Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wanneer sakereddings nie in die gees van wetgewing is nie
7 Februarie 2019
Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold

Twee omstrede gevalle wat tans in die plaaslike mynbousektor voorkom, laat vrae ontstaan oor die rol wat sakereddingpraktisyns speel. Dis nie die eerste keer dat vrae oor die sakereddingsproses gevra word nie.

Lesers sal dalk die warrelwind van Enver Motala onthou. Hy was die sakereddingspraktisyn in die likwidasie van die Orkney- en Grootvlei-goudmyn, wat Pamodzi Gold vroeër besit het voordat hulle in die besit gekom het van Aurora Empowerment Systems, ’n maatskappy wat onder andere deur Khulubuse Zuma besit word.

Motala was een van die sakereddingpraktisyns wat in 2009 Aurora se bod van R600 miljoen vir die Pamodzi-myne aanvaar het, waarna werkers se salarisse nie betaal is nie. Toe Motala teen 2011 uit die proses verwyder is, was werkers steeds nie betaal nie en alle tasbare bates was gestroop. Die res is ’n tragedie wat steeds in die hof voortduur.

Sakereddingpraktisyns word ingevolge die Maatskappywet betrek om korporatiewe entiteite te red waar voorlopige likwidasiestappe normaalweg sou voorkom. As regrukkenners het hulle die taak om in alle belanghebbendes se belang op te tree, maar kritiek word gereeld gehoor dat dit krediteure is wat die meeste invloed kan uitoefen.

Werknemers staan dikwels laaste in die ry; hulle is dikwels – of dalk altyd – die magtelose slagoffers van enige korporatiewe ineenstorting. Een van die mees onlangse geskille met sakereddingpraktisyns aan die stuur is die voorgestelde regruk van Optimum Coal Mines, wat vroeër deur Tegeta Exploration and Resources, ’n Gupta-familiemaatskappy, besit is.

Weer is werknemers maande lank nie betaal nie nadat die sakereddingpraktisyns beheer oor die maatskappy oorgeneem het. Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold wie se Last Mile Fund deelneem aan die Phakamani-konsortium, wat bie om Optimal Coal Mines uit sakeredding te haal, het in ’n onderhoud met finweek gesê een van die probleme is dat die sakereddingpraktisyns per uur betaal word en in Optimum se geval “suksesgelde” ontvang. Dit is kommissie op die verkoop van Optimum Coal Mines.

Volgens Swanepoel hou die dubbele tariefstruktuur die gevaar in dat sakereddingpraktisyns ’n botsing van belange het waar hulle nie vinnig vorder nie en ook nie die regte koper soek nie. Nog ’n steenkoolmynbestuurder, wat nie genoem wou word nie, sê: “Optimum behoort ’n $1-transaksie te wees, terwyl die geld regtig na die myn moet gaan.”

Op die vraag of hy deur transaksiegelde aangespoor word, het Kurt Knoop, een van die sakereddingpraktisyns by Optimum Coal Mines, geantwoord: “Die Maatskappywet en maatskappyregulasies skryf spesifieke tariefbeperkings voor wat op sakereddingpraktisyns van toepassing is. Die tariewe wat ons hef, val binne dié voorgeskrewe raamwerk.”

Tog geskied die verkoop van Optimum Coal Mines nie gladweg nie. Eers is beheer oor Optimum Coal Mines ná ’n verrassingsbod toegeken aan ’n onbekende maatskappy genaamd Project Halo, wat na bewering buite die bodproses was.

Optimum behoort ’n $1 -transaksie te wees, terwyl die geld regtig na die myn moet gaan.

Toe is die proses gestop en nuwe botte is versoek nadat dit geblyk het dat Project Halo dalk nie die geld het wat hy in sy aanvanklike bod beweer het nie. Die proses is verder vertraag toe die Sentrale Energiefonds se African Exploration & Mining Finance Company (AEMFC) tot die bodproses toegetree het. Hy het ’n persverklaring met min besonderhede uitgereik en geweier om vrae te beantwoord. finweek se navrae by Sizwe Madondo, hoof van AEMFC, is nie beantwoord nie.

“Sover ek weet, het die AEMFC nie eens ’n omsigtigheidsondersoek gedoen nie,” sê Swanepoel. “Wat ons sê – en wat waarskynlik gemaak het dat die sakereddingspraktisyns van die begin af nie van ons bod gehou het nie – is dat R1,2 miljard van Optimum se koopprys eers regstreeks aan die myn bestee moet word.”

Optimum Coal Mines se krediteure sou net uit opbrengs op die myn se bedrywighede betaal word, sê hy. Dit sou sy aanbod minder gewild gemaak het as Project Halo s’n, wat grootliks uit die koopaanbod bestaan waarvan die sakereddingpraktisyns ’n deel sou kry. Phakamani bie R2 miljard vir Optimum Coal Mines.

Die tweede omstrede geval is ’n minder bekende (maar nie minder) bitsige twis tussen ’n maatskappy in swart besit bekend as Siyakhula Sonke Empowerment Corporation (SSC) en die sakereddingpraktisyn van Vantage Goldfiels, ’n Australiese maatskappy wat die Lily-goudmyn besit het waar drie mynwerkers in 2016 ná ’n grondinstorting tragies dood is.

Fred Arendse, stigter van SSC, beskuldig Rob Devereux, ’n sakereddingpraktisyn wat vir Strategic Turnaround Solutions (Sturns) werk, daarvan dat Vantage Goldfields in werklikheid “gekaap” is, pleks van om SSC toe te laat om beheer oor die myne oor te neem – ’n bewering wat Devereux aan finweek gesê het onsin is.

Volgens hom het Arendse nie SSC se kapitaalbelang betaal wat as noodsaaklik beskou word om R150 miljoen van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie onvoorwaardelik te maak nie. Die laaste woord behoort aan Lara Kahn, ’n prokureur by Webber Wentzel wat gereeld met sakereddingpraktisyns werk.

Sy meen dat sakereddingwetgewing – wat van 2008 dateer en sedert 2011 toegepas word – weens min beskikbare hulpbronne onvoldoende toegepas word. “Die administrasie en die praktyk stem nie ooreen nie,” sê sy. Dit beteken dat daar onder die honderde sakereddingpraktisyns baie gekwalifiseerde, bevoegde, toegewyde mense is – én heelwat opportuniste wat dalk nie in die gees van die wetgewing optree nie.

Die heel ergste is egter dat sakereddingpraktisyns net deur regstappe verwyder kan word. “Dis moeilik om dit voor die hof te bring; dis ’n proses wat maande lank duur” – ’n werklikheid wat dit amper onmoontlik maak om onbekwame sakereddingpraktisyns te monitor.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.