Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Weg met Transnet se vrot appels
9 Mei 2019

Die kaaimuur en ingang na die Kaapstad-hawe wat deur Transnet bedryf word.

Tot dusver was die omvang van staatskaping by staatsbeheerde vervoermaatskappy Transnet grootliks onopgemerk. Dit is ’n feit waarvan sy waarnemende uitvoerende hoof, Tau Morwe, ’n veteraan van die organisasie, wat al meer as 17 jaar lank in verskillende hoedanighede by Transnet gewerk het, heel bewus is.

“Toe ons onlangs met uitleners vergader het, wou hulle by ons weet hoe sleg dinge by Eskom is,” het hy verlede maand tydens ’n mediakonferensie gesê.

Die gevoel is dat, ongeag wat tydens Transnetvoorsitter Popo Molefe se getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek geopenbaar word, dit nie slegter kan wees as die korrupsie wat by Eskom ontbloot word nie.

Voormalige uitvoerende hoofde by Transnet sowel as bestuurders van verskillende afdelings word daarvan beskuldig dat hulle honderde miljoene rande in terugbetalings ontvang het.

Maar staatskaping is net soveel ’n werklikheid by Transnet as by Eskom. Voormalige uitvoerende hoofde by Transnet sowel as bestuurders van verskillende afdelings word daarvan beskuldig dat hulle honderde miljoene rande in terugbetalings ontvang het, volgens ’n berig in City Press.

Morwe en Molefe, wat albei deur president Cyril Ramaphosa in topposte in Transnet aangestel is in ’n poging om die organisasie reg te ruk, sal na verwagting voor die Zondo-kommissie getuig.

Oneerlike transaksies en terugbetalings

Hoog op die agenda kan die Transnet-lêer oor oneerlike transaksies en terugbetalings wees. Volgens City Press toon dit dat meer as R8 miljard tussen 2012 en 2017 in tien winsgewende kontrakte in omkoopgeld betaal is. Daar is ook bewerings dat R92,6 miljard deur die Gupta-maatskappy Homix uit Transnet se telekommunikasiedienstransaksie met Neotel gewas is.

Die verrotting het versprei tot by junior Transnet-personeel wat skielik ’n inkomste van R350 000 meer as ’n jaar tevore gehad het. Hulle het luukse motors en huise gekoop. Vir kontant.

Morwe wil nie spekuleer oor die omvang van die bedrog en korrupsie by Transnet nie, maar hy weet nie of ’n kwalifikasie wat verlede jaar op die maatskappy se finansiële resultate geplaas is, vanjaar verwyder sal word nie. Waarskynlik nie, in die lig van die nuwe gevalle van staatskaping wat op ’n deurlopende grondslag geïdentifiseer en gekwantifiseer word.

Dit toon dat meer as R8mjd. tussen 2012 en 2017 in tien winsgewende kontrakte in omkoopgeld betaal is.

Sommige dinge is egter duidelik: “Ons wil die geld terugkry,” sê Morwe. “Ons sal alles in ons vermoë doen om dit reg te kry, en dit is wat ons tans op die tafel het.”

Intussen is Transnet se uitvoerende komitee, wat byna ten volle bestaan uit bestuurders wat waarnemende poste beklee, besig om die vertroue van sy kliënte, werknemers en – van kritieke belang – sy uitleners terug te wen, veral aangesien die vertroue van die samelewing in die algemeen waarskynlik nie binnekort verkry sal word nie. Om dit te vermag, is Morwe se mandaat om strukturele kwessies binne Transnet te ondersoek in ’n poging om die organisasie terug te help na finansiële gesondheid, ’n soort selfhelppoging wat blykbaar buite Eskom se vermoë is.

Dit behels die ondersoek van sy stelsels, kontroles en sakepraktyke. Wanneer ’n kliënt byvoorbeeld die organisasie nader op soek na besigheid is daar blykbaar geen kommunikasie tussen die Transnet-hawensowerheid en Transnet se vragspoorafdeling (TFR) oor hoe dienste gelewer moet word nie.

Direksie en bestuur

“In November het ons kliënte vir ’n vergadering met die direksie en bestuur ingebring,” het Morwe gesê. “Kliënte het hulle sterk uitgespreek teen die maatskappy se vertoning.”

Die hoofsaak is die kliënt. En as die kliënt meen dat Transnet sy teikens haal, “... voel ons minstens dat die organisasie waarde tot die ekonomie toevoeg,” het Morwe gesê. In dié verband is TFR, wat verantwoordelik is vir die helfte van Transnet se totale verdienste, geïdentifiseer as ’n spesifieke probleemgebied.

Een ding wat sal verander, is hoe Transnet kapitaal aan TFR toewys, en vroeëre planne waarvolgens hy sy steenkoollyn tot 91 miljoen ton per jaar (mt/j) – ’n belangrike element in sy markvraagstrategie (MVS) – sou uitbrei, word nou heroorweeg.

