Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Basaar: Maak van kos, drankies tot soetgoed
3 September 2020

Sosaties

Maak ongeveer 24 – 30 sosaties (afhangende van die grootte van die stokkie en hoe jy dit ryg)

BESTANDDELE

Vleis

  • 1,5 – 2 kg vetterige lamsboud, bene verwyder en in blokkies gesny
  • 1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
  • 4 varknektjops, bene verwyder en in blokkies gesny
  • 5 lourierblare (bay leaves), effens gekneus
  • 2 teelepels sout ½ teelepel fyn gemmer
  • ½ teelepel varsgemaalde swartpeper
  • 1 eetlepel koljandersaad
  • ½ koppie melk
  • 1 koppie droë appelkose

Sous

  • 3 groot uie, in wîe gesny
  • 1 koppie water
  • 1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 2 eetlepels suiker
  • 2 eetlepels matige kerriepoeier
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel borrie
  • 2 eetlepels appelkooskonfyt
  • 3 eetlepels asyn
  • 2 koppies water
  • Sosatiestokkies

METODE

Vleis:

Pak die vleisblokkies in ’n groot glasbak saam met die res van die bestanddele en gebruik jou hande om dit goed te meng.

Bedek die bak met kleefplastiek en laat dit vir minstens 2 uur lank staan.

Sous:

Kook al die bestanddele, behalwe die asyn en water, in ’n swaarboomkastrol. Laat dit 5 minute lank kook. Meng die asyn met die water en voeg by die res van die bestanddele in die kastrol. Haal dit van die stoofplaat af en laat dit koud word.

Giet die koue sous oor die vleis, meng goed en laat staan vir minstens 3 uur.

Sit die sosatiestokkies in ’n plat bak met kookwater en laat week vir minstens 20 minute. Ryg stukkies vleis om die beurt met appelkosies en stukkies ui op die stokkies. Jy kan dit óf oor die kole gaarmaak óf in ’n voorverhitte oond van 200 °C sit vir 15 – 20 minute aan elke kant.


Basaarkerrie

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 2 eetlepels olie
  • 1 eetlepel botter
  • 3 groot uie, gehalveer en in skywe gesny
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 1 x 3 cm-knoets vars gemmer, in stukkies gekap
  • 3 eetlepels appelkooskonfyt
  • 1,5 kg beesstowevleis
  • 1 koppie beesvleisaftreksel
  • 2 – 3 koppies bevrore gemengde groente
  • 1 eetlepel matige kerriepoeier
  • 1 eetlepel suiker
  • 1 eetlepel koekmeel
  • 1 eetlepel asyn
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Verhit die olie en botter in ’n pot en braai die uie tot sag. Voeg die knoffel, brandrissie en gemmer by en braai ’n minuut of twee. Roer die appelkooskonfyt deur en voeg die vleis by. Meng goed.

Giet die aftreksel by. Sit die dek-sel op, verlaag die hitte en stowe vir 1½ – 2 uur of totdat die vleis amper sag is. Roer die groente by en stowe vir 20 minute.

Meng die kerriepoeier, suiker, koekmeel en asyn, en roer dit deur die mengsel in die pot. Stowe vir 30 minute en geur met sout en peper na smaak.

WENK:

Bedien met rys, chutney, geroosterde klapper en piesangskywe in ’n bietjie suurlemoensap geweek.


Maklike sjokoladefudge

Maak ongeveer 20 – 24 blokkies, afhangende van die grootte

BESTANDDELE

  • 1½ koppies suiker
  • 2/3 koppie ingedampte melk (Ideal milk)
  • 2 eetlepels botter
  • ¼ teelepel sout
  • 2 koppies mini-malvalekkers (marshmallows)
  • 3 x 90 g-blokke melksjokolade, grofweggekap
  • ½ koppie pekanneute (pecan nuts), gekap
  • 1 teelepel vanilla essence

METODE

Sit die suiker, ingedampte melk, botter en sout in ’n groterige kastrol. Bring dit oor matige hitte tot kookpunt. Laat dit vir 4 – 5 minute lank wild kook terwyl jy aanhoudend roer. Haal die kastrol van die hitte af en roer die malvalekkers en sjokolade by.

Roer met mening totdat alles gesmelt het en jy ’n lekker gladde mengsel het. Roer die neute en vanilla essence by. Giet die mengsel in ’n vierkantige pannetjie van ongeveer 20 cm wat met bakpapier gevoer is.

Laat dit afkoel en sit dit dan in die yskas vir 2 uur lank. Lig dit uit die pan en sny dit in blokke met ’n skerp mes.

WENK: Groot malvalekkers vat te lank om te smelt, so as jy nie die klein soort het nie, knip die grotes in kleiner stukkies.

