Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Die sterk vroue agter Suidooster se dr. Siya Thuli
gantane kusch

Die talentvolle akteur Gantane Kusch (29) het bekendheid verwerf met sy rol as Gimba in die bekroonde rolprent Noem my Skollie en deesdae laat hy die harte omtrent vinniger klop as dr. Siya Thuli in die kykNET-sepie Suidooster.

Soos ons reeds weet, staan daar ’n vrou agter elke suksesvolle man. En Gantane het sommer drie sterk vroue wat agter hom staan. Dié vroue motiveer hom en het hom op sy tone gehou in ’n baie onseker tydperk in sy lewe.

Sy wortels

Hoewel hy nou ’n bekende akteur is, het Gantane, net soos sy Suidooster-karakter, dit nie altyd maklik gehad in die lewe nie. Gantane, ’n oumakind, vertel as kind het hulle baie rondgetrek, wat gemaak het dat hy hom nooit lekker op een plek kon inwortel nie. Maar hy meen dis juis danksy al sy uitdagings dat hy vandag so sterk en onafhanklik is.

Hy is in Windhoek, Namibië, gebore en het op vier saam met sy ouma, Roshina Kusch, Suid-Afrika toe getrek. “Die meeste van ons familie het in die Noord-Kaap gewoon en ons het om dié rede daarheen getrek. Ek het by my ouma en oumagrootjie, Anna Letsie, grootgeword, want my ma, Ramona, moes werk. Daarna moes ons Paarl toe trek en toe weer na Elandsbaai. Ons het anker vasgegooi in St. Helenabaai waar ons vir 19 jaar gebly het. Ma Anna bly steeds daar. Ek het vir my ouma ‘Mammie’ genoem en nie vir my ma nie, omdat my ouma my ma was gedurende my vormingsjare,” vertel Gantane.

Die lewe as kind was nie altyd maklik nie juis omdat hulle so baie moes trek.

“Ek het myself nooit gemaklik gemaak in ’n plek nie, want ek het geweet dat ons nie lank sou bly nie. Ek dink ook dis hoekom ek altyd die odd een was. Ek was baie vir myself en het nooit regtig mense ingelaat nie.

“Elke keer as ons van een plek na ’n ander trek, moes ek eers agterbly sodat my ouma haar op die nuwe plek kon vestig en eers daarna kon ek by haar aansluit. Dit was natuurlik moeilik, maar ek het die redes daaragter verstaan. Dit was alles sodat ons ’n beter lewe kon lei.”

Gantane lag wanneer hy vertel hy kon nooit verstaan hoekom sy ouma so streng was nie. “As kind was my ouma nie altyd my gunstelingmens nie omdat sy erg was oor dissipline en godsdiens. Soos ek ouer geraak het, het ek verstaan hoekom sy daardie waardes by my wou inkry. Ek wens eintlik ek kon dit vroeër besef het. My ma aan die ander kant was baie meer toegeeflik. Sy was die een met die groot hart, warm persoonlikheid en altyd ’n glimlag. En beide wêrelde het my gevorm in die mens wie ek vandag is. Ek sou dit nie anders wou hê nie en het geen verwyte nie.”

Hy vertel die vermaakgogga het hom al gebyt toe hy nog op laerskool was. Sy ma en ouma het altyd bankvas agter hom gestaan en sy droom om akteur te word onvoorwaardelik ondersteun. In 2008 was hy op die punt om sy droom te laat vaar, omdat hy die bus Vredenburg toe gemis het, waar hy ’n oudisie moes gaan doen. Maar sy ouma wou niks hoor nie.

“Ek het aan haar verduidelik wat aangaan en sonder om ’n woord te sê, het sy uit die huis gestap. ’n Paar minute later het sy teruggekom en gesê ek moet klaarmaak, want ons rygeleentheid wag buite. Sy het toe iemand gaan soek om ons te neem. Ongelooflik, nè?” sê Gantane terwyl sy oë glinster.

En dis met dié einste oudisie dat hy sy eerste rol losgeslaan het. “Ek het ’n visserman, Fingo, in die produksie Die Blou Suitkys op die Makietiefees op Vredenburg gespeel. Sherman Pharo (Thys in Arendsvlei) was die regisseur en Vinette Ebrahim (Charmaine in 7de Laan) die skrywer.”

