Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Bak die lekkerste koeke en eetgoed
6 Augustus 2020

Lemoenkoek

Maak 1 dubbellaagkoek (standaardgrootte)

BESTANDDELE

Versiering (opsioneel)

  • ½ koppie suiker
  • 1½ koppies water
  • 1 – 2 lemoene, in wiele gesny

Koek

  • 115 g sagte botter
  • 1¼ koppies suiker
  • 4 eiers, geskei
  • 1½ koppies koekmeel
  • ¾ teelepel sout
  • ½ koppie mielieblom (Maizena)
  • 3 teelepels bakpoeier
  • ½ koppie lemoensap
  • 1 teelepel lemoenskil, gerasper

Versiersel

  • 115 g botter
  • 2 koppies versiersuiker (icing sugar)
  • 1 eetlepel lemoenskil, gerasper
  • 1 eiergeel
  • 2 eetlepels lemoensap
  • ’n Knippie sout

METODE

Versiering:

Jy moet eers die versiering maak. Die skywe moet oornag uitdroog. Giet die suiker en water in ’n groot plat kastrol of pan en laat kook die mengsel terwyl jy af en toe roer om die suiker te laat oplos.

Sit die lemoenskywe in die stroop en laat kook oor matige hitte vir so 20 minute. Draai die skywe af en toe om. Verlaag die hitte en kook vir 10 minute. Skep die lemoenskywe uit en sit dit op ’n draadrakkie op ’n bakplaat (gevoer met bakpapier).

Laat staan oornag om droog te word. Bêre die stroop – jy kan later die koek met ’n bietjie daarvan bedruip.

Koek:

Verroom die botter en suiker. Klits die eiergele in ’n ander mengbakkie tot dik en romerig en voeg by die bottermengsel. Sif die koekmeel, sout, mielieblom en bakpoeier saam en voeg om die beurt met die lemoensap by die botter-en-eiermengsel. Meng goed ná elke byvoeging. Voeg die lemoenskil by. Klits die eierwitte styf en vou in die mengsel.

Verdeel die mengsel tussen twee gesmeerde losboomkoekpanne van 20 cm, wat met bakpapier gevoer is. Bak vir 30 minute in ’n voorverhitte oond van 180 °C. Jy kan dit langer bak indien nodig.

Die koek is gaar wanneer die rande lostrek van die pan en effens bruin lyk, en wanneer ’n toetspen of tandestokkie, wat in die middel ingedruk word, skoon uitkom. Laat staan die koeke vir 10 minute in die panne voordat jy dit versigtig op ’n draadrak uithaal om heeltemal af te koel.

Versiersel:

Klits al die bestanddele vir die versiersel goed saam. Gebruik ’n deel van die versiersel om tussen die twee laagkoeke as vulsel te smeer en gebruik die res om die koek bo-op te versier. Rangskik die lemoenskywe bo-op en, as jy wil, kan jy ’n bietjie eetbare goue glitter bo-oor strooi.

WENK:

Doop jou mes in ’n kookwater om die versiersel egalig te smeer. Dit help ook om te keer dat koekkrummels met die versiersel meng.


/

Karamelappelkoek

Genoeg vir 8

BESTANDDELE

Koek

  • 1/3 koppie ligte bruinsuiker
  • 3 kleinerige Granny Smith-appels, geskil, stronk verwyder en in dikkerige skywe gesny
  • 1 eetlepel suurlemoensap
  • 125 g sagte botter
  • 1 koppie strooisuiker (castor sugar)
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • 1 teelepel vanilla essence
  • 3 eiers
  • 1 koppie bruismeel (self-raising flour)
  • ¼ koppie koekmeel
  • ¼ koppie melk

Versiering (opsioneel)

  • ¼ – ½ koppie room, styfgeklits
  • 2 – 3 dun, ronde appelskywe, geweek in 1 eetlepel suurlemoensap
  • 2 heel kaneelstokkies

METODE

Koek:

Smeer ’n losboomkoekpan van 20 cm en voer die bodem met bakpapier. Sprinkel die suiker egalig op die bodem. Sit die appelskywe in ’n ander bak en bedruip met die suurlemoensap.

