Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Arendsvlei: Trio vlieg hoog!
27 November 2019


Dit is daai tyd van die jaar wanneer jou werktenk leeg loop terwyl jy net-net hang aan ’n draadjie wagtend op die feestyd. Jy kan al amper die dae by die see ruik om nie eens te praat van die laataand-kuiers wat daarmee gepaardgaan nie. Maar wanneer drie van Arendsvlei se sterre jou stormloop met ’n luidrugtige gelag en hul tasbare energie, voel jy sommer dis klaar festive . . .

Roberto Kyle (26), Kay Smith (28) en Craig Adriaanse (24) is nie vreemdelinge vir Kuier-lesers nie. Inteendeel, dié drie is deel van kykNET&kie se telenovela wat kykers drie dae per week voor die kassie vasgenael hou. Dit vat ook net ’n paar minute in hul geselskap om agter te kom hulle is nie net op die kassie boesemvriende nie, maar ook agter die skerms.

Drukkies word uitgedeel en hulle gesels ’n hond uit ’n bos. Elke dan en wan trek die een spelerig aan die ander en ’n gelag klink weer op. ’n Mens sou dink hulle het mekaar lanklaas gesien en op dié vraag antwoord Roberto heel dramaties: “Wel ons het mekaar nog gister laas gesien, maar elke dag is anders en voel soos lanklaas!” Die energie in die studio is jolig en tussendeur al die gelag en grappies is dié drie dit eens – dit hét ’n rukkie gevat vir ’n telenovela soos Arendsvlei om ons kassies te tref.

“Dit is ’n revolusie oftewel ek sien dit as ’n revolusie. Dit skep nie net ’n platform vir mense om unapollogetically hulself te wees nie, maar gee hulle ook die geleentheid om hul waarheid te leef sonder enige skaamte,” merk Roberto op. En die ander twee stem kopknikkend saam.

Kay sê bruin akteurs in die algemeen was in hul noppies toe Arendsvlei die vermaakbedryf tref omdat daar uiteindelik vir bruin mense werk was in die Kaap en dit nie meer nodig was vir hulle om te trek nie. Haar kloklaggie trek deur die studio toe sy gemaak ernstig sê: “Dit is die reine waarheid. Ek dink die meeste van ons was net bly dat ons nie elders moes gaan werk soek nie. En toe ons ons scripts kry en die egtheid sien en voel van ons karakters, kon jy nie anders as om te relate met die karakters nie. Elke karakter voel soos iemand wat jy ken of al ontmoet het.”

Verander lewens

Craig Adriaanse, wat die rol van Wesley Rossouw vertolk, raak meegevoer wanneer hy praat oor sy karakter. Dié 24-jarige van Macassar vertel hy het nooit gedink dat sy karakter in Arendsvlei so ’n positiewe verskil gaan maak in mense se lewens nie.

“Ek het geweet dat die rol baie kritiek en ook positiwiteit gaan ontlok, maar presies hoeveel sou ek nooit kon raai nie. Dit is ongelooflik.” Hy vertel met oorgawe dat sy rol in Arendsvlei nie net vir hom en dié na aan hom verander het nie, maar ook baie ander se lewens daarbuite geraak het.

“Was dit maklik om so ’n rol te vertolk? Nee. Was dit die moeite werd? Beslis! Wanneer mense vir my vra hoe ek daaroor voel dat ek die spesifieke rol in Arendsvlei gekry het, sê ek altyd ‘geseënd’. Dit was God se wil dat ek die rol gekry het en daarvoor is ek Hom elke dag innig dankbaar.” Hy sê die spreekwoord “wie heuning wil eet, moet die steke verdra” is iets wat hy konstant in sy agterkop moet hou.

“Daar sal mense na my toe kom en sê ‘baie dankie dat jy my en my ouers se oë oopgemaak het. As gevolg van julle karakters het ek die vrymoedigheid om na my ouers uit te kom en te sê wie ek werklik is’. En daar is geen beter gevoel as om te weet dat jy iemand se lewe gered het nie; jy het iemand gehelp om sy of haar waarheid te leef. Dit is situasies soos dié wat al die negatiewe kommentaar irrelevant maak, want die karakter het sy doel bereik.”

