Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Aanhouer wen: Rugby eis jong man se been
12 Junie 2019


Dis of ’n mens se brein nie wil registreer dat die 26-jarige Gershwin Fortune se een been bo die knie afgesit is nie. Só positief en vol lewenslus is hy dat dit jou heeltemal oorweldig. Al was dit ’n geweldige skok toe hy hoor sy linkerbeen kon nie ná ’n rugbybesering gered word nie, het hy aktief besluit om steeds voluit te lewe. Hy het net sy fokus verander.

Deesdae droom Gershwin van internasionale atletiekroem. En hy het reeds die eerste treë na ’n internasionale titel gegee toe hy in Maart vanjaar een goue en twee bronsmedaljes verower het vir onderskeidelik spiesgooi, diskus en gewigstoot by ’n toernooi van die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Fisiek Gestremdes.

Gershwin het by sy ouma en oupa, Isaac en Soeleyga Fortune, grootgeword en daar is duidelik ’n hegte band tussen hulle. Albei van hulle sit by toe hy in hul woonstel in Parow-Wes in die Kaap vertel van die kinkel wat sy lewenspad skielik gemaak het. Langs hom is die twee krukke staangemaak waarmee hy deesdae oor die weg kom.

Die drie van hulle het eers in Ravens-mead gewoon voordat hulle in 2008 Parow toe getrek het. In 2010 het Gersh-win matriek aan die Hoërskool Ravens-mead geslaag en in daardie selfde jaar is die eerste van sy drie kinders gebore. Hoewel sy oudste dogter die enigste een is wat by hom woon, het hy ook noue kontak met die ander twee, ’n seun van vyf en ’n dogter van ses maande.

Daar is groot fout

Deesdae doen Gershwin spiesgooi, diskus en gewigstoot noudat hy nie meer kan rugby speel nie.

Hy was nog altyd baie sportief en met ’n rugbymal oupa was dit amper vanselfsprekend dat hy van jongs af rugby sou speel, hoewel hy ook aan atletiek deelgeneem het. Van sesjarige ouderdom het hy in die eerste span van elke ouderdomsgroep gespeel tot hy uiteindelik vir Tygerberg se o.20-span uitgedraf het. Binne ’n jaar ná skool het Gershwin werk gekry by Clover, waar hy hom steeds bevind.

Weens sy 12-uur-skofte by die werk het hy in ’n stadium eerder die rugby gelos, maar twee jaar later was hy terug, dié keer by die Goodwood-rugbyklub. Dit was in ’n vriendskaplike wedstryd vir dié klub se eerste span wat die noodlot toegeslaan het. “Weens die waterkrisis in die Wes-Kaap kon die rugbyvelde in die Skiereiland net vir ligawedstryde gebruik word,” verduidelik sy oupa oor hoekom dié wedstryd op Greyton gespeel is. Dit was op 10 Maart verlede jaar en Gershwin se eerste game as kaptein.

In die heel eerste beweging het dinge verkeerd geloop. “Die scrumhalf het die bal vanaf die afskop gevang en vir my aangegee,” vertel Gershwin, wat agsteman gespeel het. “Ek het daarmee gehardloop toe iemand my tackle.”

Nog spelers het bygekom en bo-op Gershwin geval. Eers toe hy nie kon opkom nie, het hy besef iets is fout. Sy linkerknie het heeltemal na buite uitgestaan en die been het na regs oorgehel. Gershwin is op ’n draagbaar af en moes sowat ’n halfuur op ’n ambulans wag. Die wedstryd het intussen voortgegaan. “Ek het gedink ek het net my been gebreek,” vertel hy.

Soos sy liggaam afgekoel het, het die pyn ook gekom en ál erger geraak. Die ambulansrit was hel. Teen die tyd wat hulle nagenoeg ’n uur later by die Caledon-hospitaal aangekom het, was die pyn tot reg bo in sy linkerbeen. Die been het intussen reguit gedraai en paramedici het ’n spons omgesit om dit in posisie te hou.

Verpletterende nuus

Gershwin onthou dat hy vir X-strale gestuur en in ’n stadium aan die slaap gemaak is. Heelwat later het hy gehoor sy knie het gedislocate, maar hulle kon dit nie terugskuif nie. Sy hele been is in gips geplaas en hy is na die Worcester-hospitaal oorgeplaas.

