Die medisynemaker, Aspen, wat vroeër vanjaar sy babamelkformule-eenheid aan Lactalis en sy voorskrifportefeuljesake in Australië aan Mylan verkoop het, sukkel om sy verklaarde skuld van R53 miljard te verminder.

“Terwyl dit waar is dat die afgelope drie jaar om ’n aantal redes moeilik was, het ons daarna gestreef om deur ons benadering van eerlike verslagdoening en bekendmaking aan beleggers en belanghebbendes die mark aktief in te lig van Aspen se vooruitsigte en die probleme wat die groep in dié stadium ervaar,” sê Gus Attridge, adjunk- uitvoerende hoof van Aspen.

Die maatskappy het skuldvermindering en organiese groei voorop gestel toe hy sy finansiële state vir die ses maande tot einde Desember verlede jaar uitgereik het. “Ons gaan voort om dié prioriteite aktief na te streef en verwag dat die beleggersvertroue sal herstel wanneer ons kan wys dat ons vordering maak met dié prioriteite,” sê Attridge.

Die inligtingtegnologiemaatskappy EOH was in 2017 die onderwerp van slegte nuus toe berigte oor die maatskappy se betrokkenheid by Sassa, die staat se toelae-betalingsagentskap, sy aandeelprys geknou het.

EOH het enige oortredings ontken. Die maatskappy het in April verlede jaar weer ’n aankondiging uitgereik om beleggers te waarsku om nie op “vals en lasterlike artikels” staat te maak nie. Die maatskappy het begin vanjaar gesê werknemers by een van sy filiale was by korrupsie met staatsverwante werk betrokke. Die maatskappy het aangedui dat die besonderhede aan “regsprivilegie onderworpe is”.

’n Ondersoek duur voort. Die maatskappy het op 16 Julie ’n verklaring oor ondersoeke uitgereik en aandeelhouers aangeraai om versigtig te wees wanneer sy aandele verhandel word.

Tongaat Hulett, wat geruk is deur die nuus dat sy finansiële state verdraai was, het die verhandeling van sy aandele in Junie opgeskort.

Hy het intussen twee aankondigings aan beleggers uitgereik: die een oor die bedanking van ’n nie-uitvoerende direkteur en die ander oor ’n hernuwing van ’n omsigtigheidsaankondiging oor sy herstrukturering, maar sonder enige nuwe inligting vir beleggers.

“Die maatskappy het ’n sterk betrokkenheidsplan vir sy aandeelhouers en belanghebbendes, met voortgesette kennisgewings oor die vordering wat met sy omswaaiplan gemaak word,” sê Michelle Jean-Louis, woordvoerder van Tongaat. “ ’n Verdere aankondiging sal wanneer toepaslik gedoen word.” 

Wat is die DuPont-model?

Die DuPont-model om die verskillende aandrywers van die opbrengs op aandeelhouersbelang te skei, bestaan uit ’n ontleding van ’n maatskappy se bedryfsdoeltreffendheid, doeltreffendheid van bategebruik en finansiële hefboomwerking, luidens ’n artikel wat in die Amerikaanse vakkundige joernaal The Accounting Review gepubliseer is.

’n Maatskappy se nabelaste wins, gedeel deur die inkomste, verteenwoordig sy bedryfsdoeltreffendheid. Die bate-omsetverhouding word gebruik om die doeltreffendheid van ’n maatskappy se bategebruik te verteenwoordig.

Dit word bereken as ’n maatskappy se totale verkope, gedeel deur die helfte van die verskil tussen sy opening- en sluitingbates.

Finansiële hefboomwerking word bereken deur ’n maatskappy se gemiddelde bates deur sy gemiddelde aandeelhouersbelang te deel. 

Meer oor:  Finweek  |  Aandeelpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.