Dit is ’n tyd om te reflect, asem te haal en net voluit te leef. Jy het afterall heeljaar aan jou loopbaan en drome gewerk.

Craig lag hartlik wanneer hy sê hy is eintlik maar ’n baie skaam en ingetoë mens. “Ek is ’n baie awkward mens en wanneer mense in die publiek na my toe kom, is ek geneig om dieselfde goed oor en oor te sê.” Hy sit sy hande skaam voor sy gesig voor hy uitbars van die lag en eerlik erken, “Maar dit is net omdat ek nie altyd weet wat om te sê nie. Baie mense dink seker ‘Nee, maar by nou al moet jy seker al gewoond is’, maar laat ek jou nou vertel ’n mens raak net nie gewoond nie!” Met oë wat blink van lagtrane vertel Craig hy het grootgeraak in ’n gemeen-skap waar mense maar tipies sê net wat hulle wil.

“In coloured communities draai mense nie nog doekies om nie en hulle dink ook nie altyd voor hulle praat nie. As daai antie in die straat vir jou iets wil sê, gaan sy dit vir jou sê – of jy nou gaan kwaad raak of nie. En dít is wat Arendsvlei anders maak – dit is eg, ons mense kan relate daarmee, want dit is dinge wat ons op ’n daily basis in die gesig staar.” Die noem van sy gemeenskap laat dié klong van Macassar met heimwee terugdink toe hy besef watter tyd van die jaar dit is. Hy sê hy assosieer tipies dié tyd van die jaar met die reuk van paint.

“Jy kan my maar wat vertel, maar in coloured communities word huise nou left, right en centre geverf! Mense, November was die maand wanneer jou ma al begin om die Krismiskos te koop. Dit is vir jou soutvleis, gammon en tong galore! Nie eens te praat van die goed vir die trifle en yskastert nie,” vertel hy.

Terwyl Craig praat oor sy herinneringe as kind oor Kersfees vryf Roberto ingedagte oor sy dag oue stoppelbaard. Dit is die ernstige trek op sy gesig wat jou onmiddellik opval. En sonder om ’n demper op Craig se bui te plaas sê hy saggies: “My herinnering van dié tyd van die jaar is weer heel anders as syne. Dit was nooit vir ons as familie ’n groot ding om festive te raak en Krismis te enjoy nie. Ons het elke jaar maar gevat soos dit kom.”

Volgens Roberto het sy ma soms Kerstye gewerk en hy en sy suster moes alleen ’n ete aanmekaarslaan. “My ma en pa het geskei toe ek nog baie jonk was en my ma moes werk om vir ons te voorsien. As sy nie ’n Kersfees kon afkry nie het ons dit aanvaar, want alles wat sy gedoen het, het sy vir ons gedoen.”

Connect met rolle

Roberto, oorspronklik van die Paarl, het in sy tweede jaar van universiteit sy pa aan kanker verloor. “Sjoe, dit was vir my ’n baie moeilike tyd. Dit het ook vir my baie jare gevat om oor sy afsterwe en die siekte te kom.”

Hy vertel voorts dat dit juis sy karakter, Lee-Roy, in Arendsvlei is wat hom gehelp het om oor sy eie trauma te kom en dinge beter te verstaan. “Lee-Roy se ma en se pa skei ook en die manier hoe hy dinge hanteer, het ook vir my gehelp om dinge beter te verstaan. Omstandighede beter te verstaan. Toe ons besig was met die kanker-storielyn het so baie dinge vir my sin gemaak, want ek het al deur die siekte geleef en nie die volle omvang daarvan verstaan nie, maar nou doen ek. Dit is ongelooflik hoeveel ooreenkomste daar tussen my en hom is. Dit is soos ’n spieëlbeeld van my eie lewe.”

Hy sê selfs toe Lee-Roy in Arendsvlei geboelie was, het hy verstaan, want hy het ook jare gebukkend gegaan onder ’n geboelie. “As kind was ek baie geboelie omdat ek anders was. Die sterkste ooreenkoms tussen my en die karakter is dat ons albei weet hoe om deur die storms van ons lewens sterk te staan. Hoe om te volhard en hoe om ander se lewens ’n bietjie beter te maak deur net jouself te wees.”

