Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Waarom Suid-Afrikaners emigreer en die gevolge
20 Junie 2019
Foto: Shutterstock

Talent is aan die kern van die kennisekonomie. Mense wat woon in plekke wat aantreklik is vir talentvolle immigrante, soos Silicon Valley, se inkomste styg vinniger as dié van mense wat woon in plekke met ’n uitvloei van kundigheid.

Dit is waarom die emigrasie van talentvolle Suid-Afrikaners ’n bron van kommer moet wees vir diegene wat omgee vir die toekoms van hierdie land van ons. Emigrasie is ’n realiteit in Suid-Afrika.

Die keuse van die bestemming, selfs net as ’n gedagte-oefening, is die onderwerp van baie etenstydgesprekke – ook vir baie lesers van hierdie tydskrif, vermoed ek.

Die nuusmedia bevestig daagliks dat meer en meer Suid-Afrikaners die land verlaat. FNB se eiendomsagente-opname vir die eerste kwartaal van vanjaar toon dat eiendomsverkope weens emigrasie nou 14,2% van alle verkope verteenwoordig, teenoor 10% in die laaste kwartaal van 2018.

FNB se eiendomsagente-opname vir die eerste kwartaal van vanjaar toon dat eiendomsverkope weens emigrasie nou 14,2% van alle verkope verteenwoordig, teenoor 10% in die laaste kwartaal van 2018.

Die internasionale marknavorsingsgroep New World Wealth skat dat ongeveer 300 individue met hoë netto waarde (meer as $1 miljoen) elke jaar in die afgelope dekade uit Suid-Afrika geëmigreer het.

Redes vir emigrasie

Die redes blyk voor die hand liggend te wees: vyf jaar van swak ekonomiese groei; kommer oor veiligheid en sekuriteit; retoriek oor grondherverdeling en ’n verandering in die Grondwet; en korrupsie in die openbare en privaatsektor wat die land tot op die randjie van finansiële ondergang gebring het.

Daar is waarskynlik baie meer redes. Maar dit is nie die hele storie nie. Migrasie gaan altyd oor faktore in die lande van oorsprong én bestemming.

Soos ’n onlangse artikel in The Economist verduidelik het, is daar een belangrike faktor wat Suid-Afrikaners na plekke soos die Verenigde Koninkryk, Australië, Kanada en Amerika lok: “Die meeste van die welvarende wêreld geniet ’n ongekende opbloei in werkgeleenthede.”

Migrasie gaan altyd oor faktore in die lande van oorsprong én bestemming.

Werkloosheid speel 'n groot rol

In Amerika is die werkloosheidsvlak nou die laagste in ’n halwe eeu. In die Verenigde Koninkryk en Europa is werkloosheid nou laer as in 2005, voor die finansiële krisis.

Vrees vir kunsmatige intelligensie en die vierde nywerheidsrevolusie lyk oordrewe, voorlopig in elk geval.

Middelgeskoolde werkgeleenthede verdwyn inderdaad, maar hulle word vervang deur meer geskoolde werk en, verrassend genoeg, meer (laag besoldigde) dienssektorwerk (met beter betaling as voorheen).

Suid-Afrikaners emigreer, dis waar, maar dieselfde geld vir talentvolle individue uit lande soos Indië en China met baie hoër ekonomiese groeikoerse en stygende lewenstandaarde.

Een voorbeeld: In die volgende sewe jaar sal daar meer tuisversorgers as sekretaresses in Amerika wees. Lae werkloosheidsyfers beteken dat maatskappye ander maniere moet soek om werknemers te kry.

Soos The Economist sê, ’n moeilike arbeidsmark “lei daartoe dat maatskappye in afgeskeepte poele moet vis vir werknemers, insluitend onder voormalige gevangenes, en om opleiding te verbeter te midde van vaardigheidstekorte.”

