Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wanneer geld nie meer as motiveerder dien nie
19 Julie 2018
Ilya Pozin, Stigter van Pluto TV

Geld kan dalk ’n motivering wees as mense met hulle loopbaan begin, maar op ’n sekere punt word dit minder belangrik.

En in ’n moeilike ekonomiese tyd het baie klein ondernemings buitendien nie die kontant om geld as motiveerder te gebruik nie. Die vermoë om werknemers te motiveer is een van die grootste vaardighede wat ’n entrepreneur kan besit, sê Ilya Pozin, die stigter van die gratis internet-televisiediens Pluto TV. Hy het vinnig besef hy besit nie dié vaardigheid nie, en het daarom ’n uitvoerende hoof aangestel wat dit wel gehad het.

Pozin het gedink dat ’n gebrek aan geld dit uiters moeilik sou maak om die maatskappy se moreel in moeilike tye te verbeter. Hy skryf in Inc., ’n Amerikaanse tydskrif wat weekliks verskyn en inhoud publiseer oor klein- en beginnerondernemings, dat hy toe al die tyd verkeerd was. Hy het Josh Goldberg aangestel, wat 12 jaar se ervaring in die korporatiewe wêreld het, en wat die kultuur van die onderneming saam met sy eie groep spanleiers herbou het.

“Hy het ook ’n entoesiastiese, hardwerkende span geskep wat so toegewyd daaraan is om die maatskappy te laat groei en te laat verbeter as wat ek is,” skryf Pozin.

Michelle Moss, ’n stigterslid en aandeelhouer van die werwingsfirma Signium Africa, sê hulle gebruik psigometriese toetse om te bepaal wat mense motiveer en wat hulle woedend maak as hulle op die verkeerde manier beloon word. Party word gemotiveer en geïnspireer deur in ’n prettige omgewing te werk, waar hulle tafeltennis kan speel terwyl hulle ingewikkelde probleme oplos. Ander word gemotiveer as hulle iets doen wat die lewens van ander verbeter.

“Soms verklaar dit waarom mense vreemde loopbaanskuiwe maak. In baie gevalle is dit nie oor geld of om geld te maak nie – dit is iets anders wat hulle motiveer.”

Moss sê dis belangrik om te verstaan wat mense motiveer wanneer generasiegapings ter sprake is. Millenniërs verkies om vir ondernemings te werk wat ’n “goeie kultuur” het. Sulke ondernemings gee om vir die omgewing of is betrokke by maatskaplik-verantwoordelike projekte.

Die manier waarop jy mense beloon is belangrik

Michelle Moss, Stigterslid van Signium Africa

Die manier waarop mense uitgesonder word, kan ook ’n verskil maak.

“As die hele span hard gewerk het en slegs een persoon uitgesonder en beloon word, is dit verstaanbaar dat die res van die span vervreemd en ongelukkig sal voel,” sê Moss. As ’n spanlid egter ’n spesiale bydrae lewer en baie meer gedoen het as wat verwag is, sal dit regverdig wees en sin maak.

“Dit moet korrek oorgedra word, sodat dit nie beskou word as een persoon wat bo die ander bevoordeel word nie.” Moss sê ’n eenvoudige “dankie” of ’n klop op die skouer kan baie help en moet die hele tyd toegepas word.

Wanneer mense afkry op hul verjaarsdag, moet dit ’n standaardpraktyk vir almal in die firma wees. Kleiner belonings moet sporadies en oordeelkundig toegeken word, anders word dit ’n verwagting, sê sy.

Toon respek in alles wat jy doen, sê Mike Michalowicz, die hoof van die Provendus Group, ’n span sakegroeistrategieë en -afrigters.

“Al jou harde werk en die agting van ’n werknemer kan binne oomblikke vernietig word as jy op hulle skreeu, hulle nie respekteer nie of hulle privaat of in die openbaar verneder.”

Hy sê daar is vele bewys dat kontant ’n korttermynmotiveerder is. Daar is betekenisvoller en goedkoper maniere om waardering te toon.

