Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Agter die potte: Sjef maak kos vir almal
19 Februarie 2020


Vir baie mense is kos meer as net ’n bietjie rys, aartappels en vleis wat op ’n bord voorgesit word. Dit is ’n bietjie van jouself wat jy vir ander gee, dit is wanneer jy nie wil hê ’n geliefde moet honger gaan slaap nie, dit is herinneringe saam met jou geliefdes en dit hoef nie fancy of duur te wees nie. Kos wat uit liefde gemaak is, het ’n manier om mense bymekaar te bring en hulle beter te laat voel.

Elke keer wanneer sjef Keanon Micheals (34) ’n stoof aansit in sy restaurant, Keanon’s Kitchen, is dít waaraan hy dink. Hy onthou die tye toe hy honger was en moes rondkrap en dikwels ná skool net rys moes maak omdat dit die enigste kos in die huis was. Hy dink aan die kinders in sy gemeen-skap van Strandfontein in die Kaap wat skool toe gaan en op ’n leë maag moet probeer leer.

Hy onthou die tye wanneer hy hartseer was of dinge nie vir hom uitgewerk het nie en sy ma sy gunstelingbredie gemaak het. Dit is in hierdie oomblikke dat hy vir ’n tydjie stil word en vir die Here dankie sê vir al sy seëninge en sukses.

Keanon maak seker sy gereg lyk perfek.

Begin by die huis

Terwyl ander seuns daarvan gedroom het om polisiemanne, brandweermanne of body builders te word, het hy net een doelwit en begeerte gehad en dit was om ’n sjef te wees. Hy beskryf kos as iets wat vir jou wys waarvandaan jy kom, waar jy al was en wat jou erfenis is. “Afhangend van jou agtergrond, jou omstandighede en hoe jy grootgeword het, vertel elkeen van ons se kosreis ’n ander storie, amper so uniek soos al die verskillende kosse wat ’n mens kry,” sê dié geesdriftige jong sjef en surfer.

“Jy kan die armoede, rykdom of avontuur proe wanneer jy iemand se kos eet. Hul kos vertel vir jou hul storie, sonder dat daar enige woorde gepraat word.” As jy op die Kaapse Vlakte grootword, is dit maklik om by dwelms, geweld en ander misdaad betrokke te raak, maar Keanon is ’n bewys dat dit nie só hoef te wees nie.

Hy is een van daardie gelukkige jong mense wat vroeg genoeg besef het dat dit nie sy realiteit hoef te wees nie en eerder besluit het om sy passies uit te leef. Om hom uit die kwaad te hou, het sy ma, wat hy as die beste kok in die wêreld beskryf, hom aangemoedig om te kook. Hy was maar net nege jaar oud toe hy in die kombuis moes begin rondkrap om vir homself kos te maak.

Dit het hom besig gehou, maar dit het haar ook gehelp omdat sy gereeld laat moes werk. Hulle het nie baie opsies gehad nie, maar sy het dit opwindend probeer maak en dit ’n speletjie gemaak. Hy het reëls gekry en kon slegs sekere bestanddele gebruik. Dit het beteken hy moes van ’n jong ouderdom af leer hoe om kreatief met kos te werk en bestanddele soos rys en eiers in ’n maaltyd te omskep. Sy go to maaltyd was egg fried rice waaroor hy gelees het.

Dit het natuurlik nie so lekker geproe soos dié wat jy tydens ’n eksotiese vakansie in Thailand of China sal proe nie, maar dit was lekker genoeg en het hom vol gemaak. Soos hy ouer geword het, het sy passie en nuuskierigheid oor kos net groter geword en hy was vasbeslote om by ’n sjefskool te gaan studeer. Dit het hom gemotiveerd gehou, want hy het geweet wat hy wou bereik.

Ek het geleer jy moet nooit skaam wees om vir hulp te vra nie. Luister na jou hart, want jy weet wat die beste is vir jou.

Ongelukkig het sy ouers nie die geld gehad om hom na ’n topsjefskool te stuur nie, maar deur sy harde werk en hulp van sy familie, het hy ‘n beurs losgeslaan om ’n gasvryheidskursus by Northlink te gaan volg. Hy het ’n kortkursus gedoen en hoewel hy nie alles geleer het wat hy graag wou nie, soos byvoorbeeld hoe om ’n vis te ontgraat nie, het hy alles ingeneem wat hy kon en naweke enige plek gaan werk waar daar ’n geleentheid was om prakties te kon leer. Vir hom is dit belangrik om nooit jou omstandighede as ’n verskoning te gebruik nie.

“Ek het in restaurante eers net vleis skoongemaak, toe al die kerf-werk gedoen. Maar ek het met my oë gesteel en vrae gevra. Stadig het ek beter geword en geleenthede gekry, maar my eerste groot geleentheid was toe ek ’n pos as ’n sjef op ’n Arabiese lugdiens gekry het,” sê hy.

Hier het sy talent regtig vlerke gekry en het hy geleer hoe om met van die duurste bestanddele in die wêreld te werk. Hy moes leer hoe om met duur vleis, kaviaar en eksotiese groente en vrugte te werk. Dit is ook waar hy skouers geskuur het met koninklikes en beroemdes soos die Beatles-sanger Paul McCartney en Fast and the Furious se Michelle Rodriguez.

Daarna het hy by verskeie toprestaurante in die Kaap gewerk, voordat hy drie jaar gelede Keanon’s Kitchen in sy grootwordwoonbuurt van Strandfontein oopgemaak het. Hy het ook ’n mobiele restaurant waar hy uit die boot van sy Tazz kook. Met sy besigheid neem hy fine dining na sy gemeenskap met driegangmaaltye wat hy vir mense in hul huise kook. Hy doen dit ook vir ryk kliënte in Kampsbaai en oor die Wes-Kaap.

Ploeg terug

Hy leer ook kinders in sy buurt hoe om te kook sodat hulle uit die moeilikheid kan bly. Keanon doen dit as deel van die 9 Miles-organisasie wat kinders leer om te surf. Dit het begin as ’n organisasie wat behoeftige kinders kos gee wat daar verby geloop het waar die surfers is. Nou leer hulle kinders om te kook, help hulle met hul skoolwerk en deur surfing leer hulle ook dissipline.

“Dit is vir my belangrik om kinders te help. Ek wil nooit vergeet van waar ek vandaan kom nie, maak nie saak watter sukses jy behaal nie. Dit was nie maklik nie en is steeds nie maklik om jou eie besigheid te bestuur nie. Maar ek het geleer jy moet nooit skaam wees om vir hulp te vra nie. Luister na jou hart, want jy weet wat die beste is vir jou.”

Keanon wil ander kinders in die gemeenskap inspireer om ook iets van hul lewens te maak. Hulle moet net bereid wees om hard daarvoor te werk. ’n Mens sou dink sy helde sou groot name in kosbedryf wees, maar sy voete is plat op die aarde.

“My helde is mense wat werk by plekke waar hulle nooit sal kan bekostig om te eet nie, dié wat in hotelle werk waar hulle nooit sal kan bly nie. Hulle laat mense hul idees en vaardighede gebruik, die maatskappy baat daarby, maar hulle kry nie die krediet nie,” sê hy. “Hulle kry geen berigte in Eat Out nie, maar ek word geïnspireer deur sulke mense wat in situasies is waaruit hulle nie kan kom nie. Hulle is die regte helde en elke seëning wat ek het, is danksy hulle.”

* Foto’s: Matthew Wareley

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.