Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Waarom jy ’n Afrika-president se buurman wil wees
6 Junie 2019
Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Ry ’n uur lank suidoos vanaf Blantyre, Malawi – amper halfpad na die indrukwekkende berg Mulanje, en jy kom op iets nogal besonders af: MIT se kampus.

Die Malawi Institute of Technology, wat deel is van die groter Malawi University of Science and Technology (MUST), het in 2014 geopen. Volgens sy webwerf bied dit ’n reeks voorgraadse kursusse aan sowat 1 800 studente, waaronder in metallurgie en materiaalingenieurswese, chemiese ingenieurswese- en biomediese-ingenieurswese.

Hulle het 200 personeellede en die visie is om “ ’n sentrum van wetenskap- en tegnologieopvoeding, -navorsing en -entrepreneurskap van wêreldstandaard te wees”.

Fantasties, sou mens dink: innovasie en tegnologie is die beste manier om een van die armste lande uit armoede op te hef. Maar wag eers. Die universiteit is ver van die stad (en selfs ver van die belangrikste plaaslike dorpie) en in die teenoorgestelde rigting as die lughawe.

Ekonomiese vaardighede

Die kampus is ultramodern, maar nogal verlate; slegs 30% van die kapasiteit word tans benut. Die biblioteek het verskeie leë rakke. Baie aanwysings is in Chinees. Dis omdat MIT gebou is nadat Bingu wa Mutharika, voormalige president van Malawi, ’n lening van $80 miljoen by die Export-Import Bank of China gekry het.

Mutharika, ’n opgeleide ekonoom wat in 2012 in die amp dood is (en broer van Peter Mutharika, huidige president), het die universiteit waarskynlik beskou as ’n manier om die volgende generasie Malawiërs met die nodige vaardighede vir vandag se ekonomie toe te rus.

Die universiteit se afgesonderdheid lyk egter vreemd – totdat mens besef dat MUST op die voormalige president se persoonlike plaas gebou is, naby die dorpie waar hy gebore is.

Bingu wa Mutharika, voormalige president van Malawi

MUST is dalk ’n manier om Malawiërs uit armoede op te hef, maar hy het ’n baie spesifieke groep Malawiërs in gedagte gehad: dié in die streek van waar hy gekom het. Sulke begunstiging is nie nuut nie, en dalk nie eens heeltemal verkeerd nie. Dit gebeur egter op groot skaal. En baie daarvan is die gevolg van Chinese invloed.

Ses ekonome ondersoek in ’n nuwe verslag in Journal of Development Economics die moontlikheid dat Chinese hulp aan Afrika-lande aan hul leiers se geboortestreke toegewys sal word. Hulle het data oor 117 Afrika-leiers se geboorteplekke ingesamel en 1 650 Chinese ontwikkelingsprojekte op 2 969 plekke in Afrika tussen 2000 en 2012 met geokodes gemerk.

Die resultate

Hul ekonometriese resultate wys dat politieke leiers se geboortestreek “aansienlik groter finansiële vloei van China af ontvang in die jare waarin hulle aan die bewind is, vergeleke met wat dieselfde streek in ander tye ontvang”.

MUST is geen uitsondering nie. Hulle ontleed ook die tydsberekening met Chinese hulp en “onthul bewyse dat dié geboortestreek-effek aansienlik groter is in die jare net voor leiersverkiesings en wanneer daar baie in leiersverkiesings meegeding word.

Hul ekonometriese resultate wys dat politieke leiers se geboortestreek “aansienlik groter finansiële vloei van China af ontvang in die jare waarin hulle aan die bewind is, vergeleke met wat dieselfde streek in ander tye ontvang”.

Dié empiriese patroon stem ooreen met die idee dat Afrika-leiers wat verkiesingsmededinging ondervind, veral gretig is om Chinese hulp te gebruik om begunstiging aan hul kernkiesers te lewer.” Is dit waar van alle ontwikkelingshulp? Die skrywers toets dit deur Wêreldbank-projekte te bekyk.

“Ons kry geen aanduidings dat Wêreldbank-projekte politieke leiers se tuisstreek bevoordeel nie. Ons kry ook nie bewyse dat Wêreldbank-projekte politieke leiers se tuisstreek in die aanloop tot (mededingende) leiersverkiesings bevoordeel nie.”

Dit lyk of Chinese hulp, wat dikwels met lenings met lae rentekoerse gefinansier word, leiers vrye speling gee, anders as Wêreldbank-projekte (waarvan die potensiële impak gekontroleer word). Sulke begunstiging is dalk nie sleg nie. Baie van dié leiers kom van arm streke waar sulke investering baie nodig is.

Trouens, die skrywers wys in ’n afsonderlike verslag dat die geboorteplekke wat buite verhouding baie investering ontvang, ook groter onderwys- en ander positiewe uitkomste ondervind.

Die vraag is natuurlik: tot watter prys? As MUST in Blantyre (of Lilongwe), eerder as die plattelandse Thyolo gebou is, sou dit waarskynlik meer studente en talentvoller akademiese personeellede gelok het, met veel groter uitwerking vir die land.

Hoekom gee die Chinese soveel hulp? Benewens MUST het die Chinese regering ’n nuwe pad wat Malawi met sy buurland Zambië verbind gebou, asook die vyfsterhotel President Walmont, die internasionale Bingu-konvensiesentrum, ’n nuwe parlementsgebou en die nasionale Bingu-stadion in Lilongwe.

Die redes vir hul “investering” is steeds nie heeltemal duidelik nie. Die optimiste sou sê dat hul invloed in die geheel beskou positief is: deur nuwe hoofweë en spore te bou (selfs uit eiebelang om natuurlike hulpbronne met die kus te verbind), help hulle Afrika-lande om die infrastruktuurbeperkinge te oorkom wat ontwikkeling belemmer.

Die optimiste sou sê dat hul invloed in die geheel beskou positief is: deur nuwe hoofweë en spore te bou (selfs uit eiebelang om natuurlike hulpbronne met die kus te verbind), help hulle Afrika-lande om die infrastruktuurbeperkinge te oorkom wat ontwikkeling belemmer.

Pessimiste sal sê dat China nie veel van voormalige koloniale regimes verskil nie. Hulle is net in Afrika om hulpbronne te ontgin en bereid om “ontwikkelingshulp” aan plaaslike politici te verskaf om te kry wat hulle wil hê.

Toekomstige geskiedkundiges sal waarskynlik besluit wat die akkuraatste interpretasie is. Wat egter duidelik is, is dat dit vir Afrika-leiers moeilik is om nie die versoeking te weerstaan om die vrye speling te gebruik wat hulle by China kry om verkiesings te wen en hul ondersteuners te beloon nie.

Soms is hul bedoelinge goed. Die geleentheidskoste van sulke finansiering is egter groot. Boonop sal projekte wat voltooi word, dalk nie sonder die nodige bedryfskundigheid en begroting die verwagte opbrengs behaal nie.

Dis duur om ’n universiteit te bou; en dis dikwels veel duurder om dit te onderhou. Die studie dui daarop dat ontwikkelingshulp nie ’n wondermiddel is nie.

Dit doen dalk meer kwaad as goed, selfs vir die minderheid wat gelukkig genoeg is om in dieselfde dorpie as hul president gebore te wees. 

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.