Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wat gebeur wanneer nuwe plan vir gesondheid kom?
2 Augustus 2018

Die minister van gesondheid het by die aanbieding van die wysigingswetsontwerp op mediese fondse skerp kritiek op sommige van die kernbedryfselemente van plaaslike mediese fondse gelewer. Só sal die wysigingswetsontwerp die rolspelers in die mark – én vir jou - beïnvloed. 

Die nasionale departement van gesondheid het kritiek uitgespreek op mediese fondse se gebruik van makelaars om hul ledetal in ’n stagnante bedryf te laat groei.

Volgens die departement is R2,2 miljard verlede jaar aan mediese makelaars betaal. “Byna twee derdes van hooflede van mediese fondse betaal elke maand geld aan ’n makelaar as deel van hul premie,” het Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, by die aanbieding van die wysigingswetsontwerp op mediese fondse gesê.

“Baie van die lede weet nie eens dat hulle dié geld betaal nie – wat vanjaar R90 per maand bedra.” Die departement wil hê dat dié geld beskikbaar gestel word om vir regstreekse gesondheidsuitgawes van lede te betaal, anders as om makelaars te dien “wat eintlik nie in die gesondheid- sorgstelsel nodig is nie”, het hy gesê. “Die konsepwysigingswetsontwerp op mediese fondse voorsien nie die beëindiging van die rol van makelaars nie,” sê dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid

“Dit vereis bloot dat lede uitdruklik tot die aanstelling van hul makelaar instem, waarna mediese fondse mag voortgaan om makelaarskommissie te betaal.” Discovery Health Medical Scheme, wat einde verlede jaar 2,77 miljoen lede gehad het, het ’n aandeel van 57% in die mark vir oop mediese fondse.

Die fonds het verlede jaar R1,2 miljard se makelaarsdiensgelde betaal, luidens sy jaarverslag. Makelaarsgelde word beperk tot 3% van ’n lid se maandelikse mediesefonds-bydrae of R90, wat ook al die grootste is. Medihelp, nog ’n oop mediese fonds en een van die land se tien grootste fondse, het verlede jaar R60,5 miljoen aan makelaars betaal, teenoor R54,8 miljoen in 2016.

“Medihelp glo makelaars sal voortgaan om beduidende waarde tot mediese fondse te voeg,” sê Heyn van Rooyen, hoof van die fonds. “Omdat die meeste van die fonds se nuwe sake deur sy verspreidingskanaal gekry, is dit ooglopend dat daar nie eenvoudig van dié hulpbron ontslae geraak kan word nie.”

Die begunstigdes by Medihelp het verlede jaar met 2,3%, of ’n netto getal van 4 563 nuwe begunstigdes, toegeneem. Die bedrag wat aan makelaars bestee is om die groei te diens, beloop R13 268 per netto nuwe begunstigde – as die bedrag wat aan hulle bestee is deur die aantal nuwe begunstigdes gedeel word.

Discovery Health Medical Scheme het R28 399 per netto nuwe begunstigde bestee toe die fonds se getal versekerde lewens verlede jaar met 42 755 gestyg het. BestMed, ook een van die land se tien grootste mediese fondse, het verlede jaar 236 lede verloor, terwyl hy R70,45 miljoen aan makelaars betaal het, luidens sy jaarverslag.

Bonitas, die tweede grootste oop mediese fonds, het verlede jaar 24 571 begunstigdes verloor en in dié tydperk R281,2 miljoen aan makelaars betaal, luidens sy jaarverslag. Dis voldoende om te sê dat die fonds ’n verlies van R16,9 miljoen in 2016 na ’n oorskot van R730 miljoen verlede jaar omgeskakel het.

Motsoaledi het by die bekendmaking van die wysigingswetsontwerp die volgende oor mediesefonds-makelaars te sê gehad: “Ons is daarvan bewus dat baie van die werk wat makelaars kamstig doen, in werklikheid deur die Raad vir Mediese Fondse, die statutêre liggaam, gedoen word.”

Mediese fondse deel egter nie die minister se kritiek op die gebruik van makelaars nie. Van Rooyen van Medihelp wys daarop dat gesondheidsorgmakelaars onderworpe is aan streng nakomingsvereistes, soos akkreditasie by die Raad vir Mediese Fondse en bedryfsverwante eksamens. Hulle bestee baie tyd en moeite aan opleiding. “Ons meen dat weldeurdagte terugvoer aan die wetgewer gegee sal word in die tyd wat vir kommentaar toegelaat word,” sê Van Rooyen.