Mohammed Mahomedy, Transnet se waarnemende finansiële hoof

Mohammed Mahomedy, Transnet se waarnemende finansiële hoof, het gesê die denke agter die maatskappy se MVS is “... nie meer toepaslik nie”.

Die MVS is in 2012 deur die voormalige uitvoerende hoof, Brian Molefe, aanvaar ná destydse president Jacob Zuma se staatsrede, wat probeer het om Transnet in die middel te plaas van die regering se poging om toekomstige ekonomiese groei en werkskepping te bevorder, hoofsaaklik deur infrastruktuurontwikkeling.

Deur middel van die MVS het besturende direkteure kapitaaluitgawes vir Transnet van R300 miljard oor ’n tydperk van sewe jaar geteiken in ’n poging om tot 220 000 nuwe werkgeleenthede te skep. As deel van dié strategie sou die 580 km-steenkoollyn van Mpumalanga na die Richardsbaaise steenkoolterminus in KwaZulu-Natal van die destydse vlak van 68,5 mt/j tot 91 mt/j uitgebrei word.

Mahomedy het gesê hoewel daar op daardie tydstip ’n saak vir die MVS uitgemaak kon word, het die styging in die kommoditeitsvraag wat na verwagting hervat sou word (ná ’n regstelling in mineraal- en metaalpryse wat tot 2016 geduur het), nooit gebeur het nie.

“Dit was nie meer nodig nie,” het Mahomedy gesê. “Ons het ’n program nodig wat beter reageer.” Hy het bygevoeg dat Transnet sy kapitaalbestedingsplanne moet fokus om ’n agterstand in te haal en om uit te brei waar dit meer sinvol is. “Sowat 70% van Transnet se volumedigtheid is op 1 500 km se spoor, maar ons het sowat 30 000 km, en ons hoef dus nie miljarde rande te bestee waar daar geen volumedigtheid is nie,” het Mahomedy gesê.

Die steenkoollyn het verlede jaar 72,9 mt/j gelewer, volgens ’n aanbieding van die Richardsbaaise steenkoolterminus in Januarie. Dit was minder as die 75,6 mt/j wat in die 2017 finansiële jaar gelewer is, die hoogste tonnemaat wat in minstens nege jaar verspoor is.

Die steenkoollyn het verlede jaar 72,9 mt/j gelewer, volgens ’n aanbieding van die Richardsbaaise steenkoolterminus in Januarie. Dit was minder as die 75,6 mt/j wat in die 2017 finansiële jaar gelewer is, die hoogste tonnemaat wat in minstens nege jaar verspoor is.

Wat dit vir Suid-Afrika se steenkoolbedryf beteken, is dat daar dalk ’n tekort aan geld is vir die beplande uitbreidings wat die maatskappy se kredietkomitee steeds goedkeur, en om agterstand in te haal. Brian Monakali, waarnemende hoof van TFR, erken daar is ’n agterstand en dat alle finansieringsmoontlikhede ondersoek sal word om enige tekorte in finansiering te oorbrug.

Die Waterberg-steenkoollyn

“Daar is ’n agterstand in kapitaalvereistes,” het hy gesê. “Neem byvoorbeeld die Waterberg-steenkoollyn. Hierdie projekte het beduidende finansiering nodig. Die Waterberglyn van 120 km het R20 miljard nodig, en ons het nie met die instandhoudingsagterstand bygehou nie. Ons oorweeg finansiering van die private sektor en alle ander opsies soos ontwikkelingsfinansieringsinstellings. Dit is ’n ernstige agterstand,” het hy gesê.

Hoe geld in Transnet bestee word, is die bepalende, kritieke faktor vir sy herstel. Soos Morwe dit beskryf, neem die organisasie “... weer beheer terug van die tesourie”.

Hoe geld in Transnet bestee word, is die bepalende, kritieke faktor vir sy herstel. Soos Morwe dit beskryf, neem die organisasie “... weer beheer terug van die tesourie”.

Morwe sê: “Die direksie bied oorsig, maar neem nie besluite oor verkryging nie; dit is vir die bestuur.

Die oordrag van bevoegdheid het aansienlik verander. Kapitaalbelegging gebeur slegs deur gemagtigde komitees, nie deur individue nie. “Die hoofoorsaak van staatskaping is dat die individu gesag het; ’n situasie waar ‘ek het dit aanbeveel en die transaksie word op daardie basis uitgevoer’. Dis nou verby.”

Die maatskappy is besig met ’n werwingsproses, sodat hy teen Junie sy poste vir nie-uitvoerende direkteure kan vul, tesame met uitvoerende direkteure s’n. “Teen Augustus behoort ons aankondigings in hierdie verband te sien,” sê hy.

Wat Morwe betref, is hy nie van plan om heeltyds by Transnet te bly nadat die uitvoerende komitee in permanente aanstellings omskep is nie. “Ek het hiervoor uit my aftrede gekom,” het hy gesê. Hy is reeds 63, ’n jaar ouer as die verpligte aftreeouderdom by Transnet. In elk geval, “ek soek nie werk nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Transnet  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.