Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Buite die eg: Kinders het álmal dieselfde regte
4 Maart 2020


Vir baie jare moes baie buite-egtelike kinders aan die agterste speen suig omdat hulle nie ten volle deur hul families of die wet erken is nie. Nie net moes hulle die finansiële en emosionele storms van dié stereotipe hanteer nie, hulle is dikwels ook skeef aangekyk.

Maar met die inwerkingstelling van die nuwe Kinderwet in 2005 het die regte van dié kinders drasties verander en hulle kan nou uiteindelik aanspraak maak op wat hulle toekom, veral met betrekking tot erfporsies en onderhoudgeld. Kragtens dié wet verkry die pa van ’n buite-egtelike kind ook nou ouerlike regte en verantwoordelikhede teenoor ’n minderjarige kind sonder dat dit vir hom nodig is om hom tot die howe te wend.

Hoewel dié wet al in 2005 in werking getree het, loop onskuldige kinders wat buite die huwelik gebore is, steeds deur in ons gemeenskappe. In ’n tyd waar ons meer verdraagsaam teenoor mekaar geraak het wat diskriminasie en aanvaarding betref, hoekom word dié kinders steeds anders behandel en na verwys as buite-egtelik?

’n Buite-egtelike kind, of illegitimate child, is bloot ’n kind wie se ouers nie getroud was ten tyde van die kind se geboorte nie. Histories en in menige lande regoor die wêreld, insluitend Suid-Afrika, was sulke kinders erg benadeel deur wette wat vandag as wreed en onregverdig bestempel sou word. Buite-egtelike kinders kon byvoorbeeld vroeër dikwels nie van hul ouers erf nie en hul reg tot onderhoud vanaf hul ouers was ook beperk. Ons Grondwet en spesifiek die Kinderwet van 2005, het die situasie heeltemal verander. In hierdie en ander wetgewing word kinders se regte nie meer gekoppel aan hul ouers se huwelikstatus nie.

Word nie erken nie

Natasha Josephs (32) van Athlone in die Kaap sê haar hele lewe lank voel sy al soos ’n buitestander. “My ma en biologiese pa het ’n verhouding gehad toe my ma met my swanger geraak het. My ma het geweet my pa is getroud ten tyde van hul verhouding, maar die twee het hulle blykbaar min hieraan gesteur.”

Volgens Natasha is die verhouding beëindig toe haar ma se swangerskap op die lappe kom. “Dit was nou nie meer ’n skelm-ding nie, so die pret was weg. Wat nie weg was nie, was die ongebore kind wat elke dag in my ma se maag gegroei het.” Sy vertel dit het haar gedurende haar grootwordjare glad nie gepla oor hoekom haar pa nie teenwoordig was in haar lewe nie.

Toe hy sterf, het hulle wéér alles gekry. Ek het nie gevra om hier te wees nie en nes hulle was ek sy kind. Die gereg het ons destyds lelik gefaal . . .

“Die vriende wat ek gehad het, het ook nie pa’s gehad nie. Vir baie kinders in bruin gemeenskappe is dit die norm.” Met ouderdom het vrae egter gekom. “Dit is toe ek die regte storie uitvind. Ek het altyd gewonder hoekom die antie langsaan altyd na my verwys het as illegitimate, maar het nooit verstaan wat sy daarmee bedoel het nie en dit is toe ek begin vrae vra.”

Natasha het haar pa opgesoek, maar dié het ontken dat sy sy kind is. “Ons het bloedtoetse gedoen en daar is bevind dat ek wel sy kind is en hy het toe begin onderhoud betaal. Maar sjoe, die haat wat ek in my vir hom gehad het omdat hy my ontken het, is steeds hier. Hy was gesien as ’n familieman wat alles vir sy kinders sou doen, maar hoekom het hy my nie ook dieselfde behandel nie?” wil ’n tranerige Natasha weet.

Kim Silliers (43) van Bloemfontein sê ook sy dra steeds die emosionele letsels omdat sy ’n buite-egtelike kind is. “My pa se familie het al die tyd geweet van my. Hy het van die begin af aan my ma onderhoud betaal en al het ek hom baie min gesien, het ek geweet hy bestaan.” Sy sê hoewel haar pa se gesin bewus was van haar bestaan, was hulle nooit verwelkomend nie. “Ek en twee van my sibbe was by dieselfde skool, maar hulle het bloot gemaak asof hulle my nie ken nie.”