Broomberg is ook optimisties oor die voortgesette bestaan van mediesefonds-makelaars. “Ons voorsien dat makelaars die nodige instemming van lede sal kry, soos baie reeds doen, en dat makelaars sal voortgaan om ’n belangrike rol te speel om lede oor die toepaslike keuse van mediesefonds-opsies te adviseer, asook om lede by te staan om hul voordele te gebruik,” sê hy. Van die genoteerde maatskappye waar mediesefonds-makelaarsdienste deel van hul dienste vorm, is Sanlam, PSG Konsult en Liberty.

Bevraagteken fondsreserwes

Motsoaledi het benewens die “afskaffing” van mediesefonds-makelaars klappe na bybetalings van mediesefonds-lede uitgedeel. “Data toon dat mediese fondse byna R60 miljard se reserwes hou wat nie gebruik word nie,” sê Motsoaledi. “Toegegee, daar is ’n statutêre vereiste dat mediese fondse 25% van hul inkomste as reserwe moet hou. Dit is om vir noodgevalle voorsiening te maak. Tans is die R60 miljard egter gelykstaande met 33% se reserwes, wat beteken ’n onnodige ophoping ten koste van pasiënte.”

Luidens Discovery Health Medical Scheme se 2017 finansiële state het die fonds ’n solvensieverhouding van 27,44% gehad – 2,44 persentasiepunte meer as die wetlik vereiste 25% van die bruto bydraes ontvang. In geldwaarde beteken dit R1,458 miljard meer as vereis, of R524 per begunstigde teen einde Desember verlede jaar, volgens berekeninge wat op die fonds se jaarverslag berus.

Medihelp se solvensieverhouding van 29,56%, of R194,7 miljoen meer as vereis, verteenwoordig ’n oorskot van R971,16 per begunstigde teen einde Desember verlede jaar. Bonitas het ’n solvensieverhouding van 24,5% gehad – wat ’n tekort van R106,23 per begunstigde teen die jaareinde verteenwoordig het.

Die vraag is of die fondse met oorskotreserwes dit aan lede moet teruggee in ’n poging om die styging in mediesefonds-bydraes te verlig, of selfs om voordele te vergroot, soos Motsoaledi wil hê. “Medihelp ploeg gereeld reserwes terug deur die byvoeging van voordele en om premiestygings te absorbeer,” sê Van Rooyen.

Nozipho Sangweni, hoofamptenaar van Discovery Health Medical Scheme

“Dié proses is deel van die fonds se jaarlikse prysstrategie.” Die konsepwysigingswetsontwerp verander nie die vereiste solvensieverhouding van 25% nie, sê dr. Nozipho Sangweni, hoofamptenaar van Discovery Health Medical Scheme. Die minister het egter aangedui dat hy die Raad vir Mediese Fondse opdrag gegee het om die ontwikkeling van ’n nuwe kapitaalreguleringsbenadering te versnel wat sal verseker dat kapitaalvereistes vir fondse nouer met hul werklike risikoprofiel verband hou, sê sy.

’n Mediese fonds se risikoprofiel, en meer spesifiek ’n voordele-opsie binne ’n skema, neem faktore soos ouderdom, lewensduur, siektelas en eisgeskiedenis van lede in ’n opsie in ag. Dit word gebruik om stygings in voordelebydraes aktuarieel te bereken. “Dit sal ’n baie goeie ontwikkeling wees, want die huidige vaste solvensievereiste van 25% beteken dat baie fondse oorwaardeer is, terwyl ander onderwaardeer is,” sê sy.

Die ander kant van groot reserwes is die bykomende beleggingsinkomste ,wat benewens lede se bydraes, tot voordeel van lede gegenereer word. Discovery Health Medical Scheme se beleggingsinkomste het verlede jaar R1,4 miljard beloop (wat opbrengs op persoonlike spaarrekeninge ingesluit het), vergeleke met bruto bydraes van R48,7 miljard, luidens sy jaarverslag.

