Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Waarom die reekse wat jy kyk, die volgende verkiesing kan beïnvloed
4 Julie 2019

In die fliek You’ve Got Mail skryf Frank Navasky, gespeel deur Greg Kinnear, ’n rubriek ter ondersteuning van sy vriendin se boekwinkel wat in finansiële nood is. Hy skryf dat Fox Books (die groot, bose kettingwinkel) die oorlewing bedreig van “een van die 20ste eeu se belangrikste waarhede: Jy is wat jy lees.”

Foto: Shutterstock

Jodie Jackson sê in ’n nuwe boek, You Are What You Read, dat dié waarheid ons baie skade kan berokken. Sy meen dat hedendaagse negatiewe vooroordeel in die nuusmedia beïnvloed hoe ons die wêreld beskou en ook ons geestesgesondheid en besluite belemmer.

Nuus word gekenmerk deur doelbewuste versinning, growwe sensasie (klik-lokaas!) en dikwels bloot lui onwaarhede. En nes die meeste van ons sal saamstem dat wat ons eet ons gesondheid beïnvloed, só beïnvloed ons mediadieet ook ons geestesgesondheid.

Nuus word gekenmerk deur doelbewuste versinning, growwe sensasie (klik-lokaas!) en dikwels bloot lui onwaarhede.

Jackson wys op grond van ’n wye reeks akademiese navorsing dat ons persepsie van die werklikheid veels te maklik deur vals stellings beïnvloed word – en dat ons praktiese stappe kan doen om die higiëne van ons geestesgesondheid te verbeter. (’n Mens kan byvoorbeeld ophou om Twitter te volg.) Die soort en gehalte van media wat ons verbruik, beïnvloed ook ons kognitiewe vermoë. En dit het politieke gevolge.

Dís die merkwaardige bevinding uit nuwe navorsing deur die ekonome Ruben Durante, Paolo Pinotti en Andrea Tesei, wat binnekort in American Economic Review sal verskyn.

Hulle gebruik ’n natuurlike eksperiment in Italië:

Die uitbreiding van Silvio Berlusconi se kommersiële vermaaktelevisie in die 1980’s. Sommige munisipaliteite het om verskeie tegniese redes Mediaset, Berlusconi se televisiekanale, in die vroeë 1980’s ontvang, terwyl ander munisipaliteite (van soortgelyke grootte en vorm) eers veel later toegang gekry het.

Mediaset se kanale was aanvanklik heeltemal aan ligte vermaak en flieks gewy. Daar was geen opvoedkundige programme of nuus nie.

“Ons bevind dat vermaaktelevisie op individue wat as kinders aan Mediaset blootgestel was ’n negatiewe uitwerking op hul kognitiewe vermoëns as volwassenes het, soos gemeet met standaardsyfer- en -geletterdheidstoetse.”

Die skrywers kan dus die uitwerking van vermaaktelevisie op die kykers in munisipaliteite mét toegang vergelyk met dié daarsonder. Die resultate bevestig waarteen ons ouers ons gewaarsku het: Vermaaktelevisie maak jou dommer.

Soos hulle dit stel: “Ons bevind dat vermaaktelevisie op individue wat as kinders aan Mediaset blootgestel was ’n negatiewe uitwerking op hul kognitiewe vermoëns as volwassenes het, soos gemeet met standaardsyfer- en -geletterdheidstoetse.”

Politieke gevolge

Dit het ook politieke gevolge. Berlusconi het hom in 1994 vir die eerste keer verkiesbaar gestel – verskeie jare nadat amper alle munisipaliteite toegang tot sy kommersiële netwerk gekry het. Tog wys die skrywers dat die kans groter was dat die gebiede waar Mediaset eerste beskikbaar was vir Berlusconi se Forza Italia sou stem. Hulle hét in 1994, maar ook in elk van die vyf verkiesings tot 2008 – byna 25 jaar nadat Mediaset begin is.

Die resultate is veral groot vir mense wat baie televisie kyk: Die kans dat kinders (onder tien) en ouer volwassenes (55 of ouer) vir Berlusconi sou stem, was byna tien persentasiepunte groter.

