Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Agter die uniform
09 Januarie 2019
nooddienste

Ons lewe in ’n digitale era wat baie verandering in die werkplek meebring. Maar dit lyk tog of loopbane in diens van die mensdom soos die polisie en brandweer nog vir ’n lang tyd in aanvraag gaan wees.

Hier is ’n kykie na die vyf gewildste werke in uniforms en hoe jy een van hierdie beroepe kan volg.

Konst. Diresh (Gosh) Naidoo voor die polisiekantoor in Vrede in die Vrystaat. Hy is as ’n Nasionale Polisiebeampte van die Jaar aangewys. Foto: Deon Raath

DIE POLISIE

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se grootste prioriteit is om wet en orde te handhaaf. Hul belangrike take sluit in die voorkoming, bestryding en ondersoeking van misdaad; die behoud van openbare orde en die beskerming van inwoners en eiendom.

Jy kan ’n polisiebeampte of ’n burgerwerknemer word (soos deur betrokke te wees by polisiëringsforums). Die meeste polisiebeamptes is direk betrokke by die werke wat verband hou met misdaad en sommige voer ondersteuningsfunksies (deur betrokke te wees by gemeenskapsprojekte en patrollering by groot events) uit. Vakatures en aansoekvorms kan van die SAPD-webwerf (www.saps.gov.za) of polisiestasies gekry word.

As jy aan die basiese inskrywingsvereistes voldoen, is jy onderworpe aan psigometriese en fisiese fiksheidsassesserings.

Die basiese opleiding strek oor 21 maande en polisiestudente is onderworpe aan fiksheid-, integriteit- en mediese-assesserings; onderhoude; professionalisme; patriotisme en etiket.

Weermaglede met opgeleide honde gebruik die brug wat pas deur die ingenieursformasie gebou is.Foto: Charné Kemp

DIE WEERMAG

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) word as die gedugste georganiseerde, afgerigte en toegeruste mannekrag in Afrika beskou. Die SANW bestaan uit vier vertakkings, wat die leër, lugmag, vloot en die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens (SAGD) behels. Dis hul hooffunksie om die land teen enige bedreiging van buite te beskerm en die voorkoming en onderdrukking van terrorisme en binnelandse onluste. Die beskerming en bewaring van lewens, gesondheid en eiendom is natuurlik ook baie belangrik.

Die SANW bestaan uit ’n burgermag, kommando­mag, dienspligtiges en spesiale mag-eenhede. Elke weermageenheid beskik oor sy eie opleidingskole vir spesialisopleiding. Hier word lede opgelei in die teorie en praktyk van moderne oorlogvoering. Kandidate moet aan sekere minimum vereistes voldoen wat hul sielkundige, mediese en fisiologiese geskiktheid vir die SANW bepaal. Indien die kandidaat aan hierdie vereistes voldoen, word hulle op die volgende dimensies noukeuring geëvalueer Z energie; selfmotivering; taakstruktureringsvermoë; oordeelsvermoë; inisiatief; aanpassingsvermoë; spanwerk; beslistheid en selfdissipline; asook fisiese-, mediese- en integriteits-asseserings.

Aansoeke om by die weermag aan te sluit kan slegs een keer per jaar (tussen Februarie en Maart) gedoen word. Kry aansoekvorms in koerante of op die SANW se webwerf by www.dod.mil.za. Terugvoering word tussen Maart en Augustus gegee en daarna tussen September en November waarna aansoekers oor die volgende stappe in die aansoekproses ingelig sal word.

Opleiding is ook gratis. As jy enige vrae het, kan jy ’n e-pos stuur na careers@mil.za of besoek www.careers.mil.za vir meer inligting.

Security guard. (Duncan Alfreds, News24)

SEKURITEITSWAGTE

Sekuriteitswagte beskerm mense en eiendom teen kriminele aktiwiteite en bedreigings. Om te verseker dat ’n gebied veilig is, kan hulle toesig hou of geslote kringtelevisiemateriaal monitor of net wag hou. Wanneer kriminele aktiwiteite plaasvind of daar is ’n bedreiging, kan sekuriteitswagte vinnig optree en plaaslike wetstoepassing soos die polisie kontak. Fiksheid tel ook in ’n sekuriteitswag se guns omdat dit hulle toelaat om skurke te jaag en te vang.

Baie maatskappye vereis dat wagte gelisensieerd is en opleiding kan vereis word as deel van die lisensiëringsproses. Onderwerpe soos wetstoepassingskommunikasie, gebruik van geweld, verslagskrywing, bewysehantering en misdaadvoorkoming word in die opleiding gedoen.

In sommige gevalle hoef ’n sekuriteitswag nie ’n spesifieke sekuriteitslisensie te hê nie, presiese vereistes sal verskil van werkgewer tot werkgewer. Behalwe daarvoor, sal daar ook van jou as sekuriteitswag vereis word om ’n vuurwapen te dra waarvoor jy ’n lisensie moet hê.

