Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Akteur los lollie vir beter lewe
5 September 2018
Jarrid Geduld, Ellen Pakkies

Die rol van die tikverslaafde Abie Pakkies in die fliek, Ellen, Die Ellen Pakkies Storie is nie net nóg ’n rol vir die Kaapse akteur, Jarrid Geduld (28) nie. Trouens, sy eie lewensverhaal is baie nader aan Abie s’n as wat die meeste mense weet...

Maar vandag maak hy sy hart oop teenoor Kuier. Vantevore het hy nie maklik oor sekere gebeure in sy lewe gepraat nie, want dit het net te seergemaak. Maar dis juis daardie gebeure wat hom gehelp het om sy Abie-karakter met authenticity te vertolk.

Dis nie iets waaroor hy sommer praat nie, tog is hy trots daarop dat hy soveel oorkom het om vandag te wees waar hy is.

Die aantreklike jong man met die sprankelende, effens ondeunde glimlag vryf oor sy kop en sug eers diep voordat hy begin vertel van sy ma se abuse aan die hand van sy pa en sy eie tikverslawing wat hy moes oorwin.

Jarrid is gebore in die Kaap en het die eerste paar jaar van sy lewe in Atlantis gewoon.

Daarna het hulle van plek tot plek geswerf en uiteindelik in Belhar op die Kaapse Vlakte gaan wortel skiet. Toe hy vyf jaar oud was, het Jarrid begin agterkom sy pa slaan sy ma en met verloop van tyd het die mishandeling al hoe erger geraak.

Toe hy nege was, was dit lewensbedreigend.

“My pa het een aand ná werk by die huis gekom en die kos was nog nie klaar nie. My ma was nog besig om die uie te kerf. My pa het ontplof. Hy het my ma geslaan totdat sy bewusteloos op die vloer gelê het,” onthou hy.

Daarna het hy by die deur uitgestap en Jarrid en sy ouer broer en jongste suster moes, oudergewoonte, sy ma versorg.

“Ek onthou ek het na die venster toe gehardloop en gesien hoe my pa sy gun uit die kar uithaal en terugstap huis toe.”

MISHANDELING

Klein Jarrid het haastig sy ma wakker gemaak en sy het die hek en voordeur gesluit en vir die kinders gesê om onder haar bed weg te kruip. Daar het hulle angsbevange gelê en luister hoe sy pa die voordeur probeer afbreek.

“Met elke hou teen die deur het die gesnik en gehuil onder die bed harder en meer vreesbevange geword. Al wat ek kon hoor, was ‘Shhh, alles gaan oukei wees’.” Die hele episode het omtrent 20 minute geduur – die langste 20 minute van sy lewe. “En toe stilte. Gevolg deur my pa wat ’n skoot afvuur. Die gehuil het onbeheersd en bitterlik geword,” onthou hy en die trane lê vlak. “Ons het gedink hy het homself geskiet, maar ons was te bang om te gaan kyk. Ons het tot die volgende oggend onder die bed gelê en huil.” Sy pa het toe net ’n skoot afgevuur – gelukkig is niemand beseer in die proses nie.

Uiteindelik het sy ma genoeg gehad en ’n paar swart sakke vol klere gepak en haar kinders gevat. “Ons kon oplaas weer asemhaal,” onthou Jarrid. Hoewel hulle niks gehad het nie en by familie moes bly, was hulle darem veilig.

Sy ouers is geskei en hulle het Eersterivier toe getrek, waar hy vandag nog saam met sy ma woon.

Die lewe het aangegaan en toneelspel het net ná sy twaalfde verjaardag aan sy deur kom klop toe ’n filmvervaardinging­­maatskappy, Monkey Films, Jarrid se skool besoek het. Hulle was op soek na ’n jong bruin seun om die hoofrol in hul nuwe fliek, A Boy Called Twist, te vertolk.

Dit was ’n Suid-Afrikaanse verwerking van Charles Dickens se boek Oliver Twist en vervaardigers het vir amper ’n jaar gesoek na die perfekte seun vir die rol. Een van Jarrid se onderwysers, Mevrou Prince, het hom aangemoedig om vir ’n oudisie te gaan. Dit was die begin van ’n nuwe lewensreis vir hom.

Na afloop van die verfilming het Jarrid reeds ’n kontrak geteken by ’n baie goeie akteursagentskap.