Die fonds het verlede jaar ’n algehele beleggingsopbrengs van 10% behaal. Medihelp het ’n beleggingsinkomste van R119 miljoen uit ’n opbrengs van 9,7% op beleggings behaal. Bonitas het R436,7 miljoen se beleggingsinkomste uit ’n algehele opbrengs van 8,9% ontvang, terwyl Bestmed R152,3 miljoen se beleggingsinkomste uit ’n opbrengs van 8,3% gekry het. Die syfers kom uit dié mediese fondse se jaarverslae.

Dr Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health

In ’n poging om die koste by sommige van die groter oop mediese fondse te verlaag, word hul administrasie nou intern gedoen. Die Mededingingskommissie se private gesondheidsmarkondersoek het die kollig geplaas op die verhouding tussen niewinsgewende mediese fondse en winsgerigte, onafhanklike mediesefonds-administrateurs. Sandile Ncqobo, voormalige regter van die Grondwethof, het die ondersoek gelei.

Dit het bevind daar is “ ’n gebrek aan aanspreeklikheid van fondse teenoor lede en ’n bestuursmislukking wat fondsbelange te nou met dié van administrateurs laat ooreenstem”. Mediese fondse se sogenaamde nie-gesondheidsorgkoste verwys na die administrasie van dié instellings, wat werknemerskoste, tegnologieverwante uitgawes, aktuariële dienste, beleggingsgelde en bemarkingskoste insluit. Sommige mediese fondse verkies om self hul administrasie te behartig, terwyl ander dit aan derde partye uitkontrakteer.

Van die grootste derdepartymediesefondsadministrateurs is Discovery Health (Edms.) Bpk., Afrocentric se Medscheme en Sanlam. Die niegesondheidsorgkoste by Discovery Health Medical Scheme, wat saam met nog 18 kliëntfondse deur Discovery Health (Edms.) Bpk. geadministreer word, het verlede jaar 9,26% van die bruto lidbydrae beloop. Dit sluit nie waarde-aanpassings en makelaarsgelde in nie.

Medihelp, wat self sy administrasie behartig, het verlede jaar 7,5% van die bruto lidbydraes vir fondsadministrasie gebruik, volgens berekeninge op grond van die fonds se jaarverslag. Dit was minder as die 8,8% in 2016. “Om selfgeadministreerd te wees, beteken dat die fonds en sy lede saam die administrasiekomponent as ’n bate besit,” sê Van Rooyen. “Met die interne administrasie beteken dit dat die fonds nie meer BTW op salarisse hoef te betaal nie. Dit is ’n niewinsgewende entiteit ingevolge die wet op mediese fondse. Dit het beduidende besparing van niegesondheidsorgkoste meegebring.”

“Ons is daarvan bewus dat baie van die werk wat makelaars kamstig doen, in werklikheid deur die Raad vir Mediese Fondse, die statutêre liggaam, gedoen word.”


’n Enkele basiese voordele-opsie?

’n Basiese pakket van mediesefonds-voordele, wat dieselfde voordele by alle mediese fondse bied, behoort in Suid-Afrika verpligtend gemaak te word, lui die Mededingingskommissie se gesondheidsmarkondersoek.

In die verslag word aanbeveel dat elke persoon wat by ’n mediese fonds aansluit, die basiese opsie moet koop – wat vir rampspoedige uitgawes, soos ongelukke, asook ’n mate van buitehospitaal- en primêre sorg sal betaal. Dit sal van die huidige benadering van voorgeskrewe minimum voordele na die ontwerp van voordeelpakkete oorskuif.

Lede van mediese fondse sal dan aanvullende voordeelpakkette kan koop, en daar word aanbeveel dat verbruikers dié pakkette maklik moet kan vergelyk, stel die verslag voor. “Om eenvoudig die standaardvoordeelpakket te standaardiseer, sal egter nie die kwessie van bekostigbaarheid oplos nie,” lui die verslag.

Daarby moet ’n sogenaamde risikoaangepaste meganisme ingestel word om risiko, soos ouderdom, siektelas, lewensduur en ander faktore, by alle mediese fondse gelyk te stel. “As die mark nie ’n toekomstige basispakket gaan aanvaar nie, sal meer ontleding gedoen moet word,” sê Heyn van Rooyen, hoofamptenaar van Medihelp.

