Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wat ’n kragrevolusie vir SA se ekonomie kan doen
9 Mei 2019

Foto's: South Africa Wind Energy Association

Handelsmaatskappye, fabrieke en plase in Suid-Afrika veg om die reg om hul eie krag op te wek om aan die werk te bly tydens die aaneenlopende kragonderbrekings wat hul sake bedreig, uitbreidingsplanne vertraag, en hulle in sommige gevalle dwing om te besnoei.

Kleinskaalse “ingebedde” kragopwekkingstelsels, hoofsaaklik fotovoltaïese sonkraginstallasies, kom reeds oral in die land voor met maatskappye wat stappe doen om bestendige kragvoorsiening te verseker en die beperkende koste van elektrisiteitspryse te verlaag – wat in die afgelope dekade met byna 400% gestyg het.

Maar die opgehoopte vraag na veel meer private projekte in hernubare energie – wat vinnig sal help om aandag te gee aan die kragtekorte wat die ekonomie belemmer – word gedwarsboom deur burokratiese rompslomp en regulasies wat streng en verouderd is.

Beperkings

Die beperkings sal waarskynlik nie gou verlig word nie te midde van belangekonflik in die regering, die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en Eskom. “Ons is nou in ’n posisie waar ons die toenemende krisis by Eskom dophou en baie bewus is van die feit dat dit baie onduidelik is hoe dit opgelos gaan word en wie daarvoor gaan betaal,” sê Mike Levington, voorsitter van die Suid-Afrikaanse fotovoltaïese bedryfsvereniging (Sapvia) se subkomitee vir groenekonomie.

“Sakeondernemings begin sê dat hulle nou self verantwoordelikheid vir hul kragvoorsiening moet aanvaar. Hulle beskou ingebedde kragopwekking as ’n manier waarop hulle ’n mate van beheer oor hul onderneming se bedryfskoste sal kan hê.”

Die bedryfsliggaam het 880 megawatt se vermoë geïdentifiseer wat onmiddellik beskikbaar gestel kan word uit projekte van kleinskaalse ingebedde opwekking wat die private sektor reeds gebou het, maar wat weens die regulatoriese beperkings nie gebruik word nie.

Niveshen Govender, programdirekteur van Sapvia, sê die bedryfsliggaam het 880 megawatt se vermoë geïdentifiseer wat onmiddellik beskikbaar gestel kan word uit projekte van kleinskaalse ingebedde opwekking wat die private sektor reeds gebou het, maar wat weens die regulatoriese beperkings nie gebruik word nie. Dis meer as wat eenheid drie van Eskom se Kusile-kragaanleg verskaf, wat op 16 April by die netwerk ingeskakel is.

Aansoeke om nog 1 000 megawatt se fotovoltaïese sonkrag te installeer, lê nog by Nersa, en Govender skat dat nog 3 000 tot 4 000 megawatt se vermoë ook beperk word. In konteks gestel: Eskom het 46 292 megawatt se geïnstalleerde vermoë, wat versigtig bestuur moet word en van tyd tot tyd vir onderhoudswerk afgeskakel moet word om die soort herhalende nasionale kragonderbrekings te vermy wat Venezuela in Maart verlam het.

Byna 4 000 megawatt daarvan is hernubare energie wat opgewek word op son- en windkragplase wat deur langtermyn-ooreenkomste gebou is wat Eskom tussen 2011 en 2015 tydens sy program vir onafhanklike kragprodusente van hernubare energie (REIPPP) gesluit het.

Eskom het egter dié program, wat gehelp het om Suid-Afrika onder internasionale investeerders as ’n geloofwaardige mark vir hernubare energie met taamlik lae risiko te vestig, teen 2016 gestaak – ’n jaar nadat hy verplig was om intensiewe aaneenlopende kragonderbrekings, of beurtkrag, in te stel.

Hernubare energie

Eskom het gesê hy sal nie meer krag by projekte vir hernubare energie koop nie omdat hy weer ’n bedryfsoorskot gehad het en krag goedkoper kon kry – terwyl hy planne ingestel het om ’n vloot kernkragaanlegte te bou wat die staatskas bankrot sou maak. Dié besluit het die ontluikende vervaardigingsbedryf verpletter wat deur verpligte vereistes vir plaaslike inhoud in die REIPPP ontwikkel is.

Buitelandse maatskappye het hul onttrek; aanlegte en installasiemaatskappye is gedwing om te sluit; en duisende werksgeleenthede is verloor.

