Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Bou op geloof
06 Februarie 2019

Daar is ’n gesegde wat lui, “couples who pray together, stay together”, wat jou laat dink dat hierdie gesegde dalk net van toepassing is op paartjies wat saam in die bediening is. Maar beteken dit noodwendig hierdie paartjies se huwelik is perfek omdat hulle die Here dien?

Pastoor Mark Mini (37) van die Chris­tian Revival Church in Mitchells Plain en Kuilsrivier in die Kaap, meen wel paartjies wat die Here saam loof en prys, het meer respek en liefde vir mekaar omdat hulle mekaar op ’n dieper vlak verstaan en weet dat hul God veel groter is as hul huwelik en enige ander probleem wat na hul kant geslinger word.

“As paartjies saam in die bediening is, leer dit hulle om onselfsugtig, vrygewig en liefdevol te wees teenoor ander en sodoende ook mekaar. Hulle leer om nie net op hul eie probleme te fokus nie en begin om mekaar meer te waardeer omdat hulle in die kerk in ’n omgewing is waar hulle leer en verstaan dat daar mense is met groter probleme as hul eie. Alle huwelike gaan deur verskeie uitdagings en probleme, maar dis die manier hoe jy dit hanteer wat die verskil maak,” meen Mark.

Volgens Mark, wat al vir die afgelope 12 jaar getroud is met sy vrou, Melissa (34), is ’n huis wat se fondasie gebou is op die Woord van die Here, wysheid, liefde en verstandhouding, ’n staande huis.

“Ek het al baie paartjies gesien wat te veel na ander dinge kyk vir hul geluk, en nie na God nie. As ek en my vrou stry of ’n struweling het waaroor ons nie met mekaar saamstem nie, kry elkeen ’n spreekbeurt. En die een bly stil tot die ander klaar gepraat het. Daarna gaan ons na die Woord van die Here waarna Hy vir ons die weg sal wys. Kommunikasie in enige huwelik is van kardinale belang. Mense moet leer om met hul eggenoot te praat oor dinge wat hulle kwel. Sodra kommunikasie gestaak word, word ’n verhouding gewurg. En ’n gewurgde verhouding is nie vir een van die betrokke partye voordelig nie.”

Egskeidings

Volgens hom trou baie mense omdat hulle die vlees liefhet. “’n Mens trou vir die vlees, maar as jy saam dien, begin jy jou ander helfte beter ken en beter te verstaan. Dan groei daar ’n ander liefde binne in jou vir jou maat, een waarvan jy nie eens bewus van was nie. Die Bybel beskryf dié liefde as een bo begrip. Dís die tipe liefde wat huwelike nodig het om die toets van tyd en enige ander struikelblokke te oorleef.”

Hoewel ons in meer moderne tye leef en vroue meer as ooit tevore hulself bemagtig, is daar tog baie wat in ongelukkige (en abusive) huwelike bly oor wat die Woord hulle oor egskeidings leer.

Mark antwoord eerlik: “As daar na egskeidings gekyk word, moet jy die situasie van alle kante bekyk. Wat op een van toepassing is, werk nie vir die ander nie. Jy kan nie van iemand wat al byvoorbeeld emosioneel, fisiek en verbaal mishandel word, verwag om in die huwelik te bly nie. As jy alles gedoen het om jou huwelik te red volgens die Woord van God, glo ek dat God nie sal wil hê dat jy langer in ’n huwelik bly wat jou aftakel nie, net omdat ons gesê word die Here sal jou straf as jy ’n egskeiding kry nie. Deur die genade van die Here sal jy vergewe word. As jy jou in so ’n situasie bevind, moet jy daar uitkom.”

Volgens Mark moet eggenote nie net 50/50 gee nie, maar ’n volle 100% in mekaar ploeg. “Ons moet God die middelpunt maak van ons unie. As God die middelpunt is van ’n huwelik kan ’n mens amper enigiets trotseer. ’n Goddelike ver­bin­tenis is onwrikbaar.”