“ ’n Stelsel van risikoaanpassing sal geloofwaardig moet wees en kan waarskynlik net in ’n breë fondsstelsel van risikogelykstelling doeltreffend werk.” Dit behels dat ’n mediese fonds risiko aan derde partye moet oordra, byna soos ’n herversekeraar in korttermynversekering.

Sonder ’n standaardpakket sal dit onmoontlik wees om die risiko by skemas regverdig te meet, is in die ondersoek bevind. Daar word voorsien dat só ’n meganisme aanvanklik deur die Raad vir Mediese Fondse, die bedryfsreguleerder, gehanteer sal word.

Daar word ook voorgestel dat alle mediese fondse wetlik aan die meganisme moet behoort. “Ons ondersteun die algemene konsep van ’n gestandaardiseerde basispakket en risiko-aanpassing,” sê dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health (Edms.) Bpk. “Baie sal egter afhang van die besonderhede van hoe die basispakket omskryf word en hoe risiko-aanpassing gedoen word."


Hoe die mark vir private gesondheidsverseker ing gekonsolideer en gestagneer het

Sedert die eeuwisseling kom noemenswaardige konsolidasie van fondse, asook voordeelopsies in die plaaslike mediesefondsbedryf voor. Die konsolidasie gaan gepaard met stagnering van groei in die getal niestaatslede in meestal oop mediese fondse.

Mediese fondse word geklassifiseer as óf oop, waar enige individuele inwoner van die land by die fonds kan aansluit, óf beperk, waar die fonds tot ’n sekere groep mense beperk word wat gewoonlik in diens van dieselfde werkgewer is.

Discovery Health Medical Scheme is die grootste oop fonds met ’n markaandeel van sowat 57%. As die deels beperkte Profmed en CAMAF as deel van dié sektor beskou word, is Discovery se markaandeel 54%, volgens die Raad vir Mediese Fondse.

Die raad is die reguleerder van alle mediese fondse in die land. Discovery se groei word aangedryf deur die samesmelting van voormalige private oop en beperkte mediese fondse. Die aantal oop mediese fondse het van 41 in 2006 tot 22 in 2016 gedaal, luidens die raad se jongste jaarverslag.

In 2000 was daar 47 oop mediese fondse in die land, luidens die Mededingingskommissie se voorlopige verslag oor sy gesondheidsmarkondersoek en aanbevelings vir die plaaslike mark wat vroeër vandeesmaand uitgereik is. Die getal begunstigdes wat deur ’n oop mediese fonds gedek word, het tussen 2005 en 2016 byna onveranderd op net minder as 5 miljoen mense gebly, luidens die kommissie se verslag.

’n Groot oorskakeling van oop na beperkte fondse het in 2006 plaasgevind toe die mediese fonds vir staatsamptenare (Gems) ingestel is. Toe staatsgesubsidieerde lede oorgeskuif het van oop fondse na fondse soos Gems en nuwe lede bygevoeg is het die lidmaatskap van beperkte fondse van net minder as 2 miljoen in 2005 verdubbel tot sowat 4 miljoen lede in 2016, sê die kommissie.

Op soortgelyke wyse het die getal beperkte mediese fondse van 83 in 2006 tot 60 in 2014 gedaal. Baie groot werknemers het besluit om hul lede na ’n oop fonds oor te plaas en die beperkte fonds te beëindig.

Die groei in die ledetal in die private gesondheidsversekeringsmark is ten beste flou. Die raad sê die getal lede en hul begunstigdes het tussen 2015 en 2016 met 0,78% gegroei, met altesame 8,878 miljoen lewens wat gedek word.

Suid-Afrika se bevolking is volgens Statistieke Suid-Afrika middel verlede jaar op 56,5 miljoen geskat. Van die lewens wat in 2016 gedek is, het Gems 1,833 miljoen lede en begunstigdes gehad, Polmed (die Suid-Afrikaanse Polisiediens se beperkte fonds) het 498 152 lede en begunstigdes gehad, en SAMWUMed (wat hoofsaaklik uit munisipale werkers bestaan) het 83 202 lede en begunstigdes gehad.

Die bestendige konsolidasie van die mediesefondsmark kan ten beste met die Herfindahl-Hirschman-indeks geïllustreer word. Mededingingsower- hede gebruik dié instrument om die konsentrasie in ’n bepaalde mark te bepaal. ’n Uitgerekte proses van markidentifisering vind gewoonlik plaas voordat konsentrasie gemeet word.