“Die bedryf van hernubare energie was sonder heenkome, want daar was geen komende projekte nie – dit het die hele waardeketting beïnvloed,”

“Die bedryf van hernubare energie was sonder heenkome, want daar was geen komende projekte nie – dit het die hele waardeketting beïnvloed,” sê Viren Gosay, hoofbestuurder van ARTsolar, ’n vervaardiger in fotovoltaïese sonkrag in plaaslike besit. “Ons moes die meeste van ons personeellede afdank om te oorleef en toe op die private sektor konsentreer.”

Sake het egter verander danksy die skouspelagtige daling in die koste van hernubare energie die laaste paar jaar, wat fotovoltaïese sonkrag ’n aantreklike en lewensvatbare opsie vir baie klein en middelslagondernemings gemaak het om te help om die bedryfskoste te beperk en kragvoorsiening te verseker. “Die vraag het geweldig toegeneem. Ons is ongelooflik besig, en investeer in meer kapitaaltoerusting,” sê Gosai.

Die ervaring van ander fotovoltaïesesonkrag- maatskappye in die land is soortgelyk.

Chris Haw, direkteur van Aurora Group SOLA Future Energy

“Elke week vra ’n groot energiegebruiker sonkrag,” sê Chris Haw, direkteur van Aurora Group SOLA Future Energy. “Ons het gevind dat die mark by handelseiendomme, soos winkelsentrums en kleinhandelsentrums, begin het en nou meer na nywerheidsprojekte oorskuif.” 

Munisipaliteite is besorg oor wat sakeondernemings “ ’n gedros van die kragnetwerk” noem, en baie vra die regering om die reg om self elektrisiteit by onafhanklike produsente te koop of hul eie krag op te wek om regstreeks aan hul klante te verkoop. “Om op Eskom te steun beteken om te steun op ’n ou model wat nie meer volhoubaar is nie,” sê Nhlanhla Ngidi, hoof vir energie en elektrisiteit van die Suid-Afrikaanse vereniging van plaaslike regerings (Salga).

"Dis hoekom ons benadering by Salga is dat die munisipaliteite die nuwe geleenthede moet kan benut om hul eie kragopwekkingsaanlegte te ontwikkel, om hul eie programme vir kleinskaalse ingebedde opwekking te hê, en om ook by private produsente te koop waarvan die pryse laer as Eskom s’n is.”

Druk onstaan as gevolg van...

Toenemende druk ontstaan dat Suid-Afrika na die gedesentraliseerde elektrisiteitsmodel oorskakel wat al hoe meer lande aanvaar en waarin onafhanklike kragprodusente hul oorskot vermoë aan die netwerk verkoop en dit in sommige gevalle deur die netwerk direk na hul eie klante stuur.

Eskom kan ’n “afleweringstarief” hef om die nutsmaatskappy in staat te stel om die netwerk te onderhou en te bedryf, en klante sal deur doeltreffende kragpryse en die nuutste tegnologie bevoordeel word.

Die regering se planne om Eskom te verdeel in drie entiteite wat opwekking, transmissie en verspreiding hanteer, word as ’n stap in dié rigting beskou, maar groot weerstand teen die idee kom voor, veral by vakbonde. Ramings van die bestaande vermoë van kleinskaalse ingebedde opwekking verskil.

Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) stel dit in ’n onlangse verslag op tussen 200 en 300 megawatt. Govender dink die ware syfer is “veel groter” en sê Sapvia het ’n maatskappy aangestel om dit te ondersoek.

Die probleem is dat aansoeke vir projekte groter as 1 megawatt nie kan voortgaan nie omdat hulle ingevolge wysigings aan Skedule 2 van die Wet op Kragregulering van November 2017, ’n toewysing moet hê binne die nasionale geïntegreerde hulpbronplan vir krag wat van 2010 dateer. Omdat ingebedde opwekking nie in die geïntegreerde hulpbronplan genoem word nie, moet die beplande projek toestemming by die minister van energie en ’n volle opwekkinglisensie by Nersa kry deur dieselfde proses te volg wat van ’n groot Eskom-kragstasie vereis word.

Geen lisensie word vir enige installasie onder 1 megawatt vereis nie – wat in baie kantoorgeboue, fabrieke en plase se behoeftes sal voorsien. Dié projekte moet egter steeds by Nersa registreer – en dié proses staan ook stil.

Geen lisensie word vir enige installasie onder 1 megawatt vereis nie – wat in baie kantoorgeboue, fabrieke en plase se behoeftes sal voorsien. Dié projekte moet egter steeds by Nersa registreer – en dié proses staan ook stil.

