Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Bitter stryd na beroerte op agt
17 April 2019
Robin Jack


Van ’n spontane, lewenslustige kind tot een wat nou soos ’n baba van voor af moet leer om haar ledemate te gebruik, te praat en self toilet toe te gaan. Dít is die lot van Robin Jack, ’n energieke agtjarige meisie van Robertson in die Wes-Kaap, wat verlede jaar op 16 Desember onwetend ’n beroerte gehad het.

’n Beroerte op agt… Dit sink moeilik in en klink soos ’n fiktiewe storielyn in ’n boek of fliek, maar dit is nie. Dit is Robin se werklikheid en haar ouers leef nou ’n nagmerrie wat geen ouer ooit wil beleef nie.

Robin en haar ma, Ellerich, in die rehabilitasiehospitaal in Johannesburg waar sy aansterk.

Ellerich (32), Robin se ma en ’n maat-skaplike werker, sê wat haar moederhart die seerste maak, is dat haar kind wat nooit stilgesit het nie, sedert die beroerte al maande lank aan ’n hospitaalbedjie vasgekluister is. Ná haar beroerte was Robin van Desember tot middel Maart in die Worcester Mediclinic waarna sy oorgeplaas is na die Netcare N1 City-hospitaal. Daarvandaan is sy oorgeplaas na die Netcare Rehabilitation Hospitaal in Aucklandpark, Johannesburg, waar sy tans intensiewe fisioterapie ontvang om die funksies van haar liggaam te herwin.

“Sjoe, Robin kon nooit stilsit nie. Kinders sit deesdae voor die televisie of met ’n selfoon, maar nie sy nie. Sy sou liewer buite speel en modderkoekies bak,” vertel Ellerich. Sy word stil voor sy diep asemhaal en verder oor haar spontane kind praat. “Sy het op vier begin dans en het steeds gedans tot haar beroerte. Sy het ook netbal gespeel, en miskien is ek bevooroordeeld oor dit my kind is, maar sy kon speel, hoor!”

Sy lag saggies met die gedagte aan haar kind op die netbalbaan. “Sy kon regtig net nie stilsit nie en was altyd besig met iets – dis hoe sy was en dit is hoe ek haar graag sal wil terughê.”  Volgens Ellerich het Robin ook ’n maatjie in haar klas gehelp met skoolwerk. “Sy het elke tweede pouse in die klas gebly om die kind te help met haar werk. Robin het nooit geskroom om mense te help nie, klein soos sy was. Ons grootmense kan nogal baie by haar leer.”

Groot skok kom

Robin Jack
Robin was voor haar beroerte 'n kranige netbalspeler en baie aktief
Kuier Pieter du Toit

Op 16 Desember was Robin egter nie haarself nie. Sy het gekla van ’n hoofpyn.

“Ek onthou nog haar hare was pasgevleg en ek het gedink miskien is dit te styf vas. Ons het toe besluit om haar hare los te maak en daarna was sy baie beter. Die hoofpyn was weg of só het ons gedink.”

’n Week daarna was die knaende hoofpyn egter terug en die Jack-gesin se lewens het ’n tragiese draai gevat. “Robin het skuins op die bank gelê en na my geroep om te sê haar kop pyn weer.” Toe Ellerich haar kind bekyk, het sy gesien dat Robin se gesig effens skeefgetrek is en dis toe die gevaarliggies aan gaan. “Ek het so groot geskrik, maar het geweet ek moet my cool hou en het haar onmiddellik na die Mediclinic in Worcester gevat.”

By hul aankoms by die hospitaal het die dokter aan diens vir hulle gesê Robin het ’n beroerte gehad en haar onmiddellik vir ’n breinskandering gestuur. Dit het gewys sy het bloeding op haar brein. “Ek het nie eens woorde om te verduidelik hoe ek gevoel het toe die dokter vir ons sê sy het bloeding op die brein nie, want hoe en wanneer? Ek het soveel vrae gehad.”

