Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Bokke! Só vier ons soete oorwinning
27 November 2019


Teen die tyd wat jy dít lees, het die Springbokke reeds die Wêreldbeker gewen; dit huis toe gebring en afgeshow; en is die ou wat die Springbroekie, oftewel die Fafbloemer, gemaak het waarskynlik reeds ’n miljoenêr.

Skielik weet jy, soos ek, nie wat om met jou naweke te maak nie, want vir die afgelope twee maande het ons permament Bokkoors gehad. As jy nie wedstryde gekyk het nie, was jy besig om om die braaivleisvure of op sosiale media oor rugby te gesels en in sommige gevalle te stry.

’n Mens wil half onaardig voel, maar dis als oukei as jy eerder op die goue medalje en die Web Ellis-trofee fokus.Foto: Getty Images

As jy soos ek is, het jy al die heruitsending van die eindstryd 20 keer gekyk en elke moontlike genot uit die Engelse se verdriet geput. Jy het seker ook by dié tyd nie meer ’n traan in jou liggaam oor nie. Ek onthou nog presies waar ek was toe die Bokke in 1995 op tuisbodem die William Webb Ellis-trofee gewen het. Elke speler in daardie eindstryd se name is vir ewig in my brein vasgebrand. Ek is daarvan oortuig dat die meeste Suid-Afrikaners vir jare nog gaan praat oor daardie skoppie van Makazole Mapimpi wat tot sy drie gelei het.

Nog meer mense gaan praat oor hoe Cheslin Kolbe vir Owen Farrell laat gras vreet het onderweg na een van die mooiste drieë wat jy ooit gaan sien. Ons gaan ons kleinkinders nog trots vertel van Faf en Lood en Beast en al die ander merkwaardige Bokke. Ek weet nie hoekom nie, maar rugby het hierdie manier om die mooiste en die beste in Suid-Afrikaners uit te bring.

Maar dit het ook die manier om die lelikste maniere uit ons volkie na vore te bring en hier kan ek nie verder kyk nie as die alewige gekibbel tussen daardie Suid-Afrikaners wat die All Blacks ondersteun en die groot meerderheid wat hul tuisland ondersteun.

All Black vs Bok fans

Nou ek is een van daardie ouens wat dit moeilik vind om te verstaan hoekom jy ’n ander land in sport sal ondersteun. Ek is ook ’n chroniese chirper van daardie ouens wat wel die vyand ondersteun. Maar hoekom moet dit altyd lelik raak? Ék glo ’n mens kan wel rugby praat sonder om mekaar seer woorde te gee. Ek like ouens moet my gas gee, want gewoonlik is my comeback soet.

Wat is soeter as ’n Wêreldbekertriomf? Ek moet ongelukkig ’n bietjie stilstaan by hierdie tweegeveg tussen die Suid-Afrikaners en die kamma-Nieu-Seelanders. Daar is nie een argument wat ek nog nie gehoor het nie en na my mening word daardie argumente gereeld met feite verwoes. “Ons support die All Blacks oor apartheid.” Maar hulle het apartheid ondersteun deur nie Maori-spelers te kies toe hulle hier kom toer het nie.

“Die Bokke het altyd net wit spelers gekies.” Maar die Nieu-Seelandse Rugbyunie het toegelaat dat ’n leliewit span daar gaan toer, terwyl die res van die wêreld nie teen die Bokke wou speel nie. “Ja, maar die Boere beheer die sport.”

Is dit nie ’n bietjie rassisties nie? By the way, hoeveel nie-wit afrigters het die All Blacks al gehad? “Ja, maar die All Blacks speel mooi rugby.”

Die All Blacks het die Wêreldbeker drie keer gewen. Dieselfde aantal kere as die Bokke. Al verskil is die All Blacks het ’n voorsprong van ervaring in twee World Cups, 1987 en 1991, gehad. Daar is baie argumente, maar ek het besluit om maar die ouens wat ’n span ondersteun wat volksvreemde dansies uitvoer eerder as hul eie mense, te laat gaan.

Hulle sal altyd ’n minderheid in Suid-Afrika wees, so ons hoef ons nie aan hulle te steur nie. Sommige mense ondersteun die All Blacks omdat hul ouers hulle ondersteun. Hulle sal nooit daardie oorweldigende gevoel van trots ervaar wanneer jou hele land opgewonde is, maar jy moet met jou swart truitjie iewers wegkruip nie.