Witsjokolade-grondboontjie-krispie-koekies

Maak ongeveer 24 koekies

BESTANDDELE

  • 2 koppies Rice Krispies
  • 2 koppies geroosterde grondboontjies
  • 2 koppies mini-malvalekkers
  • ½ koppie grondboontjiebotter
  • 5 x 90 g-blokke witsjokolade, grofweggekap

METODE

Meng die Rice Krispies, grondboontjies en malvalekkers in ’n groot bak en hou eenkant. Smelt die sjokolade en grondboontjiebotter in ’n kastrol oor baie lae hitte en roer af en toe totdat alles gesmelt is en jy ’n gladde mengsel het.

Giet die mengsel by die Rice Krispie-mengsel en meng goed. Skep eetlepelsvol op ’n bakplaat of skinkbord wat met bakpapier gevoer is. Sit vir 1 uur in die yskas.

WENK: Jy kan die witsjokolade met groot gemak met melksjokolade of ’n mengsel van donker- en melksjokolade vervang.

Piesangblatjang

Maak ongeveer 4 – 6 flessies (afhangende van die grootte)

BESTANDDELE

12 ryp, maar ferm piesangs, geskil en in skyfies gesny

  • 3 middelslaguie, fyngekap
  • 1 eetlepel matige kerriepoeier
  • 1 eetlepel sout
  • 2 stukke pypkaneel
  • 1 koppie sultanas
  • 1 koppie suiker
  • 2 koppies witasyn
  • ’n Knippie rooipeper

METODE

Meng al die bestanddele in ’n groot swaarboomkastrol, bring tot kookpunt en laat stadig, sonder deksel, prut oor matige hitte. Roer af en toe om seker te maak dat dit nie aanbrand nie.

Dit neem ongeveer 35 minute vir die mengsel om lekker dik en geurig te word. Verwyder die kaneelstokkies en skep in gesteriliseerde flesse.


Pannekoek

Maak ongeveer 18 – 20 pannekoeke

BESTANDDELE

  • 4 koppies koekmeel
  • 4 teelepels bakpoeier
  • 1 teelepel sout
  • 4 eiers
  • 4 koppies water
  • ¼ koppie asyn of droë witwyn
  • ½ koppie olie

METODE

Klits al die bestanddele goed saam totdat jy ’n gladde mengsel sonder klonte het. Laat staan vir minstens 30 minute. Smeer ’n pan met ’n klein bietjie olie en giet genoeg van die deegmengsel in die pan om die bodem met ’n dun lagie te bedek. Wag totdat die oppervlak oral blasies maak en draai die pannekoek om om aan die ander kant ook te bak.

Hou ’n kastrol met kookwater op baie lae hitte op die stoofplaat langsaan. Sit ’n groot bord bo-op en sit die gaar pannekoek bo-op.

Maak die volgende pannekoek gaar, sit ’n lagie bakpapier bo-op die eerste pannekoek en sit die volgende een bo-op. Wanneer al die pannekoeke gaar is, strooi ’n bietjie kaneelsuiker oor elkeen en rol versigtig op. Jy kan rondspeel met verskillende vulsels, soos byvoorbeeld caramel treat en fyngekapte mintsjokolade.


Suurlemoenstroop

Maak ongeveer 2 – 2½ l stroop

BESTANDDELE

  • 25 – 30 ryp tot oorryp suurlemoene
  • 4 – 6 lemmetjies (opsioneel)
  • 1,3 kg suiker

METODE

Druk die suurlemoene en lemmetjies uit. Voer ’n groot sif met kaasdoek of moeselien, sit dit oor ’n groot houer of kastrol en syg die sap daardeur. Meet 1 l sap af en voeg dit in ’n kastrol saam met die suiker.

Verhit die mengsel oor matige hitte. Roer liggies totdat die suiker opgelos het. Hou die kastrol goed dop en haal die mengsel net voor kookpunt, as dit net-net begin borrels maak, van die stoofplaat af.

Laat dit afkoel en giet die stroop in gesteriliseerde bottels met skroefproppe. Bêre dit op ’n koel plek. Jy kan dit soos aanmaakkoeldrank voorberei – ongeveer 2 eetlepels van die stroop (of na smaak) en die glas opvul met water en genoeg ys of jy kan ’n Virgin Mojito, soos op die foto, maak. (Sien Wenk.)

WENK:

Virgin Mojito: Vir elke glas gebruik jy 10 – 15 mintblare, liggies fyngestamp met die agterkant van ’n houtlepel onderin die glas, voeg 1 eetlepel vars lemmetjiesap (opsioneel) en 2 eetlepels van die onverdunde suurlemoenstroop by. Vul die glas met ’n handvol kleinerige ysblokkies en sodawater of mineraalwater met borrels. Versier met ’n lemmetjie- of suurlemoenskyfie en ekstra mintblare

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.