Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Baas van die plaas

Jy moet jou storie ken om in die Noord-Kaap te kan boer. Dit is ’n ongenaakbare gedeelte van die land en daar is gereeld boere wat weens al die druk eerder die handdoek ingooi. Maar nie Ettiene van Wyk nie...

Nee, die feit dat hy as ’n plaaswerkerskind gebore is, inspireer hom eerder tot nuwe hoogtes en vandag is sy plaas, Spes Bona, op Marydale, ’n toonbeeld van wat met genoeg toewyding en gesonde verstand gedoen kán word.

“Ek’s op die plaas van ’n bekende boer, oom Dries Wiese van Loxton in die Karoo, gebore,” vertel Ettiene (32). “My ma, Annaniet, het die bokke gemelk en my pa, Freddie, het na die skape en al wat ’n dier is, gekyk. Só het ek kleintyd maar saam met my pa begin beweeg. Soggens het ons die skape kos gegee en saans het ons weer die skape ingebring.”

Ettiene is die eerste volwaardige boer in sy familie. Sy grootouers was ook veewagters en hulle het beslis nie eens so ver gekom om te droom dat hul kleinseun eendag die oorgang tot volwaardige boer sou maak nie. Trouens, vandag klop ander skaapboere – en veral nuwe boere – gereeld by hom om raad aan.

Vir geslagte lank het die Van Wyk-familie maar nog altyd op Dries se Kasteel-plaas gewerk, sê Ettiene. “Dit is al wat ons geken het. Ons het (oor verskillende dekades heen) na die skape gekyk. As daar lammergoed aangekom het, het ons vir die lammers gesorg. Ons het bokke gemelk. My pa sê hy’t nie gedink ek sal as ’n boer opeindig nie, maar eerder bloot as ’n goeie werker met verantwoordelikhede.”

Van sy vroegste kinderherinneringe – as ’n laaitie van net drie – is boonop op die skoot van Dries, wat hom vroeg reeds oor Ettiene ontferm het. Dis die einste stoetboer wat later jare Ettiene se studies by die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal en daarna by die Grootfontein-landboukollege moontlik gemaak het.

“Ek wou eintlik na ’n ander skool toe gaan, want my kop het polisie toe gestaan. Ek’t gedink ek wil skelms vang, maar vandag vang ek roofdiere soos jakkalse. Die besluit (om toe eerder Oakdale toe te gaan) het my lewe verander. Oom Dries se vrou, Maylan, het my weggevat Riversdal toe en nadat ek die vorige aand met my mense gepraat het, het ek net een ding in my kop gehad: ek moet gaan klaarmaak en begin boer,” sê Ettiene.

Op kollege het Ettiene in veral die praktiese vakke uitgeblink. “Ek het vinnig agtergekom as jy meer in jou prakties insit, is dit net soveel makliker om te boer. ’n Boer sit nie bedags in ’n kantoor nie. Hy’s tussen sy diere in die veld.”

BEGIN BOER

Nadat hy by Grootfontein afgestudeer het, het Ettiene weer op Dries se plaas ingeval, maar dié keer as ’n voorman. Hy is egter binne 11 maande tot plaasbestuurder bevorder en het toe sewe jaar lank met merinoskape, boerbokke en beeste geboer oor ’n gebied van 17 000 hektaar. Om dit in perspektief te plaas: ’n hektaar is omtrent twee rugbyvelde langs mekaar.

Skielik moes Ettiene ook mense bestuur, onder wie sy eie ouers. “Dit was nogal nie vir my pa ’n goeie een gewees nie. Dit het plek-plek moeilik gegaan, want dit was nie vir my lekker om vir my pa te moet sê: ‘Nie regs nie. Gaan links’, nie. Op ’n kol het ek gehoop daar kom ’n skuif, want dit was nie vir my lekker om vir my pa bevele te gee nie.”

Ettiene se groot kans het gekom toe die Noord-Kaapse regering met ’n plan vorendag kom om swart mense met landboukwalifikasies toegang tot grond te gee. Dit is nou al twee jaar later en die staat het hom intussen gehelp met genoeg geld om vee, ’n plaashuis en voertuig te kon koop. As deel van sy ooreenkoms met die regering moet hy steeds ’n mentorskapverhouding met ’n gevestigde boer hê.

