Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Antie Poppie maak padkos
4 September 2019
antie poppie, roosterkoek

Dit is vir baie mense uiters moeilik om nee te sê vir ’n varsgebraaide warm roosterkoek en dit is selfs nog moeiliker om nee te sê vir dié van antie Poppie. Maar dis juis haar geurige en smaaklike roosterkoeke wat die deure van die wêreld vir haar oopgemaak het!

Rosaleen van As (63), of Antie Poppie soos sy geliefd onder Laingsburgers bekend staan, gaan binnekort die dorp se stofpaaie verruil vir die nou ikoniese straatjies van Italië. Dit gaan die antie se eerste trippie oorsee wees en sy sê sy kan amper al bars van opgewondenheid. “Ek was nog nie eens buite die Wes-Kaap nie wat nog te sê van oor die waters. Ek kan nie wag om te gaan nie.”

Antie Poppie vertel iemand het haar gevra of sy al haar outfit reg het vir die lughawe. Sy lag dat die trane loop voor sy prontuit antwoord “Outfit? Ek gaan in die blommerok en hoed wat ek so lief is voor!” Sy vat trots aan die rok wat sy aanhet. “Die outfit is dan ikonies, so hoe kan ek dit nou verruil vir iets sperf (deftig)?”

Sy vertrek op 25 September na Italië en sal daar by die Eroica-fietstoer haar gewilde gebak verkoop. Stan Engelbrecht, organiseerder van die fietstoere, het juis op só ’n toer ses jaar gelede vir antie Poppie en haar roosterkoeke ontdek. Vir die daaropvolgende jare het hy haar deel gemaak van sy fietstoere. Sy vertel dis haar watertand roosterkoeke en borrelende persoonlikheid wat gesorg het vir die uitnodiging na Gaiole, Italië.

“Ek gaan vir die eerste drie dae tydens die toer roosterkoeke braai en verkoop en die ander sewe dae gaan ek vakansie hou. Mens, ek gaan darem lekker op die see lê, rieldans vir die mense en net ’n welverdiende blaaskans neem. Al woord wat ek ken, is ‘ciao’ so ek gaan maar nie baie praat nie,” lag sy lekker vir haar eie grappie.

Met Kuier se aankoms by antie Poppie se stalletjie op Laingsburg word ons laggend verwelkom deur die vriendelike antie. Die reuk van varsgebraaide roosterkoek vul die lug en kliënte staan gretig nader om vir hulle een van die gesogte roosterkoeke te koop. Toe een van antie Poppie se dogters, Amy, een van die warm koeke oopsny en die botter daarop smelt, sak ’n kliënt skaamteloos af “Sjoe! Kyk hoe smelt daai botter op daai brood. My mond water skoon...”

Antie Poppie se twee dogters, Amy Natal (24) en Chantil Isaacs (39), is haar gewillige werkers en sy meen hulle is hardwerkend. “Ek verkies maar om met hulle te werk want vir hulle kan ek nog rondsit en hulle kan nie teëpraat nie.” Die drie lag hartlik vir antie Poppie se eerlike uitlating.

En dit is hoe dit heeldag gaan by dié stalletjie. Mense van wyd en syd trek teen die pad af om een van die antie se roosterkoeke te koop. Elke keer verwelkom antie Poppie hulle hartlik en vermaak hulle ook met ’n lekker grappie. “Dit is maar hoe dit elke dag hier gaan. Ek is ’n mens wat lief is vir lag en gesels en maak dit my missie om iemand se dag op te helder. ’n Mens weet nooit waardeur iemand anders gaan nie en hoe ’n enkele ou grappie iemand se dag kan ophelder of hul lewe net ’n bietjie beter kan maak nie.”

Moeilike tye

Maar hoewel antie Poppie altyd ’n glimlag op ander se gesig wil sit, moes dié dapper antie ’n paar struikelblokke van haar eie oorkom.