Daar is ’n makliker manier: Werf die beste talent van oor die wêreld heen, insluitende Suid-Afrika. As ons kyk na emigrasiesyfers vir ander lande, lyk dit asof dit nie net plaaslike probleme is wat emigrasie veroorsaak nie.

Suid-Afrikaners emigreer, dis waar, maar dieselfde geld vir talentvolle individue uit lande soos Indië en China met baie hoër ekonomiese groeikoerse en stygende lewenstandaarde.

Ons vergeet ook dat, weens ons verlede, baie min Suid-Afrikaners voor 1994 die geleentheid gehad het om te emigreer. Die toename in emigrasiesyfers sedert 1994 moet dus ten minste gedeeltelik gesien word as ’n normalisering van ons migrasiekoers.

Verskille op vaardigheidsvlak

“Diegene met ’n kollege-kwalifikasie is ongeveer drie keer meer geneig om te migreer as dié met slegs ’n sekondêre vlak van onderwys.”

William Kerr van die Harvard Business School het in ’n onlangse NBER-navorsingsverslag gesê: “ ’n Bestendige syfer van ongeveer 3% van die wêreld se bevolking het sedert die 1960’s buite hul geboorteland gewoon.” Daar is egter belangrike verskille op vaardigheidsvlak.

“Diegene met ’n kollege-kwalifikasie is ongeveer drie keer meer geneig om te migreer as dié met slegs ’n sekondêre vlak van onderwys.”

Kom ons veronderstel dat 4 miljoen Suid-Afrikaners ’n vorm van tersiêre opleiding het (die syfer was 3,6 miljoen in die 2011-sensus). Dit beteken dat, in die lig van die wêreldgemiddelde, ten minste 360 000 talentvolle Suid-Afrikaners in die buiteland is.

Daar is waarskynlik heelwat meer Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, maar die aantal Suid-Afrikaners met die een of ander vlak van tersiêre opleiding (wat in Suid-Afrika verkry is) is waarskynlik nie ver van hierdie syfer nie.

Kortom, die uittog kan dalk eenvoudig ’n normalisering van ons kunsmatig lae historiese migrasiesyfer wees.

Mobiliteit skep geleenthede vir SA

Ons bestee baie hulpbronne aan die opleiding van hierdie studente, maar baie van hulle word geforseer om terug te keer na hul eie land, omdat ons immigrasiewette hulle nie die geleentheid bied om hier ’n verskil te maak nie.
Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Die goeie nuus is dat hoër vlakke van mobiliteit ook geleenthede vir Suid-Afrika skep. Nege van die tien top universiteite in Afrika is in Suid-Afrika.

Ons is leiers op die vasteland op die gebied van navorsing en innovasie. Gevolglik studeer meer as 70 000 internasionale studente jaarliks hier, waarvan bykans 5 000 PhD-studente is.

Die meeste van hulle is van ander Afrika-lande. Meer van hierdie immigrasie moet aangemoedig word deur byvoorbeeld suksesvolle PhD-studente die geleentheid te bied om aansoek te doen vir permanente verblyf of burgerskap.

Ons bestee baie hulpbronne aan die opleiding van hierdie studente, maar baie van hulle word geforseer om terug te keer na hul eie land, omdat ons immigrasiewette hulle nie die geleentheid bied om hier ’n verskil te maak nie.

Mobiliteit is ’n natuurlike gevolg van die wêreld waarin ons leef. Dit word gevorm deur stootfaktore, maar ook deur lokfaktore. Natuurlik moet ons die dinge afkeur wat Suid-Afrikaners uitstoot en hoop dat die nuwe president ons ekonomie kan herlei na die optimisme van hoë ekonomiese groei en begrotingsoorskotte van die 2000’s.

Maar ons kan beslis ook voordeel trek uit ’n meer mobiele wêreld. Suid-Afrika het baie aantreklike eienskappe wat of die neiging van Suid-Afrikaners om die land te verlaat kan omkeer, of ’n nuwe geslag talentvolle mense uit Afrika na ons land kan lok.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.


Meer oor:  Finweek  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.