Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Antie Val gee raad: Man te stadig
11 Julie 2018

Vraag: Ou maak nie ’n move nie

Antie, iemand hou my baie dop en as hy agterkom ek kyk ook vir hom dan bloos hy. My vriende sê hy hou van my. Ek hou ook baie van hom. Maar ek weet nie hoe hy sal reageer as ek hom sê ek hou van hom nie. - Onseker

Antwoord: Beste Onseker

Ag nee, ’n mens kan nie so onseker deur die lewe gaan nie. Onsekerheid vat nogal baie aan ’n mens. Jy sal jou gut feeling moet volg en die kans vat om hom te vra hoe hy oor jou voel. Julle sal nie mekaar vir ewig so kan beloer nie. Netnou spring iemand jou of hom voor dan sal jy nooit weet wat kon gewees het nie.

Jy sal by niemand anders as by hom kan hoor hoe hy voel nie. Hoekom is hy so stadig om ’n move te maak? Miskien is hy maar van geaardheid só. En hou op met die geblosery! Jy sê nie hoe oud jy is nie, maar as jy al ’n groot vrou is, moet jy jou soos een gedra. Daar is niks fout met ’n vrou wat self die bul by die horings pak nie. Miskien blaas dit nuwe lewe in die arme klong. En as hy nie dieselfde voel oor jou nie, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Jy kan aanbeweeg en die regte een sal op die een of ander tyd kom.

Vraag: Kinders is kwaad

Antie Val, ek het verlede jaar iemand ontmoet. Dit is nou drie jaar ná my man se afsterwe. Hy is 20 jaar jonger as ek, maar ons gaan nou al ses maande saam wees. Ek werk in die Kaap, maar ons albei is van PE. Ons is baie gelukkig. Hy kom kuier gereeld vir my as ek op vakansie is en dan is hy 24/7 by my. 

My kinders baklei met my en hulle sê hy is net agter my geld en huis aan al bly hy in ’n beter woonbuurt as ek. Hulle is drie dogters en almal getroud. Hoekom moet hulle so lelik met my wees? Dit is mos nou nie asof ek met die man gaan trou nie en hulle weet die testament is klaar opgestel. - Moeg

Antwoord: Beste Moeg

Ek hoop regtig nie hy sien jou net as sy sugar mommy nie. Ek weet age is nothing but a number, maar soms moet jy die nommers reg uit die boom kyk voordat jy kies. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek sê nie daar is fout om gelukkig te wees met iemand wat jou gelukkig maak nie. Wat julle gemeen het, weet net julle alleen.

Hy hou miskien van ouer vroue en jy van jonger mans en daar is glad nie fout daarmee nie. Maar wees waaksaam. Moet net nooit dat enigiemand jou iets laat doen waarvoor jy nie reg is nie. Die feit dat jou kinders nie gelukkig is met hom nie, sê alles is nie pluis nie. Hulle wil maar net hul ma beskerm. Praat mooi met hulle en verseker hulle jy gaan nie wilde besluite maak en als weggooi nie. Jy verdien ook geluk, maar vat net dinge stadig.

Vraag: Mal oor haar meisie

Ek is ’n lesbian en baie verlief op my meisie. Ek het al ’n kind, maar ek stel al vir baie lank in meisies belang en kom al deur baie van hulle. Nou het ek iemand gevind oor wie ek mal is, maar ek is bang sy val weer vir ’n man en dan verloor ek haar. Hoe weet ek sy is die een en hoe hou ek haar vir myself? - Verlief

Antwoord: Beste Verlief

My liewe mens, soms bevind jy jou oor die verloop van tyd in ’n paar verhoudings totdat jy die een vind wat jou asem wegslaan. Noudat jy verlief is en haar nie wil verloor nie, voel dit asof jy nie heeltemal in beheer is nie. Dit kan nogal scary wees, maar dis heel normaal.

Hoe langer jy jouself aan die verlede herinner, hoe langer hou jy jouself gevange. Jou partner sê dan sy is lief vir jou en jy vir haar. So los die verlede, fokus op die hede en die toekoms. Dit kom vir Antie voor asof jy ’n klein bietjie insecure is. Werk daaraan en wees gelukkig en positief oor alles en almal in jou lewe. Dit is nie altyd maklik nie, maar die verhouding sal net van krag tot krag gaan as julle albei die harde werk insit en eerlik met mekaar is. Niks en niemand sal tussen julle kan kom as die band van liefde sterk genoeg is nie.

WhatsApp die woorde KUIER ANTIE VAL gevolg deur jou vraag na 0607840589, of e-pos kuier@kuier.co.za met ANTIE VAL in die onderwerplyn.

Antie Val is nie ’n mediese dokter of kliniese sielkundige nie. Sy en Kuier is nie verantwoordelik vir probleme wat kan voortspruit uit die raad nie

* Illustrasie: Ryan Carolisen


Die artikel verskyn in die 11 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Antie Val  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.