As jy beplan om ’n sekuriteitswag te word, moet jy ’n training provider vind wat geakkrediteer is by die Sector Education and Training Authority. Sekuriteitswagte word van A tot E gegradeer op grond van hul pligte en vlak van verantwoordelikheid. Daar is afsonderlike opleidingskursusse vir

elke graad. Die meeste sekuriteitsmaatskappye vra ’n eenmalige registrasiefooi van R160 en ’n jaarlikse fooi van R84.

’n Verkeersbeampte trek ’n motor af by ’n padblokkade langs die N2. Dié snelweg is een van die besige roetes waar verkeersdienste in die feestyd op dronkbestuurders en onpadwaardige voertuie gaan toeslaan. Foto: Deliah Brinkhuis

VERKEERSBEAMPTE

Verkeersbeamptes verseker dat alle padgebruikers, insluitend voetgangers, paaie op ’n ordentlike en veilige manier gebruik. Hul hoofdoel is om veilige en vloeiende verkeer te verseker om padongelukke en sterftes op ons paaie te voorkom. Ander take sluit in die beheer van verkeer, inspeksie van voertuie vir padwaardigheid en die handhawing van padreëls.

Vekeersbeamptes moet ook in staat wees om te werk met mense met verskillende persoonlikhede; bereid wees om gedurende vakansies en naweke te werk en hul pligte in alle weerstoestande na te kom.

Hulle doen hul werk sodat jy, jou familie en ander mense veilig kan wees. So, moet hulle nie kwalik neem wanneer hulle jou aftrek om seker te maak jy en jou kar op die pad mag wees nie.

Die provinsiale departement van vervoer of die munisipale verkeersdepartement adverteer gewoonlik poste in plaaslike en nasionale publikasies. Jy kan ook plaaslike of provinsiale owerhede direk kontak vir navrae oor poste en aansoekvorms.

Die minimum vereistes om ’n verkeersbeampte te word, is matriek of ’n gelyke kwalifikasie en geen spesifieke vakke is nodig nie. Geen kriminele rekord, ’n kode 8-bestuurslisensie en as jy jonger as 35 is, sal dit in jou guns tel.

Basiese opleiding vir verkeersbeamptes in Suid-Afrika kan slegs by ’n verkeerskool gedoen word en kostes verskil. Jy kan tot R20 000 betaal by sekere verkeerskole, maar dis gratis as jy een van die regering se internskappe kry.

As ’n verpleegster weens ’n werkbesering nie meer haar werk kan doen nie, moet die werkgewer probeer om ’n alternatiewe pos vir haar te kry. Ontslag is altyd ’n laaste opsie. Foto: iStock

VERPLEEGKUNDIGES

Verpleegkundiges se daaglikse take sluit in die voorraadopname en die bestuur van verpleegsorgvoor­rade; versorging van pasiënte; die toediening en monitering van medisyne, pasiënte se bloeddruk, polsslag, monsters en temperatuur; en die opstel en byhou van mediese rekords. Hulle moet ook, waar nodig, emosionele ondersteuning gee aan pasiënte en hul families.

Daar is verskeie verpleegkategorieë. ’n Maroen epoulet dui op ’n geregistreerde verpleegkundige met ’n algemene verpleegdiploma. Daar is ’n verskeidenheid kursusse wat voltooi kan word en die betrokke kleurstrokie, om die voltooiing van ’n spesifieke kursus aan te dui, word op die maroen epoulet bygevoeg.

’n Geel kleurstrokie is gemeenskapsverpleegkunde, groen is verloskunde, donkerblou is psigiatries, wit is verpleegonderwys en silwer is vir verpleegbestuur. Net ’n wit epoulet is vir ’n geregistreerde personeelverpleegster.

Bo alles strewe verpleegkundiges daarna om te verseker dat daar na al die behoeftes en geriewe van die pasiënte gekyk word.

Daar is verskillende verpleeginstansies, kolleges en universiteite waar jy ’n diploma of ’n graad in verpleegkunde kan verwerf. Koste beloop van R10 000 tot R50 000 per jaar.

’n Brandweerman probeer die brand blus.Foto: André Damons

BRANDBESTRYDERS

Brandbestryders kom so baie in lewe-en-dood-situasies en dis juis hoekom hulle dikwels as helde beskou word. Brandbestryders se taak is nie net om brande te blus nie, maar dit sluit ook die identifisering, evaluering en beheer van brandgevare in.

Dit is noodsaaklik dat brandbestryders fiks bly en daarom kry hulle deurlopende fiksheidsopleiding by die basis. Dit is om te verseker dat brandbestryders veilig en doeltreffend kan funksioneer wanneer hulle ’n brand moet gaan blus. Suid-Afrika het twee brandseisoene volgens reënvalpatrone, die droë somermaande in die Wes-Kaap en die droë wintermaande in die res van die land.

Elke brandweer in Suid-Afrika het sy eie vereistes, maar die basiese toelatingsvereistes is matriek, ’n

kode 10-bestuurslisensie met professional driving permit en ’n geslaagde fisiese toets. Gaan na jou plaaslike brandweer vir meer inligting as jy ’n brandbestryder wil word en hou plaaslike koerante dop vir kennisgewings oor poste. Jy kan ook by ’n opleidingskool aansluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.