Die departement van energie het onlangs aan Nersa opgedateerde wysigings aan skedule 2 gegee, maar die reguleerder moet dit goedkeur voor ’n tydperk van openbare oorleg van 30 dae.

Wanneer dié proses afgehandel is, moet die minister van energie – wat dalk ná 8 Mei se verkiesing vervang sal word – die regulasies onderteken. “Ons wag almal vir die veranderinge aan die wetgewing, en dis werklik hartseer dat dit so lank duur en só ’n reusedeel van die bedryf terughou wat baie meer werksgeleenthede kon geskep het en plaaslike toerustingvervaardiging kon aangemoedig het,” sê Haw.

“Dis op die oomblik te klein om plaaslike toerustingvervaardiging te regverdig.” Shaun Nel, projekdirekteur van die Energy Intensive Users Group of Southern Africa, sê kleinskaalse ingebedde opwekking kan ’n belangrike rol speel, want dit kan dit moonlik maak om meer van Eskom se basislading na swaar nywerhede te kanaliseer.

“Ons meen die mark moet oopgestel word sodat mense self krag kan opwek en in die netwerk kan plaas. Dit sal van Eskom se vermoëbeperkinge verlig. Al waaroor ons besorg is, is dat die netwerkstabiliteit veilig moet bly sodat energie nie invloei en probleme veroorsaak nie.” Sommige van Suid-Afrika se mynboumaatskappye het fotovoltaïese sonkrag begin installeer om hul energiekoste te verlaag en aan internasionale vereistes vir koolstofbekendmaking te voldoen.

Sven Lunsche, onderhoofbestuurder vir korporatiewe sake van Gold Fields

Maar Sven Lunsche, onderhoofbestuurder vir korporatiewe sake van Gold Fields, sê die mynmaatskappye moes ’n beplande fotovoltaïesesonkrag-projek van 40 megawatt by sy South Deep-goudmyn tot 10 megawatt verander weens veranderinge aan regulasies oor eie opwekking.

Nuwe hulpbron planne is nodig!

Die bedryf het dit nodig dat die nuwe geïntegreerde hulpbronplan bly ontwikkel. Die plan was veronderstel om elke twee jaar bygewerk te word met die insluiting van die jongste aannames vir die ekonomie, hersiende vraagvoorspellings, die status en tydsberekening van nuwe vermoë wat by Eskom se netwerk gevoeg word, en die jongste koste van opwekkingtegnologie. Verskeie pogings die afgelope paar jaar om die plan by te werk, het misluk.

Die jongste weergawe, die bygewerkte konsephulpbronplan van vanjaar, is deur ’n proses van openbare deelname en is by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkeling- en Arbeidsraad (Nedlac) ingedien vir bespreking in Maart. Die plan sluit vir die eerste keer “verspreide” of ingebedde opwekking in, en pleks van ’n berekening van die toewysing vir die kategorie tussen vanjaar en 2022 sal dit luidens die bygewerkte konsepplan “toegewys word in die mate van die korttermynverskil tussen vermoë en energie”.

Tussen 2023 en 2030 is daar ’n jaarlikse toewysing van 500 megawatt vir verspreide opwekking, maar geen totaal word vir dié jare gegee nie. “Dit sê baie en dui daarop dat ingebedde, verspreide opwekking en die klant ’n wesenlike deel vorm van die oplossing om aan die toekomstige vereistes van elektrisiteitsvoorsiening te voldoen,” sê die energieontleder Chris Yelland.

Chris Yelland, energieontleder

In die konsepplan word openbare insette erken waarin voorgestel word dat die toewysing vir ingebedde opwekking vergroot word, en sê die departement oorval word met versoeke deur maatskappye, munisipaliteite en individue om van die bestaande geïntegreerde hulpbronplan af te wyk sodat Nersa hul aansoek om ’n opwekkinglisensie kan goedkeur.

Die konsepplan

Die konsepplan toon ook dat die opwekking van steenkoolaangedrewe krag na verwagting tussen nou en 2030 skerp sal afneem, terwyl fotovoltaïese sonkrag en windkrag se bydrae beduidend sal toeneem. Kernkragvermoë sal ook na verwagting afneem.

Uit Eskom se oogpunt is dit op kort termyn positief as klante toegelaat word om hul eie bronne van energievoorsiening op te stel, want dit sal die druk op sy infrastruktuur verlig en vereis nie staatsfinansier- ing nie.