Rangskik die appelskywe bo-op die suikerlaag en bedruip met die suurlemoensap wat in die bak agtergebly het. Klits die botter, strooisuiker en kaneel tot lig en romerig.

Voeg die vanilla essence en eiers by en klits goed. Sif die bruismeel en koekmeel saam en voeg alternatiewelik met die melk by die bottermengsel. Eindig altyd met die byvoeging van droë bestanddele. Meng goed ná elke byvoeging.

Skep die mengsel bo-op die appels. Maak gelyk en bak vir ’n uur in ’n voorverhitte oond van 180 °C. Laat staan in die pan vir 10 minute voordat jy dit op ’n opdienbord omkeer sodat die appels bo is.

Versiering:

Laat die koek heel- temal afkoel en versier met appelskywe en kaneel.


/

Maklike sjokoladekoek

Maak 1 dubbellaagkoek (standaardgrootte)

BESTANDDELE

Koek

  • ½ koppie crème fraîche
  • 130 g sagte botter
  • 1 koppie ligte bruinsuiker
  • 1 teelepel vanilla essence
  • 4 eiers
  • 1½ koppies koekmeel
  • ’n Knippie sout
  • 1/3 koppie kakaopoeier
  • 2 teelepels bakpoeier

Versiersel

  • 80 g donkersjokolade
  • 130 g sagte botter
  • 1 teelepel vanilla essence
  • 2 koppies versiersuiker (icing sugar)

METODE

Koek:

Klits al die bestanddele goed in ’n elektriese menger vir 2 – 3 minute. (As jy dit met die hand wil meng, moet jy dit vir 5 minute goed roer.) Verdeel die mengsel tussen twee gesmeerde losboomkoekpanne van 20 cm, wat met bakpapier gevoer is.

Bak vir 25 – 30 minute in ’n voorverhitte oond van 180 °C, of totdat die koek uitgerys het en los kom van die kante van die panne.

Laat staan in die panne vir 5 minute voordat jy die koeke versigtig uithaal om op ’n draadrak heeltemal af te koel.

Versiersel:

Smelt die sjokolade in ’n dubbelkastrol of ’n hittebestande bak oor ’n kastrol water wat liggies kook. Maak seker dat die bodem van die bak nie aan die water raak nie.

Laat die bak effens afkoel. Klits die botter, vanilla essense en versiersuiker tot lig en donsig in ’n mengbak. Voeg die gesmelte sjokolade by en klits tot goed gemeng. Smeer die versiersel aan die bokant van die een laagkoek en sit die ander een versigtig bo-op.

Smeer die res van die versiersel bo-op en versier die koek soos jy verkies. Ek smelt altyd ’n bietjie ekstra sjokolade en bedruip dit liggies oor die oppervlak van die versiersel. Die res van die sjokolade giet ek in sjokoladevormpies net vir ekstra mooiheid.


/

Wortel-en-okkerneut-kaaskoek

Genoeg vir 12 – 16

BESTANDDELE

Kors

  • 1/3 koppie olie
  • 1/3 koppie klewerige bruinsuiker
  • 1 eier
  • ¾ koppie bruismeel (self-raising flour)
  • ½ teelepel gemengde speserye
  • 1 koppie wortels, grofgerasper
  • ½ koppie geroosterde okkerneute (walnuts), grofgekap

Vulsel

  • 3½ x 240 g houers roomkaas
  • 2 teelepels lemoenskil, gerasper
  • ¾ koppie strooisuiker (castor sugar)
  • 3 eiers
  • 2 eetlepels koekmeel
  • ½ teelepel gemengde speserye
  • ½ teelepel fyn kardemom (opsioneel)
  • 1 koppie wortel, grofgerasper

Bolaag

  • 2 koppies suurroom
  • ¼ koppie suiker
  • 1 teelepel vanilla essence

METODE

Kors:

Klits die olie, suiker en eier saam tot dik en romerig. Sif die bruismeel en gemengde speserye saam en roer saam met die wortels en neute by die suikermengsel.

