Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Afwesige pa's saai verwoesting
12 Junie 2019


In Suid-Afrika is ’n huis sonder ’n vader die realiteit vir baie kinders, maar dis eers as jy na die syfers oor afwesige pa’s kyk dat jy besef hoe erg die situasie regtig is.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se nuutste algemene huishoudelike opname wat in 2018 gedoen is, woon slegs 33,8% van kinders in ’n huis met albei ouers!

Die verslag wys 43% van Suid-Afrikaanse kinders woon by hul ma, terwyl net 3,3% by hul pa woon. Hierdie statistieke bevestig ’n verskynsel wat al dekades lank ’n groot probleem in ons gemeenskappe is: mans wat kinders verwek, maar nooit ’n pa in die volle sin van die woord vir hulle is nie. Boonop toon navorsing dié syfer styg elke jaar.

In ’n studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) wat in 2015 gedoen is, sê Linda Richter van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) die invloed van ’n teenwoordige pa, beide direk en indirek, speel ’n groot rol in ’n kind se lewe.

“Hulle behoort daar te wees om die moeder te ondersteun en om alle belangrike besluite in die kind se lewe te beïnvloed. Dit sluit in alles met betrekking tot die gesondheid, welsyn en opvoeding van die kind,” sê sy in die verslag.

Die IRR-studie het ook bevind meisies wat sonder hul pa’s grootword, is meer geneig om seksueel riskant te wees en ook later meer probleme te hê wanneer dit by romantiese verhoudings kom. Die kanse vir vroeg swanger word, is ook hoër sowel as vroeg trou en vroeg skei.

Om kinders buite die huwelik te hê, is ook hoër onder meisies wat sonder ’n pa grootword. “Wanneer dit by seuns kom wat in ’n huishouding grootgeword het met ’n afwesige pa, is hulle meer geneig om ‘hipermaskulêre’ gedrag te vertoon, wat aggressie insluit. Hierdie bevindings stem ooreen met navorsing uit Amerika waar daar bevind is dat die afwesigheid van pa’s wanneer kinders grootword, een van ’n verskeidenheid faktore is wat verband hou met swak opvoedkundige uitkomste, antisosiale gedrag en misdadigheid,” sê Linda voorts in die verslag

Albei ouers is nodig

Volgens die sielkundige Tanya van Niekerk speel ’n stabiele huishouding ’n groot rol in die ontwikkeling van ’n kind en kan die feit dat ’n kind sonder een of albei ouers grootword, wel ’n uitwerking op die kind se emosionele en kognitiewe groei het.

Sy sê seuns wat in ’n huis sonder ’n pa grootword, is meer geneig om met depressie en aggressiewe gedrag te sukkel, terwyl meisies wat sonder ’n pa grootword, meer geneig is om ’n lae selfbeeld te hê.

Hoewel dit altyd die beste vir ’n kind is om saam met albei ouers ’n verhouding te hê, is daar gevalle waar dit beter vir kinders is om nie ’n sekere ouer in hul lewe te hê nie. “Dit is veral waar wanneer daar nie ’n stabiele verhouding is nie en die ouer die kind meer verwar.

Die waarde om saam met biologiese ouers groot te word, is baie groot vir kinders, maar soms wil ’n ouer eenvoudig net nie deel wees van die kind se lewe nie. Soms wil hulle nie eens erken dat die kind bestaan nie en dit is ongelukkig iets wat meer voorkom in pa’s as ma’s,” sê Tanya.

Joanie Fredericks, ’n gemeenskapsleier en aktivis in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, sê wanneer pa’s nie teenwoordig is nie, het sy al agtergekom dat dit ’n groot impak op die gemeenskap en nie net die betrokke gesin het nie. Sy sê hoewel ’n mens nie kan veralgemeen nie, sien jy dikwels dat individue wat hulle skuldig maak aan gewelddadige misdaad dikwels in ’n enkelouerhuis grootgeword het en een of ander “daddy issue” het.

“Dit beteken nie dat die ouer te blameer is vir die kind se dade nie, maar dit het wel ’n uitwerking op die kind se geestesgemoed, en het op een of ander manier bygedra tot waar die kind hulself vandag bevind,” meen Joanie. Jaco van Schalkwyk, direkteur van The Character Company wat met programme die gaping tussen afwesige ouers en kinders probeer vernou, sê dis hartseer dat die aantal kinders wat sonder die verhouding en liefde van ’n pa grootword, elke jaar net meer word. Jaco, self ’n pa van drie, kan homself nie ’n lewe indink sonder sy drie dogters nie.

