Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Antie Pat: 'Ek wil net my land dien'
28 Junie 2019
Patricia de Lille

Mens weet nie altyd wat om te verwag wanneer jy ’n groot politieke figuur ontmoet nie, maar wanneer jy by Patricia de Lille (68) se kantoor in die parlement aan die hange van Tafelberg in die Kaap instap, is dit asof jy by jou antie se voorkamer instap, hoewel miskien ’n bietjie deftiger.

Patricia verklap sy is ’n gereelde Kuier-intekenaar, voel deel van die Kuier-familie en die eerste bladsy wat sy lees, is Wenke! Veral vakansietye, ontspan sy graag met ou uitgawes van haar gunstelingtydskrif. Dis moeilik om te glo dié fyn vrou kan die wêreld holderstebolder baklei wanneer sy in iets glo. En dat sy, ná elke teleurstelling en terugslag, net sterker en groter terugkom, selfs al is sy al op die ouderdom wanneer die meeste mense aftree. Patricia vertel laggend sy was al as klein dogtertjie polities ingestel en het geweier om skool toe te gaan op Republiekdag in 1961. “Ek het besef ’n mens kan nie meer net stilsit en niks doen nie,” vertel sy.

Eerlikheid en om die regte ding te doen, is amper in haar ingebore en kleintyd al het haar pa haar geleer ’n mens mag nie jok nie, dit kom altyd uit! Dis baie duidelik sy stel nie haarself bloot aan die politieke slagveld omdat sy aansien of sakke vol geld nastreef nie, maar eerder omdat sy werklik glo in wat sy doen en ’n ewige hoop koester vir die toekoms van Suid-Afrika.

Miskien is dít juis hoekom pres. Cyril Ramaphosa haar onlangs in ’n verrassende besluit as een van sy kabinetslede gekies het. Nou beklee sy die amp van minister van openbare werke en infrastruktuur. Selfs sý was stomgeslaan. “Dis ’n groot verantwoordelikheid – 90 000 geboue en 30 000 stukke grond regoor die land,” sê sy oor haar nuwe rol. “Ek kan sien hoekom hulle my hier gesit het, want dis ’n bietjie deurmekaar!” lag sy.

Dit het haar egter nie gekeer om planne te maak nog voordat sy pres. Ramaphosa se aanbod aanvaar het nie. “Ek kon daai aand nie slaap nie. Die president het my daardie middag so halfdrie gebel om te vra of ek dadelik Pretoria toe kan kom. Tien voor vier was ek op ’n vlug. So sesuur se kant het ek by een van die president se huise aangekom en my beurt afgewag, seker so kwart voor agt daardie aand. Halfnege het hy sy aankondiging openbaar gemaak!”

Ek het net gevoel ek het nog iets om by te dra, ek is nog nie klaar nie. Solank ek ’n mond het om te praat, sal ek praat.

In die kabinet

Patricia de Lille
Antie Pat is reg vir haar nuwe rol.

Die president het vir Patricia gevra om hom by te staan in sy uitvoerende kabinet omdat hy saam met haar en haar beleide stem. “Terwyl hy vir my verduidelik van die portefeulje, val ek hom sommer in die rede en ek sê, ‘Toe ek die burgemeester van Kaapstad was, het ek elke jaar R6 biljoen begroot vir infrastruktuur, maar ek het dit opgedeel om 60% te gebruik vir nuwe infrastruktuur en 40% vir instandhouding van bestaande infrastruktuur, want as jy nie dít doen nie en jy moet dit vervang, gaan dit ’n groot klomp geld kos’. Net daar herinner hy my dat ek nog nie ‘ja’ gesê het vir sy aanbod nie,” vertel sy laggend.

Maar vir haar was daar nooit eens ’n kwessie nie. “Wat maak jy as die president van ’n land vir jou vra om jou land te dien? Ek het nog altyd gesê ek kan my land in enige kapasiteit dien. Ek is ’n patriot – warts and all! Ek wil hê onse land moet ’n sukses wees. Die nasie is bereid. Pres. Ramaphosa inspireer hoop. Daai vlam van hoop moet aan die brand gehou word.”