Toe haar pa sterf, het dinge nog erger geraak. “Hulle het ’n goeie lewe gehad. My ma het my maar sukkel-sukkel grootgemaak met die bietjie wat sy gehad het en die bietjie wat sy van hom gekry het. Met sy afsterwe het ek gedink daar sou die moontlikheid wees dat ek darem iets sal erf. Ek het my lelik misgis.” Ingevolge die wet destyds kon Kim nie erf nie, tensy sy benoem is as ’n erfgenaam in haar pa se testament. “Dit was letterlik vir my die kersie op die koek – terwyl hy gelewe het, het hulle alles gekry en selfs toe hy sterf het hulle wéér alles gekry. Ek het nie gevra om hier te wees nie en nes hulle was ek sy kind. Die wet het ons destyds lelik gefaal . . .”

Jou regte

Bertus Snyman, ’n prokureur en vennoot by Hopkins & Snyman Prokureurs in Kaapstad, sê buite-egtelike kinders het nou dieselfde regte as ’n kind wat binne die huwelik gebore was. “Dit was egter nie altyd die geval nie.

In terme van Suid-Afrika se gemenereg kon ’n buite-egtelike kind nie van sy of haar pa se intestate boedel (wanneer iemand sonder ’n testament sterf) erf nie. Artikel 1(2) van die Wet op Intestate Erfopvolging maak nou uitdruklik voorsiening daarvoor dat dié kinders nou dieselfde regte geniet as kinders wat binne die huwelik gebore is.”

Volgens Bertus bepaal die Wet op Testamente nou ook, tensy die testament anders aandui, dat ’n verwysing na “kind” of “kinders” in ’n testament so geïnterpreteer moet word om onder andere buite-egtelike kinders in te sluit. Alle minderjarige kinders mag natuurlik ook ’n eis vir onderhoud instel teen ’n ouer se boedel in gevalle waar die oorlede ouer in sy of haar testament nie voorsiening maak vir die kind se onderhoud nie.” Bertus sê voorts hy stem saam met die sentiment dat die konsep van ’n “illegitimate child” outyds is.

“Dit word ook dikwels op ’n neerhalende wyse gebruik. Dit is egter twyfelagtig of so ’n eis (as iemand jou illegitimate noem) suksesvol vervolg sal word bloot omdat alle Suid-Afrikaners die grondwetlike beskerming van vryheid van spraak geniet.”

Tog erken Bertus dat dit uit ’n hipotetiese oogpunt vervolg mag word as ’n kriminele oortreding omdat dit as ’n crimen injuria gesien kan word. Crimen injuria word gedefinieer as ’n onwettige en opsetlike handeling wat iemand se waardigheid ernstig benadeel. “Ek is egter nie bewus van enige sake waar dit al gebeur het nie. ’n Siviele eis om skadevergoeding sal waarskynlik ook nie maklik suksesvol wees nie. ’n Meer gepaste oplossing is dalk om aansoek te doen vir ’n beskermingsbevel.

As neerhalende stellings van hierdie aard deel vorm van ’n wyer patroon van verbale en ander mishandeling, kan ’n saak uitgemaak word dat die slagoffer geregtig is tot ’n beskermingsbevel ingevolge die Wet op Gesinsgeweld of die Wet op die Beskerming teen Teistering. Die meriete van so ’n saak sal egter afhang van vele ander faktore.” Die wiel van die gereg draai stadig, maar tog seker. En al het dit jare geneem vir dié kinders om te kry wat hulle wettiglik toekom, het die Kinderwet van 2005 gesorg dat alle kinders gelyk is. Geen kind verdien om deur die lewe te gaan as ’n buitestander of ontneem te word van hul regte nie – buite-egtelik of te not!

64,1%
Dís die persentasie Suid-Afrikaanse kinders wie se biologiese pa’s afwesig is. Sowat 8,7% se pa’s is oorlede en 55,4% s’n bly nie in dieselfde huis nie.
Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.