Ellerich sê die dokter het toe verduidelik dat ’n aartjie in Robin se brein nooit reg gevorm het nie en as gevolg daarvan gebars het. Dis ook nie iets wat skielik gebeur het nie en die bloeding het waarskynlik jare gelede al begin. “Sy is ’n gesonde kind en was nooit regtig siek behalwe vir griep af en toe nie. Dit was ’n groot skok en ek was oorweldig deur emosies van verwardheid en hartseer, want hoe kan my agtjarige kind dan nou skielik siek wees en ernstig siek daarby. Hoe?”

Niks kon die Jack-gesin egter voorberei op wat volgende sou gebeur nie. ’n Paar dae ná Robin se beroerte het sy in ’n semi-koma ingegaan. Sy kon niks eet of drink nie en moes deur ’n pyp in haar neus gevoed word. Sy is toe na die intensiewe sorgeenheid geskuif.

“Die dokter daar het ons ingelig dat hulle haar na die Netcare in N1 City gaan oorplaas omdat hulle daar die operasie gaan doen om die bloeding op haar brein te verminder. Ek kon nie wag vir die ambulans om ons te kom haal nie, want ek sou enigiets doen om my kind te help, enigiets.” Die desperaatheid van daardie tyd is steeds rou in Ellerich se stem.

By hul aankoms by die hospitaal was dokters gereed en ’n paar uur later is die operasie uitgevoer. Die operasie het goed afgeloop, maar die dokter wou Robin nie wakker maak nie, want hy het gesê sy moes op haar eie bykom. “Hoewel die operasie goed afgeloop het, het niemand geweet wat om te verwag nie. Een van die dokters het vir my gesê my kind is baie siek en dat daar nie baie hoop is vir haar om ooit te herstel nie. As sy wel sou herstel, sou dit volgens hom ’n wonderwerk wees.”

Ellerich skep weer asem terwyl trane oor haar wange begin loop. “Ek dien ’n lewende God en het vir die dokter gesê dit is nie sy besluit of my kind sal herstel of nie, dis die Man van Bo s’n. Ek het geglo my kind sou herstel. Sy is ’n vegter.”

Bly sterk

Robin Jack
Sy moet weer leer loop en kry tans intense fisioterapie.
Kuier Pieter du Toit

Die moeilikste tyd vir Ellerich was toe haar kind ná die operasie glad nie bygekom het nie. “Jou kind wat gewoonlik vol energie is, lê net daar. Ek het elke dag haar Bybelstories vir haar gelees, maar sy het nooit respond nie. Haar gunstelinge, maar daar was nie eens ’n beweging van haar hand of enigiets nie. Dit is so moeilik om sterk te bly in sulke omstandighede, maar dan moet jy jouself net weer herinner dat daar wel ’n lewende God is en dat Hy al jou gebede verhoor en al jou trane sien.”

En op 4 Februarie vanjaar het Robin daai einste dokter verkeerd bewys – haar oë het oopgegaan terwyl haar 15-jarige broer, Jaydin, vir haar gebid het. “Dit was vir my so ’n mooi en groot oomblik. Haar boeta is nie een wat voor mense sal bid nie, maar nes ek, het my kind geweet ons dien ’n lewende God. Nadat Robin haar oë oopgemaak het, het hy aan haar gesê om haar mond toe te maak anders gaan brommers daarin vlieg en toe lag sy.

Vir die eerste keer sedert die beroerte het my Robin weer gelag.” Ellerich onthou die dag steeds soos gister en die blydskap is hoorbaar in haar stem. Volgens Ellerich is dit toe hulle gedink het Robin is besig om te herstel en sy is terug na die Mediclinic op Worcester oorgeplaas. Sy moes ná ses weke weer terugkeer na die Netcare N1 City vir ’n breinskandering – daar was bloedklonte op Robin se brein.

Die gesin is wéér tot in hul diepste geruk, maar met geloof het hulle die situasie trotseer. Robin is opgeneem en moes ’n ses uur lange operasie ondergaan om die bloedklonte te verwyder. “Dit was eerlikwaar die langste ses ure van my lewe,” verklaar Ellerich voor sy voortgaan om te sê dat die bloedklonte gelukkig nie lewensbedreigend was nie en dat die operasie suksesvol afgeloop het. Ná dié operasie was Robin by haar bewussyn, maar sy kon nie haar ledemate gebruik nie.