Nog ’n Godsman, ds. Pedro October (52) van die VGK-gemeente op Vredendal in die Wes-Kaap, sê mense moet besef dat die tye en denke met die aanloop van duisende jare verander het. Pedro is al vir die afgelope 21 jaar in die bediening en 25 jaar getroud met sy vrou, Angela (52).

“Geestelike leiers is almal net mens en beleef en ervaar die lewe soos enige ander mens daarbuite. Of jy nou bekeer is of nie. Dit is nie waar dat geestelike leiers se huwelike perfek is nie. Die uitdagings is soms net groter omdat daar soveel mense is wat na jou opkyk. God kom eerste in alle opsigte en daarna die huwelik en die gesin. ’n Mens moet altyd probeer om emosioneel en rasioneel na ’n situasie te kyk.”

Pedro sê die hele persepsie van egskeidings kom uit die Ou Testament uit.

“Daar is baie streng wetgewing oor die huwelik en wat die vrou en man se rolle in ’n huwelik is. Ons lewe egter in ’n ander konteks en in ’n ander tyd. Ons lewe nie meer onder dié wetgewing nie, maar ons lewe onder en deur die genade van God. Daar is nou ruimte vir mense wat geskei is, mense wat homoseksueel is, mense wat moordenaars is – waarvoor daar nie noodwendig in die Bybelse tyd ruimte voor was nie. As jy die wet oortree het, was jy doodgemaak. Ons lewe in die tyd ná die geboorte van Jesus; ná Sy omwandeling op die aarde toe Hy ruimte gemaak het vir almal ongeag watter tipe sonde en onreg jy gepleeg het aan ander,” verduidelik hy.

“Oor die kwessie van egskeidings glo ek daar is ruimte vir vergifnis. Die waardes wat vroeër jare die basis van ’n huwelik gevorm het – liefde, respek, vergewensgesindheid – is nie meer daar nie, dit ontbreek. Mense besluit dan om eerder uitmekaar te gaan as om mekaar te verwoes en te vernietig. En die Here se genade en Sy liefde is steeds vir hulle ook genoeg.”

Volgens Pedro moet daar deur die bril van Jesus gekyk word na mekaar voor daar veroordeling plaasvind. “As jy daardie bril opsit, dan kyk jy met liefde na mekaar. Sonder vooroordele. Jy kyk dan na iemand met die wete dat almal tweede en selfs derde kanse in die lewe benodig, jy kyk dan deur die oë van vergifnis. As ’n mens kyk na mense en dinge uit die oog van God se genade en Sy liefde en omgee vir alle mense, sal jy dinge baie beter sien.”

denke verander

Pedro sê voorts denke oor sekere dinge het verander. “Denke oor God, geloof, die kerk, huwelik en sommer baie dinge het oor die klompie jare verander. Ons lewe in ander tye en daar moet anders oor dinge gedink word. Mense moet leer om aanpassings te maak in hul denke omdat niemand behalwe God regtig mense kan veroordeel nie. Ons gee te maklik op en draai te gou om. Met elke stormwind wil jy opgee voordat jy eers probeer het om die storm trompop te loop en te trotseer.”

En wat is sy resep tot ’n gelukkige huwelik? “Om onselfsugtige liefde te hê in die huwelik en in alle verhoudings. Jesus het Sy volk onselfsugtig lief. Die liefde laat ’n mense verby die tekortkominge en gebreke kyk en laat jou die goeie oor ’n persoon waardeer omdat jy nie boekhou van alles wat verkeerd is nie. Die liefde moet bedek, hy moet toemaak. Dit moet vergewe en vergeet. Dit laat ’n mens toe om weer van voor af te begin en jou los te maak van die verlede voor jy dié liefde geken het.”

Meer oor:  Pedro October  |  Kuier  |  Godsman  |  Mark Mini
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.