Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Wenke om bates oorsee te skuif
25 Junie 2020
Schalk Louw is ’n portefeuljebestuurder by PSG Wealth.

Die koronavirus-pandemie het talle beleggers die skrik op die lyf gejaag – plaaslik sowel as in die buiteland, soos die wisselvallige op- en afswaaie in die wêreld se ekwiteitsindekse – en selfs Suid-Afrika se effektemark – kan getuig.

Plaaslike vrese is vererger deur SA se trae ekonomiese prestasie en het beleggers met reg laat bevraagteken of hulle hul geld na die buiteland moet verskuif of nie.

In hierdie opvolging van my vorige rubriek oor buitelandse beleggings (uitgawe van 4 Junie) kyk ek steeds na redes waarom beleggers sou besluit om hul beleggings na die buiteland te verskuif en die belangrike oorwegings wat in gedagte gehou moet word voor dit gedoen word.

Buitelandse teenoor rand-gedenomineerde fondse

’n Mens kan in die buiteland belê deur óf deur middel van ’n buitelandse geldeenheid te koop óf deur die rand te gebruik. As jy buitelandse valuta verkies, sal jy beperk word tot jou jaarlikse beleggingstoelae (wat monetêre geskenke, reise, instandhouding, en skenkings aan sendelinge insluit), en minimum beleggings kan nogal groot wees. Jou geld sal egter werklik in die buiteland wees wat jou in staat stel om te belê waarin jy wil in watter land jy ook al verkies.

Jou geld sal egter werklik in die buiteland wees wat jou in staat stel om te belê waarin jy wil in watter land jy ook al verkies.

Jou dividende word ook betaal in die geldeenheid van jou keuse, wat jy so lank as wat jy wil in die buiteland kan hou. Wanneer jy ’n rand-gedenomineerde buitelandse belegging kies, kan jy rand in beleggings belê wat deur ’n plaaslike finansiëledienste-maatskappy aangebied word, wat op sy beurt die geld namens jou in beleggingsgeleenthede in die buiteland belê.

Jou kapitaal en jou opbrengste word in rand in SA betaal. Jy kan enige bedrag wat jy wil, belê en ook enige bedrag wat die produkverskaffer bereid is om te aanvaar. Minimum beleggingsbedrae is gewoonlik veel minder as om regstreeks in buitelandse valuta in die buiteland te belê, wat dit dus toegankliker vir beleggers maak, en jy word nie deur enige jaarlikse buitelandse toelae gekniehalter nie.

Watter produk moet ek kies?

Jy het talle keuses, van buitelandse effektetrustfondse tot beursverhandelde fondse (ETF’s), tot regstreekse aandele. Hoewel die algemene ekwiteitsfondse gewoonlik voldoende vir die meeste beleggers is, sal ek altyd aanbeveel dat jy kundige advies inwin alvorens jy jou buitelandse produkte kies. Jy moet ook boedelbeplanning oorweeg alvorens jy begin – aangesien die manier waarvolgens jy kies, jou boedel kan raak.

Deskundiges maak gebruik van toegewyde navorsingspanne wat buitelandse maatskappye en fondse deeglik ontleed en wat hul keuses grond op fundamentele faktore soos historiese prestasie, balansstate, huidige ekonomiese uitwerkings en projekte.

Belastingimplikasies

Wanneer daar in ’n rand-gedenomineerde fonds belê word, is die belasting betreklik eenvoudig omdat jy op dieselfde manier aangeslaan word as wat dit in ’n plaaslike belegging die geval is. Dit beteken dat jy kapitaalwinsbelasting betaal op die verskil tussen die waarde van jou aanvanklike belegging en die uiteindelike waarde van jou belegging. Die wins sluit dus ook enige waardevermindering in die geldeenheid in.

Die belasting hierop is in SA betaalbaar. Wanneer daar in buitelandse fondse of aandele belê word, word die kapitaalwins in buitelandse valuta bepaal. Die wins word dan in rand omgesit, wat beteken jy word nie op die waardevermindering van die geldeenheid belas nie.

Dit is raadsaam om jou finansiële adviseur of belastingdeskundige te raadpleeg alvorens jy in die buiteland belê, veral met betrekking tot die belastingimplikasies van so ’n belegging.

Boedelbelasting met regstreekse buitelandse beleggings is egter ietwat ingewikkelder weens faktore soos situsbelasting (erfenisbelasting in spesifieke buitelandse jurisdiksies) wat moontlik die boedelbelasting wat betaalbaar is, aansienlik kan verhoog. (Situsbelasting is die plek waar die belasting betaalbaar is.) Weer eens is dit raadsaam om jou finansiële adviseur of belastingdeskundige te raadpleeg alvorens jy in die buiteland belê, veral met betrekking tot die belastingimplikasies van so ’n belegging.

Wees op jou hoede

Die wêreld is vol bedrieërs wat gereed staan om op oningeligte beleggers toe te slaan, en talle Suid-Afrikaners was in die verlede reeds slagoffers van buitelandse skelmstreke gewees. Beleggers behoort aandag te gee aan verskeie kwessies.

Eerstens, sorg altyd dat jy die advies van ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur inwin, verkieslik een wat met buitelandse beleggings vertroud is.

Foto: Shutterstock

Tweedens, moet jy nie in ongenoteerde beleggingsmaatskappye belê nie. En derdens, moet jy produkte en verskaffers vermy wat nie by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) geregistreer is nie. Weet met wie jy sake doen. Moet sake nooit net oor die telefoon of per e-pos doen nie, tensy dit absoluut noodsaaklik is. En moenie dat beloftes van buitengewoon hoë opbrengste jou om die bos lei nie. As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik nie waar nie.

Laastens, sorg dat jy presies weet waarin jy belê en vermy ingewikkelde produkte.

’n Oortuigende rede om buitelandse beleggings in jou beleggingsportefeulje in te sluit, kan sonder twyfel aangevoer word. Die voordele, hoewel hulle nie in die besonder bespreek word nie, is onbetwisbaar, mits jy jou huiswerk deeglik doen en onthou dat ’n buitelandse belegging deel behoort te vorm van ’n goed gediversifiseerde beleggingsportefeulje.

Meer oor:  Bates  |  Oorsee  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.