Nou vir die lekker dinge. Ek dink dit was Oprah wat gesê het elke mens het ’n storie. Tussen al die euforie van wêreldkampioene het die stories van ons spelers begin deursypel. Duane Vermeulen wat deur ’n enkelma grootgemaak is nadat sy pa oorlede is toe hy maar sewe was.

Mapimpi wat sy ma, suster en broer aan die dood afgestaan het. Drie jaar gelede wou hy gaan rakke pak vir geld. Cheslin Kolbe wat te klein geag is vir professionele rugby. En dan Siya Kolisi. Almal ken sy storie van hoe hy sekere dae nie eens kos gehad het om te eet nie, maar tog uiteindelik die Wêreldbeker omhoog gehou het.

Cheslin Kolbe is oorweldig en sy span het SA se derde Wêreldbeker verower. Foto: Getty Images

Skep moed

Nou hierdie is net ’n handjievol van die stories van ’n groep spelers wat uit verskillende agtergronde gekom het om ’n span te vorm wat die wêreld oorwin het. Wat kan ons as gewone mense uit hierdie sege leer? Baie dinge.

Eerstens dat daar greatness in elkeen van ons is. Jou wegspringplek is dalk nie altyd wat dit moet wees nie, maar jou eindbestemming is waarop jy moet fokus. Hierdie Bokspan is ’n bewys daarvan dat enigeen die hoogste sport kan bereik in iets wat hy of sy aanpak. Armoede is nie ’n verskoning om nie bo jou omstandighede uit te styg nie. Dit moet eintlik die rede wees hoekom jy uitstyg.

Tweedens is rugby nie net tot een groep mense beperk nie. Rassie Erasmus moet krediet kry daarvoor dat hy, hopelik vir altyd, die idee nekomgedraai het dat ’n sekere bevolkingsgroep beter in rugby is as ander. As elke ou ’n gelyke kans kry, gaan die bestes bo uitkom. ’n Mens kan net hoop dat kaalvoetkinders van Nababeep tot Soweto en Pearston tot Pofadder en al die uithoeke van Suid-Afrika sal besef hulle kan.

Ek wil nie te prekerig klink nie, maar die wens van my hart is dat die leiers van hierdie land hierdie oorwinning, hierdie oomblik tot voordeel van almal kan gebruik. Soms vat dit net ’n oomblik om dinge te verander.

Nog meer mense gaan praat oor hoe Cheslin Kolbe vir Owen Farrell laat gras vreet het onderweg na een van die mooiste drieë wat jy ooit gaan sien.

Watter wonderlike oomblik is dié nie? Ek is al so keelvol (ek kan aan ’n sterker woord dink, maar sal dit eerder nie hier gebruik nie) vir politici wat ons mense teen mekaar afspeel. Ons almal het dieselfde begeertes, behoeftes en drome en as hulle die vermoë het om ons daarmee te kan help, moet hulle dit doen en ophou met kleinlike politiek wat verdeeldheid saai. Dan wil ek ook net ten slotte praat oor die ondersteunerstrui. Daar is nie beperkinge op hoe en wanneer jy hom kan dra nie.

Vir die volgende vier jaar kan jy hom oral en soveel keer moontlik dra, sonder om sleg te voel. Jy kan met hom werk en kerk toe gaan en jy kan hom in die bed ook dra. Eintlik is dit baie belangrik dat jy dit bed toe dra, sodat jou liefie kan sien jy is ’n kampioen. As jou sogenaamde All Black-vriende kom kuier, kan jy sommer die tafel met hom dek. Daar is géén beperking nie. As jy ’n Fafbloemer in die hande kan kry, dra dit as ’n kombinasie. Was hom net gereeld, want ek het onlangs ’n ou geruik wat ek sweer dit aangetrek toe die eerste bal in Japan geskop is. Ek was nie seker of dit na sushi of braaivleisvuur geruik het nie. En wêlakapêla aan die mistroostige minderheid wat nie saam met ons vier nie.

* Foto’s: Peter Abrahams/Son en Gallo Images/Getty Images

* Illustrasie: Ryan Carolisen

Meer oor:  Wb-Rugby  |  Kuier  |  Bokke  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.