Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Alkoholvergiftiging: Alles wat jy moet weet
27 November 2019
Foto ter illustrasie (Gallo Images/Getty Images)


Die feestyd is hier en ná ’n lang, uitmergelende jaar sien almal uit na ’n welverdiende blaaskans. Jy kan amper die vryheid en vonkelwyn proe! Dis inderdaad tyd vir samesyn en lekker ontspan, maar ongelukkig gaan die feestyd in Suid-Afrika ook jaarliks gepaard met ’n vloedgolf maatskaplike probleme soos wat mense hulle aan alkohol vergryp.

In sommige gevalle is die alkoholmisbruik so erg dat dit in ’n mediese noodgeval kan ontaard. Só onthou Dwayne Josephs (27), ’n fabriekwerker van Durbanville in die Kaap, nog alte goed hoe hy laasjaar oor Desember weens drank by die dood omgedraai het. ’n Nag van uitbundig partytjie hou en van kroeg tot kroeg saam met sy vriende kuier, het uiteindelik gelei tot ’n noodbesoek aan die Tygerberg-hospitaal weens alkoholvergiftiging.

Sy maag moes toe inderhaas gepomp word. Hy ril nou nog aan die herinnering. “Ek kan net onthou hoe baie ons gemix het,” vertel hy en skud sy kop. “Dit was een drankie ná die ander. Vodka. Shooters. Tequila. Biere. Selfs wyn.

Voor ek my weer kon kry, het ek die volgende oggend in die hospitaal wakker geword. Volgens die dokter het ek net betyds opgedaag anders was die kanse goed dat ek dit nie sou maak nie. Ek het onophoudelik opgegooi en was al yskoud toe ek daar aankom. Ek kan egter niks daarvan onthou nie. Ek het dit nooit voorheen besef nie, maar alkoholvergiftiging is nie iets om mee te speel nie.”

Wat is dit?

Alkoholvergiftiging word veroorsaak deur te veel alkohol wat oor ’n kort tydperk ingeneem word. Volgens Sanca (die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad Insake Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels) kan die liggaam slegs een eenheid alkohol per uur verwerk. In Suid-Afrika is die wettige limiet ’n asemhaling-alkoholinhoud van 0,24 mg per 1 000 ml, of ’n bloedalkohollimiet van 0,05 g per 100 ml.

Volgens die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), moet ’n mens as ’n algemene reël vir verantwoordelike drinkgebruik daarna streef om niks meer as een eenheid alkohol per uur te verbruik nie. (Só byvoorbeeld is 1 standaardglas wyn = 2,1 eenhede; 1 bottel lager = 1,7 eenhede; 1 bottel cider = 1,5 eenhede en 1 tot spiritus of “hardehout” met mengsel = 1 eenheid.) Dit vat ’n volwassene gemiddeld een uur om ’n eenheid alkohol te verwerk.

As jy egter minder as 68 kg weeg, sal dit jou liggaam langer vat om dieselfde hoeveelheid alkohol te verwerk. Vroue word gewoonlik vinniger en op kleiner hoeveelhede alkohol geaffekteer as mans, daarom moet hulle stadiger en minder drink. Oormatige alkohol affekteer breinfunksie asook die senuweestelsel en dit kan selfs veroorsaak dat jou hartklop, asemhaling en liggaamstemperatuur nadelig geaffekteer word. Vroue het stadiger metabolismes en daarom het hulle ’n hoër risiko om alkoholvergiftiging op te doen.

Illustrasie: Ryan Carolisen
Illustrasie: Ryan Carolisen

Volgens dr. Hennie Conradie, ’n ervare mediese praktisyn in die Boland, is daar besliste tekens om voor uit te kyk as jy alkoholvergiftiging vermoed. Dit sluit in verwarring, ’n gebrek aan koördinasie, braking, stuipe, onreëlmatige of swaar asemhaling, ’n verandering in velkleur, lae liggaamstemperatuur, yling, bewusteloosheid en dehidrasie. Volgens hom is die beste manier om alkoholvergiftiging te vermy, om nie op ’n leë maag te drink nie en nie meer as ’n enkele eenheid alkohol per uur in te neem nie. Moet ook nooit ’n mater agterlaat wat dalk uitgepass het nie.

Indien dit wel die geval is, is dit belangrik om hulle op hul sy te draai sodat hulle nie aan hulle eie opgooisel kan verstik nie. Dis ook ’n mite dat alkoholvergiftiging deur ’n koppie koffie, yswater of ’n koue stort reggestel kan word. Mediese hulp moet so spoedig moontlik ontbied word.

Volgens Conradie is daar verskeie faktore wat bepaal hoeveel gedrink moet word voordat alkoholvergiftiging intree. Daar is geen standaard-antwoord nie. Dit hang af van die individu se ouderdom, geslag, grootte, gewig, hoe vinnig daar gedrink word, hoeveel voor die tyd geëet is, sy of haar algehele gesondheidstoestand ensovoorts.

Dit maak ook nie saak watter tipe alkohol gebruik word nie, dieselfde eenhede alkohol sal tot dieselfde effek lei, hetsy in die vorm van bier, hardehout of wyn. Die grootste verskil tussen gewoon dronk wees en alkoholvergiftiging is die verskil in alkoholvlakke. Met alkoholvergiftiging is die vlak so hoog dat die brein nie meer basiese biologiese funksies soos die regulering van liggaamstemperatuur, hartklop en asemhaling effektief kan beheer nie. Dit kan lei tot breinskade en selfs die dood.