’n Week of twee ná die operasie, het sy begin om die linkerkant van haar liggaam te beweeg en sy is op ’n puree-dieet (waar alles verpulp word) gesit. “Sy het ook begin woorde sê soos ‘hi, bye, dankie en ok’. Daai week het ek gehuil. Oor alles. Omdat my kind so gefrustreerd is, my ander twee kinders by die huis, alles. Haar pa, Vivo, het probeer om soveel moontlik by Robin in die hospitaal te wees, maar hy moes terugkeer huis toe. Ons ander twee kinders (Jaydin en hul eenjarige dogter, Elisha) het ook hul ouers nodig. My hart is seer, maar as ek dit weer moes doen, sou ek. Vir Robin.”

Volgens Ellerich is daar niks kognitief fout met Robin nie, omdat sy bewus is van alles wat om haar aangaan. Die moeilikste is dat sy gewoond was daaraan om haar liggaam te gebruik en nou moet sy van voor af leer hoe om alles te doen. “Sy is van kleins af baie onafhanklik en nou is sy afhanklik van ander om haar met alles te help. Sy is baie gefrustreerd en dit breek my hart om te sien hoe my kind sukkel.”

Robin kan nou haar linkerhand gebruik en hoewel dit nie so stewig kan vasvat soos voor die beroerte nie, meen Ellerich dis net ’n kwessie van tyd. “Sy het nog altyd alles voluit gedoen en dis dieselfde met die siekte. Sy sit alles in, want sy wil gesond raak. Sy sit en kry nie haarself jammer nie. Toe die dokters en sielkundiges aan Robin verduidelik wat aangaan en wat presies met haar fout is, het sy nie histeries geraak nie. ’n Traan of twee het gerol, maar sy het stil geknik dat sy verstaan. Dis hoe sy is en dis nog hoe sy altyd was…”

Hul gesin

Robin Jack
Die litteken van Robin se breinoperasie
Kuier Pieter du Toit

En hoe het Robin se siekte die Jack-gesin se lewens geraak? Dis asof ’n damwal oopbreek en dié mamma, wat gedurende die onderhoud baie beheersd was, knak.

“Hoekom moes dit met mý kind gebeur? Sy het dan nog net goed gedoen in haar lewe. Robin het dan net begin met skool. Hoekom het ek dit nie vroeër raakgesien nie en wat sou gebeur het as ons later hospitaal toe gegaan het? Ek het myself begin blameer. Moes ek dit vroeër raakgesien het? As ek haar maar net dokter toe gevat het die eerste keer toe haar kop gepyn het, kon ons miskien dinge voorkom het. Maar hoe moes ek weet? Dit is vrae waarmee ek daagliks worstel.” Haar trane vloei vrylik.

“Ons jongste is maar net ’n jaar oud en ek moes haar noodgedwonge van die bors afhaal omdat ek nie meer by die huis kan wees nie. Sy is nou ’n peetouer en ouma- en-oupa-kind. Ons oudste seun is ook nie eintlik een wat praat nie, so ons weet nie eintlik hoe hy voel oor die besigheid nie. ’n Siekte is regtig iets wat ’n hele familie se lewens kan verander, maar dis ook iets wat ’n mens nader aan mekaar kan bring omdat jy nie weet wat die dag van môre inhou nie. Dis life changing.”

Ellerich sê die beroerte het die gesin nie net emosioneel uitgeput nie, maar ook finansieel. “Gelukkig het ons mediese fonds, maar die vervoerkoste en die bybetalings kom neer op soveel geld. Robin se skool, Robertson Voorbereidingskool, het ook ’n fonds gestig waarin mense geld kan skenk en daarvan betaal ons die ekstra rekeninge.”

