Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Afrikaans, jou lekker ding!


In ’n tyd waar Afrikaans tans die wind van voor kry op talle gebiede – as onderrigtaal by universiteite, in die howe en die sakewêreld – is dit hartverblydend om te sien dat Afrikaans op kulturele gebied sterk staan.

Die taal gedy in ’n omgewing waarin mense hulself kan uitdruk in hul moedertaal. Nog nooit in die geskiedenis van ons taal was daar soveel Afrikaanse rolprente, televisiereekse en sepies, musiek, leesstof in die vorm van boeke, Afrikaanse kunstefeeste en teater beskikbaar nie.

Wat veral verblydend is om te sien, is ’n nuwe geslag Afrikaanssprekendes wat dit geniet om in Afrikaans te skep en kreatief te wees. In Juniemaand val die fokus op die jeug en dis juis hierdie generasie wat Afrikaans die toekoms sal moet indra.

Charnelle Fortuin (24) het in 2014 haar dramastudies aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi en by ’n radiostasie gaan werk. Verlede jaar het sy skoolgehou en sy is tans besig met haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) aan die US. Sy doen vanjaar praktiese onderwyservaring op by Bridge House School in Franschhoek.

In 2017 het Charnelle die behoefte aan  dramagroep in Franschhoek raakgesien. Sy het teatergroep, Revelations gestig, die teks Skuld geskryf en begin om met kinders te werk. Hulle het ook vir die eerste maal aan die ATKV se Tienertoneelkompetisie deelgeneem en van die leerders is individueel bekroon vir hul spel.

Die groepie het uitstekend gevaar en Charnelle het hulle ook ingeskryf vir die Departement Kultuursake en Sport (DCAS) se dramakompetisie. By die Kaapse Wynland-dramafees is Skuld as die wenproduksie aangewys. Vanjaar het die groep die geleentheid gekry om as deel van DCAS se program by die KKNK op te tree. Hoewel die optredes nie in Oudtshoorn self was nie, het dit in dieselfde tyd as die kunstefees plaasgevind in Schoemanspoort, ’n klein plekkie naby Oudtshoorn. Die departement het busvervoer verskaf aan die plaaslike inwoners wat na hierdie en ander verhoogstukke kon kom kyk. Skuld is ook vanjaar by die Suidoosterfees opgevoer.

Afrikaans is letterlik die enigste taal waarin ek myself behoorlik kan uitdruk.
Charnelle Fortuin

Charnelle sê vir haar is dit besonder lekker om in Afrikaans te kan skep. “Afrikaans is letterlik die enigste taal waarin ek myself behoorlik kan uitdruk. Ek kan Engels skryf, maar ek verkies om Afrikaans te skryf omdat dit die taal van my mense is. Ons het die naam Revelations vir die dramagroep gekies, want met ons stories wil ons healing bring. My gemeenskap is Afrikaans en die mense op wie die stories gemik is, is ook meer Afrikaans as enige ander taal. Afrikaans is die taal waarin ek voel en dink,” sê Charnelle passievol.

Charnelle sê dit was vir haar jammer om te sien dat nie een van die Afrikaanse skole in Franschhoek ’n dramagroep het waarby die kinders kan aansluit nie. Dit het haar gemotiveer om die groep te stig. Dit is almal jongmense wat in Afrikaans wil werk en sy is dankbaar om hierdie geleentheid vir hulle te bied.

“Wat Afrikaans so besonders maak, is al die variëteite van Afrikaans. Kaapse Afrikaans en die Afrikaans in Pretoria verskil baie, en tog kan ons mekaar verstaan. Die lekker ding van Afrikaans is dat  mens so baie verskillende karakters kan uitbeeld in een taal, want die taal het so baie dialekte. Van die ander jongmense met wie ek saamwerk, sê hulle druk hulself ook die heel beste uit in Afrikaans, al is dit nie noodwendig Standaardafrikaans nie. Uiteindelik bly dit lekker om te kan besluit hoe jy jou wil uitdruk.”

Mercy Kannemeyer (23) is verlede jaar deur die Afrikaanse Taalraad vereer met  Kokertoekenning vir haar dokumentêre program Die ander Kant/The Other Side. In hierdie 12-minuut dokumenter plaas Mercy die kollig op alles wat  mens kan verloor indien Afrikaans finaal as tersiêre onderrigtaal afgeskaf word.

Mercy is vanjaar besig met haar Meestersgraad aan die US en haar studieveld is toegepaste teater. Vroeër vanjaar was sy die regisseur van die Woordfeesproduksie Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Hierdie satire belig die feit dat ons almal saam sal moet werk om van transformasie werklikheid te maak. Die produksie, wat ook by die Suidoosterfees te sien was, is ook deel van die Vrystaatse Kunstefees wat in Julie plaasvind. By vanjaar se Woordfees was Mercy ook die gespreksleier vir ’n hele paar teatergesprekke.

Wanneer ’n mens iets doen waaroor jy so passievol is soos wat ek oor teater is, dan is dit so lekker om dit in jou eie taal te kan doen.
Mercy Kannemeyer

Sy sê dit was vir haar besonderse voorreg om hieraan deel te kon hê en sy het geweldig baie daaruit geleer. Vir Mercy, wat gebore is in Mosselbaai en in Port Elizabeth grootgeword het, is Afrikaans besonderse deel van wie sy is. “Ek het Afrikaans grootgeraak, skoolgegaan in die taal en swot ook nou in Afrikaans. Ek besef dit is ’n baie groot voorreg, want nie alle mense kry daardie geleentheid nie. Ek is baie opgewonde oor Afrikaans en ek leer elke dag nuwe dinge. Dis ook ’n voorreg om in Afrikaans te kan skryf en ek wens eintlik daar is meer mense wat die geleentheid kry om dinge in hulle moedertaal te kan ervaar wat ek in Afrikaans ervaar.”

Mercy sê al is dit al soveel kere vantevore deur ander mense gesê, is Afrikaans die taal waarin sy haarself die beste kan uitdruk. “Wanneer ’n mens iets doen waaroor jy so passievol is soos wat ek oor teater is, dan is dit so lekker om dit in jou eie taal te kan doen. Dit is natuurlik ’n absolute eer, want daar het al soveel wonderlike mense my voorafgegaan en sulke goeie werk gedoen. Om in daardie mense se spore te kan loop, is ’n wonderlike eer. Ek besef ook dat Afrikaans nie ’n reg is nie. Dit is ’n voorreg om in hierdie taal te kan leef en skryf en skep.”


KOM VERTEL ONS HOE LYK JOU AFRIKAANS

Op Afrikaans.com kan jy meer gaan lees oor die wye verskeidenheid dialekte wat deel vorm van die Afrikaanse taallandskap. 

Hoe lyk en klink jou Afrikaans? Stuur stemboodskap na 064 652 6873 en laat hoor ons hoe jou Afrikaans klink.

Vertel ons ook op sosiale media hoekom Afrikaans vir jou #onmisbaar is met die hutsmerk #onmisbaar.


Meer oor:  Kuier  |  Afrikaans  |  Moedertaal  |  Afrikaans.Com
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.