Groot idees met min kontant

Michalowicz het innoverende maniere op Open Forum, ’n aanlyninligtingsplatform vir kleinsake-eienaars, gepubliseer om mense te motiveer:

  • Ruil lessenaars met ’n werknemer vir ’n dag en doen jou werk uit hul hokkie uit;
  • Neem jou werknemers op ’n toer van een van jou verskaffers se geriewe;
  • Reël ’n spyseniersete vir jou span en wees jy die hoofkelner;
  • Laat hulle motors professioneel by die werk gewas en gepoleer word;
  • Betaal vir ’n volwasse-opleidingsklas, soos ’n kookklas;
  • Gee vir hulle ’n paar fliekkaartjies en vrye tyd om na hulle gunstelingfliek in werktyd te gaan kyk;
  • Neem ’n werknemer en sy gesin vir middagete en laat hulle toe om die restaurant te kies; en
  • Los klein geskenkies op hulle lessenaars met ’n nota om hulle te bedank vir hulle harde werk.

Moss sê dis uiteraard makliker om baie van dié dinge in ’n kleiner maatskappy te doen.

Groot maatskappye doen toenemend werk in spanne. Beloon die span deur hulle die middag af te gee om aan ’n sosiale projek te werk wat die span kan bou en inspireer.

Om werknemers met leierspotensiaal toe te laat om op uitvoerendekomiteevergaderings te sit of saam te neem na ’n kliëntvergadering as deel van ’n informele afrigtingsoefening, kan selfvertroue bou en met opvolgbeplanning help. 

9 maklike maniere om ’n verskil te maak

Ilya Pozin, stigter van die gratis internetgegronde televisiediens Pluto TV, het 9 dinge geleer wat kan help om personeel te motiveer:

1. Wees vrygewig met die toeswaai van lof: Dit is een van die maklikste dinge om te doen. Wanneer jy eers gemaklik daarmee is om ’n werknemer te prys as julle alleen is, probeer ook om hulle voor ander mense te prys.

2. Moet nooit kritiseer of regstel nie: Dit demotiveer mense as jy vir hulle vertel dat hulle iets verkeerd gedoen het. Probeer ’n indirekte benadering om mense sover te kry om te verbeter, uit hulle foute te leer en dit reg te stel. Voer ’n gesprek en gesels oor oplossings, liewers as om vinger te wys.

3. Maak jou idees hulle s’n: Mense haat dit om voorgesê te word wat om te doen. Vra mense liewers op ’n manier wat hulle sal laat voel dat dit hulle idee is, in plaas daarvan om hulle te vertel wat jy gedoen wil hê.

4. Neem een werknemer per week vir middagete: Verras hulle en loop na een van jou werknemers toe en nooi ’n werknemer om saam met jou middagete te geniet. Dit is ’n maklike manier om hulle daaraan te herinner dat jy dinge raaksien en hulle werk waardeer.

5. Gee erkenning en belonings: Tasbare belonings wat nie ’n plaas se prys kos nie, kan werk. Probeer dinge soos middagete, trofeë, spa-dienste en gedenkplakkate.

6. Maak elkeen ’n leier: Beklemtoon jou topvertoners se sterk punte en laat hulle weet jy beskou hulle as ’n voorbeeld vir die ander.

7. Raak van die bestuurders ontslae: Probeer om die projekleier of toesighouer te verwyder en bemagtig jou werknemers om as ’n span saam te werk, in plaas daarvan dat almal aan ’n enkele individu verslag doen.

8. Hou maatskappypartytjies: Moenie tot die feestyd wag om ’n maatskappygeleentheid te hou nie; reël samekomste deur die jaar om jou personeel daaraan te herinner dat julle almal saam in die ding is.

9. Deel die belonings – en die pyn: Wanneer jou maatskappy goed doen, vier dit. Wanneer daar teleurstellings is, deel dit ook. Wanneer jy ’n uitstekende vertoning verwag, verdien jou span om te weet waar die maatskappy staan. 

Stuur vir ons terugvoer by terugvoer@finweek.co.za.

Meer oor:  Maatskappye  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.