Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Waarom groter nie altyd beter is nie
22 Oktober 2020
Foto: Shutterstock

Naas ’n langtermynbelegger is ek ook ’n korttermynhandelaar op die JSE wat indekstermynkontrakte verhandel voordat die aandelemark soggens open. My wins (of verlies) met elke transaksie is weliswaar klein, maar uiteindelik wen ek meer as wat ek verloor. Oor ’n tydperk het ek meer wenners as verloorders, wat dit op die ou end winsgewend maak.

Hoofsaak is dat die proses baie anders is as met langtermynbeleggings. Eerstens is prys my enigste rigtingwyser. Fundamentele faktore speel nie ’n rol nie. Op langer termyn maak hulle wel saak deur neerslag te vind in die prys.

In verhandelingstransaksies bly prys egter my enigste werklikheid. Óf iets styg en ek moet lank wees, óf dit daal en ek moet kort wees. Tweedens, aangesien prys al belangrike faktor is, gebruik ek nie aanwysers en ossillasies nie. Hulle is oulik, maar word bloot wiskundig van die prys afgelei, dus ignoreer ek hulle – op een uitsondering na: my beperkte gebruik van bewegende gemiddeldes.

Die afgelope klompie maande het ek verskilkontrakte (CFD’s) op plaaslike aandele verhandel, nadat ek sedert 2005 nie aandele verhandel het nie. Die afgelope dekade en ’n half het ek slegs indekse verhandel, want hulle is minder wisselvallig en nie aan die risiko van ’n enkele gebeurtenis uitgelewer nie – ’n handelsopdatering of bestuursverandering kan ’n aandeel byvoorbeeld binne sekondes die hoogte laat inskiet en my moontlik geld kos as die beweging oornag teen my gaan.

Om te groot te gaan, selfs as ’n bedrewe belegger, sal my rekening vir seker blitsvinnig uitput. Deur klein te gaan, bly ek deel van die spel en kan ek my strategie aanpas terwyl ek leer.

Hoekom ek verskilkontrakte op aandele begin verhandel het, is omdat ek ’n ou vaardigheid wou opskerp, maar ook wou kyk hoe maklik dit sou wees om my vaardighede met indeksverhandelings na aandeleverhandelings oor te dra. My indeksvaardighede is eenvoudig, maar belangrik: Dissipline met toetrede en beëindiging (keerverliese ingesluit) en risikobestuur. Dit is al.

Twee maande later en my rekening is kleiner as toe ek begin het. Ek het dit verwag, maar dit is ook ’n ontnugtering. Die goeie nuus is dat ek ál beter word. Ek ontleed elke transaksie en probeer my strategie verfyn. My mees onlangse verandering was om die 200-daagse bewegende gemiddelde te respekteer. Die belangrikste les tot dusver is om te onthou hoe belangrik die grootte van ’n posisie is, oftewel hoeveel van my portefeulje ek in ’n enkele transaksie op die spel plaas.

Ek het met ’n rekening van R25 000 begin en is slegs bereid om 1,8% of R450 per transaksie te verloor. Dié risiko is nie my keerverlies nie, maar die geld wat ek waag. As ek op 1 000c per aandeel koop en my keerverlies is 900c, waag ek 100c per aandeel. Ek koop dus 450 aandele. As die keerverlies op 900c inskop, verloor ek dus net R450.

Dat ek by die keerverlies ’n transaksie beëindig, het my telkens gered – ook die kleiner grootte van my transaksies. Soos reeds genoem, is ek nog in die rooi, maar as my transaksies groter was – sê nou ek het met elke verhandeling ’n paar duisend rand gewaag – was ek al onderdeur. Aan die begin het baie mense gesê my transaksies is te klein. Dis egter nie so nie; dit het my gehelp om te oorleef.

Om te groot te gaan, selfs as ’n bedrewe belegger, sal my rekening vir seker blitsvinnig uitput. Deur klein te gaan, bly ek deel van die spel en kan ek my strategie aanpas terwyl ek leer. Wanneer ek meer konstant wins begin maak, sal ek steeds nie meer as 1,8% waag nie, ek sal net die kapitaal aanvul. So sal die transaksies groter word, maar nie die persentasie van die kapitaalbedrag wat ek op ’n transaksie waag nie.

Dit is verkeerd om te dink groot verhandelingstransaksies nodig is om ernstig geld te maak; groot transaksies verseker bloot jou geld sal vinniger opraak. Die geheim van verhandeling is om jou risiko klein te hou en gedissiplineerd te wees met jou keerverliese.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Meer oor:  Finweek  |  Aandelemark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.