Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Begin oor met God aan jou sy
12 Desember 2018

Ek hoor hoe my mense sê 2018 het hulle moeg gemaak. Ek stem saam. Dit was ’n rowwe jaar vol uiterstes – van uitdagings tot oorwinnings, van voorspoed tot terugslae. Dalk het jy ook, soos ek, amper breekpunt bereik.

Die woorde van ’n bekende gesang, “Great is Thy faithfulness”, het later die werklikhede van my lewe begin reflekteer. Ek het ook amper tou opgegooi. Ek het ook die sin van die lewe begin bevraagteken. En tog, wanneer ek dink aan God se goedheid, kan ek uit volle bors saamsing: “Morning by morning new mercies I see. All I have needed Thy Hand hath provided . . .”

Met die aanbreek van 2019 onthou ek opnuut die belofte van Psalm 30:6: “Waarlik, Sy toorn duur net ’n oomblik, maar Sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek alweer.” ’n Nuwe dag het dus aangebreek. ’n Nuwe begin is hier. Dié Skrif leer ons dat God nie kwaad word wanneer ons sonde pleeg nie. Hoewel ons dade en aksies Hom ontstel, maak Sy vergifnis ons vry en ideaal geposisioneer om die nuwe jaar met oorgawe te begin. God self het in die Bybelse dae dikwels kwaad geword, soos toe hy in Markus 3 woedend was vir die Fariseërs wat nie wou hê dat hy ’n gebreklike man op ’n Sabbatdag gesond moet maak nie. In 1 Konings 11 lees ons die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here, die God van Israel, gedien het nie.

God se genade is vir ons genoeg. Omdat Jesus God se toorn in ons plek op Golgota se kruis geneem het, is ons ge­seën met ’n posisie van eer en liefde as God se geliefde kinders. God se regver­dige woede is van ons weggedraai en ons word nou geseën met vergifnis, genade en die guns van God.

Min mense besef dit, maar jy het nie die toestemming van jou vriende, familie of kollegas nodig om God se guns te ontvang nie. Daar is geen voorwaardes daaraan verbonde nie. As God jou wil

seën, gaan Hy dit doen – selfs in die aangesig van jou grootste teenstander en ongeag die foute wat jy dalk self in die verlede gemaak het. Saam met God se guns kom die belofte dat dit vir ewig sal hou.

Saam met God se guns kom die belofte dat dit vir ewig sal hou

Die ander groot les wat ons uit Psalm 30 kan leer, is dat ons nie vir altyd hoef te huil oor die seerkry, pyn, teleurstellings, gebroke verwagtinge, die dood van geliefdes, vriende wat jou in die rug gesteek het of selfs die verlies van materiële

dinge nie. Alles het ’n seisoen en die pyn gaan beslis nie vir ewig aanhou nie. Wat jy dus ook al in 2018 deurgemaak het – dis verby. Werklik, ’n nuwe dag het aangebreek en die oggend het ’n nuwe vreugde gebring.

Die Bybelse gebruik van die woord “oggend” simboliseer ’n nuwe begin,

nuwe hoop en nuwe lewe. “Oggend” is ’n aanduider van lig, waarheid en kennis van geloof in Christus. Ek is nie seker oor jou nie, maar ek staan beslis in die behoefte van my nuwe deurbraak, nuwe hoop en ’n nuwe begin; ’n verligting van die donker nag. En ek glo 2019 sál dit meebring.

Die verandering waarvan jy in 2018 gedroom het, is op pad. Die nuwe vrede waarna jy verlede jaar gesmag het, is hier. En onthou, die Skrif verseker ons dat die nuwe dag vreugdevol sal wees. Ongeag die uitdagings bly God getrou. Sy krag is eindeloos en oorweldigend.

My gebed is dat jy die gevoel van magteloosheid wat 2018 oorskadu het, sal afskud sodat geestelike verandering kan plaasvind. Die nuwe jaar bied ’n nuwe geleentheid om ’n intiemer verhouding met God aan te knoop. As ons hoop om ware intimiteit met God te bereik, moet Jesus ons model wees. Ons is lief vir God omdat Hy ons eerste liefgehad het en ons bewys ons liefde vir Hom deur Hom te gehoorsaam. Daar kan net intiem met God wees as ons met gehoorsaamheid in goeie gemeenskap met Hom is.

2019 kan jóú jaar wees, maar dan moet jy bereid wees om jou vrese uit te asem en terselfdertyd jou asem in te trek vir die onseker jaar wat voorlê. Skryf jou verlede uit jou sisteem uit en dan maak jy ’n lys van al die lesse wat jy geleer het. Wees verseker dieselfde God wat ons in 2018 staande gehou het, sal ons deur 2019 dra. En ons gaan nie dié jaar net-net oorleef nie, ons gaan floreer. Ons is ten volle toegerus vir enigiets.

*Eerw. Morné Meyer is ’n boorling van Bellville-Suid in die Wes-Kaap. Hy voltooi tans sy meestersgraad in teologie aan die Payne-teologieskool in Wilberforce, Ohio, Amerika.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.