Hoewel Patricia nie iemand is wat maklik gerattle word nie, erken sy die gevoel wat sy ervaar het, is onbeskryflik. “Dis soos iemand wat jou toegooi en jy probeer uitkom. Ek het maar my pose probeer hou!” Die volgende middag drieuur is sy ingesweer as minister van die land. “Ek het net tekkies en jeans ingepak om in terug te vlieg en moes omtrent skarrel om ’n uitrusting te kry vir die geleentheid.”

Gewoonlik verkies sy ’n broekpak, maar het tot haar skok besef as sy een koop, is daar niemand wat betyds die moue en pype sou kon invat nie. Dis hoe sy op haar Afrika-gewaad besluit het. Sy was oorweldig deur die boodskappe (oor die 600 daardie aand) en oproepe van oral. Ná die skok is Patricia stadig maar seker besig om gemaklik te raak in haar nuwe rol. “Dit gaan nie oor my of jou nie, dit gaan oor onse land.” Dis dié houding wat haar elke keer ná ’n terugslag motiveer om weer op te staan en aan te gaan. “Dis harde werk. ’n Mens moet besef niks in die lewe kom vir jou op ’n silwer skinkbord nie.”

Madiba se woorde inspireer haar daagliks – dat alles onmoontlik lyk totdat dit gedoen is. “Dis amper in my bloed, ek wou nog altyd mense dien. Ek het baie opofferings gemaak. My familie was die eerste slagoffers, want ek was amper nooit by die huis nie.” Haar ma het altyd geskerts Patricia is soos ’n skoenmaker – sy maak al die mense se skoene heel behalwe haar eie!

Vegter

Wat is haar geheim om weer op te staan na die soveelste terugslag? Dis amper asof Patricia die lewe as haar leerskool sien – sy laat nie toe dat teleurstellings haar ontmoedig nie, maar eerder inspireer. “Ek het baie lesse geleer uit die hele debakel verlede jaar. Maar ek het ook ontdek daar is baie goeie mense in ons land. Soveel het by my gestaan. Ek het gebede ontvang van alle kerke.

Baie mense het boodskappies gestuur. Dit het my aan die gang gehou. Ek baklei al van kleins af en ek is lief vir baklei. Maar ek het nog altyd baklei vir ’n cause, vir ander mense. Maar as jy vir jouself moet baklei, dan is dit bitter. Dit verg baie. Maar jy weet, ek het my gebede gesê en geweet God het die waarheid lief, dat dít sal seëvier,” verduidelik sy ernstig. Dis om hierdie rede, glo sy, dat sy drie hofsake gewen het (waarvoor sy met ’n gedeelte van haar pensioen betaal het). “Ek is in elk geval eers van plan om af te tree as ek ses voet onder is,” lag sy uitbundig.

Haar boodskap aan vroue is dat, al die slegte dinge in die lewe wat met ’n mens gebeur, is dit wat jy toelaat. “Ons moet nooit hoop opgee nie. Ons moet alles doen wat ons kan om die land reg te ruk sodat die volgende generasie nie deur dieselfde probleme hoef te gaan nie. Hoewel ons moedeloos voel, gaan dit nie oor ons nie, maar oor ons kinders. Ek wil nie toelaat dat my naam en my integriteit, waarvoor ek baie hard gewerk het, tot niet gaan nie.

Vir 40 jaar het ek dit opgebou. Jou naam is prysloos.” Hoewel sy op daardie stadium verskeie ander aanbiedings ontvang het, soos byvoorbeeld om in die privaat sektor te gaan werk, het sy net besluit dít is te belangrik om net te laat gaan. “Ek het net gevoel ek het nog iets om by te dra, ek is nog nie klaar nie. Solank ek ’n mond het om te praat, sal ek praat.” Dis een van die grootste redes hoekom sy die president se werks-aanbod aanvaar het – om te help om die integriteit van die regering te herstel. Een van die eerste dinge wat sy gaan doen om dit te help, is om openbare verteenwoordigers wie se huur vir hul gesubsidieerde wonings agterstallig is, aan die pen te ry. Suid-Afrikaners kan rustig slaap in die wete, Antie Pat’s got your back.

Foto’s: Dale Fourie

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Kuier  |  Antie Pat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.