Die grapperige persoonlikheid maak plek vir ’n ernstiger trek op haar gesig en sy sug swaar voor sy eerlik erken: “Dinge gaan maar swaar, maar ek kan nie my swaarkry op my gesig dra nie. Ek dien die gemeenskap en moet altyd die blink kant bo hou.”

Volgens antie Poppie was haar eerste huwelik die eerste groot struikelblok op haar pad. “Ek was maar net 14 jaar oud toe ek moes man vat en trou, en wat weet ’n 14-jarige kind van huishoudelike take en ma-speel? Maar ek moes my grootvrou-skoene aantrek en die lewe aanvat as ’n vrou.”

Sy vertel voorts dat die huwelik self ook nie maanskyn en rose was nie. “Dit was nie maklik nie en hy het my baie keer stief behandel, maar uit die huwelik het sewe kinders gekom vir wie ek my hande stompies sal werk. En as ek nou daaraan dink was daar soveel dinge wat vir my verkeerd geloop het, maar ek verruil dit vir niks in die wêreld nie. Dis juis dié dinge wat ’n mens help vorm in die mens wat jy is.”

Dié ma van sewe kinders en ouma van 14 kleinkinders, wat heeltyd sterk voorgekom het, knak skielik en haar trane begin vrylik vloei. Sy maak saggies verskoning terwyl sy die trane met die agterkant van haar hand afvee. Op haar gesig bly daar ’n spoor meel agter. Op die vraag oor hoekom sy skielik so bewoë is, vertel antie Poppie sy dink aan haar dogter wat tien jaar gelede deur haar man vermoor is.

“Sy was my pragkind. Die een wat na die res van haar sibbes gekyk het toe ek moes gaan werk.”

Antie Poppie onthou die dag van die moord soos gister. “Ek het in Table View gewerk toe ek die oproep kry van my suster. Sy het aan my gesê as ek nog nooit in die lewe sterk was nie, is dit nou die tyd om op my sterkste te wees.”

Die trane begin vloei weer. “Haar man het haar 13 keer met ’n mes gesteek. Sy het geroep na mense vir help, maar niemand het my kind gehelp nie, niemand nie. Sy het daar gelê en aan haar bloed verstik tot die Hemelse Vader haar kom haal het.”

Sy sê vir jare het sy gesukkel met selfverwyt, maar sy het uiteindelik vrede gemaak met haar kind se sterfte hoewel sy steeds elke dag aan haar dink.

“Sy was maar net 20 ten tyde van die voorval en ek het myself verwyt omdat ek gevoel het dat ek haar kon gered het as ek daar was. Ek sou my kind kon help, ek weet ek sou.”

Die trane maak weer plek vir ’n glimlag toe sy sê dat sy haar dogter se moordenaar vergewe het. “Die dag toe hy gevonnis word, het ek aan hom gesê gee vir my daai selfde hand waarmee jy my dogter gesteek het en vat dan my hand. Ek het sy hand geskud en vir hom gesê hy moet die Here in sy lewe aanneem, want daar is geen liefde groter as God s’n nie.”

Met dieselfde vergewensgesindheid en liefde pak antie Poppie al die ander struikelblokke in haar lewe aan.

“Die Man van Bo dra my op arendsvlerke deur elke storm. Ek kom elke keer sterker aan die ander kant uit.” Dit was ook die geval toe haar tweede kind, Frik, so erg aangerand was dat sy hom tot vandag toe nog versorg. “Ons weet nou nog nie wie hom so aangerand het nie, maar met gebed het hy gesond geraak en kan hy darem al loop.”

“Daar is mense wat baie swaarder kry as ek. Mense wat deur baie erger storms gegaan het as ek, so wie is ek om te kla? Elke dag is ’n seëning van Bo. Al is daar party aande nie eens ’n stukkie brood nie, weet ek my God sal voorsien. ’n Positiewe uitkyk op die lewe is soos ’n goudmyn waaruit jy elke dag rykdom kan put.” 

Meer oor:  Kuier  |  Antie Poppie  |  Kuier10
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.