Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Bly in beheer van emosies
6 Maart 2019
Sydney Cloete


Mense stel ons teleur – dis menslik en deel van die lewe. Ons het nie enige beheer oor hoe ander mense ons behandel nie. Waaroor ons wel beheer het, is hoe ons daarop reageer.

Laat enige emosie en aksie wat na jou kant toe kom, deur jou en weg van jou af vloei. Op dié manier sal jy beter beheer hê oor jou gevoelens. Dít en om te gee soos jy graag wil ontvang, is die perfekte resep vir gesonde liefde en selfbeheersing. Tog moet daar steeds ’n verwagting wees om gerespekteer te word, waardeer te word en om liefgehê te word.

Waar lê die balans? Beteken dit ek aanvaar maar net alles en laat mense oor my loop en gaan aan asof niks gebeur het nie? Of tree ek op en reageer op elke dingetjie wat nie na my sin verloop nie? As ons konstant met aggressie op elke klein ding reageer, moet ons introspeksie doen. Wat was my aandeel? Hoekom het ek die situasie só hanteer? Liefde kweek liefde en respek kweek respek.

“To be at peace” beteken nie jy moet terugsit en toelaat dat die lewe se stene net bo-oor jou rol en jou fynmaal nie. Dit beteken om oukei te wees as dinge nie uitwerk soos wat jy verwag nie. Om ruimte te laat vir verandering en aan te pas by die nuwe verwikkelinge. Om oukei te wees as mense nie is wie jý van hulle verwag om te wees nie. Om te besef dat elkeen wat ons pad kruis, ’n deel bydra tot ons persoonlike groei, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Werk aan jouself en jou innerlike vrede en leer ken jou triggers.

Hoe mense ons behandel, spreek nie van óns karakter nie, maar hul eie. Ons moet leer om nie blindelings te reageer nie, maar kalm in ons gees te word voordat ons optree.

Vra jouself drie vrae voor jy reageer:

1. Hoekom ontstel dit my so?

2. Hoe verstaan die ander persoon die situasie?

3. Wat moet ek hieruit leer?

Die antwoorde sal jou help om anders na die situasie te kyk en kalmer op te tree. Laat vaar die woede en hou vas aan die lewenslesse.

Onderdrukte emosies bou op soos ’n vulkaan! Dan eendag, op die verkeerde tyd, die verkeerde plek en met die verkeerde persoon breek die laaste strooi die kameel se rug. Jy raak buite jouself van woede of trane en jy kan nie jou emosies beheer nie.

Hoe voorkom jy dit?

Jý gee die pas aan. So wees versigtig wat jy toelaat, want jy leer mense hoe om jou te behandel.

Niemand kan jou behandel soos wat jy nie wil behandel word nie.

Jy is nie ’n slagoffer nie.

Maak selfliefde en vrede ’n prioriteit in jou lewe en maak doelbewuste besluite om weg te loop van enigiemand of iets wat jou geestelike en emosionele balans versteur en/of uitdaag.

Stel duidelike persoonlike grenslyne.

Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk.

Mense stem nie altyd saam nie, maar nie alles hoef in ’n debat te ontaard nie.

Jou gevoelens is geldig, maar ook die volgende persoon s’n.

Maak jou verwagtinge duidelik.

Behandel jouself en ander met respek.

Moenie jou gevoelens opkrop nie, maar dink goed na oor wat jy wil sê en reageer dan wanneer jy kalmer is.

Dis dikwels nie wat ons sê wat moeilikheid veroorsaak nie, maar hoe ons dit sê.

’n Hewige reaksie op iets wat klaar gebeur het, gaan nie die situasie verander nie. Assesseer die situasie voordat jy optree. Gaan jou optrede die verhouding bou of verbrokkel? Wat gaan ’n woedeuitbarsting jou baat?

Die woede bly joune, dit gaan sit in jou psige en lê en wag sluimerend om weer losgelaat te word. Dalk teenoor jouself, dalk teenoor een van jou geliefdes. Daai bevrediging van die ego is dan ook van korte duur, want dit word opgevolg deur ’n vlaag skuldgevoelens. Jy soek vergifnis – nie net van die een wat jy verbaal gewond het nie, maar ook van jouself. Meestal van jouself.

Leer ken jou wonde en swakpunte. “Hurt people hurt people.” Werk aan jouself en jou innerlike vrede en leer ken jou triggers en oorwin jou vrese en swakhede. Wanneer jy ’n trigger erken, stap weg en gaan doen iets anders. Maak jou oë toe, haal diep asem en word kalm.

Kalmte voorkom groot foute.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.