Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Bobaas-boer!
12 Junie 2019


Dreadlocks is nou nie die eerste ding wat jy met ’n boer assosieer nie, maar dis presies wat jy kry wanneer jy Errol April (51) ontmoet. Maar sodra dié frisgeboude man met die breë skouers sy mond oopmaak, is dit duidelik – dié man ken sy storie.

Errol is weereens bewys dat jy nie iemand op sy baadjie moet takseer nie. Errol, ’n gebore Kapenaar, is ’n voormalige uMkhonto weSizwe-kampvegter en een van die min swart Suid-Afrikaners om grond te ontvang wat vroeër deur ’n wit boer besit is. Hy is deel van die selfs kleiner groep suksesvolle swart boere.

Errol se plaasboerstorie is een vir die boeke, want hy het sy plaas, wat in 2016 nog miljoene rande in die skuld was, tot ’n suksesverhaal geboer. Deesdae is Errol se besigheid winsgewend en verskaf hy appels en pere wat onder die bekende Tru-Cape-handelsmerk verkoop word. Hy voer ook appels en pere uit na Amerika, Engeland en elders in Europa.

Errol glo ook daarin om sy sukses met sy werknemers te deel en hulle te ondersteun waar nodig. Dis 9:00 op ’n Vrydagoggend toe Kuier Errol besoek op sy plaas, Amanzi, nie te ver buite die klein dorpie Greyton in die Wes-Kaap nie. Ryp bedek die gras soos ’n snoesige kombers so ver as wat die oog kan sien. Amanzi beteken water en dié plaas is glo ryk daaraan.

Die plaas is bedek met vrugtebome en die ligging is asemrowend. Die stilte is opvallend en slegs elke dan en wan hoor jy mense in die verte lag, soveel anders as die geraas van die stad. Dié oggend is dit onder tien grade en die mis lê dik oor die vrugtebome. Errol kom aangestap met ’n liter melk onder sy arm. Hy maak verskoning en verduidelik dat hy laat is omdat hy eers ’n pot sop by sy werkers gaan los en dit toe sommer saam met hulle geëet het.

“Toe ons vanoggend wakker skrik, was dit 2 °C. My vrou, Caroline (52), het besluit om ’n pot sop op te sit sodat die mense op die plaas eers ’n warm koppie sop kon geniet voor hul dag begin.”

Begin onder

Errol en van sy werkers in die boord.

Errol nooi ons in Amanzi se kantoor. ’n Snoesige geboutjie ’n klipgooi weg van die April-gesin se huis af. Hy het in 2013 begin boer nadat sy aansoek by die departement van landelike ontwikkeling vir ’n boerderyprojek suksesvol was. Hy en ’n vriend, wat ook ’n uMkhonto weSizwe-vegter was, het saam aansoek gedoen en ’n jaar later is ’n plaas aan hulle toegeken.

“Ná verskeie prosesse het hulle ons eendag hierheen gebring en net gesê, ‘hier is julle plaas’. Ons het gedink hulle sal ons laat boer met vee, maar toe ons hier kom, het ons gesien dis ’n vrugteplaas. Eerstens het ons niks geweet van boer nie en van vrugte nog minder.”

Die regering het Errol en sy vrou aan ’n mentorskapprogram genaamd Two-a-day bekendgestel en só het hulle skouer aan die wiel gesit en begin werk om die boerdery ’n sukses te maak. “Ek het onder leiding van die mentor gewerk en tussen 2014 en 2015 het hy vir my alles geleer oor boerdery. Daarna het hy vir my gesê hy gaan vra dat die mentorskap onttrek word, omdat hy gevoel het ek weet alles wat ek moet en ek is gereed om op my eie te boer.”

Teen die einde van 2016 was die plaas egter in skuld gedompel – dit het altesaam R4,6 miljoen beloop. Errol lag uit sy maag voor hy verklaar, boerdery is maar ’n duur besigheid.

