Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wanneer die regering belastings by die agterdeur hef
18 Maart 2021
Foto: Shutterstock

Tito Mboweni, minister van finansies, het ’n ordentlike begroting voorgelê. Soos altyd sal die uitvoering daarvan uiteindelik die deurslag gee, veral aangesien party aannames (veral oor toekomstige ekonomiese groei) optimisties lyk.

Die goeie nuus is dat die minister die belastingkerf vir persoonlike inkomstebelasting met 5% verhoog het (wat ons effens voor inflasie hou) en aangekondig het dat die inkomstebelastingkoers vir maatskappye vanaf 1 April aanstaande jaar met ’n persentasiepunt verlaag word. Dit geld dus vir opgawes wat ná April 2023 ingedien word. Ek wil egter fokus op hoe die begroting ons beleggings beïnvloed.

Eerstens is daar die jaarlikse perk vir belastingvrye bydraes wat onveranderd bly met ’n perk van R36 000 per jaar en R500 000 oor ’n leeftyd. Laasgenoemde is nie nou iets om oor te bekommer nie, want selfs al het ons tot nou toe die volle toegelate bedrag per jaar belê, is ons nog nie eens halfpad by daardie lewenslange limiet nie. Ek hoop regtig dit word in die volgende paar jaar verhoog.

Dit verbaas my nie dat die jaarlikse perk nie verhoog is nie, maar toe die belastingvrye spaarvergunning in 2015 ingestel is, was die perk R30 000 per jaar. Teen ’n inflasiekoers van 5% moes die boperk nou nader aan R42 000 gewees het. Dit is die kern van die saak, inflasie laat ons agterbly en dis hoe regerings ons steelsgewys belas deur verhogings laer as inflasie te hou, en dit kalwe ons beleggings weg.

Vir dié wat wonder, ek is gelukkig genoeg om my volle bydrae op 1 Maart te kon deponeer om my wêreldwye beursverhandelde fonds (ETF) van voorkeur te koop, die Ashburton Global 1 200 Fund of Funds ETF (met kode ASHEQF*). Ongelukkig is daar ook geen verandering aan kapitaalwinsbelasting (KWB) en dividendweerhoudingsbelasting (DWB) gemaak nie. Albei is in wese ’n belasting op die rykes aangesien beleggings ’n redelike vlak van inkomste en welvaart verg.

Regerings oral ter wêreld gebruik dié slinkse manier om steelsgewys te belas. As inkomstekerwe nie outomaties volgens die inflasiekoers verhoog word nie, verhoog dit die hoeveelheid belasting wat ons in werklikheid betaal.

Die individuele jaarlikse uitsluiting (aftrekking) vir KWB bly op R40 000, so die eerste R40 000 van jou kapitaalwins word nie belas nie. Die insluitingskoers bly op 40%, wat beteken 40% van enige kapitaalwins in ’n belastingjaar word by jou inkomste getel en volgens jou marginale belastingkoers belas. Kortom, jy betaal jou marginale belastingkoers op 40% van enige kapitaalwins hoër as R40 000.

Die probleem hier is dat inflasiegroei belas word eerder as slegs reële groei (kapitaalwins). Gestel jy het tien jaar gelede ’n bate gekoop en dit het teen ’n gemiddelde inflasiekoers van 5% per jaar gegroei, wanneer jy die saamgestelde groei bereken, het die bate se waarde met byna 63% toegeneem. Inderwaarheid is dié “wins” egter inflasie en dit word nêrens in ag geneem wanneer kapitaalwins belas word nie. In ’n ideale wêreld behoort ’n toename in waarde teen die koers van inflasie nie belas te word nie; slegs groei van meer as inflasie behoort belas te word. Natuurlik sou die papierwerk erg wees, maar ons word inderdaad op inflasie belas en nie op werklike groei nie.

Met dié dat die insluitingskoers en aftrekkingskoers onveranderd gehou word, beteken dit ’n styging in inflasie tref ons onmiddellik nog swaarder. As die aftrekking minstens elke jaar met inflasie verhoog word, sal dit ’n bietjie help om die inflasiegroei te temper en sal dit vir ’n billiker belasting sorg. Regerings oral ter wêreld gebruik dié slinkse manier om steelsgewys te belas.

As inkomstekerwe nie outomaties volgens die inflasiekoers verhoog word nie, verhoog dit die hoeveelheid belasting wat ons in werklikheid betaal. Die uitsluitingskoers vir KWB op die verkoop van jou primêre woning bly ook onveranderd op R2 miljoen. Weereens beteken dit enige inflasiegroei word potensieel nou belas. Dis nie verrassend dat die dividendbelastingkoers onveranderd op 20% gelaat is nie. Ons dividendbelastingkoers is laag as ‘n mens dit met baie ander markte vergelyk. En hoewel inflasie ook hier ’n invloed het, is dit ’n uniforme koers wat van die eerste sent af belas word. Dus nie so slinks soos KWB nie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Die skrywer besit aandele in die Ashburton Global Equity 1 200 Fund of Funds ETF.


Meer oor:  Finweek  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.