“Hou in gedagte ek het geen benul gehad wat aan die gebeur was nie. Ek het nie eens geweet wat toneelspel was nie of wat dit beteken om ’n akteur te wees nie. Maar op ’n manier was ek blykbaar ’n goeie een,” sê hy beskeie. Met die bekendstelling van die fliek ’n jaar later, het almal ewe skielik geweet wie hy is.

“Ek was ‘famous’, belaglik famous. Ek het gegaan van ’n klein, vreesbevange seuntjie onder ’n bed tot internasionale bekendheid. Dit was vreemd om die minste te sê,” sê hy steeds ’n bietjie verbaas. In 2004, het hy sy volgende groot rol losgeslaan in die fliek, The Flyer.

SUKKEL OM TE COPE

Met sy nuutgevonde bekendheid en as kinderster in die openbare oog, het Jarrid gesukkel om te cope en op 14 het hy met dwelms begin eksperimenteer.

“My gunsteling was tik. Ek het baie vinnig hooked geraak daarop saam met my vriende en moes skool, toneelspel, grootword en bekendheid juggle terwyl ek vir die eerste keer my kinderdae-situasie begin verstaan het,” onthou hy.

Hy voeg by: “Die mishandeling, die egskeiding, die fame – ek het nooit daarvoor gevra nie en ek was beslis nie volwasse genoeg om dit te verstaan of verwerk nie. Die enigste ontsnapping wat ek gehad het om daardie folterende pyn te verdoof, was om elke dag hoog te word,” verduidelik hy ernstig.

Sy verslawing het tot slegte besluite gelei.

“Ek wou nie meer werk nie en sou net nie opgedaag het vir verfilming of oudisies nie. Ek het die vertroue van baie belangrike mense in die filmbedryf verloor en as gevolg daarvan het my loopbaan ’n groot knou gekry,” erken Jarrid.

Op 18 het Jarrid ’n baie goeie vriend verloor en dit het sy oë laat oopgaan.

“Dis net deur God se genade dat ek en my vriendekring van 10 ouens wat saam met tik begin het, saam besluit het op te hou,” meen hy. Vir maande het hulle saamgestaan deur die onttrekkingsimptome en emosionele verplettering totdat hulle hul verslawing oorwin het “sonder om ’n voet in ’n rehabilitasiesentrum te sit. Net deur die band van broederskap en die genade van God het ons gesond geword,” sê hy trots.

Met ’n skoon liggaam en ’n gesonde siel het Jarrid besluit om sy lewe en sy loopbaan reg te ruk. “Ek het myself beter verstaan. Ek was nie meer so verskriklik kwaad nie. Ek het ’n tweede kans op die lewe gekry en het gevoel die een ding wat weer vir my betekenis sal gee, my toneelspel is,” verduidelik hy.

Dít is die pad wat hy steeds deesdae met vasberadenheid stap.

In sy rol as Abie, Ellen Pakkies se seun, het hy sy ervarings met tik gebruik om sy toneelspel meer outentiek te maak. Hy het selfs 15 kg verloor om lewensgetrou aan die storie te bly!

“Ek het myself totaal en al toegelaat om van my ervarings emosioneel te herleef en hoewel dit uitmergelend was, was dit ook terapeuties,” meen hy.

Vir Jarrid was dit belangrik om hierdie storie rég te vertel. “Ek sien elke dag mense wat steeds in dwelms verstrengel is. Ek sien steeds families wat uitmekaargeruk word as gevolg daarvan. Ek is ’n lewende bewys dat daar hoop is en wil graag daardie saadjie plant.”

Sy boodskap is eenvoudig: “Moenie oordeel nie. Wees goedhartig. Moenie afbreek nie. Probeer om mekaar altyd lief te hê en te verstaan. En as jy iemand ken wat sukkel met dwelms, moenie opgee op hulle nie en herinner hulle aan hul ware beauty.”

Jarrid is tans besig om ’n dramareeks vir kykNET te verfilm en het ’n paar ander projekte in wording. Vir nou wil hy egter aanhou om stories te vertel wat ’n positiewe invloed op ander kan hê. Wat die toekoms inhou weet hy nie, maar met God aan sy sy, weet hy alles sal oukei wees.

Die mishandeling, die egskeiding, die game... Die enigste ontsnapping om daardie folterende pyn te verdoof, was om elke dag hoog te word.
Jarrid Geduld

Meer oor:  Ellen Pakkies  |  Jill Levenberg  |  Jarrid Geduld  |  Lavender Hill  |  Kaapstad  |  Dwelms  |  Tik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.