Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
10 uit 10 vir Ray
raylentia simmons

A journey begins with a single step...

My Kuier-reis het begin met een e-pos wat ek in Junie 2009 uit die bloute ontvang het. “Hallo, Raylentia, hoe gaan dit? Ons begin met ’n wonderlike, nuwe projek – ’n Afrikaanse tydskrif vir bruin vroue...”

Ek het diep binne-in my geweet dis iets wat my lewe gaan verander, so daar was nie omdraaikans nie. Ek móés net daai een tree vat en deel word daarvan.

In die eerste drie maande van Kuier was almal opgewonde oor die nuwe tydskrif. En toe ons die rolpers gaan besoek om die heel eerste kopieë nog vuurwarm uit die masjiene te kry, kon ek bars van trots.   

Maar soos met enige reis met sy pot-holes, opdraandes en versteekte ingange, het klein krakies drie maande later begin wys. Dié nuwe baba het nie die teikens gehaal nie. En kom ons wees nou maar eerlik, daar was mense wat heimlik agter hul hande gelag het of gewag het dat die nuwe tydskrif moet vou. 

Ons het hard gewerk, maar dit het nie gewys in die kwynende sirkulasie nie.

Daar was egter toe reeds ’n klein groep lesers wat hardnekkig bly vasklou het aan Kuier, want hulle het geglo in hierdie tydskrif en het dit bly koop toe dit die slegste gegaan het. Hulle het nie geweet wat behind the scenes aangegaan het nie, al wat hulle gesien het, was dat hulle vir die eerste keer ’n tydskrif gehad het wat hulle hul eie kon noem. Vir dié mense het ek net die grootste respek en dankbaarheid, want hulle het verder gekyk en toe al ’n toekoms gesien en geglo in Kuier. Maar ingryping was nodig of Kuier sou vou.

nuwe begin

raylentia simmons
Shaleen Surtie-Richards en Ray by 'n Pienk Plesier

2010 was in alle opsigte ’n groot jaar. Nie net vir ons land omdat ons die Wêreldbeker-sokkertoernooi kon aanbied nie, maar dit sou ’n water-skeidingsjaar vir Kuier wees.

Toe kom daar ’n nuwe drywer in die vorm van Kay Karriem, die kar se enjin word oorgedoen en ’n hele nuwe road map word uitgewerk.

Die afgelope tien jaar by Kuier het my baie dinge geleer, maar een van my grootste lesse was dat verandering nodig is. Dis moeilik en jy gaan nie noodwendig daarvan hou nie. Maar as jy nie ten minste probeer nie en jou attitude verander nie, gaan jy agterbly. Right. En só begin die reis van voor af. Vind Kuier se ware voice. Daai een wat sonder om te skroom sou sê presies wie en wat dit is deur net op die voorblad te kyk; die stem wat ten hemele sou skree op elke bladsy: “Dié is wie ek is – dié is mý mense!” En as jy dit klaar gelees het, jy dit nog saggies sou hoor fluister en weergalm en resoneer diep in jou binneste deur die stories wat jou sou bybly. 

Ek dink nie baie mense besef hoeveel toewyding, harde werk en bloedsweet dit gekos het om Kuier te kry tot die produk wat dit vandag is nie. Dit het baie frustrasies en laatnagte gekos – en ook personeel wat ander heenkome gaan soek het. Maar dié wat oorgebly het en diegene wat bygekom het, het alles ingesit en dit het in die syfers begin wys. Bietjie vir bietjie het dit begin styg, nuwe lesers het bygekom en ons het elke klein oorwinning gevier.

Dit het egter nie net gegaan daaroor om die regte stories te skryf nie, ons moes ook persoonlik met die lesers omgaan. Die Kuier Connections was Kay se breinkind om by die lesers self uit te kom. Ons het almal in een taxi geprop en gery na al die dorpe om Kuier aan mense bekend te stel wat nog nooit daarvan gehoor het nie. 

In die beginjare was die stakes hoog. Ons moes baie dinge probeer om lesers te trek en te behou. Ons het kanse gewaag om die wenformule reg te kry en soms het dit gewerk, maar ander kere het ons eksperimente nie so goed gewerk nie. Want, het ons agtergekom, ons het nie net ons eie voice gevind nie, maar Kuier-lesers het nie geskroom om hul stem te laat hoor nie. 

hoogtepunte

raylentia simmons
Saam met prof. Adam Small.

Op ’n persoonlike vlak het ek self ’n paar van my eie rolmodelle ontmoet. Om met prof. Jakes Gerwel en sy vrou, antie Phoebe, in hul huis waar Madiba ook tuisgegaan het, te kon gesels, bly een van my hoogtepunte. Later sou ek ook onder andere prof. Adam Small ontmoet en ’n foto saam met hom neem; my verwonder aan Shaleen Surtie-Richards se reguit en eerlike manier van praat; my vergaap aan Amy Kleinhans-Curd se skoonheid en deernis; en met trots toekyk hoe Jill Levenberg haarself vestig as ’n formidabele akteur en vele meer.

Deesdae kan ek my verkyk hoe die jong mense mal gaan oor realiteitsterre, wat geen substance het nie en hul enigste claim to fame is die hoeveelheid followers hulle op social media het of seksvideo’s. Ja, ek weet ons leef in ’n ander era, maar moet ons werklik ons basiese waardes prysgee om saam met die stroom te swem?