Die indekstelling vir oop mediese fondse het van 1 510 in 2015 tot 3 391 in 2016 gestyg, luidens die kommissie se verslag. Discovery en Bonitas Medical Scheme dek saam sowat 70% van die lede en begunstigdes in die oop mediesefondsmark. ’n Indekstelling van meer as 2 500 weerspieël groot markkonsentrasie – met ander woorde, min deelnemers. Daarteenoor het die indekstelling van beperkte mediese fondse van 710 in 2005 tot 2 422 in 2016 gestyg, luidens die verslag.

Enkel-koper mag kan gesondheidsorgkoste stabiliseer

Die instelling van wetgewing oor die nasionale gesondheidsversekeringsfonds (NGV) kan Suid-Afrikaners bevoordeel deur gesondheidsorgkoste te stabiliseer. Dié koste het mediese-fondspremies die laaste jare opgejaag. Die kern oogmerk van die NVG is om ’n enkele koper – in ekonomiese terme ’n monopsonie – te skep wat geweldige bedingingsmag by mediese diensverskaffers het.

Die regering sal in die huidige fiskale jaar R205,4 miljard (gelykstaande aan 4,2% van die land se ekonomiese uitset vir vanjaar) aan gesondheidsdienste bestee, volgens die nasionale tesourie se begrotingsoorsig vir die jaar. Altesaam R128,7 miljard daarvan (62,6% van die gesondheidsbegroting) sal aan salarisse en werknemersvoordele bestee word.

Die regering beplan om R4,466 miljard aan masjinerie en toerusting, en R8,388 miljard aan geboue te bestee. Dit beteken 6,25% van die begroting sal bestee word aan openbare gesondheidsorginfrastruktuur.

Daarteenoor het die private hospitaalgroep Netcare in sy vorige boekjaar R1,13 miljard in sy plaaslike bedrywighede geïnvesteer. Dit is gelykstaande aan 5,9% van sy plaaslike verkope. Life Healthcare het R1,1 miljard (6,9% van sy plaaslike verkope) geïnvesteer en Mediclinic International het in sy vorige boekjaar R1,057 miljard (7% van sy plaaslike inkomste) teruggeploeg.

Een van die kernbepalings van die NGV is om vinnig stygende gesondheid- sorgkoste vas te vat, sê Russel Rensburg, programbestuurder vir gesondheidstelsels en -beleid van Rural Health Advocacy Project. Die regering het in 2010 groot sukses behaal toe die nasionale gesondheidsdepartement onderhandelinge oor MIV-medisyne by die provinsies oorgeneem het – wat volgens hom ’n kosteverlaging van tot 40% meegebring het.

Die regering se nasionale gesondheidsversekeringsbeleid, wat in Junie verlede jaar afgekondig is, verklaar dat byna die helfte van die gesondheidsorgbesteding vir 16% van die bevolking deur mediesefondsdekking is. Die ander helfte is openbare besteding vir 84% van die bevolking. Daarby is die openbare gesondheidsorgfinansiering as ’n persentasie van die ekonomiese uitset veel minder as die gemiddelde van 6,1% van ander middelinkomstelande, lui die beleidsdokument. “In beginsel sal die NGV mense toegang gee tot gesondheidsorg op grond van behoefte en nie hul maatskaplik-ekonomiese stand nie,” sê Rensburg.

Om die NGV-fonds doeltreffend in te stel – waarvoor nog agt jaar nodig is – moet die regering aan openbare gesondheidsorginfrastruktuur aandag gee, sê hy. Die provinsies, wat die meeste van die geld ontvang wat aan gesondheid- sorg toegewys word, het ’n tekort van R20 miljard, wat elke jaar oorgedra word, sê Rensburg. Dit beteken prakties dat voordat ’n fiskale jaar se toewysing aan enigiets anders bestee kan word, die agterstand in fakture by provinsiale gesondheidsdepartemente eers uitgewis moet word. “Openbare gesondheidsorg is baie broos,” sê hy.