Op lang termyn bedreig dit egter die kontant- arm nutsdiens se inkomste, wat reeds verklein word deur groter doeltreffendheid en die onttrekking van klante wat goed betaal. “Eskom aanvaar dat kleinskaalse ingebedde opwekking ’n wêreldwye tendens is, en Suid-Afrika is nie ’n uitsondering nie.

Die konsepplan toon ook dat die opwekking van steenkoolaangedrewe krag na verwagting tussen nou en 2030 skerp sal afneem, terwyl fotovoltaïese sonkrag en windkrag se bydrae beduidend sal toeneem. Kernkragvermoë sal ook na verwagting afneem.

Kleinskaalse ingebedde opwekking verteenwoordig sowel ’n gevaar as ’n geleentheid vir tradisionele nutsmaatskappye,” sê Andrew Etzinger, Eskom se waarnemende opwekkingshoof. “Ons het in Eskom se geval ’n aantal sulke geleenthede op ons eie persele geïnstalleer, en ons spoor geleenthede aktief na en evalueer hulle.”

Een van die grootste struikelblokke vir die oorskakeling van steenkool- tot hernubare energie in Suid-Afrika is die persepsie dat dit tot geweldige werksverliese by Eskom en op steenkoolmyne sal lei.

Tobias Bischoff-Niemz, energieontleder en voormalige hoofingenieur van Eskom

Maar die energieontleder Tobias Bischoff-Niemz, voormalige hoofingenieur van Eskom, sê ’n vloot fotovoltaïesesonkrag- en windplase sal 30% meer werksgeleenthede as ’n steenkoolvloot met gelyke energieopwekking hê.

Hy het onlangs in ’n rubriek gewys op deurtastende navorsing wat die Amerikaanse departement van energie gepubliseer het wat wys dat die fotovoltaïese-son- en windkragbedryf in Amerika verlede jaar 475 000 werknemers gehad het, teenoor 240 000 in die kernkrag- en steenkoolsektor saam.

“Dié syfer is nog indrukwekkender as mens in ag neem dat wind- en fotovoltaïese-sonkrag steeds net 10% van Amerika se elektrisiteit voorsien, teenoor die 60% van kernkrag- en steenkoolaanlegte,” het hy gesê. Volgens die WNNR het die REIPPP 35 000 werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners gegenereer en R201,8 miljard se investering gelok waarvan ’n kwart uit die buiteland was.

Ekonomie krimp in eerste kwartaal ná beurtkrag

Suid-Afrika se ekonomie sal waarskynlik in die eerste kwartaal van vanjaar skerp inkrimp nadat kwaai, onverwagte beurtkrag nywerheidsproduksie belemmer het en sake- en verbruikersvertroue geknou het – wat die vooruitsig op ’n toename in investering en indiensneming laat verflou.

Ontleders voorspel dat die uitwerking van kragtekorte op die mynbou- en vervaardigingsektor alleen tot ’n daling van minstens een persentasiepunt in die algehele ekonomiese uitset in die eerste kwartaal kon lei – wat die verwagtinge bedreig dat die groeikoers vanjaar sterk sou herstel nadat dit verlede jaar 0,8% was.

Die uitwerking van die verlangsaming in wêreldgroei en vakbondstakings kan reeds nie vermy word nie, en as kragonderbrekings in die winter voorkom – soos al hoe waarskynliker lyk – sal die ekonomie vanjaar dalk weer teen minder as 1% groei – veel minder as wat voorspel is. “Terwyl die onmiddellike regstreekse uitwerking duidelik is, is ek baie besorg oor die uitwerking op maatskappye se bereidheid om selfs op mediumtermyn hul vermoë uit te brei.

Die onlangse beurtkrag was ’n groot terugslag vir enige verwagte herstel in vaste investering en indiensneming,” sê Elna Moolman, ekonoom by Standard Bank.

Die sakevertrouensindeks, wat deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER) saamgestel en deur Rand Merchant Bank (RMB) uitgereik word, het van 31 indekspunte in die vierde kwartaal van verlede jaar tot 28 indekspunte in die eerste kwartaal van vanjaar gedaal – dieselfde vlak as in 2009 tydens die resessie.

Die BER-FNB-hoofindeks van verbruikersvertroue het in dieselfde tydperk van sewe punte in die tweede helfte van verlede jaar tot twee gedaal nadat dit in die eerste kwartaal tot ’n rekordvlak van 26 gestyg het vanweë entoesiasme oor president Cyril Ramaphosa.

