Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Agtjarige dinamiet op gholfbaan
11 Julie 2018


Hy is net agt jaar oud, maar Traigh Pathon van Athlone op die Kaapse Vlakte het die swaai, houding en werketiek van ’n professionele gholfspeler. Hierdie graad 2-leerder aan Wynberg Boys’ Junior School – wat maar net 1,1 m in sy skoene staan – moker ’n gholfballetjie dat dit doer trek.

En wanneer dit kom by ’n setperk lees: wel, mens kan waarskynlik volstaan deur net te sê dat dit een van sy sterk punte is. “Fenomeen”, “wonderkind”, ’n “tweede Tiger Woods”, besing die plaaslike media reeds sy talent, terwyl ook die internasionale gholfgemeenskap besig is om van hom kennis te neem.

Hoewel dit ’n eer is om in dieselfde asem as Tiger Woods genoem te word, verkies pa David van Schalkwyk egter dat Traigh eerder vergelyk word met ’n plaaslike gholflegende soos Gary Player. Wat toevallig, nes Traigh, klein van statuur is. “Dis nie dat ek iets teen Tiger Woods het nie. Ek is gék oor hom as sportman en dink hy het geweldig baie vir gholf beteken. Ek is egter ook ’n baie groot fan van my eie land. Persoonlik droom ek daarvan dat Traigh uiteindelik Gary Player se rekord van nege Major PGA-oorwinnings sal verbysteek,” sê sy pa.

Traigh was maar vier jaar oud toe hy in sy eerste Suid-Afrikaanse toernooi gespeel het. In die kategorie vir vyf- tot sesjariges het hy ’n derde plek behaal. “En die res is geskiedenis,” lag David. Op sewejarige ouderdom was dit tyd vir sy eerste internasionale kompetisie, die Junior Afrika-kampioenskap wat in Augustus 2017 by San Lameer aan die KwaZulu-Natalse Suidkus aangebied is. Hier het hy weer derde geëindig, net een hou weg van ’n tweede plek.

In Desember verlede jaar het hy aan die Maleisiese Junior Kampioenskap deelgeneem. Uit 24 seuns vanoor die wêreld het hy ’n gesamentlike sewende posisie behaal. Net twee maande later het hy in Johannesburg by ’n kwalifiserende wêreldtoernooi vir juniors met ’n eerste plek in sy ouderdomsgroep vir sowel die Europese Internasionale Kampioenskap as die Junior Wêreldkampioenskap in Noord-Carolina, Amerika, gekwalifiseer.

En onlangs het hy hom in Skotland bevind vir die Europese Kampioenskap, waar hy uit 54 deelnemers die negende plek gedeel het. Omdat hy onder die eerste tien was, het dit aan hom toegang gegee tot alle toernooie van die U.S. Kids Golf Tournament Players Association. Sy prestasies is omtrent ’n mondvol veral as jy sy ouderdom in ag neem. Reeds as baba het David en Traigh se ma, Tiara Pathon, besef Traigh beskik oor ’n uitsonderlike hand-en-oog-koördinasie.

Op ses maande het hulle hom na ’n baby gym en ook vir swemlesse gestuur, ’n kombinasie wat albei voel hierdie vermoë verder versterk het. Terselfdertyd is Traigh baie vroeg reeds aan gholf blootgestel. David en Tiara se ouers is ywerige gholfspelers. Met sy ouma en oupa se agterdeur wat aan die Ronde-bosch-gholfbaan grens, het Traigh letterlik op die gholfbaan leer kruip. Teen die tyd wat hy kon loop, het hy gereeld tydens David se oefenrondtes ’n gholfstok beetgekry.

Ons moet hom letterlik smeek om huis toe te gaan. Traigh is gek oor gholf en het ’n verstommende konsentrasievermoë.

Begin vroeg

Op 14 maande het hy sy eerste gholfbal geslaan en van dag een af net die regte houding gehad. “Kop af, al daardie dinge,” lag sy pa. Vier maande later het sy ouers vir hom ’n stel plastiekgholfstokke gekoop en het hy homself tot binne-in ’n Pampers-advertensie ingeswaai.

Op nagenoeg twee-en-’n-half het sy ouers vir hom ’n stel tweedehandse gholfstokke aangeskaf. Dit was natuurlik hopeloos te groot, maar Traigh se entoesiasme het voortgeduur en sowat ’n jaar later het hulle in ’n tweedehandse gholfstel spesifiek vir kinders belê.