Basta met mites

Party mense is onder die indruk dat wanneer hulle alkohol verdun met gaskoeldrank of selfs sodawater, die effek verswak word. Volgens Conradie is dit egter ’n mite. In sommige oorsese gevallestudies is bewys dat gaskoeldrank wat suiker bevat, die absorpsie van alkohol selfs kan bespoedig. Om ’n glas water te drink ná elke eenheid alkohol kan die nagevolge wel versag, maar dan moet jy nie meer as ’n enkele eenheid alkohol per uur inneem nie. Die water sal ook glad nie bydra om jou lewer te beskerm nie.

Ná ’n hewige dranksessie kan dit 12 tot 48 uur neem voor die liggaam weer volkome alkoholvry is. In die geval van alkoholvergiftiging kan dit egter veel langer vat. Jong mense wat gereeld drink, se kans is ook groter om kardiovaskulêre risiko-faktore soos hoë bloeddruk, cholesterol en bloedsuiker te ontwikkel. Hul breine word ook beslis aangetas. Dit krimp en kan nie meer so effektief inligting absorbeer en behou soos in die geval van nie-drinkers nie. Erge alkoholmisbruik lei in die feestyd ook tot meer gevalle van “blackouts”.

Maar in hierdie geval is drank die skuldige en nie Eskom nie! Dié term verwys in die volksmond na tydelike geheueverlies wat weens oormatige alkoholinname veroorsaak word. Die algemeenste oorsaak van blackouts is wanneer die bloed-alkohol-konsentrasievlakke (BAK’s) te vinnig styg. Daar’s twee tipe blackouts – algeheel en gedeeltelik. Algehele blackouts sluit totale geheueverlies in tot die BAK-vlakke genoegsaam gedaal het om weer geheue- prossessering moontlik te maak. In gedeeltelike of gefragmenteerde blackouts onthou die persoon dalk nie onmiddellik wat gebeur het nie, maar sekere herinneringe mag later terugkom.

Tydens ’n blackout word ’n hele seksie van die brein, die hippokampus (wat verantwoordelik is vir langtermyngeheue), geaffekteer deur ’n neurofisiologiese, chemiese ontwrigting wat erge gevolge kan hê. Die brein vervaardig dan glad nie meer herinneringe van die gebeurtenisse wat op daardie oomblik plaasvind nie. Inligting kan dus nie van kort- na langtermyngeheue oorgedra word nie.

Onthou ook daar is ’n verskil tussen ’n blackout en om uit te pass. Laasgenoemde is wanneer iemand heeltemal hul bewussyn verloor en nie reageer wanneer hulle aangeraak of aangespreek word nie.

Tydens ’n blackout kan iemand steeds gesprekke voer en selfs aanhou drink. Hulle is nie bewusteloos nie en dit kan voorkom asof hulle nog by hul volle positiewe is.

Later kan hulle egter niks kan onthou wat in die geaffekteerde periode gebeur het nie. Dit kan baie gevaarlik wees veral as die persoon byvoorbeeld in hul verswakte oordeelstoestand bestuur, losbandig verkeer of in rusies of fisiese gevegte betrokke raak. ’n Mite aangaande blackouts is dat ’n mens se geheue later sal terugkeer. Dit sal egter nooit nie.

Só kan Erin Loubser (36), vandag ’n suksesvolle fisioterapeut in Port Elizabeth, hartseer boekdele oor haar blackout-ervarings skryf, of eerder oor dit wat sy nie kan onthou nie. Sy is meer as ’n dekade reeds ’n totale nie-drinker, maar was ’n selferkende wilde partytjieganger tydens haar studentejare en selfs tot in haar middel-twintigs. “Veral tydens my studentejare was blackouts so te sê normaal vir my. Maar as ek nou terugkyk, kry ek letterlik koue rillings. Ek was roekeloos en het soos ’n blomkool opgetree. As ek dit kon oordoen, sou ek baie minder gedrink het. Ek sou meer van die sogenaamde beste tye van my lewe kon onthou, soos dit hoort. Vandag is ek spyt.”

Adrie Vermeulen van Sanca bevestig dat alkoholvergiftiging dikwels gepaard gaan met binge drinking. Dis wanneer ’n vrou byvoorbeeld vier drankies of meer in die bestek van twee ure drink of vyf drankies of meer elke twee ure vir mans. Vroulike binge drinkers is ook geneig om hoër bloedglukose-vlakke as hul nie-drinkende eweknieë te ontwikkel. Ja, dis inderdaad tyd vir joligheid en plesier, maar gee jouself hierdie feestyd eerder ’n blywende geskenk – een wat dalk net jou lewe of iemand ander s’n kan red. Hou matigheid voor oë en stadig oor die Klipdrift en die klippertjies!

Het jy geweet?
Wêreldwyd sterf 3 miljoen mense jaarliks as gevolg van die skadelike misbruik van alkohol. Dit teenwoordig 3,5% van alle sterfgevalle.
KRY HIER HULP:

Besoek gerus Sanca se webwerf by www.sancanational.info of bel een van die volgende nommers vir meer inligting:

• Sanca se nasionale kantoor: 011 892 3829

• Sanca se sasionale WhatsApp-hulplyn: 076 535 1701

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.