“Eskom se skokinstelling van fasevier-beurtkrag in Februarie en Maart het ongetwyfeld ’n nadelige uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie gehad en dis daarom nie verbasend dat verbruikers veral oor die ekonomiese vooruitsigte besorg raak nie,” sê Mamello Matikinca- Ngwenya, hoofekonoom van FNB, in ’n navorsingsaantekening.

Ettienne le Roux, hoofekonoom van RMB, sê die bruto binnelandse produk (BBP) het dalk in die eerste kwartaal met 1,5% gekrimp, wat sy voorspelling van groei van 1,3% vir die volle jaar aansienlik bedreig. Om vanjaar selfs ’n teiken van 1% te bereik, sal die BBP in die res van die jaar teen ’n geannualiseerde koers van 2% moet groei, sê hy.

“Dit lyk ’n bietjie te veel gevra teen die internasionale agtergrond, wat plaaslike verbuikers finansieel kniehalter, ‘teruggetrokke’ maatskappye en die aansienlike gevaar wat verdere kragonderbrekings inhou,” sê hy. Dis moeilik om die werklike uitwerking van beurtkrag te bereken – wat in Maart verskeie dae lank in fase vier was, wat beteken dat Eskom se huidige geïnstalleerde kapasiteit van 46 292 megawatt daagliks 4 000 megawatt minder was.

Peter Attard Montalto, hoof vir kapitaalmarknavorsing van Intellidex, raam die regstreekse koste vir die ekonomie op R32 miljard. Dit sluit egter die geld uit wat ondernemings aan dieselkragopwekkers bestee het, en die uitwerking van kragonderbrekings by substasies wat deur die wisselvallige voorsiening veroorsaak is.

Die kragonderbekings in die eerste kwartaal – wat hoofsaaklik toegeskryf is aan die verlies van voorsiening uit Mosambiek ná die sikloon Idai – was die ergste sedert 2015, het die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad se energiesentrum in April in ’n navorsingsaantekening gesê.

Hy het egter uitgewys dat die beurtkrag veel erger sou gewees het sonder die bydrae van die land se nutsopwekking van hernubare energie van wisselende omvang wat maandeliks tussen 4,9% en 6% van die kragvoorraad bydra. Sonder dié inset sou beurtkrag in die kwartaal van altesame 769 gigawatt-uur tot 1 126 gigawatt-uur gestyg het – wat beteken dat fases vyf en ses dalk gebruik sou word, lui die verslag.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het gesê beurtkrag sal tydens die winter, wanneer die vraag gewoonlik die grootste is, nie erger as fase een, of 1 000 megawatt, wees nie. Maar sakeondernemings is bekommerd. ’n Onlangse vooruitsig oor drie maande vir die besikbaarheid van kragopwekking op Eskom se webwerf lig ’n “waarskynlike risikoscenario” in verskeie weke in Mei en Junie uit. 

Internasionale beleggingstendense verskuif na hernubare energie

Die keerpunt is ná jare van subsidies bereik en hernubare energie het hoofstroomtegnologie geword. Tegnologiese innovasie het koste soveel verlaag dat die argument vir die oorskakeling weg van fossielbrandstowwe een van ekonomiese en omgewingsvolhoubaarheid geword het.

Die koste van die twee vorme van hernubare energie wat die meeste gebruik word – fotovoltaïese sonkrag en landwind – het sedert 2008 met 80% en 50% gedaal en die tendens sal waarskynlik voortduur.

Die International Renewable Energy Agency sê hernubare bronne verteenwoordig nou ’n derde van die wêreld se kragvermoë en dat twee derdes van die nuwe kragopwekking wat verlede jaar bygevoeg is, uit hernubare bronne kom, waaronder hidrokrag, bioenergie en geotermiese energie.

Beleggingsfondse wat tot disinvestering aan fossielbrandstowwe verbind is, het meer as $6 000 miljard bereik, en die versekeringsbedryf lei die verkope met meer as die helfte van die totaal, luidens ’n verslag deur Arabella Advisors.

Noorweë se reuse-oliefonds het in Maart gesê hy sal sy beleggings (meer as $8 miljard) verkoop in 134 maatskappye wat eksplorasiewerk na olie en aardgas doen. Saoedi-Arabië se openbare beleggingsfonds het in April sy laaste belegging in olie en aardgas verkoop.

Suid-Afrikaanse finansiële instellings begin bepalings van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling volg, en Nedbank, Standard Bank en FirstRand het hul in die laaste maande aan die finansiering van nuwe steenkoolkragprojekte onttrek, behalwe dié wat die jongste stoomopwekkingstegnologie gebruik. 

Meer oor:  Ekonomie  |  Finweek  |  Kragrevolusie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.