“Man, dit is nie soos ek vir jou sê nie! Dit is duur en ’n mens besef nie aldag hoe vinnig skuld kan oploop nie. Hier was klomp probleme op die plaas toe ek begin boer het en baie mense het gedink Amanzi sal vou. Dat ek sal vou, maar ek het aan myself ’n belofte gemaak dat ek binne een jaar daai skuld klaar kan betaal.

Baie mense het natuurlik gesê dis onmoontlik, maar wat hulle nie geweet het nie, is dat niks onmoontlik is met die nodige harde werk en toewyding nie.” En net soos Errol gesê het, was dit. Amanzi was binne ’n jaar skuldvry! Errol het ook in dieselfde jaar die boer van die jaartoekenning gewen. “Dit was vir my ’n indikasie dat swart mense kan boer. Ons het net die nodige ondersteuning en geleenthede nodig. As ek dit kon doen met geen agtergrond in boerdery nie, dink vir jou in wat diegene kan doen wat al vir jare in die boerderybedryf werksaam was.”

Harde werk en uithouvermoë het nog niemand in die steek gelaat nie. Kap net aan!

Werk hard

Errol en sy vrou, Caroline. Caroline doen administratiewe werk vir die plaas.

Volgens Errol, wat voorheen in die Suid-Afrikaanse weermag gedien het en ook vir vier jaar in Londen in die biodiesel-bedryf werksaam was, is daar 13 boere van kleur in sy streek en die ander 12 kom glo almal van ’n agtergrond met boerdery. “Dit is manne wat op plase gewerk het. Of die een nou ’n toesighouer was, ’n werker, voorman of bestuurder en vandag besit die manne hul eie grond. Dis ongelooflik. Hulle is nou die baas van die plaas. Die ding is ons kon lankal boer, maar was net nooit die geleentheid gegun nie.”

Daar word tans met agt variante appels en vier verskillende soort pere geboer op Amanzi se 211 hektaar. Die vrugte word geprosesseer deur Two-a-day en word dan weer verkoop as Tru-Cape-vrugte. Hoewel Errol nog nie die plaas besit nie, het hy ’n langtermyn-huurkontrak wat hom toelaat om die grond te boer met ’n opsie om uiteindelik die grond van die regering te koop.

“Swart boere moet in ’n sterker posisie geplaas word. Hulle moet die title deeds van die plase aan ons oorhandig. Die banke kan ons nie help nie, want dit is nie ons grond nie. Hulle moet ons versterk en die plase volkome aan ons oorhandig.”

En hoewel daar sekere dinge is waaroor Errol ongelukkig is, sukkel hy om sy ongeloof weg te steek wanneer hy praat oor sy plaas. Hy sê hy het nooit gedink iets so perfek en magies bestaan nie. Met swaaiende arms, sê hy: “Kyk hoe mooi is dit. En hier verskaf ek ook aan mense werk wat hulle lewens ook op ’n manier verbeter.”

Amanzi het tans sewe permanente, 30 tydelike en 80 seisoenale werkers. Ses van die permanente werkers bly op die plaas. “Ek het ’n baie goeie verhouding met almal van hulle. Ek is baie streng en baie van my militêre opleiding soos strategie en vooruitbeplanning kom baie goed te pas hier. Ek werk ook saam met hulle en my raad is altyd: As jou werkers gelukkig is, sal jou boerdery floreer.

Mense wat vir jou werk, is nie net werkers nie – hulle is deel van ons lewens en ons moet terug in hulle ook ploeg. Ons verskaf aan hulle en die omliggende gemeenskap voer vir hul vee, vervoer indien nodig en ook sport kits vir die kinders as hulle dit nodig het.” Amanzi gee ook aan die plaaslike kleuterskool in Genadendal en Senior Citizen-tehuis appels en pere. Wat is die lesse wat die lewe al vir Errol geleer het? “Om nooit op te hou droom nie en om so plat as moontlik op die aarde te bly. Ek is wie ek is en gaan nie verander net om mense tevrede te stel nie. Harde werk en uithouvermoë het nog niemand in die steek gelaat nie. Kap net aan!”

Foto’s: Dale Fourie

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.