Ná die suksesvolle operasie moes die gesin ’n rehabilitasiesentrum begin soek. Aangesien daar nie ’n gespesialiseerde sentrum vir kinders in Kaapstad is nie, moes hulle na die Netcare-rehabilitasie-hospitaal in Aucklandpark, Johannesburg, gaan. Dié hospitaal is ’n gespesialiseerde gesondheidsorgfasiliteit wat omvattende rehabilitasie aan volwassenes en kinders met fisieke gestremdhede bied. Die rehabilitasieprogram wat aangebied word, beoog om die liggaamlike funksies te verbeter en die vlak van onafhanklikheid te verhoog van mense wat gestremd geraak het weens ’n akute siekte, ’n chroniese gesondheidstoestand of enige ander mediese toestand wat hul vermoëns beperk om onafhanklik te funksioneer. Dit sluit in rugmurgbeserings, breinbeserings, beroertes, brandwonde en ander wonde.

Ellerich en Robin het vroeg in Maart hul sakkies gepak en na die rehabilitasiesentrum vertrek. Hulle het die res van hul gesin in Robertson agtergelaat. Volgens Ellerich was dit baie moeilik. “Toe ons by die hospitaal in die Kaap was, kon die ander ons nog besoek hoewel dit ver van die huis af is. Nou kan hulle nie meer nie.”

Ek het myself begin blameer. Moes ek dit vroeër raakgesien het? As ek haar maar net dokter toe gevat het die eerste keer toe haar kop gepyn het, kon ons miskien dinge voorkom het.
Ellerich Jack
Weet nie wat voorlê

Hoewel die verlange groot is, meen Ellerich dis die einddoel wat haar aan die gang hou. “Daar is voorlopig besluit dat Robin vir ses weke hier behandel gaan word, maar daar is geen waarborge nie. Dit kan langer word. Sy kan darem nou al haar regterkant ook beweeg. Sy kan nog niks met haar regterhand vat nie, maar enige vordering is goeie vordering. Haar regterbeen het sy ook begin beweeg, maar sy kan dit nie buig nie.”

Ellerich sê daar lê nog baie werk vir Robin voor, maar meen haar kind sal dit kan baasraak. “Sy is baie gefrustreerd en my hart breek as sy huil as sy nie iets kan doen nie. ’n Mens dink jou hart sal sterk raak met tyd, maar dit doen nie. Dit bly seer en dit bly breek.”

Al frustreer Robin se toestand haar, gee dié agtjarige haar volle samewerking. “Sy is darem nou al op ’n sagte dieet. Dit sluit fyngedrukte aartappel, butternut, hoender en daai tipe kosse in. Sy dra ’n doek en sê wanneer sy skoongemaak moet word, so die vordering is goed. Ons is baie verder as wat ons ’n paar maande terug was.”

Hoe hou haar moederhart dit uit om haar gewoonlik spontane en besige kind in ’n hospitaalbedjie te sien?

“Dis van die seerste seer, maar dinge kon soveel anders gewees het. Robin lewe en is besig om te herstel en vir meer kon ons nie vra nie. Al wat ek wil hê, is om haar weer op die netbalbaan te sien speel, te spring en rond te hardloop. Weer buite in die son sit en modderkoekies bak. As sy weer Sondagskool kan loop en om net weer te hoor hoe sy bid. Robin is nie ’n kind wat skaam is om te bid nie. Sy is daarvoor lief om te bid.”

Ellerich sê sonder die uitstekende span dokters van beide hospitale, die ondersteuning van familie, vriende en die hele gemeenskap asook Robin se skool se gebede en hulp, sou sy dit nooit kon maak nie. “Met soveel mense wat jou ondersteun, weet jy daar is ’n lig aan die einde van die tonnel. Hoe kan jy hoop opgee as daar soveel mense is wat bly hoop? Ons gaan veg en ons gaan hard werk om Robin weer te kry soos sy moet wees.”

En terwyl hulle veg, tob Ellerich nie te veel oor of sy Robin gaan terugkry soos wat sy was voor haar beroerte nie.

“Nie noodwendig nie, maar in die groter prentjie maak dit nie eintlik saak nie. Ek het steeds my kind. Sy self werk baie hard saam met die fisioterapeute en dokters en hulle is beïndruk met haar vordering. Alles gebeur egter met ’n rede en ons kan nie God bevraagteken nie. Ons moet dankbaar wees dat sy uitgespaar is en steeds lewe. Dit is al wat saak maak…”

Meer oor:  Netbalspeler  |  Kuier  |  Beroerte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.