Dit blyk uit diensleweringsbetogings vroeër vanjaar in Mahikeng, hoofstad van Noordwes, asook ’n bestuursfiasko by die Charlotte Maxike-hospitaal in Johannesburg in Mei toe dienslewering gestaak is. Daarby het die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement luidens nuusberigte te kampe met regsmediese eise van R1,4 miljard deur pasiënte wat aan serebrale verlamming lei wat al van 2004 dateer. Swak bestuur van gesondheidsorg- begrotings en ondoeltreffende kapitaal- besteding in die openbare gesondheid- sorgsektor plaas geweldige druk op dienslewering, volgens Rensburg.

Ingevolge die bestaande NGV-wetsontwerp sal die provinsies steeds hospitale bestuur, en die slegte manier waarop hulle dit doen, sal na die nuwe stelsel oorgedra word, sê hy. Daarteenoor het die private gesondheidsorgsektor, wat 16% van die bevolking dien, “te veel verskaffers wat te min pasiënte najaag”, sê Rensburg.

Russell Rensburg, programbestuurder vir gesondheidstelsels en -beleid van Rural Health Advocacy Project.

Uit die Mededingingskommissie se verslag blyk dit dat daar in die private gesondheidsektor 1,75 mediese praktisyns per 1 000 mense is en in die openbare gesondheidsektor 0,3 praktisyns per 1 000 mense. In Brittanje is die oorkoepelende verhouding 2,8, in Frankryk 3,2 en in Swede 4,2, luidens die verslag. Die NGV-wetsontwerp is ’n poging om die verspreiding en verskaffing van dienste vir die hele bevolking doeltreffender te maak, volgens Rensburg.

Hy sê mense in plattelandse gebiede, veral in die voormalige tuislande, sal dalk die meeste voordeel uit groter gesondheidsorgfinansiering trek. “Baie geld sal na dié gebiede gaan,” sê Rensburg. Die plattelandse mark is beperk, want mense kan nie mediesefondsbydraes bekostig nie en moet openbare gesondheidsorg gebruik. Wanneer ’n toegewyde bedrag geld gereeld na dié gebiede vloei, sal dit dalk die opening van algemene praktyke aanmoedig, volgens Rensburg. Die wetsontwerp maak voorsiening vir ’n begroting vir elke distriksmunisipaliteit in die land.

Finansiering sal onder meer bepaal word deur ’n distrik se bevolkingsgrootte en siektelas. Rensburg sê ook dat die voorkoms van sekere siektes in die land verander, met ’n toename die laaste paar jaar in siektes soos hoë bloeddruk en diabetes. Nog iets wat in die NGV-wetsontwerp aandag kry, is die kwessie van pasiëntvervoer. Dit is noodsaaklik om vir pasiënte voorsiening te maak om te kom waar gesondheidsorgdienste gelewer word, veral waar daar ’n tekort aan openbare vervoerdienste is, hoofsaaklik in die voormalige tuislande, sê Rensburg. “Baie werk moet gedoen word,” sê hy.

* terugvoer@finweek.co.za

Provinsies kan NGV opdraende gee

Die voorgestelde nasionale gesondheidsversekeringsfonds (NGV) sal dalk sukkel om goedkeuring by die Nasionale Raad van Provinsies te kry. Die voorgestelde finansieringsmodel verklein die nasionale tesourie se toewysings aan provinsies.

Die regering dra elke jaar die meeste van sy gesondheid- sorgbesteding aan provinsiale regerings oor om toe te wys. Die provinsies moet besluit hoe hulle hul sogenaamde billike deel van die nasionale belastinginkomste bestee. Daarby ontvang provinsiale regerings voorwaardelike toelaes met sterk gebruiksvoorwaardes.

“Gesondheid is ’n groot deel van provinsies se billike deel,” sê Russel Rensburg, programbestuurder vir gesondheidstelsels en -beleid van Rural Health Advocacy Project. “Die NGV-wetsontwerp bevat min oor die rol van provinsies.”

Die wetsontwerp voorsien ’n enkele koper van gesondheidsorgdienste vir die land, naamlik die NGV-fonds, by openbare en uiteindelik private gesondheidsorgverskaffers. “Die provinsies kan dit uitdaag,” sê Rensburg. Die provinsies se besteding aan gesondheidsorg wissel van 38,3% van die 2018-’19-begroting in Gauteng tot net 27,2% in Noordwes. 

Meer oor:  Ngv  |  Aaron Motosoaledi  |  Finweek  |  Gesondheidsplan  |  Discovery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.