Johan Fourie is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch.

As mens in ag neem dat alle munisipaliteite teen 1990 toenemende blootstelling aan Mediaset gehad het en dat ons koëffisiënt net die uitwerking van ’n paar bykomende jare se blootstelling vasvang, is die uitwerking op stemgedrag nogal merkwaardig,” sê die skrywers.

Daar is meer. Wanneer die uitwerking op Berlusconi se party verdwyn, duik dit weer in ’n ander vorm op: Steun vir die selfs meer populistiese Vyfsterbeweging in 2013 se verkiesing.

“Dié bevindinge dui daarop dat blootstelling aan vermaaktelevisie kykers se ondersteuning van populistiese bewegings en leiers in die algemeen vergroot het, en nie net van Berlusconi of die konserwatiewe groep nie,” sê die skrywers.

Die resultate suggereer dat die verskuiwing na populistiese partye wêreldwyd die gevolg kan wees van die grootskaalse instelling van vermaaktelevisie en dat mense meer tyd voor hul skerms deurbring.

Die resultate suggereer dat die verskuiwing na populistiese partye wêreldwyd die gevolg kan wees van die grootskaalse instelling van vermaaktelevisie en dat mense meer tyd voor hul skerms deurbring.

Veral kinders se televisieskermtyd het sedert die 1980’s aansienlik toegeneem. ’n Amerikaanse studie van 2017 toon dat kinders onder die ouderdom van agt daagliks meer as twee uur aan skermmedia (meestal televisie en videos) bestee.

’n Soortgelyke studie het in 2015 getoon dat die tyd vir agt- tot twaalfjariges amper dubbel soveel was.

Goeie nuus

Die goeie nuus is dat televisie- en videoskermtyd afneem.

Slegte nuus

Die slegte nuus is dat dit deur selfone vervang word.

eMarketer het begin Junie in ’n verslag voorspel dat die gemiddelde Amerikaanse volwassene vanjaar drie uur en 43 minute aan mobiele toestelle sal bestee – agt minute meer as aan televisie.

eMarketer het begin Junie in ’n verslag voorspel dat die gemiddelde Amerikaanse volwassene vanjaar drie uur en 43 minute aan mobiele toestelle sal bestee – agt minute meer as aan televisie.

Dis die eerste keer dat mobiele toestelle televisie verbysteek. Die gevolge hiervan is onduidelik.

Maar, soos Jackson sê: die stryd om ons aandag noop nuusagentskappe om negatiewe berigte uit te lig. Sy skryf: “Die neerdrukkende ding is dat dié wat uit ’n edele oogpunt skryf, in die huidige mediaomgewing seldsaam is, en dat joernalistiek van lae gehalte joernalistiek van hoë gehalte verbygesteek het.

Daarteenoor word baie joernaliste gedwing om te berig wat ook al wins sal maak – beheer deur teikens vir gehoorinteraksie, reklame-inkomste en reikwydte.

Manipulasie van die waarheid

Joernalistiek van lae gehalte floreer vanweë die lae produksiekoste en vermaaklikheid daarvan by nuusondernemings – iets wat hul wins bevoordeel, maar ons sowel sielkundig as maatskaplik skade aandoen.

Ons kry ’n gefabriseerde en gemanipuleerde weergawe van die waarheid. Soms is dit glad nie die waarheid nie.” Net soos wat ons versigtig let op wat ons eet, is dit dalk vir ons geestesgesondheid en ons gemeenskap se onthalwe tyd om bewus te wees van wat ons lees en kyk.

In die Oekraïne het Wolodimir Zelenskii, ’n komediant wat die ster was van ’n treffertelevisiereeks waarin hy ’n onderwyser gespeel het wat onverwags president geword het, besluit om vir president te staan.

Hy het 73% van die stemme gekry. Is dit ’n aanduiding van die toekoms? ’n Weergawe van Frank Navasky se stelling vir die 21ste eeu sal waarskynlik lui: Jy stem vir wie jy kyk.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Johan Fourie is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Meer oor:  Finweek  |  Televisie  |  Mediaverbruik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.