Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Beleggings: Maklike raad om jou geld te laat groei
15 Oktober 2020


Mens hoor altyd van mense wat miljoene rande maak op die aandelemark, maar dit klink gewoonlik soos ’n vergesogte idee vir “gewone mense” soos ek en jy. Óf jy nou wil spaar vir jou kinders se opvoeding, om jou eie huis te koop óf vir jou oudag, vandag is die dag om te begin.

Maar waar begin ’n mens? “Ek behoort nou al jare aan ’n stokvel saam met ’n paar vriendinne. Dit werk goed vir my, want dit forseer my om te spaar en ek geniet my uitbetaling elke jaar in my verjaardagmaand. Maar ek wens eintlik daar was ’n manier hoe ek meer geld kan maak. Ek hoor altyd van aandele en al daai goete, maar dit laat my kop draai om net daaraan te dink,” vertel Sharon Meintjies (52), ’n onderwyser van Kaapstad.

Vir haar is dit belangrik om eerder meer vir haar oudag te begin spaar as vir haar verjaardag, maar hóé, weet sy glad nie. Johnson Jackson (32), ’n enkellopende mechanic van Oos-Londen, kry vir die eerste keer in sy lewe genoeg geld elke maand om ’n bietjie opsy te sit. Hy wil graag begin spaar om sy eie huis te koop en ’n neseier te bou vir sy toekomstige gesin.

“Man, ek het groot planne. Ek is jonk genoeg om risks te vat met my geld, te invest en tekere te gaan, maar wat weet ’n outjie vannie plaas af, soos ek, van die JSE?” Wel, die goeie nuus is, jy het nie duisende rande nodig om jou eie beleggingsportefeulje aan die gang te kry nie. Die kenners meen met selfs R300 per maand, kan jy begin om jou eie welvaart te bou. Daar is geen “one-size-fits-all”-oplossing nie en jou keuse of beste opsie hang af van jou persoonlike finansiële doelwitte, risikoprofiel, tydperk en hoeveel geld jy het om te belê.

Nico Swart, finansiële adviseur van PSG Wealth in Durbanville, verduidelik hoe jy besluit om te belê, hang af van jou einddoel. “As jy byvoorbeeld die geld vir ’n jaar wil belê, is dit die veiligste en slimste om dit in maklik toeganklike beleggings soos ’n spaarrekening of geldmarkfonds (money market) te los waar die opbrengs (groei) relatief stabiel is. Jy kan feitlik dadelik toegang daartoe kan kry en jou risiko om geld te verloor, is baie laag.”

As jy dit egter vir jou oudag of vir minstens drie jaar kan wegsit, is dit meer sinvol om ’n langtermynbelegging te maak soos aandele en effektetrusts, verduidelik hy verder. Jou risiko is hoër, maar jou opbrengs – of hoeveel dit kan groei, is ook baie hoër. In die langtermyn is dit belangrik om inflasie te klop en hierdie tipe beleggings staan ’n beter kans om dit te doen. As jy reeds beleggings het, kan jy hierdie bedrag insluit by jou portefeulje.

Vir die langtermyn

Volgens Ulrich Joubert, ’n onafhanklike ekonoom van Pretoria, is dit belangrik wanneer jy besluit om ’n langtermynbelegging te maak, jy jou geld daar los, ongeag wat in die wêreld of in jou persoonlike omstandighede aangaan. “Net soos in die natuur is daar seisoene in die ekonomie. Elke krisis kan oorleef word en as jy dit reg benader, kan ’n krisis eintlik ’n geleentheid wees om finansieel te floreer.

Die belangrikste ding is dat jy nie die verkeerde besluite neem wanneer jy paniekbevange is nie. Sit net vir ’n rukkie stil en wag. Los alles netso.” Wanneer dinge in die wêreldmarkte of in jou eie lewe weer rustiger gaan, is die kanse baie goed dat jy finansieel beter sal doen, meer geld sal maak. Maar as jy heeltyd koop en verkoop, is die kanse dat jy gaan verloor, baie groter.

“Om jouself in die toekoms te beskerm, is dit ’n goeie idee om sodra jy kan, te begin belê,” voeg hy by. In Ulrich se ervaring skrik die aandele-mark baie mense af omdat hulle nie vertroud is daarmee nie en nie weet waar om te begin nie. Langtermynbeleggings is gewoonlik vir langer as twee jaar en kom meestal met ’n hoër risiko as korttermynbeleggings.

