Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Zuma se vonnis: ’n te klein stappie
23 Julie 2021
Oud-president Jacob Zuma afgeneem tydens ’n vorige hofverskyning. (Foto: Gallo/Getty Images)

Die konstitusionele hof se uitspraak op 29 Junie dat oudpresident Jacob Zuma 15 maande gevangenisstraf moet uitdien omdat hy nie voor die Zondo-kommissie verskyn het nie, sal waarskynlik nie beleggersentiment verbeter nie.

Dit is een stap op teen ’n berg van korrupsie en misdaad en sal nie beleggersentiment verander in ’n land met ’n rommelstatuskredietgradering, stygende skuld, openbare instellings wat ineenstort en geen sekerheid oor voorsiening van basiese dienste nie, sê bronne in die beleggingsbedryf. Die beleggersentiment het egter om ander redes verbeter.

Dit sluit in die herstel in die internasionale en plaaslike ekonomie en die kommoditeitsopbloei, wat gelei het tot groter uitvoer en maatskappyinkomste. En dit beteken beter handelsyfers en beter belastinginkomste, wat die land se fiskale posisie kan help.

Daarbenewens lei die goedkoop waardasies van JSE-genoteerde maatskappye in vergelyking met wêreldwye eweknieë tot positiewe beleggersentiment en tot ’n mate verhoogde belegging in plaaslike maatskappye.

Aangesien die uitspraak egter slegs Zuma se minagting van die hof dek, en geeneen van die groot verskeidenheid potensiële strafregtelike aanklagte teen baie maatskappye en individue vir jare lange korrupsie en diefstal nie, is die uitspraak van die hoogste hof ’n te klein stap vorentoe om enige verandering in beleggersentiment te regverdig.

Hoewel die uitspraak dalk ’n boodskap oor die sterkte en onafhanklikheid van ons howe uitstuur, ondermyn die oorvloed van voorbeelde van die regering se onvermoë en gebrek aan politieke wil om korrupsie, ongeoorloofde uitgawes en die onreëlmatige toekenning van besigheid deur staatsinstellings stop te sit, enige verbetering in beleggersentiment.

Daniel Silke, direkteur van Political Futures Consulting, het gesê die uitspraak is belangrik vir die beeld van SA dat die oppergesag van die reg na behore voortgaan en geensins bedreig word nie, “die effek van die Zuma-kwessie is dus nie net ’n binnelandse politieke kwessie nie” – dit reik tot in die vraag oor vertroue in SA in terme van sy vermoë om ’n grondwetlike raamwerk asook die oppergesag van die reg te handhaaf”.

Silke het egter gesê dat SA “ongelukkig van ’n taamlik lae basis begin”, en omdat daar sulke lae verwagtinge is dat kwessies soos staatskaping opgelos sal word en soveel frustrasie met prosesse, dat dit onduidelik is of hierdie uitspraak ’n groot verskil in die buiteland sal maak.” Silke het gesê SA moet sy goeie naam dringend herstel. Dit gaan nie net oor die vervolging van diegene wat betrokke is by misdaad nie, en of Zuma tronk toe gaan en of die Gupta-familie gevang word nie.

“Dit gaan eintlik daaroor om vertroue in SA daar te stel as ’n funksionele staat in terme van die Grondwet en die beskerming van beleggersregte,” het hy gesê. Dit is ’n belangrike toets in dié verband. David Shapiro, ondervoorsitter van Sasfin, het gesê die markte is hoër omdat die kommoditeitspryse hoër is en dat daar geen aanduiding is dat die Zuma-besluit die sentiment beïnvloed het nie.

“Mettertyd kan ’n mens dalk sien dat beleggers reageer op veelvoudige besluite, as dit gebeur. Dit kan dalk die gety laat draai, maar ons het baie probleme om voor dit op te los,” het hy gesê, en bygevoeg dat betroubare kragvoorsiening en die toediening van entstowwe onmiddellike probleme is. Wat wel beleggersentiment sal beïnvloed, is as Zuma nie tronk toe gaan nie, het Shapiro gesê, en graderingsagentskappe en beleggers sal reageer as hulle sien daar is verskillende reëls vir die elite as vir gewone burgers.

Hy het daarop gewys dat hoewel die markte verbeter het, wat dui op ’n beter sentiment, die volumes laag is en die grootste deel van die aktiwiteit rondom Naspers* en Prosus is. “Die markte is tans baie stil, en as jy volumes volg, is dit baie laag, wat die gebrek aan belangstelling en omvang in ons mark weerspieël.”

Jean Pierre Verster, uitvoerende hoof van Protea Capital Management, sê: “In die stadium glo ek nie die uitspraak in die konstitusionele hof beteken baie vir beleggings nie. In die breë sal beleggers wil sien dat uitsprake gesond is en dat dit deur wetstoepassingsagentskappe uitgevoer word.” David Hufton, Sygnia se uitvoerende hoof, het gesê dat “die konstitusionele hof wat ’n voormalige president aanspreeklik hou vir sy optrede of, in hierdie stadium, nie optree nie, is die sleutel om ons vertroue in SA se demokrasie te behou”.

Hy het gesê dit stuur ’n “sterk sein dat niemand hoër as die wet is nie, wat ’n belangrike en positiewe faktor is wat ’n invloed het op besluite wat deur maatskappye wêreldwyd geneem word wanneer hulle in die buiteland belê. Die alternatief sal veral nadelig wees vir ons reeds brose posisie om langtermyn- direkte buitelandse beleggings te lok.”

Hierdie belegging gaan om ander redes agteruit. Soos Old Mutual Wealth se beleggingstrateë Izak Odendaal en Dave Mohr onlangs in hul beleggingsnota opgemerk het, word die kommoditeitsgedrewe uitvoertoename weerspieël in die byna ongeëwenaarde uitvoer van R163 miljard in Mei, terwyl belastinginkomste in April en Mei met 41% gestyg het.

Hulle het gesê SA bates is ook steeds goedkoop in vergelyking met hul internasionale eweknieë. Dit maak hulle “meer optimisties oor die vooruitsigte vir opbrengste van plaaslike beleggings as wat die afgelope paar jaar die geval was”.

Hulle het egter ook gewys op onlangse nuus dat Rio Tinto sy bedrywighede by sy mineralesandbedryf in Richardsbaai opgeskort het weens voortdurende geweld, insluitende die moord van die bedryfshoofbestuurder, en nuus dat die Exxarosteenkoolmyn nie buitelandse verkoopsvolumes kon verhoog nie, ondanks hoër pryse, “weens Transnet se beperkte en onbetroubare spoorvermoë”. Dit is maar twee onlangse voorbeelde van enkele kwessies wat die beleggingsentiment demp.

Die Zuma-uitspraak is ’n te klein stap, al is dit in die regte rigting.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* finweek is ‘n publikasie van Media24, ‘n filiaal van Naspers.


Meer oor:  Jacob Zuma  |  Staatskaping  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.