Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
LGBTQ+: Leer wat al die terme beteken
lgbtq+


Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak dit baie duidelik dat daar teen niemand op grond van onder meer ras, geslag, huwelikstatus of geslagsidentiteit gediskrimineer mag word nie.

Met hierdie soort wetgewing word mense deesdae gewaarborg dat hulle kan wees wie hulle werklik is en nie in ’n sekere boksie hoef te pas nie. Maar steeds het mense ’n behoefte om ’n naam te gee aan dit waarmee hulle identifiseer. Wanneer dit egter by geslagsidentiteit kom, vind sommige (veral ouer mense) dit nogal moeilik om by te hou.

Nie almal verstaan

Die dae is byvoorbeeld verby dat ons met betrekking tot geslagsidentiteit net van heteroseksuele of straight en gay of lesbies gepraat het. Deesdae word meer as 20 verskillende terme gebruik om mense se geslagsidentiteit te beskryf. Die term LGBTQ+ (lesbies, gay, biseksueel, transgender, queer en meer) word algemeen aanvaar as ’n versamelnaam vir al die geslagsidentiteite.

Volgens Judy Mbolo, ’n sielkundige van die Oos-Kaap, hoor sy van al hoe meer jonger mense en ook jong ouers wat verkies om hul kinders met ’n geslagsneutrale uitkyk groot te maak.

“Dit beteken hulle maak nie spesifiek hul dogtertjies as meisies groot nie (byvoorbeeld deur hulle in pienk aan te trek en net met poppe te laat speel nie). Dieselfde geld vir seuns – blou is nie outomaties die voorkeurkleur nie en hulle word ook nie aangemoedig om met karre te speel nie.”

Dié ouers hou voor hulle lê nie die klem op watter geslag die kind is nie, maar laat die kind aandui wat hul voorkeure is. Dit kan hul voorkoms, klere en gedrag insluit.

“Hulle verkies om hul kinders as individue te sien en nie as ’n spesifieke geslag nie,” sê sy.

Judy verduidelik egter dat geslagsneutraal nie dieselfde as non-conforming is nie. Non-conforming word gebruik om mense te beskryf wie se geslagsuitdrukking verskil van die konvensionele verwagtings van manlikheid en vroulikheid.

Dis ook belangrik om te onthou dat nie almal wat nie noodwendig met ’n spesifieke geslag (anders as die een waarmee hulle gebore is) identifiseer nie, outomaties as transgender beskryf kan word nie. Netso moet alle transgender mense nie as non-conforming geklassifiseer word nie. Sommige van hulle het wel ’n sterk vroulike of manlike identiteit.

“Iemand wat transgender is se geslag by geboorte verskil van die geslagsidentiteit wat hulle het. Dit kan baie ingewikkeld wees en verwarring veroorsaak wanneer jy na die verskillende identiteite kyk, maar in die ideale wêreld moet almal hulself vrylik kan uitdruk en uitleef,” meen Judy.

Só kry jy byvoorbeeld bigender (wanneer iemand as man en vrou identifiseer) of iets heeltemal anders soos genderqueer (wanneer iemand as geen geslag identifiseer nie, as albei geslagte of ’n kombinasie van die twee geslagte identifiseer), dit hang alles af van waarmee hulle die gemaklikste voel, verduidelik Judy.

Sy sê al hoop ons om almal toe te laat om te wees wie hulle is, bly dit steeds moeilik vir die ouer generasies, omdat hulle soms glad nie kan verstaan hoekom al die verskillende definisies nodig is nie en hulle waarskynlik ook in ’n tyd grootgeword het waar heteroseksueel (man met vrou) die norm was en selfs gays dikwels veroordeel is.

“Dit is hoekom geslagsidentiteit en hul definisies ontstaan sodat mense ’n manier hê om aan die wêreld te sê presies wie hulle is.”

Praat meer daaroor

Garth Simpson (39), ’n berader wat in seksualiteit spesialiseer, sê mense is nie noodwendig gekant teen die nuwe terme om geslagsidentiteit te beskryf nie.

“Hulle verstaan net nie hoe dit werk nie, maar sodra hulle ’n beter begrip het, is hulle meer oop om die idee te aanvaar.