Ulrich se raad is om jou langtermynbeleggings te diversifiseer om die risiko te verminder, met ander woorde, moenie net in een ding belê nie. Die algemeenste opsies is aandele, effektetrusts en eiendom. Aandele is eintlik gedeeltelike eienaar-skap aan ’n maatskappy. Hoewel jy nie altyd ’n sê het in hoe die maatskappy bestuur word nie, is jy geregtig op ’n gedeelte van hul wins. Jou aandele kan oor ’n tydperk groei of jy kan van tyd tot tyd dividend-uitbetalings ontvang.

Jy gaan meer in die langtermyn hier (Satrix 40 unit trusts)maak, as om net jou R300 in jou spaarrekening te los.
Ulrich Joubert

Effektetrusts is ’n belegging in ’n verskeidenheid aandele wat wissel in risiko. Dit word gewoonlik bestuur deur finansiële kenners wat fondsbestuurders genoem word. Die algemeenste manier om in eiendom te belê, is om ’n huis te koop. Dit is egter nie almal beskore nie. Maar gelukkig kan jy ook in eiendombeleggingstrusts (real estate investment trusts of REIT’s) belê op die aandelemark. Dit werk dieselfde as aandele. Jy kry gedeeltelike eienaarskap van ’n eiendom en die waarde van jou belegging neem toe soos die eiendom se waarde vermeerder.

Gelukkig, volgens Ulrich, is daar ’n baie maklike manier om jou voet in die beleggingsdeur te kry. Satrix 40 is ’n bekende beleggingsinstrument wat ’n maklike en bekostigbare manier is om deel te word van die aandelemark. Hierdie fonds belê onder meer in die top40-maatskappye op die Johannesburgse aandelemark. Om jou geld hier te belê, is ’n doeltreffende manier om toegang te kry tot ’n gediversifiseerde mark teen ’n lae koste. Jy kan self op die website registreer en begin.

“Met Satrix 40 unit trusts kan jy elke maand ’n bietjie koop – selfs al is dit net R300. Jy gaan meer in die langtermyn hier maak, as om net jou R300 in jou spaarrekening te los,” verduidelik Ulrich. Die beste manier om jouself te dwing om in jou toekoms te belê, is om ’n debiet-order te installeer wat afgaan net nadat jou pay-pakkie inbetaal is. Só haal jy die geld uit jou begroting en mis jy dit nie. Die ideaal is om ’n kombinasie van kort- en langtermynbeleggings te hê, al is dit net ’n klein bietjie elke maand. Jou korttermynbesparings kan jy gebruik vir noodgevalle en onvoorsiene uitgawes, of vir jou kinders se opvoeding, terwyl die langtermynbeleggings vir jou oudag sal sorg.

’n Goeie beleggingsplan moet pas by jou persoonlike omstandighede. As jy onseker is, is dit altyd ’n goeie idee om ’n onafhank-like finansiële adviseur te vra vir hulp. Die belangrike ding is egter net dat jy so gou moontlik begin. Met meer as 100 000 Suid-Afrikaners wat tans aanlyn op die aandelemark belê, is dit dalk tyd vir jou om te begin, al is dit net om aan jouself te bewys jy kán. Die kanse is groot dat jy nooit sal spyt wees nie!

Tips vir beginners

1. Begin so gou moontlik. Hoe gouer jy begin, hoe vinniger en hoe meer sal jy verdien.

2. Belê gereeld. Verkieslik elke maand met behulp van ’n debiet-order.

3. Moenie geld leen om te belê nie. Beleggings is langtermyn en niks is seker nie. Jy kan dalk daardie geld verloor. Gebruik eerder die geld wat jy het as om ’n “quick buck” te probeer maak met leengeld.

4. Moenie emosionele besluite maak wanneer jy belê nie. Dis algemeen maar dom om byvoorbeeld in ’n maatskappy te belê, want hulle het ’n oulike logo.

5. Diversifiseer. As jy aandele koop, kies iets uit mynbou, banke, telekommunikasie en verbruikersmaat-skappye. Só versprei jy jou risiko.

6. Koop en byt vas vir die langtermyn.

7. Wees geduldig! Ignoreer die op-en-af-neigings van die mark.

* Foto: Gallo Images/Getty Images

* Bron: https://bit.ly/3kPdBrX

Meer oor:  Kuier  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.