Volgens Roberto leef ons in ’n tyd waar om jouself te wees nie altyd maklik is nie, maar dit is so nodig soos ’n stukkie brood om jou jy-wees uit te kan leef. “Daar is niks meer kragtig as om jouself so onvoorwaardelik te aanvaar dat jy nie die nodigheid vind om aan ander mense te verduidelik wie jy is nie. Jy is net jy en glo my beter as dít raak dit nie sommer nie.”

Op dié noot vertel Kay ook sy het nie ’n goeie verhouding gehad met Kersfees as kind nie. “Maar believe you me dié jaar gaan ek ’n white Krismis hê!” Die borrelende akteur vertel opgewonde sy gaan Kersfees in Noorweë deurbring. “Ek kan nie wag nie en weet sommer ek gaan beautiful memories maak en hê van dié Krismis.”

Sy benadruk dat sy nie juis slegte herinneringe aan die tyd van die jaar koppel nie; net dat daar nooit ’n bohaai daaroor gemaak was nie. “Dit is ’n tyd van die jaar waar liefde alles oorheers, so vir my persoonlik maak dit nie saak hoe jy dit spandeer nie, maar liewer met wie. Dit gaan oor liefde – opregte liefde, versoening en vergifnis.”

Dié girl van Maitland sê ook sy sou nie kon raai dat mense hulle so goed in hul huise sou ontvang nie. “Dit is ongelooflik! Ons was self uit die staanspoor obsessed met ons scripts, maar om te sien hoe mense hulself met die storielyne en dialek vereenselwig, is regtig op ’n ander level!” Sy vertel voorts haar honger om stories te vertel en haar liefde vir die kunste is haar dryfkrag.

“Met die onlangse geweld teen vroue moes ek ’n tydjie vir myself vat om te sit en reflect oor wat tans aangaan in ons land, maar dit is my verantwoordelikheid om nie net my waarheid nie, maar ook dié van ander vroue uit te leef en te vertel deur middel van my kuns. Dit was en is nog altyd die belangrikste.” Kay, die oudste van sewe kinders, sê sy het nog altyd staatgemaak op die ondersteuning van haar familie.

“Dit is nie ’n maklike bedryf nie, inteendeel, ’n mens moet baie opofferings maak en hard werk om te oorleef. Die werk hou nooit op nie en jy sal daai ekstra ure moet inploeg. Maar hoewel dit ’n baie vinnige en hardwerkende bedryf is, moet jy nooit vergeet om in jou menslikheid in te tap nie, dit is die belangrikste van alles. Dit is wat jou maak as mens – jou menslikheid.”

Kay sê iets wat sy al baie vroeg in die lewe geleer het, is om nooit op te hou droom nie en nie jou drome te beperk nie. “Dit is vir my baie belangrik om te droom. Maak nie saak of my drome vir ander mense verregaande of te groot klink nie – dit is my drome en ek sal die grootheid daarvan bepaal, niemand anders nie. Daar is eenvoudig nie die tyd en plek om klein te droom nie.” Tog sê sy om te droom, is nie naastenby genoeg nie.

“Jy kan ook nie net sit en droom en verwag dinge moet vanself gebeur nie. Nee girl, you must go out there and make it happen! Jy is die bestuurder van jou lewe en net jy kan bepaal in watter rigting dit gaan.” Dié driestuks het almal ’n baie besige jaar agter die rug, maar is dit eens dat hulle nie kan wag om ’n breuk te vat en net asem te haal nie. Roberto som dit perfek op: “Dit is ’n tyd om te reflect, asem te haal en net voluit te leef. Jy het afterall heeljaar aan jou loopbaan en drome gewerk, dit is nou tyd om aan jouself te werk. Raak stil, vat ’n oomblik en haal net asem. Jy verdien dit!”

* Foto’s: Dale Fourie

* Klere en skoene: Queenspark, Alessia boutique, mrp, industri, Gabriella Boutique

* Grimering en stilering: Kyra Loubser

Meer oor:  Roberto Kyle  |  Kuier  |  Arendsvlei  |  Kay Smith  |  Craig Adriaanse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.