“Mense sal altyd bang wees vir dít wat vir hulle vreemd is. Wanneer iemand bekommerd is oor hul kind, vriend of familielid wat as gay of transgender identifiseer, is dit selde die geval dat die probleem by die persoon lê. Hulle is eerder bang oor wat ander gaan dink en hoe ander teen hul geliefde gaan optree in byvoorbeeld die werkplek of kerk,” sê hy.

Garth meen egter hoe meer daar oor dié tipe kwessies gepraat word en hoe meer beskerming individue ingevolge wet geniet, hoe meer sal die samelewing verstaan en dit aanvaar.

Só het die Amerikaanse atleet Bruce Jenner van Keeping up with the Kardashians groot nuus gemaak toe hy ’n geslagsverandering ondergaan het.

Op haar beurt vertel Ashley Williams (29) van Brackenfell in die Kaap sy het twee seuns van onderskeidelik 10 en 13 jaar en ’n tweejarige dogter wat sy presies dieselfde grootmaak.

“Om ’n dogter te hê, verander nie my benadering nie. Ek glo jy moet jou kinders as individue grootmaak, ongeag hul geslag. Ons weet steeds nie hoe sy gaan identifiseer nie, maar ons het ook nie vooraf verwagtinge nie,” sê Ashley.

“Sy is op die oomblik ongelooflik vroulik in haar energie en maniere. Dis anders as my seuns en ek geniet dit. Maar as sy ouer word en skielik besluit sy wil eerder soos haar broers aantrek, sal ek daarby aanpas,” verduidelik sy.

Bekendes se kinders

Die akteurs en ouers Angelina Jolie en Brad Pitt tel onder die bekendes wat verkies om hul kinders as geslagsneutraal groot te maak.

Die wêreld kon nie wag om te sien hoe hul oudste biologiese dogter, Shiloh, in ’n prinses gaan ontpop nie. Maar tonge het vinnig begin klap toe Shiloh herhaaldelik in seunsklere en kortgeskeerde hare in die openbaar verskyn. Daar was geen sprake van die “prinsessie” wat almal wou sien nie.

Angelina het in 2010 aan die tydskrif Vanity Fair vertel dat Shiloh van driejarige ouderdom gevra het dat hulle haar “John” noem. “Sy wil ’n seun wees en hou daarvan om seunsklere te dra. Dit is ook hoekom ons haar hare moes sny,” het Angelina gesê.

Die Grammy-bekroonde Britse sanger Adele maak ook haar seun, Angelo,

geslagsneutraal groot.

Sy het hom onlangs Disneyland toe gevat geklee in ’n uitrusting van sy keuse. Dié vyfjarige seun het toe besluit om ’n prinses Anna-kostuum aan te trek uit die trefferfliek Frozen.

Adele het aan die Amerikaanse tydskrif Time gesê dit maak nie vir haar saak wie of wat haar kind besluit om te wees nie. Sy wil net in ’n samelewing woon waar mense mekaar se besluite respekteer sonder om hulle te veroordeel.

Janice Petersen (31) van Stellenbosch, glo weer nie jy kan seuns en meisies dieselfde behandel nie. Volgens haar het die besluite wat jy as ouer van kleintyd vir jou kinders neem, beslis ’n uitwerking op hulle wanneer hulle groter word.

“Ek het twee kinders. My dogter is drie en my seun is vyf jaar oud. Hulle speel gereeld saam en is baie na aan mekaar. Onlangs het hulle saamgespeel en my seun wou die onderwyser wees. Hy het nog net vroulike onderwysers gehad, so toe hy onderwyser wou speel, het hy gedink hy moet ’n paar van my hakskoene aantrek en met ’n handsak die klaskamer instap,” sê sy.

“Ons weet hulle het net gespeel, maar dit het my man so ontstel dat my seun onmiddellik aangesê is om die klere uit te trek. Ons maak ook seker dat my dogter nie te veel broeke dra nie en altyd in mooi rokkies geklee is. Ek glo wanneer jy klein dinge soos dit toelaat, kan dit eendag ’n groter uitwerking op jou kind hê.

“Hoewel ek nie iets teen gay mense het nie, is dit steeds ’n groot skok vir ouers om te aanvaar wanneer jou kind sulke nuus met jou deel. Ons het almal drome vir ons kinders se lewens en jy wil nie hê hulle moet sukkel wanneer dit by liefde of ’n gesin of ’n werksgeleentheid kom nie.” 

Meer oor:  Gay  |  Transgender  |  Queer  |  Lgbtqi  |  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.