Ná skool het hy drama gaan studeer en sedertdien maak dié oud-Ikey naam op die verhoog, kassie en silwerdoek. Hy was in die pilot episode van Suidooster, maar sy karakter het nie die reeks gemaak nie. Toe kom die rol van dr. Siya oor sy pad. En dis juis in dié rol waar Gantane hom midde-in ’n hewige storielyn bevind het.

Gantane se karakter, Siya, is verkrag en kykers het behoorlik daaroor gegons.

“Daar is niks erger as om die realiteit te sien afspeel nie en dis presies wat daardie storielyn was – realiteit. Daar is mans wat verkrag word, maar stilbly daaroor en dan alleen met die sielkundige wonde worstel. Die manlike ego laat mans nie toe om oor hul realiteit te praat nie en daardie storielyn was om bewusmaking te skep dat ook mans deurloop onder verkragters.”

Volgens Gantane het hy hom so ingeleef in dié rol en dit só oortuigend gespeel dat van sy vriende bekommerd oor hom was.

Dit was ook die geval met sy rol as Gimba. “Ek het geen voorbereiding gedoen vir die rol nie. Ek het elke dag net na die set gegaan en my hele hart voor die kamera gelos. Dit was ’n ware verhaal en dit is wat dit so tasbaar gemaak het. Dit is en was mense se realiteit. Die karakter Gimba en ek is teenoorgesteldes omdat hy altyd opsoek was na goedkeuring. Hy het verkeerde dinge gedoen omdat hy aanvaar wou word en mense se goedkeuring wou hê.

“Ek, aan die ander kant, leef nie vir mense se goedkeuring nie. Ek probeer net die regte ding doen.”

Die vroue in my lewe het my geleer dat 'n mens ander moet respekteer, die klein dinge in die lewe moet waardeer en ook nie moet vergeet om jou dankbaarheid uit te spreek nie.
Gantane Kusch
Wie is hy?

En wie is Gantane Kusch dan nou eintlik?

“Ek is iemand se seun, iemand se kleinseun, ’n kunstenaar, ’n skrywer, ’n fotograaf en ’n vriend – iemand wat ’n kampvegter vir ander wil wees. Die een wat nie saam met die stroom vloei nie en my eie rigting inslaan.”

Dié akteur, wat 37 paar tekkies besit, het laat val dat daar tans iemand spesiaal in sy lewe is. “Dis nog redelik nuut en ek wil nie te veel daaroor sê nie omdat ek glo in my privaatheid. Ek is nie iemand wat op sosiale media gaan post oor my private lewe nie,” vertel hy met ’n skaam glimlag.

Gantane, wat deesdae in Kaapstad woon en sedert 2015 voltyds in die vermaakbedryf is, is benewens Afrikaans en Engels ook Xhosa magtig. Sy oumagrootjie was ’n Xhosa-vrou wat met ’n Sotho-man getrou het. “Ek het hoofsaaklik in sogenaamde bruin gebiede grootgeword. Daarom is ek kultureel ’n bruin man en tegnies ’n Sotho,” sê hy.

En omdat hy deur sterk vroue grootgemaak is, glo Gantane dis tyd om alle mure af te breek wat vroue wil beperk. “Dis tyd vir vroue om hul plek in die samelewing in te neem. Mense moet besef dat vroue en mans mekaar se gelyke is. Alles wat ’n man doen, doen ’n vrou heel waarskynlik tien keer voor sy die erkenning daarvoor kry.”

Hy glo vroue moet opreg waardeer word omdat hulle “die dryfkrag is van die samelewing”.

“Die vroue in my lewe het my geleer dat ’n mens ander moet respekteer, die klein dinge in die lewe moet waardeer en ook nie moet vergeet om jou dankbaarheid uit te spreek nie. Vertrou dat jou ouers weet wat die beste vir jou is. Alles wat my ma, ouma en oumagrootjie vir my gedoen het, was tot my voordeel al het ek dit nie só gesien nie. Aan die einde van die dag is ek net bly dat ek kan doen dit waarvoor ek lief is en vir die mense wat ek liefhet!”

Meer oor:  Kuier  |  Gantane Kusch  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.