Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Elektriese motors: Wed op nuwe perde(krag)
21 Maart 2019

Elektriese voertuie sal na verwagting teen 2025 wêreldwyd 11% van verkope uitmaak en teen 2040 reeds 55%. In 2017 is ’n miljoen elektriese voertuie (EV’s) verkoop en in 2018 het dit tot 1,6 miljoen geklim.

Die oorskakeling na elektriese voertuie is grootliks gedryf deur die Dieselgate-uitlaatgasskandaal en (veral Europese) regerings se reaksie om dieselenjins te verbied en kweekhuisgasvrystellings swaar te belas.

Motorvervaardigers het vinnig op dié strewe na skoon energie gereageer en elektries aangedrewe voertuie begin vervaardig. Twintig handelsmerke bemark tans elektriese voertuie, met 150 verskillende modelreekse wat binne die volgende vyf jaar verwag word.

Drie tipes elektriese voertuie

EV’s kom in drie gedaantes: battery elektriese voertuie (BEV’s) wat volledig battery-aangedrewe is en geen uitlaatgasse vrystel nie; inprop- hibriediese elektriese voertuie (PHEV’s) wat ’n elektriese motor en binnebrandmotor kombineer; en ’n matig hibriediese elektriese voertuig (MHEV) wat energie “oes” wanneer die motor vryloop.

Elektriese voertuie sal na verwagting wêreldwyd teen 2025 11% van verkope uitmaak en teen 2040 55%

Verkope van suiwer elektriese voertuie Suid-Afrika verkoop tans slegs twee voertuie wat heeltemal elektries is – die BMW i3 en die Nissan LEAF. Die Jaguar I-PACE sluit in Maart by hulle aan. (Sien kassie.) Ook die suiwer elektriese Mercedes-Benz EQC en Audi e-tron word vanjaar in die plaaslike mark verwag. Vir die BMW-groep was 2018 die vyfde agtereenvolgende jaar van hoër verkope van die BMW i3, waarvan wêreldwyd 10,6% meer verkoop is op 34 829 verkope.

Nissan LEAF

Nissan het wêreldwyd meer as 380 000 Nissan LEAF’s verkoop sedert dié 100%- elektriese model in 2010 op die mark gekom het. Verlede jaar is 46 989 LEAF’s geproduseer, 177% meer as in 2017.

Plaaslik het elektriese en hibriediese motors egter nie dieselfde opwaartse trajek gevolg as wat oorsee gesien is nie. Dit is grootliks weens ’n gebrek aan regeringsaansporing (terwyl die teenoorgestelde vir talle oorsese markte geld), met die hoë invoerbelasting op elektriese voertuie wat dié reeds duur voertuie nog duurder maak.

In Suid-Afrika is sowat 20% minder van BMW se heeltemal elektriese i3 in 2018 verkoop (54 voertuie, teenoor 66 in 2017). Dié afname was weens die oorskakeling na ’n i3 met ’n groter (120Ah) battery, sê Edward Makwana, groepbestuurder vir produkkommunikasie by die BMW-groep Suid-Afrika en Afrika suid van die Sahara. “Die i3’s met die groter battery is eers teen einde verlede jaar vervaardig en verkope het eers vanjaar begin.”

Die Nissan LEAF het in 2013 sy plaaslike buiging gemaak en sedertdien is 92 eenhede verkoop, sê Patience Dumisani, hoof van produkkommunikasie by Nissan Suid-Afrika aan finweek.

Solank die regering nie met ’n plan kom nie, sal plaaslike verkope van elektriese voertuie waarskynlik louwarm bly en slegs vir die hoë inkomstegroepe beskore wees.

Die LEAF is egter nie in 2018 plaaslik verkoop nie weens die bekendstelling van die nuwe, tweedegeslag Nissan LEAF, wat einde vanjaar in Suid-Afrika verwag word. Vrese oor hoe ver EV’s kan ry en waar hulle gelaai kan word, het ’n beduidende rol gespeel om plaaslike verkope van suiwer elektriese motors te kortwiek.

Terwyl dié vrese meesal besweer is, dra prys die meeste by tot swak verkope. Solank die regering nie met ’n plan kom nie, sal plaaslike verkope van elektriese voertuie waarskynlik louwarm bly en slegs vir die hoë inkomstegroepe beskore wees.

Suiwer elektriese Jaguar I-PACE SNV maak plaaslike buiging

Die keuse van elektriese voertuie is plaaslik uitgebrei met die bekendstelling van die Jaguar I-PACE sportnutsvoertuig (SNV), die land se derde suiwer elektriese voertuig en eerste SNV wat heeltemal elektries is.

Twee sinchroniese elektriese motors genereer ’n verbysterende 294 kW krag en 696 Nm wringkrag om dié vierwielaangedrewe SNV binne 4,8 sekondes van 0–100 km te laat versnel, terwyl die battery van 90 kWh ’n ryafstand van tot 470 km moontlik maak.

Naas die beperkte getal First Edition, is drie grade van afwerking beskikbaar, met pryse wat van R1  687 200 tot R1  820 900 wissel.

Richard Gouverneur, besturende direkteur van Jaguar Land Rover Suid-Afrika en Afrika suid van die Sahara, het aan finweek gesê plaaslike bestellings van “meer as dubbel- syfers” is ontvang. 

Fotos: BMW Group/ Motorpress.co.za/ Jaguar Land Rover

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.