Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wat van belasting op kriptogeldeenhede?
30 Augustus 2018

Suid-Afrika se belasting van kriptogeldeenhede – virtuele geldeenhede, soos Bitcoin – stem tans baie ooreen met die belasting in lande soos Amerika, Indië en Kanada, sê Candice Gibson, senior assosiaat by Norton Rose Fulbright.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het vroeër aangedui dat hy sal voortgaan om normale inkomstebelastingreëls op kriptogeldeenhede toe te pas. Daar word van belastingbetalers verwag om die wins of verlies uit kriptogeldeenhede in hul belastingopgawes te verklaar, andersins kan boetes en rente weens onderverklaarde inkomste gehef word.

Ingevolge Amerikaanse wetgewing hanteer Amerika se belastingowerheid virtuele geldeenhede as eiendom. Vier sleutelregte word aan eiendomsregte toegeskryf: die reg om die goedere te gebruik, die reg om inkomste daaruit te verdien, die reg om die goedere aan ander oor te dra, en die reg om eiendomsregte toe te pas.

Gibson sê as ’n belastingbetaler ’n virtuele geldeenheid “ontgin”, vereis die Amerikaanse belastingowerheid dat die billike markwaarde by die belastingbetaler se inkomste ingesluit word – wat soortgelyk is aan Suid-Afrika se belastingstelsel, wat vereis dat ’n bate wat in ’n inkomsterekening gehou word, by belasbare inkomste ingesluit word.

Die nasionale tesourie het in vanjaar se begrotingsoorsig gesê kriptogeldeenhede hou gevare vir die inkomstebelastingstelsel in omdat hulle “uiters wisselvallig is en hul volhoubaarheid onseker is”. Daarby het die tesourie administrasieprobleme uit ’n BTW-oogpunt genoem.

Candice Gibson, senior assosiaat by Norton Rose Fulbright

Die tesourie het in Julie sekere wysigings in die Belastingwysigingswetsontwerp voorgestel om groter sekerheid aan die belastinghantering van wins en verlies uit kriptogeldeenhede te gee. Die SAID het in April in ’n verklaring gesê die bepaling van of ’n aanwas of ontvangs kapitaal of inkomste is, word aan die hand van toetssake, waaraan daar nie ’n tekort is nie. Wanneer dit as inkomste beskou word, sal dit by die belastingbetaler se belasbare inkomste ingesluit word en teen die belastingkoers van tot 45% vir individue belas word.

As dit as kapitaal beskou word, sal dit as kapitaalwins teen ’n effektiewe koers van 18% vir individue belas word. Daar word in die konsepwetsontwerp voorgestel dat kriptogeldeenhede by die definisie van ’n “finansiële instrument” ingesluit word. As die voorstel van krag word, sal enige daling in die waarde van ’n kriptogeldeenheid uitdruklik uitgesluit word wanneer ’n belastingbetaler se belasbare inkomste bepaal word wanneer die waarde van verhandelingsvoorraad in berekening gebring word.

Gibson sê die bykomende voorstel – om die “verkryging of verkoop van enige kriptogeldeenheid” as ’n spesifieke verhandeling in te sluit – is nogal beduidend. Sekere verhandelings word in die Inkomstebelastingwet gespesifiseer (wat die SAID verdagte verhandelings noem) en as verliese uit dié verhandelings spruit, kan die verliese nie van ander inkomste, soos salarisinkomste, afgetrek word nie. Gibson sê as die voorstel aanvaar word, sal ’n belegger wat ’n verlies uit ’n verhandeling in kriptogeldeenhede gely het, nie toegelaat word om die verlies te gebruik om die belasbare inkomste uit ander bronne te verklein nie.

Die verlies kan net van enige inkomste uit toekomstige kriptogeldeenheidverhandelings afgetrek word, solank die belastingbetaler ’n natuurlike persoon is, en die belasbare inkomste onderworpe is aan die maksimum marginale belastingkoers.

Die lys ‘bedenklike verhandelinge’ sluit in:

* Enige sportaktiwiteit waaraan die persoon of enige familielid deelneem.

* Enige verhandeling van versamelbare items deur die persoon of enige familielid.

* Die verhuring van residensiële eiendom, tensy minstens 80% van die wooneiendom minstens die helfte van die belastingjaar gebruik is deur persone wat nie familielede van die natuurlike persoon is nie.

* Die verhuring van voertuie, vliegtuie of bote, tensy minstens 80% van die voertuie, vliegtuie of bote minstens die helfte van die belastingjaar gebruik is deur persone wat nie familielede van die natuurlike persoon is nie.

* Diereskouvertonings deur die persoon of enige familielid.

* Boerdery of dieretelery, tensy dié aktiwiteite voltyds gedoen word.

* Enige vorm van uitvoerende of skeppende kunsbedrywighede waaraan die persoon of enige familielid deelneem.

* Enige vorm van dobbel of weddery waaraan die persoon of enige familielid deelneem. Die derde voorgestelde wysiging hou verband met die insluiting van enige verkryging, insameling, koop of verkoop of die oordrag van eienaarskap van kriptogeldeenhede in die definisie van “finansiële dienste” in die BTW-wet.

’n Finansiële diens is van BTW vrygestel, en daar word dus nie van maatskappye wat sulke dienste lewer, vereis om vir BTW te registreer nie. Geen inset- BTW sal as ’n aftrekking toegelaat word vir uitgawes wat aangegaan is vir aktiwiteite waarby transaksies met virtuele geldeenhede betrokke is nie.

“Enigiemand wat kriptogeldeenhede verhandel of daarby betrokke is, word sterk aangeraai om advies oor die belastingimplikasies van hul transaksies te verkry,” sê Gibson.

* Stuur 'n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto: Shutterstock

Meer oor:  Kriptogeld  |  Finweek  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.