Skep die mengsel op die bodem van ’n vierkantige losboomkoekpan van ongeveer 23 cm, waarvan die bodem en kante met bakpapier gevoer is. (Die bakpapier moet ongeveer 5 cm bokant die rand van die pan uitsteek – dis veral belangrik as jy nie ’n losboompan gebruik nie.)

Bak die kors vir 15 minute in ’n voorverhitte oond van 160 °C. Haal uit die oond en laat staan vir so 15 minute.

Vulsel:

Klits die roomkaas, lemoenskil en strooisuiker saam tot glad. Klits die eiers een op ’n slag by. Roer die koekmeel en speserye by en heel laaste die wortels. Giet in die kors en bak vir 40 minute in ’n voorverhitte oond van 160 °C. Sit die oond af, maar laat staan die kaaskoek daarin met die oonddeur effens oop totdat die kaaskoek heeltemal afgekoel het.

Bolaag:

Klits die bestanddele vir die bolaag saam tot glad en skep bo-op die kaaskoek. Versier met ’n paar ekstra heel okkerneute as jy só voel. Laat staan in die yskas vir minstens 3 uur of verkieslik oornag.

WENK:

As jy nie ’n vierkantige kaaskoek wil hê of nie só ’n koekpan het nie, kan jy ’n ronde pan van 25 cm gebruik.


/

Piesang-en-pekan-vrugtekoek

Genoeg vir 12

BESTANDDELE

Koek

  • 1½ koppies pekanneute (pecan nuts), grofgekap
  • 1 koppie sultanas
  • ½ koppie korente
  • 3 koppies koekmeel
  • 3 teelepels bakpoeier
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • 1 teelepel fyn gemmer
  • ½ teelepel neutmuskaat (nutmeg), gerasper
  • 225 g sagte botter
  • 2 koppies suiker
  • 3 ryp piesangs
  • 4 eiers
  • ¾ koppie brandewyn (sien wenk)

Versiersel

  • 240 g roomkaas
  • 2 koppies versiersuiker (icing sugar)
  • 6 eetlepels brandewyn
  • 6 eetlepels golden syrup

Versiering

  • 1 eetlepel suurlemoensap
  • 1 – 2 piesangs, op die skuinste in langwerpige ovaal skywe gesny
  • 8– 10 heel pekanneute (pecan nuts)

METODE

Koek:

Meng die pekanneute, sultanas en korente met ½ koppie van die koekmeel en hou eenkant. Sif die res van die koekmeel saam met die bakpoeier, kaneel, gemmer en neutmuskaat en hou eenkant.

Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig. Maak die piesangs fyn en klits by die bottermengsel. Voeg die eiers een vir een by en klits ná elke byvoeging. Voeg die meelmengsel om die beurt met die brandewyn by, meng goed ná elke toevoeging en eindig met die meelmengsel.

Vou die pekan-en-rosyne-mengsel by die deeg in. Skep die deeg in ’n gesmeerde Bundt-pan,

Bak vir 1 uur in ’n voorverhitte oond van 180 °C. Laat staan 10 minute om af te koel voor jy die koek versigtig op ’n draadrak uithaal om heeltemal af te koel.

Versiersel:

Meng al die bestanddele vir die versiersel en klits tot glad. Giet dit oor die koek sodat dit alkant afloop.

Versiering:

Sprinkel die suurlemoensap oor die piesangskywe en rangskik die skywe alternatiewelik met die pekanneute bo-op die koek. Laat staan sodat die versiersel kan set.


/

Bessie-tertjies

Maak 24 tertjies

BESTANDDELE

Tertdoppies

  • 1 2/3 koppies koekmeel
  • ½ teelepel sout
  • ½ koppie strooisuiker (castor sugar)
  • 150 g botter, in blokkies gesny
  • 3 eiergele, liggies geklits

Vulsel

  • ½ koppie bessiekonfyt
  • 250 g mascarpone
  • ½ koppie room
  • 2 eetlepels versiersuiker (icing sugar)
  • ½ teelepel vanilla essence
  • 150 g gemengde vars bessies, soos bloubessies, frambose (raspberries) en appelliefies (gooseberry)

METODE

Tertdoppies:

Sif die koekmeel, sout en strooisuiker saam en vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Maak ’n holte in die middel daarvan en giet die eiergele daarin.

