Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Antie Val: Selfoonliefde
11 July 2018

Whatsapp-vryery

Ek is E van Somerset-Wes. Ek het S op WhatsApp ontmoet. Ons chat al ’n geruime tyd en nou wil ons mekaar ontmoet. Hy klink vir my opreg, maar ek is bang vir die ontmoeting, want ek het al gelees toe ’n dame haar chat-ou ontmoet toe is dit glad nie soos hy voorgegee het nie. Ek het ook al in die verlede so seergekry. Toe ek dit vir hom sê, het hy gesê alle mans is nie eenders nie. Wat moet ek doen?
Smoorverlief

BESTE SMOORVERLIEF

Antie het niks teen social media nie en die hele ding om nuwe mense te ontmoet en boonop liefde te vind nie. Maar wat my baie ongemaklik maak, is hoe mense woorde en foto’s manipuleer.

Daar is eers ’n paar dinge wat deurdink moet word.

Het jy al probeer vasstel of hy is wie hy sê hy is, soos waar hy bly en werk? As jy al die checks gedoen het en tevrede is, sal jy moet deurdruk, want die selfoonvryery kan ook nie vir ewig aanhou nie.

Julle moet besluit waar julle wil ontmoet. Dit moet ’n veilige plek wees. Sê vir iemand waarnatoe jy gaan en met wie.


KAN DIT SY KIND WEES?

Antie, ek vra namens ’n vriendin. My vriendin en haar man was gelukkig getroud en hulle het ’n babatjie van ’n paar maande oud gehad. ’n Jong vrou het betrokke geraak by haar man, maar die vrou was ook betrokke by nog ander mans. Vroeg in Desember het hulle seks gehad en hul paaie het daarna geskei. Die meisie het toe later vir hom gesê sy is swanger. Maar as hulle twee die eerste week in Desember saam was en die kind word eers Oktober gebore, kan dit die man se kind wees?
BOODSKAPPER

BESTE BOODSKAPPER

My liewe griet, iemand is besig om iemand ’n rat voor die oë te draai. My eerste probleem is hoekom so baie getroude manne toelaat dat feekse gelukkige huwelike opbreek. Besef die mense nie dat ’n getroude man nie sommer hul vrou met wie hulle vir meer as tien of vyftien jaar lewe en ken, prys sal gee vir een aand of ’n paar maande se kafoefel nie? En die manne moet ophou om so sleg te wees!

Maar nou ja, baie dankie dat jy so ’n goeie vriendin is. Die kanse dat dit sy kind kan wees, is skraal volgens datums. Maar hy is nog nie van die hook af nie, want hy het sy vrou verneuk. Dis net haar besluit of sy by ’n oneerlike man wil bly.

Hy moet maar vir bloedtoetse gaan. Waarsku jou vriendin – haar man kon dalk weer ’n besoekie gaan aflê het. So sy moet haar maar regmaak dat daar ’n kans is dat dit sy kind is. Sy sal haar moet voorberei dat die kind en die ma dalk vir altyd in hul lewens sal wees.

SPEEL TWEEDE VIOOL

Antie Val, ek is nou al sewe jaar verloof en ons woon saam, maar daar is ’n paar goed wat my pla. Ek word nooit eerste in die verhouding geplaas nie en as ek daaroor praat, word dit as niks afgemaak. Wanneer ek aandag soek, is seks die antwoord. Ek word gesê ek verbeel my oor goed waaroor ek ongelukkig is. Wat die emosionele kant betref, word ek afgeskeep. Gee asseblief vir my raad.
Ongelukkig

BESTE ONGELUKKIG

Die skrywe laat Antie so bietjie verward voel. Jy sê julle is sewe jaar verloof en woon saam, maar jy kla nou eers. Vir hoe lank kom sy gedrag al aan? Verhoudings het sy ups en downs, maar genoeg is genoeg.

Al die tekens is daar dat julle mekaar baie ongelukkig maak. Die feit dat daar geen samewerking is ná sewe jaar saam nie, laat my wonder waarheen jul verhouding op pad is.

Die beste raad wat ek vir julle kan gee, is om openlik te wees met mekaar en mekaar kans te gee om te dink oor jul verhouding en toekoms saam.

Vertel vir Antie Val
WhatsApp die woorde KUIER ANTIE VAL gevolg deur jou vraag na 0607840589, of e-pos kuier@kuier.co.za met ANTIE VAL in die onderwerplyn.

Antie Val is nie 'n mediese dokter of kliniese sielkundige nie. Sy en Kuier is nie verantwoordelik vir probleme wat kan voortspruit uit die raad nie.

Meer oor:  Antie Val  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.