Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Agter die gedrag
09 Januarie 2019
kindersgedrag

Jy hoef net terug te dink aan jou eie skooldae om te besef hoe uiteenlopend kinders se gedrag in die klas kan wees. Daar is die “nar” wat die heeltyd grappe wil maak of ander se siele uittrek; daar is die een vol bravade wat ander wil intimideer of die klas heeltyd wil ontwrig of daar is die een wat glad nie wil praat nie.

Maar hoe weet jy as onderwyser en ouer wanneer ’n kind net stil of stout is en of daar dalk groter probleme agter die ondeunde glimlag skuil?

Donna Lewies (48), ’n voormalige onderwyser van Port Elizabeth, sê op ’n goeie dag is dit ’n uitdaging om die chaos te hanteer van ’n oorvol klaskamer. En daar is altyd daardie een of twee aanhitsers wat jou taak nog moeiliker maak.

“Dis soms moeilik om te weet wat is net stout en wat is regtig ’n hulpkreet of ’n ernstige probleem,” meen sy.

Hannes Wessels, ’n opvoedkundige sielkundige van Centurion in Gauteng, verduidelik kinders se stout gedrag is die meeste van die tyd ’n produk van hul omstandighede en nie noodwendig omdat daar iets fout is met hulle nie. Daarom, as ’n mens na gedragsprobleme kyk, is dit baie belangrik om eers te bepaal of die interaksie tussen die kind en sy ouers of onderwysers, die “stoute” of onaanvaarbare gedrag veroorsaak en versterk.

OMSTANDIGHEDE

Volgens Hannes is swak gedrag af en toe die oorsaak van emosionele of sielkun­dige probleme, soos byvoorbeeld trauma, ADHD of depressie en daarom is dit baie belangrik dat ouers en die skool gereeld kontak het en oop kaarte met mekaar speel. Die meeste van die tyd is die gedrag egter as gevolg van die kind se omstandighede en die oplossing lê dáár, hoewel die kind dalk vir terapie of mediese hulp sal moet gaan.

Die algemene probleme wat onderwysers in die klaskamer ondervind, is omdat die gedrag ontwrigting in lesse, klasdissipline en ander leerders se leerprosesse veroorsaak. Dit is byvoorbeeld die kind wat te veel praat, ander uit die werk hou en sukkel om hul beurt te wag – jy kan nie die wangedrag mis nie, al wil jy. Daarenteen word stil kinders met leer- of emosionele probleme dikwels nie opgemerk nie, want hulle is nie ontwrigtend nie. “Ek vind dat baie kinders met leerprobleme nie noodwendig hul klasse ontwrig nie en die probleme word eers opgetel as die skool die rapport aan die einde van die jaar stuur,” waarsku Hannes.

Emosionele- en gedragsprobleme lyk anders by elke kind. Daar is egter tipiese gedrag waarvoor ’n mens kan uitkyk. Party kinders is in konstante konflik met die ander leerders en maak onnodige foute in hul werk. Hulle sukkel om aandag aan take en aktiwiteite te gee. So ’n kind sukkel dalk om te luister wanneer daar nie direk met hom gepraat word nie, sukkel om instruksies uit te voer en maak nie skoolwerk klaar nie. Hy kan ook dalk loskop voorkom omdat hy vergeetagtig is en altyd dinge verloor wat nodig is vir skoolwerk, soos sy potlode of boeke. Sy aandag word maklik afgelei en hy is kriewelrig – vroetel baie met hande of voete of skuifel rond in sy stoel. Baie kinders vind dit moeilik om rustig te speel, aan ontspanningsaktiwiteite deel te neem en sy energievlakke te reguleer. Hy is ongeduldig, praat baie en sukkel om sy beurt af te wag. Hy sal ander sommer onderbreek, maklik sy humeur verloor en ander kinders boelie of intimideer. Sulke kinders sukkel ook met gesag en weier om aan volwassenes se versoeke of reëls te voldoen.

HELP SÓ

Vir ouers en onderwysers is dit baie belangrik om, al is dit moeilik, die volwassene in so ’n situasie te probeer wees.

“Dis belangrik vir ouers en onderwysers om empaties teenoor ’n kind op te tree. Self-refleksie is ook baie belangrik oor hoe jou eie gedrag die kind se gedrag versterk of veroorsaak,” verduidelik Hannes. Volgens hom het navorsing bewys dat iemand se verhouding met en verwagtinge van ’n kind amper die grootste invloed het op hul akademiese vor­dering. Daarom is dit baie belangrik om, ten spyte van die swak gedrag, nie die kind te “label” nie, maar eerder baie geduld toe te pas.