Gebruik jou vingerpunte om die eier liggies met die meel-en-bottermengsel te meng totdat jy ’n growwerige deeg kan vorm. Sit die deeg op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie liggies totdat jy ’n gladde deeg het. Bedek met kleefplastiek en laat vir 30 – 45 minute in die yskas rus. Sit die deeg tussen twee velle bakpapier en rol uit.

Gebruik ’n koekiedrukker wat effens groter is as die gate van die patty pan-pannetjies wat jy gaan gebruik. Druk sirkels uit en voer die gate van twee 12-gat patty pan-pannetjies. Sny bakpapier in klein vierkante, sit bo-op elke deegdoppie en giet keramiekbakbone of rys bo-op. Bak in ’n voorverhitte oond van 200 °C vir 8 minute.

Verwyder die bakpapier en bone of rys en bak oop vir nog 5 – 7 minute. Laat staan in die pannetjies om heeltemal af te koel voordat jy dit uithaal.

Vulsel:

Skep ’n bietjie van die konfyt in elke doppie. Gooi die mascarpone, room, versiersuiker en vanilla essence in ’n mengbakkie en klits liggies. Moenie te veel klits nie anders word die mascarpone te loperig. Skep die mengsel in die tertdoppies en versier met die vars bessies.

WENK: Jy kan ook broskorstertdoppies (shortcrust pastry) in plaas van die soeter deeg gebruik vir hierdie tertjies. En jy kan roomkaas in plaas van mascarpone gebruik.
/

Garnaal-en-avo-tertjies

Maak 24 mini-tertjies

BESTANDDELE

Tertdoppies

  • 1½ koppies koekmeel
  • ’n Knippie sout
  • 6 eetlepels botter
  • Yswater

Vulsel

  • 1 avokado, geskil, ontpit en in blokkies gesny
  • 1 eetlepel suurlemoensap
  • 12 – 15 dwergtamaties, in kwarte gesny
  • 24 gaar garnale, goed skoongemaak en uitgedop (jy kan ’n stukkie stert vir die mooi behou)
  • ’n Handvol vars koljanderblare, gekap

METODE

Tertdoppies:

Sif die koekmeel en sout saam en vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Giet yswater bietjie vir bietjie by en meng totdat jy ’n sagte hanteerbare deeg het.

Bedek met kleefplastiek en laat vir 30 minute in die yskas rus. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en gebruik ’n koekiedrukker wat effens groter is as die gate van die patty pan-pannetjies wat jy gaan gebruik.

Druk sirkels en voer die gate van twee 12-gat patty pan-pannetjies. Sny bakpapier in klein vierkante, sit dit bo-op elke deegdoppie en giet keramiekbakbone of rys bo-op. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir 8 minute.

Verwyder die bakpapier en bone en bak oop vir nog 5 – 7 minute. Laat staan vir 2 minute in die pannetjies voordat jy die tertdoppies op ’n draadrak pak om af te koel.

Vulsel:

Sit die avokadoblokkies in ’n bakkie en sprinkel die suurlemoensap bo-oor. Skep ’n paar van die avokadoblokkies onderin elk van die tertdoppies. Rangskik twee tamatiekwarte en ’n garnaal bo-op.

Sprinkel fyngekapte koljander bo-oor en rang-skik die tertjies op ’n mooi opdienbord.

WENK:

Vir ekstra ryk en lekker tertjies, kan jy ’n bietjie room- of maaskaas, gemeng met ’n bietjie soetrissiesous, onderin die tertdoppies skep voordat jy die res van die bestanddele bo-op rangskik

Meer oor:  Gebak  |  Kuier  |  Resepte  |  Koeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.