“Vandag nog is oom Dries vir my ’n mentor en ek beskou hom ongetwyfeld as ’n groot deel van my sukses. Baie jong boere misluk omdat hulle nie ’n mentor het nie. Ek’t saam met oom Dries grootgeword en hy stel werklikwaar belang in wat ek doen. By hom het ek die waarde van stiptelikheid geleer. As jy soggens opstaan, moet jy klaar weet wat jy moet doen,” sê Ettiene.

Sy plaas, Spes Bona, is op 3 800 hektaar maar ’n spikkeltjie teen die uitgestrekte vlaktes van Kasteel waar hy grootgeword en later ook as plaasbestuurder gewerk het. Daar is egter geen groter vreugde as die besef dat hy nou die baas van sy eie plaas is nie.

“Die regering het my (ná ’n uitgerekte aansoekproses) gebel om te sê daar is ’n plaas tussen Vanwyksvlei, Marydale en Kenhardt. Ek het dit met twee hande aangegryp, maar toe ek op die grond kom, het ek besef dit gaan nie maklik wees nie. Dis ’n droë wêreld.”

Baie jong boere misluk omdat hulle nie 'n mentor het nie. Ek't saam met oom Dries grootgeword en hy stel werklikwaar belang in wat ek doen.
Ettiene van Wyk

PAS MAKLIK AAN

Daar was twee jaar gelede geen water of elektrisiteit op sy plaas nie. “Gelukkig is ek iemand wat maklik kan aanpas. Ek het begin om watertenke op te sit en boorgate bygeboor. Daar is nou water en die hele plaas het elektrisiteit. Ek gebruik ook sonkrag en ons bestuur alles baie versigtig. Die strykyster word net soggens van nege tot elf gebruik en die geyser word van 12:00 tot 14:00 aangesit. Die mikrogolfoond word net bedags gebruik. Ons sonkrag hou deur die nag.”

Hy het ook ’n passie vir skape, en vergelyk dit met dié van ’n verhouding met ’n vrou.

“Vat jou eie vrou. As sy vir jou pragtig is, gaan jy mooi na haar kyk. Maar as sy vir jou lelik is, gaan die ding nooit werk nie. Dieselfde met jou diere. As jou skape vir jou mooi is en dit is die beste genetika waarmee jy boer en die beste gehalte-diere, gaan jy alles insit. Ek wil met die beste genetika boer en koop net goeie ramme aan.”

Om te kan boer, sit beslis nie in enigeen se broek nie en daar is groot kommer oor die feit dat soveel nuwe boere misluk. Ettiene sê die geheim tot sy sukses is dat hy – nes ’n boerseun – kleintyd met landbou grootgeword het. “Jy moet fisies betrokke wees. Dit moet ’n roeping wees. Ons land bestaan uit 70% werklike boere en die res boer maar net omdat hulle nêrens anders kon regkom nie.”

Maar wat is Ettiene se raad aan die regering oor die toestaan van landbougrond aan veral swart boere?

“Hulle moet gaan kyk watter ouens het die belangstelling. Gaan na die boere toe en vra wie van hul werkers het regtig die potensiaal om dit op hul eie te kan maak. Gee vir hulle mentors. Help hulle ook om grond te kan besit, want ons ouers is nie finansieel sterk nie. Dit help nie jy plak ’n ou daar neer (sonder toegang tot finansiering) nie, want dan gaan hy vergaan.”

Ettiene beskou dit as sy lewenstaak om die res van die land van kos te kan voorsien. “As dit te stil word, vat ek my honde en dan gaan kyk ek na my rooi­kathokke en stel slagysters. Of ek sweis of maak sommer ’n draad reg. Ek en ’n dorp kom nie meer reg nie. Ek wil op die plaas wees in die stilte.”

Intussen bou Ettiene elke dag aan sy boerdery, want hy wil help sorg dat daar altyd genoeg kos op die winkelrakke is.

“Dit gaan nie vir my oor geld nie, maar daaroor dat ek deel wil wees van hierdie boere. Dis nou nog my visie. Ek wil bydra tot ons voedselsekerheid. As ek opstaan, moet ek eerste dink aan myself en my familie en dan moet ek dink aan die mense vir wie daar kos moet wees. Ek het ’n verantwoordelikheid,” sê hy passievol.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.