Tans is hy die jongste lid van die Royal Cape-gholfklub in Wynberg en die River Club in Observatory. Hoewel Tiara nie in die minste in gholf belang stel nie, is sy getrou aan Traigh se sy wanneer hy twee keer ’n week vir byna ’n halfuur deur Keagan Beyer by die River Club afgerig word. Hy was met sy eerste les nog nie eens vyf nie, wat duidelik as aansporing vir ander ouers gedien het om dieselfde pad te volg.

Deesdae is daar heelwat kinders jonger as hy, vertel sy pa. Wat Traigh egter van die ander onderskei, is dat hy ná elke les agterbly om vir maklik nog twee uur te oefen. Dis of hy oor hierdie vermoë beskik om oënskynlik moeiteloos tussen gholfspeler en kindwees te wissel, vertel sy pa ooglopend verwonderd. “Ons moet hom letterlik smeek om huis toe te gaan. Traigh is gek oor gholf en het ’n verstommende konsentrasievermoë. ’n Normale agtjarige sal verveeld word, maar hy kan maklik vir ’n uur lank net op die setperk fokus.”

Grootste droom

Traigh probeer ook elke week een of twee rondtes gholf oor nege putjies inpas. Dit alles verg uiteraard nie net toewyding van Traigh nie, maar ook van sy ouers. Tiara – medestigter van Dress for Success, ’n niewinsgewende organisasie wat vroue bemagtig – is tussen toernooie deur meestal aan Traigh se sy.

Pa David, ’n voormalige professionele sokkerspeler wat vir ’n IT-maatskappy werk, is weer caddie vir hul seun by kompetisies. Dat daar ook nog vier halfsussies is – twee elk uit David en Tiara se eerste huwelik – beteken dat hulle baie balle gelyktydig in die lug moet hou.

“Dis baie lekker om my pa as caddie te hê, al is hy nie so goed met setperke lees nie,” sê die donkerkoppie met die skaam glimlag. “Ons fight ook partykeer veral as ek ’n slegte rondte het.” Traigh se grootste droom is om eendag op die PGA Tour te speel. Vir sy ouers bly dit egter ’n uitdaging om finansieel by te hou met toernooie die wêreld oor. “Ons het nog nooit genoeg geld gehad om tydens toernooie naby ’n gholfbaan te bly of ’n voertuig te huur nie,” sê sy pa eerlik.

Skotland was aanvanklik nie ’n opsie nie, maar toe Turkish Airlines aanbied om vliegkaartjies vir pa en seun te borg, het hulle die geleentheid aangegryp. Gelukkig sien Traigh die humor raak in situasies wat ander jong deelnemers dalk negatief sou maak. Die dag toe hy en sy ouers in Skotland noodgedwonge na die registrasiepunt toe moes ryloop, sonder Traigh uit as een van sy snaakse gholfoomblikke tot dusver. “Ons was amper laat,” vertel hy. “Ná die registrasie moes ons die openingseremonie bywoon en ons het ook nie ’n lift soontoe gehad nie. Ons moes deur ’n woud loop en dit het só lank geneem om daar te kom. Dit was snaaks en uitputtend.”

David en Tiara het met ’n crowdfunding campaign op backabuddy begin om geld in te samel vir Triagh se deelname aan die Amerikaanse Wêreldkampioenskap, die Parys Ope en die Junior Afrika-uitdaging 2018, wat in San Lameer gehou gaan word. Uiteraard is daar nie veel tyd vir Traigh om ander sport te beoefen nie. Hy neem wel aan landloop en atletiek op skoolvlak deel en eindig altyd onder die eerste drie en boonop is hy akademies baie sterk. Hoe sien sy ouers sy toekoms? “Ons neem dit een jaar en een event op ’n keer,” sê sy pa.

“Ons wil nie hê hy moet homself uitbrand nie en daarom kies ons net die werklik belangrike toernooie. Eintlik is hy weg van die gholfbaan maar net nog ’n seuntjie wat daarvan hou om PlayStation te speel.” *Enigiemand wat wil help om Traigh by sy verskeie kompetisies te kry, kan www.backabuddy.co.za/champion/project/help-traigh-get-to-africa-kids-open-us-k besoek.

Foto’s: Dale Fourie en verskaf


Die artikel verskyn in die 11 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif. 


Meer oor:  Kuier  |  Gholfspeler  |  Kinderster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.