Dit beteken nie ’n mens moet net agteroorsit en Gods water oor Gods akker laat loop nie. “As jy vermoed daar is iets fout, is dit beter om eerder vir ’n assessering by ’n opvoedkundige sielkundige te gaan,” waarsku Hannes. Hoe vroeër ’n mens probleme optel en aanspreek, hoe meer baat die kind daarby. “Ek het al baie gesien dat ouers en skole vingers na mekaar wys tot ’n kind se nadeel, want dan word die oorsaak van ’n probleem dikwels nie aangespreek nie en die kind ly daaronder.”

Christa Badenhorst, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê dit is belangrik dat onderwysers en ouers hul kinders goed moet leer ken sodat hulle vinnig kan optel wanneer hul gedrag verander.

“Daar is altyd ’n oorsaak van enige gedrag in ’n kind. Dit kan wissel van om hulself te beskerm, passiewe of openlike aggressie of ’n gevoel van minderwaardigheid. Dikwels voel die kind hy is nie goed genoeg nie en wil doelbewus die fokus verskuif vanaf sy gevoelens van swakheid na ‘stoute’ gedrag, wat makliker voel om te hanteer,” verduidelik sy.

Volgens haar is angs ’n emosionele uitdaging waarmee al hoe meer kinders deesdae gekonfronteer word. Dis nie altyd maklik om dit te identifiseer nie omdat dit op soveel verskillende maniere na vore kom, onder meer aandagafleibaarheid, irritasie, aggressie, vermyding, perfeksionisme, obsessiewe kompulsiewe gedrag en selfs eetsteurnisse. Verder, verduidelik Christa, kan sensoriese integrasie (hoe doeltreffend die brein inligting wat deur die vyf sintuie ingeneem word en sin daarvan gemaak word) ook bydra tot angs, veral wanneer ’n kind sensories sensitief is en maklik in ’n besige klas sensories oorweldig kan word.

Dis belangrik vir ouers en onderwysers om empaties teenoor 'n kind op te tree
Hannes Wessels

Persoonlikheidseienskappe speel ook ’n rol. Soms het ’n kind maar net ’n meer angstige en sensitiewe persoonlikheid. Soms kan die kind en die onderwyser teenstrydige persoonlikhede hê, wat ook ’n kind se gedrag in die klas kan beïnvloed.

Sekere gedrag kan ook toegeskryf word aan vorige ervarings, soos byvoorbeeld hoe ’n kind vir ’n ouer of onderwyser sal jok op grond van hoe hulle ’n vo­rige keer gereageer het. Kinders kan dalk jok om hulself te beskerm en om nie in die moeilikheid te beland nie (hoewel dit dikwels nie werk nie). ’n Leerder het dalk ’n behoefte aan aandag en maak eendag ’n grappie in die klas. Almal lag en die kind ervaar onmiddellik geluk, aanvaarding en aandag. Hy kan dalk probeer om hierdie situasie weer te kry deur die klasnar te word.

VERWERK EMOSIES

Wat staan ’n ouer of onderwyser dan te doen om ’n kind te help om deur hierdie warboel van emosies en ervaring te help?

“Grense laat ’n kind veilig en geborge voel en gee leiding oor wat aanvaarbare gedrag is. Kinders sal egter ook dié grense toets, dis eintlik hul voorreg. Dis ons as ouers, onderwysers en ander versorgers, se werk om hierdie grense te stel en ferm, maar tog ook buigbaar en konsekwent te wees oor waar die grense is en wat die gevolge van verkeerde gedrag is,” verduidelik Christa.

“Onderwysers kan ook oplet na enige veranderinge in die kind se persoonlikheid, soos byvoorbeeld ‘n kind wat altyd sosiaal was, wat meer stil en gereserveerd word, iemand wat altyd goedgemanierd was wat skielik ’n swak houding en uitbarstings het en aggressief is. Hierdie tipe veranderinge in persoonlikheid is altyd ’n teken van iets wat fout is en verdere ondersoek is dan nodig.”

Haar raad is dat ouers en onderwysers moet probeer om ’n oop verhouding te koester met hul kinders waar die kinders die vrymoedigheid het om te kan kom praat oor dinge sonder vrees van beoordeling (judgement). Baie keer veroorsaak ouers se reaksies dat kinders dinge wegsteek of nie met hulle praat oor goed nie. Indien kinders se gedrag verander of jy bekommerd is, knoop ’n gesprek aan met die kind en probeer uitvind wat aangaan. Moenie te lank wag om professionele hulp te kry nie, veral as gedrag baie drasties verander, die kind nie gehelp wil word nie en gewone gesprekvoering nie positiewe gevolge oplewer nie.

Kinders is klein, emosionele wesens in ’n deurmekaar, dol wêreld. Moenie hul hartjies en onsekerheid ignoreer nie. Hulle is die toekoms.

Meer oor:  Skooluniform  |  Kuier  |  Terug Skooltoe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.