Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wat sport vir ons van ongelykheid kan sê
5 November 2020
Foto: Shutterstock

Sport is dikwels ’n wêreld in die kleine van breër samelewingspatrone. Dit kan ook iets oor ekonomiese aansporings in die samelewing sê. Neem die verband tussen ’n land se ongelykheid en sy ekonomiese prestasie.

Baie van ons sou sê ongelykheid is sleg vir groei; dat ’n uiters ongelyke samelewing die nagevolg het dat dit die produktiewe potensiaal van mense onderaan die inkomsteverspreiding kniehalter. Ander sou sê ongelykheid, selfs erge ongelykheid, is ’n nodige voorwaarde vir ekonomiese voorspoed: dié met die beste idees of talent kom bo uit en word vir hul vaardighede en risiko-aptyt beloon – die aansporingseffek.

Om te identifiseer watter een van dié twee gevolge die botoon voer, is egter ’n twyfelagtige oefening. Wat ons wel heel akkuraat kan meet, is Olimpiese prestasie – die getal medaljes per capita. Kan ons tussen dié twee bepaal wat die oorheersende gevolg is wanneer ons die verband tussen ongelykheid en Olimpiese medaljes ontleed? Kom ons begin deur te veronderstel die rykes en armes in ’n samelewing het dieselfde talent vir sport ontvang.

Wanneer instellings egter sterk is, wanneer inspanning beloon word, daar ’n opbrengs op belegging is, sal ongelykheid nie in die pad staan van ontwikkeling nie.

Om ’n medalje op die Olimpiese Spele te verower, verg egter duisende ure se oefening. Dit vereis ook toegang tot geriewe, geld en tyd. Iemand wat ryk is, het meer waarskynlik toegang hiertoe as iemand buitengewoon talentvol, maar arm. Dit volg dus dat, in ’n uiters ongelyke samelewing, slegs ’n klein persentasie mense toegang sal hê tot die soort hulpbronne wat hulle in staat sal stel om Olimpiese atlete te word.

Net soos met ekonomiese prestasie sal die verwagte verhouding tussen ongelykheid en ’n land se posisie op die medalje-rangleer dus negatief wees. So eenvoudig is dit egter nie. Om ’n Olimpiese medalje te verower, bring ’n mens geld in die sak. Vir arm mense is dié beloning groter (buite verhouding groter, vergeleke met hul inkomste) as vir ryk mense.

Vir die armstes is dit sterk aansporing om aan sport deel te neem en tyd en moeite daarin te investeer. Anders gestel: as ’n goeie skoolopleiding noodsaaklik is om universiteit toe te kan gaan en ’n beroepskwalifikasie te verwerf, sal dit vir ’n kind uit ’n swak omgewing sin maak om tyd en moeite daarin te investeer om eerder ’n marathonatleet te word, waar die versperrings vir toetrede nie so hoog is nie. Dit kan dus wees dat ongelykheid ’n groter deelname aan sport meebring, wat tot meer medaljewenners lei – die aansporingseffek.

So, watter effek is die grootste?

In ’n referaat van die ekonome Vadim Kufenko en Vincent Geloso wat in die Journal of Institutional Economics gaan verskyn, is dié verband empiries getoets met die Olimpiese Spele van 2016 in Rio de Janeiro. Die navorsers het vir verskeie dinge gekontroleer, onder meer ’n land se bevolkingstal en vorige Olimpiese prestasie, en inderdaad ’n negatiewe verhouding tussen ongelykheid en Olimpiese medaljewenners gevind, maar met ’n belangrike voorbehoud: dit is slegs geldig vir lande wat nie ekonomies vry is nie.

Om ekonomiese vryheid te meet, het hulle die Ekonomiese Vryheid van die Wêreld-indeks gebruik wat die Fraser-instituut in Kanada saamstel. Vir lande hoog op die ranglys het die navorsers geen verband gevind tussen ekonomiese vryheid en Olimpiese medaljes wat dié lande verower het nie.

Hoe verklaar ’n mens dit?

Kufenko en Geloso voer aan dat in lande met sterk eiendomsregte (’n belangrike onderdeel van die vryheidsindeks) die vrug van jou arbeid veilig is. Trouens, dit kan jou aanmoedig om nog harder te werk, in teenstelling met ’n bestel waar die opbrengs op jou belegging maklik onteien kan word.

Só weerspieël sportuitkomste meer algemene aansporings in die samelewing. Wanneer sosiale mobiliteit laag is, wanneer die armstes geen rede sien om in hulself te investeer nie, geen rede het om harder te werk nie (soos dit in talle samelewings wêreldwyd die geval is waar eiendomsregte en ander instellings swak is) is die kanse gering dat dié aan die onderpunt van die inkomsteverspreiding sal investeer. Dan lei ongelykheid tot sub-optimale uitkomstes.

Wanneer instellings egter sterk is, wanneer inspanning beloon word, daar ’n opbrengs op belegging is, sal ongelykheid nie in die pad staan van ontwikkeling nie. Eerder as om ongelykheid regstreeks te pak, meen die navorsers, moet die fokus daarop wees om instellings te versterk. ’n Ander soort ongelykheid wat die afgelope tyd baie aandag gekry het, is geslagsongelykheid.

’n Nuwe referaat deur die ekonoom Maryam Dilmaghani in die Journal of Comparative Economics vra waarom daar op kandidaatmeestervlak onder skaakspelers in Viëtnam 47 vroue uit elke 100 mans is, terwyl die getalle in Frankryk en Swede baie ongelyker is – drie vroue uit elke 100 mans.

Sy skryf dit aan kommunisme toe: “Die onderhawige referaat lewer sterk bewyse vir die invloed van kontekstuele faktore op vroue- skaakspelers se prestasie. Die feit dat post-Sowjet-lande en Mongolië grootliks uitgestaan het, tesame met China, Viëtnam en Kuba, steun die moontlikheid dat sosiopolitieke instellings ’n blywende uitwerking het. Dit kan veral wees dat die sosialistiese instellings se minder tradisionele houding teenoor geslagsrolle vroue beïnvloed het om in aktiwiteite te investeer waar mans voorheen oorheers het.”

Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Verskille in die aansporings wat kommunistiese en kapitalistiese regimes gebruik, help om die gaping te verklaar. In die meeste kapitalistiese lande was pogings om geslagsgelykheid te bevorder hoofsaaklik op maatskaplike welvaart toegespits, met kraamverlof en soortgelyke ander maatreëls om swangerskap en kinders se versorging te ondersteun.

Hierteenoor het kommunistiese lande vroue se deelname aan die arbeidsmag bevorder, dikwels ten koste van vroue se fertiliteitskeuses. Dit verklaar ook waarom die fertiliteitskoers in die meeste voormalige kommunistiese lande onderkant die vervangingsvlak is. Skaak, soos die Olimpiese Spele, wys hoe instellings aan ongelykheid vorm gee – en hoe ’n deeglike begrip van die historiese konteks waarin die ongelykheid veranker is, nodig is om die ongelykheid op te los. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.


Meer oor:  Finweek  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.