Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wat lees die groot kanonne?
20 Desember 2018

African Bank se uitvoerende hoof, Basani Maluleke, wil drie boeke in die feestyd lees. Die eerste is Michelle Obama se outobiografiese lewensbeskrywing Becoming wat in November gepubliseer is. Maluleke sê sy wil weet watter sleutelgebeurtenisse Obama se lewens- en leierstyl gevorm het.

Die tweede boek op haar lys is die Wêreld- Ekonomiese Forum se stigter en uitvoerende voorsitter Klaus Schwab se Shaping the future of the Fourth Industrial Revolution wat in Januarie vanjaar gepubliseer is. Vinnige vooruitgang in kunsmatige intelligensie (KI), kriptogeldeenhede en die internet van dinge het nuwe moontlikhede geskep om ons wêreld meer inklusief te maak, sê Maluleke, maar voeg by dat dit ook “geweldige onsekerheid” skep. “In dié boek probeer Schwab om leiers te help om dié veranderinge te verstaan en te beplan hoe om te lei om sinvol voordeel te trek uit die moontlikhede wat deur Nywerheid 4.0 gebied word,” sê Maluleke.

Ook op haar leeslysie is Leading with Emotional Courage: How to Have Hard Conversations, Create Accountability, And Inspire Action deur Peter Bregman, wat in Junie vanjaar verskyn het. Bregman is die uitvoerende hoof van Bregman Partners, ’n internasionale bestuurskonsultasiefirma, wat uitvoerende hoofde en hul topbestuurders van raad bedien. “Dié boek is oor die skep van emosionele moed, wat ek glo ’n belangrike vaardigheid gaan word namate ons met groter onsekerheid te doen het en brawe besluite moet neem om groter mededinging te hanteer,” sê sy.

Die outeur Nthikeng Mohlele het in 2018 roeringe in Suid-Afrikaanse letterkundige kringe veroorsaak met sy roman Michael K, met verwysing na JM Coetzee se Life & Times of Michael K. Die outeur sê hy vind die feestyd ’n goeie tyd om letterkundige biografieë te geniet.

Drie boeke op sy vakansieleeslys is: Olivier Todd se Albert Camus: A Life, Patrick French se The World is What It is; The Authorized Biography of V.S. Naipaul en Bessie Head: Thunder Behind Her Ears: Her Life and Writing deur Gillian Stead Eilersen. Dié boeke is nuttig om die verwikkeldhede van kuns, en van dit rondom kuns, te ontknoop, sê Mohlele. Hy is op soek na bepeinsings oor letterkundige vaardigheid, gebeure rondom letterkundiges en hul idees oor geopolitiek.

Hy beplan ook om Ian Carr se puik nagevorste boekdeel Miles Davis: The Definitive Biography te lees. Maar eers wil hy weer ’n paar romans van Charles Bukowski oorlees, veral Women en Post Office.

Dokters sonder Grense se Suid-Afrikaanse direkteur-generaal Guilhem Molinie sê hy hou daarvan om vier of vyf boeke tegelykertyd te lees. Hy lees rond en bont na gelang van sy bui. Hy sien uit na die Brits-gebore Ghanees-Amerikaanse filosoof Kwame Anthony Appiah se nuwe boek The Lies That Bind: Rethinking Identity wat in Augustus gepubliseer is. Appiah voer aan dat mense hulle identiteit saamstel uit idees wat basies leuens is wat hulle kies om te glo.

’n Boek wat hy hoog aanbeveel as goeie vakansieleesstof, is die Brasiliaanse fotograaf Sebastião Salgado se From my land to the Planet wat in 2013 verskyn het. Salgado het vir meer as 40 jaar in Afrika as ’n fotograaf gewerk en vertel sy verhaal saam met pragfoto’s.

Suid-Afrika se mededingingskommissaris Tembinkosi Bonakele is op die oomblik halfpad deur Elon Musk: Tesla, SpaceX, and the Quest for a Fantastic Future, die biografie deur Ashlee Vance. Hy vind dit fassinerend hoe Musk gevestigde bedrywe ontwrig. Bonakele sê dit is die onortodokse benadering wat so reg in die kraal pas van die held-/skurk dualiteit van sy openbare persona.

Die beste boek wat hy in die afgelope drie jaar gelees het, was Thomas Piketty se Capital in the 21st Century. Bonakele sê hoewel Piketty oor die Weste geskryf het, is sy navorsing van hoe rykdom afgewentel word, “noodsaaklike leesstof” vir Suid-Afrikaners. “Piketty toon in reële ekonomiese terme dat dit geweldig moeilik is om rykdom los te wikkel; rykdom versterk homself,” sê hy.

Daar word jaarliks met groot afwagting uitgesien na Bill Gates, Microsoft se stigter*, se gunsteling boeke van die jaar. Dit is bekend dat hy sowat 50 boeke per jaar lees, en jaarliks sy gunstelingboeke op sy blog gatesnotes.com deel.

Vanjaar sluit sy lys Educated deur Tara Westover in, wat ’n lid van ’n Mormoonse gesin was. “Tara het nooit skoolgegaan of ’n dokter besoek nie totdat sy haar huis op 17 verlaat het,” skryf Gates. Westover het uiteindelik ’n PhD aan die Universiteit van Cambridge verwerf.

Ook op sy lysie is Army of None deur Paul Scharre. “Outonome wapens is nou nie juis die belangrikste ding waaraan vakansiegangers dink nie, maar dié prikkelende kykie na KI in oorlogvoering is moeilik om neer te sit,” skryf hy.

Bad Blood deur John Carreyrou skets die groei en val van die Amerikaanse gesondheidstegnologiefirma Theranos. “Die boek bevat al die elemente: uitgebreide swendelary, korporatiewe intrige, tydskrifvoorblad- artikels, geruïneerde familiebande, en die ondergang van ’n maatskappy wat eens teen amper $10 miljard gewaardeer was.”

Die ander boeke op sy lysie is 21 Lessons for the 21st Century deur Yuval Noah Harari, en The Headspace Guide Meditation & Mindfulness deur Andy Puddicombe.

* Neem deel aan die gesprek by terugvoer@finweek.co.za

* Bykomende verslaggewing deur die finweek-span.

Meer oor:  Finweek  |  Boeke  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.