“Maar deur die jare se werk met niewinsgewende organisasies in en om die Johannesburg-omgewing het ek besef daar is ’n groot behoefte aan pa’s in huishoudings waar ’n enkelma haar kinders, maar veral seuns, grootmaak. In my werk met verskillende organisasies kon ek duidelik die daaglikse impak van afwesige pa’s sien en ek glo om ’n beter samelewing te skep, moet ons hierdie gaping probeer vernou.”

Ingevolge wet moet ’n kind se biologiese ouers, grootouers of wettige voog onderhoud betaal. ’n Ouer of voog wat vir ’n kind onder die ouderdom van 18 sorg, kan onderhoudsgeld eis van die ander ouer. As die ander ouer nie kan bekostig om onderhoudsgeld te betaal nie, kan die onderhoudsgeld van hul ouers geëis word, wat die grootouers van die kind is.

Hulle sien die skade

Oor die uitwerking van ’n vaderlose huis op ’n kind, hoef jy vir Angelique van der Westhuizen (47) van Plumstead in die Kaap, niks te vertel nie. Vir haar gaan dit nie net oor die finansiële druk wat dit op haar plaas nie, maar ook die daaglikse verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan om aanhoudend alleen te moet seker maak haar seun, Dylan (16), bly weg van die verkeerde dinge, vriende en keuses af.

Sy klink na aan trane wanneer sy begin praat oor die verkeerde besluite wat haar seun reeds maak. “Hoe ouer my seun word, hoe meer begin hy wonder oor hoekom sy pa verdwyn het en hoekom hy hom nie saamgevat het nie of minstens vir hom kom kuier het nie,” sê sy hartseer.

Volgens Angelique het Dylan sy pa sewe jaar laas gesien en raak dit vir haar al hoe moeiliker om aan hom te verduidelik sy pa gaan nie terugkom nie en hulle moet op hul eie ’n lewe bou. Amy Moses (28) van Eersterivier in die Kaap sê op haar beurt dit breek haar hart elke dag om te weet waar haar kind se pa is, maar dat hy glad nie daarin belangstel om sy dogter te leer ken nie. Sy het ’n tweede dogter, Sasha (1), maar dié se pa is in haar lewe omdat hy en Amy in ’n verhouding is.

Toe haar oudste dogter, Mia (10), gebore is, was Amy en haar dogter se pa albei in matriek. Hulle kon nog nie op hul eie vir hul kind sorg nie en hulle moes baie op hul ouers staatmaak. Dit het veroorsaak dat hulle baie vassit en op die ou einde het hulle besluit dit is beter as hul verhouding eindig, maar dat hulle steeds hul kind sal saam grootmaak. Maar van die begin af het dit nie gelyk asof hy belangstel nie.

Amy begin huil en skud net haar kop wanneer sy vra hoe iemand nie so ’n “mooi, warmhartige, sonskynkind wil ken nie.” Hoewel sy nie met haar dogter se pa praat nie, bly hy in dieselfde omgewing as hulle en loop hulle hom of sy ouers gereeld in die winkels raak en lyk dit asof Mia uit haar vel uit kan bars van opgewondenheid.

“Dit wys jou net dit maak nie saak wat die ouer aan die kind doen nie en of hulle nou deel is van hul lewe of nie. Dit bly steeds ’n belangrike persoon vir die kind en al begin my dogter nou besef hulle verkies om nie met haar ’n verhouding te hê nie, is dit steeds haar familie en sal sy steeds elke vyf minute wat sy kan kry, met hulle wil spandeer.

Haar pa bly ook steeds haar pa of sy hom nou een keer ’n dag of een keer ’n jaar sien en dit breek my hart vir haar,” sê Amy. Kinders het nie geld of materiële dinge nodig nie, maar hulle verlang wel na die liefde en ’n verhouding met albei hul ouers. As dinge tussen jou en die ma nie uitgewerk nie, is dit fine, maar moenie ’n kind straf vir ’n bed wat jý gemaak het nie; slaap daarop.

Illustrasie: Ryan Carolisen

Bykomende bron: https://bit.ly/2QwCoD4

Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Enkelma  |  Afwesige Pa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.