Toe die ambulans om 23:00 daar aankom, het die chirurg reeds reggestaan en Gershwin is reguit teater toe. Ses uur later is hy uitgestoot. Die nuus was nie goed nie. “Die chirurg het gesê ’n aar het afgebreek. Hulle kon dit nie fix nie en die bloedtoevoer was afgesny. Die been sou moontlik afgesit moes word.” Gershwin se oupa en ouma het intussen ook by die hospitaal aangekom en dieselfde nuus gehoor.

“Die chirurg se assistent het gesê die been kan sy hele liggaam vergiftig en hy kan doodgaan. Ek kon dit nie verwerk nie. Ek en my man het hom mos van sy geboorte-uur af grootgemaak,” sê sy ouma terwyl sy die trane afvee. “Om te dink hy het reg uitgestap by hierdie deur. En só moet ek hom nou aanskou . . .” Al was dit hoe moeilik, het hulle besef dis beter dat hy met een been deur die lewe gaan as wat hy sy lewe verloor, vervolg sy oupa. Hy haal sy bril af om ook die trane af te vee.

Op 19 Maart verlede jaar is die been afgesit. Toe hy die stompie sien, het Gershwin net begin huil. Daar was so baie vrae. “My vyfjarige seuntjie hou van ball skop en speel. Ek het gedink nou sal ek nooit weer met hom kan skop en hardloop nie. Ek het baie gehuil,” sê hy reguit. “Jy is nou reg, maar netnou begin jy dink en dan huil jy weer.”

Tog, terwyl hy daar gelê het, het daar ook iets anders met hom gebeur. “Wat ek in daardie hospitaal gesien het, het my laat besef dis nie die einde van die wêreld nie. ’n Ou in my saal het altwee sy bene verloor én hy was blind. En hy het heeldag gesing. Ek het ’n klomp mense gesien wat erge dinge oorgekom het.” Reeds daar het hy vrede met sy omstandighede gemaak.

Pas aan

Gershwin was ’n kranige rugbyspeler voordat ’n besering op die veld sy been geëis het.

Eers op Gershwin se dertigste dag in die hospitaal kon hy opstaan. Drie dae later is hy huis toe. Die loopraam waarmee hy begin loop het, het hy sommer daar gelos. “Dit was darem te stadig.”

Sy oupa en ouma vertel hoe hy dit duidelik gemaak het dat hy nie mense by hom soek wat hom bejammer nie. Ná ’n maand was hy verveeld en is hy terug werk toe. “Hulle het my admin laat doen, maar November-maand het ek besluit ek wil terug na my ou skofte toe en my baas het gesê dis orraait.”

As process operator ry hy al weer die forklift en hanteer die produkte wat geweeg moet word. “ ’n Mens pas aan,” sê hy. “Ek kan net nie goed in my hande dra nie. Simpel goed, soos ’n bord kos.”

Vier maande ná sy ontslag het hy ’n outomatiese kar aangeskaf. ’n Bloedrooie. Gershwin het besluit om by rugby betrokke te bly en as medeafrigter van Goodwood se o.20-span ingeval. Hy het ook die Maties-sportklub genader oor die moontlikheid dat hy aan sport vir gestremdes kan deelneem. Daar is aanvanklik gedink hy kan rolstoelrugby speel, maar toe die afrigter besef hoe beweeglik en sterk hy is, het hy voorgestel dat Gershwin eerder atletiek probeer. Hoe voel hy oor die drie medaljes wat hy reeds op die nasionale kampioenskap verower het? “Trots,” lag hy. “Ek wil in die SA span kom. Ek wil wêreldkampioen raak.”

Ek wil in die SA span kom. Ek wil wêreldkampioen raak.

Hy gaan nie terugkyk nie. “Wat gebeur het, het gebeur. Ek het vrede daarmee gemaak en aanbeweeg.” Tot sy groot opgewondenheid het die Paralimpiese atleet Tyrone Pillay onlangs twee prostetiese blades vir hom gesponsor: een vir loop en een vir atletiek.

Die enigste tameletjie is die R68 400 wat die socket kos waarin dit geplaas moet word. Getrou aan sy motto, “Moet nooit opgee nie”, is Gershwin nou besig met ’n geldinsamelingsveldtog.

As jy kan help, bel hom by 082 647 1476 of sy meisie, Liesl Davids, by 072 030 4231.

Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.