Dan troos ek my daaraan dat daar tóg nog regte rolmodelle is elke keer wat ek ’n inspirerende storie in Kuier lees. En dis nie net celebs nie, want gewone mense is die ruggraat van wat Kuier maak wat dit is. Dis mense met substance, eenvoud, nederigheid, drome, doelwitte, hartseer, pyn, wysheid, wat geluk in klein dingetjies vind...   

Daar is te veel onvergeetlike stories om op te noem. En ons stop nie net by stories en events nie. Ons Kuier-kosreis is ’n bestemming op sy eie. Karen Hart het vanaf die heel eerste Kuier die kos gemaak. Haar brief was: Hou dit eenvoudig, dog lekker; niks volksvreemde goed nie, want lesers moet kan gebruik wat in hul koskaste is.

In 2013 het ons begin met ons eerste KuierCombo(Beste resepte en wenke).

Aanvanklik was dit ’n samevatting van ou resepte en wenke wat reeds in jare voor daai tyd verskyn het, maar dit het ’n lewe van sy eie gekry. Daarna het ons slegs nuwe resepte in die

Combo vervat. Maar dit was nie genoeg nie, want die aptyt ná nóg Kuier-kos het nie opgehou nie en ons het dit verdeel in ’n somer- en winterweergawe (laasgenoemde het brei- en hekelpatrone ingesluit). 

Sedertdien het ons ons eerste glanskostydskrif, Koningskos, ook gepubliseer en vanjaar het ons eerste streeks-Combo, Kaapse Combo, die lig gesien. Die entoesiasme van Kuier-lesers elke keer as ons iets nuuts probeer of wanneer hulle ons by events raakloop, is ’n riem onder die hart.

ondersteuning

raylentia simmons
Ray en die Kuier-span deel boeke uit 10 jaar gelede.

Kuier gee vir die afgelope tien jaar ook CD’s saam met die festive uitgawe en toe ons 100 000 boeke verkoop saam met die CD, was dit net een te veel vir my. Ek het probeer om my trane terug te hou, maar as ek teruggedink het aan hoe die nay-sayers ons nie ’n kat se kans op oorlewing gegee het nie, het ek die trane geloop. Ná daardie eerste 100 000 sou ons nog oor jare daarna selfs meer boeke verkoop.

En só het ons deel van nóg meer mense se huise en lewens geword.

Ons leef deesdae in ’n baie moeiliker tyd as ooit voorheen. Die lewenskoste word hoër en ’n mens voel dat jy met al hoe minder geld moet klaarkom. Alles kos duur en jy moet behoorlik jou sente omdraai. Elke dag sien ek hoe meer mense sneuwel om finansieel kop bo water te hou.

Maar vir daardie mense wat nog getrou hul Kuier koop (al raak dit moeiliker om te bekostig); moeite doen om die Combo’s in die hande te kry; mense wat toustaan om kaartjies na ons events te kry en ons lekker vloek as die kaartjies uitverkoop is.

Diegene wat daai laaste airtime of data gebruik om vir ons ’n boodskap te stuur of inskryf vir ons kompetisies (al wen jy nooit, want jy hoop dalk is dit hierdie keer jou gelukkie); hul wenke met ons deel en dié toets wat in die boek verskyn en laat weet hoe lekker dit gewerk het.

Onderwysers wat ons inhoud in die klas met leerders deel; mense wat getrou blokkiesraaisels invul en ons dan soebat om tog net te help met daai een leidraad wat hulle ontwyk.

Gesoute kokke en aspirant-huisvroue én -mans wat ons resepte uittoets en trots (of skaam en verleë die floppe vir die hond uitgooi); mense wat vir ons rubrieke en kortverhale stuur en dan trots by almal brag oor hul name in swart en wit.

Die celebs wat hul huise en harte vir ons oopmaak en vir ons ’n kykie gee in hul glansryke en soms ook tragiese lewens sonder om betaling vir hul stories te vra, maar dit bloot doen om vir Kuier-lesers te wys: “Kyk, ons is net soos julle. Ons kry ook seer. Ons het ook swaargekry. Ons het iets bereik, danksy julle wat ons program kyk of ons musiek luister of ons kaartjies koop of lag vir ons grappe...”

Elke liewe leser wat nog ooit hul stories met ons gedeel het en diegene wat nog ’n skatkis van stories of lewensverhale het wat net wag vir Kuier om dit te vertel.

Dan laastens, maar nie die minste nie: Kay en my Kuier-kollegas – selfs diegene wat lankal nie meer hier werk nie.

Dankie – julle het my lewe verander.

Toe ek ’n joernalistiekstudent was, het ons dosente telkemale gesê as joernalis sal jy nooit ryk word nie. Maar die waardevolle skatkis van herinneringe van die afgelope tien jaar kan geen geld koop nie. Dit het my ryker (en hopelik wyser) gemaak. 

Julle het my een onvergeetlike reis gegee. Maar die pad het nog nie geëindig nie – kom saam op ons volgende tog.

Meer oor:  Kuier  |  Kuier10
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.