Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Chirurg se inspirerende werk onder vroue met borskanker
8 Augustus 2018

Dokter Karin Baatjes (44) is meer as net ’n chirurg wat mense se lewens red en ’n dosent wat toekomstige dokters help oplei.

Haar passie vir mense strek verder as werk. Karin, die jongste van vyf kinders, is oorspronklik van De Aar in die Noord-Kaap.

Op sewe het hul gesin Kaap toe getrek. Sy het later in Kraaifontein skoolgegaan en aan Scottsville Sekondêr gematrikuleer. “Ek is baie trots om met Scottsville geassosieer te word,” vertel Karin in haar kantoor in Tygerberg. Haar ouers was albei onderwysers en sy sê dis een van die redes hoekom sy so akademies gerig is.

Ná skool het sy medies by die Universiteit Stellenbosch studeer. Karin se kantoor sê baie oor wie sy is. Tussen die boeke en foto’s van haar gradeplegtighede, is die ding wat die meeste uitstaan, ’n handgetekende portret. Dit is ’n portret van die vroulike bolyf wat sy as geskenk by ’n groep van haar studente ontvang het.

Sy sê haar werk het drie komponente wat geïntegreerd is: Om ’n dokter te wees, navorsing en om mediese studente op te voed terwyl sy werk. Dit was altyd Karin se plan om ’n chirurg te word en nie net ’n dokter nie, omdat sy daarvan hou om met haar hande te werk. “Ek hou daarvan om vinnig die impak te sien. Ek is ongeduldig van aard. In chirurgie kan jy die verandering vir die persoon maak, byvoorbeeld, as jy die blindederm uithaal, gaan die pasiënt die volgende dag beter wees. Dis baie bevredigend.”

Haar werk in borskanker is waaraan sy die meeste van haar tyd bestee. Sy is ’n algemene chirurg, maar opereer grootliks op borskankerpasiënte by Tygerberg-hospitaal waar sy sedert 2000 werk. Sy sê sy het ’n sagte plek in haar hart vir vroue met borskanker. “Dis nie iets wat jy self veroorsaak nie.

Met borskanker, ja daar is risiko-faktore, maar daar is nie ’n vasgestelde oorsaak nie. Ek het in die privaatpraktyk ook gewerk. Of jy in die privaat- of openbare praktyk werk, die pasiënte is basies dieselfde. Hulle is toegewyde vroue wat beter wil word en hul lewens vir hul families wil verbeter. Dit is lekker om met hulle (die pasiënte) te werk.”

Jy moet ’n goeie chirurg wees of jy ’n man of ’n vrou is. Dit gaan oor die werk wat jy doen, nie oor wie dit doen nie.

Geseënde lewe

Karin sê sy was nog altyd geseënd. Haar ouers het vir haar studies betaal en al wat sy moes doen, was om goeie punte te kry. Dinge was egter nie altyd sonder uitdagings nie. In 2000 het haar pa, Fred (61), ’n maand nadat sy in chirurgie begin spesialiseer het, afgesterf. “Dit was baie moeilik toe hy oorlede is.”

Dit was een van die redes hoekom Karin nie tyd gehad het om op enigiets behalwe haar studies te fokus nie. Sy was die enigste vroulike kliniese assistent toe sy in 2000 begin het, maar sê geslag was nog nooit iets wat baie op haar gedagtes was nie. “Jy moet ’n goeie chirurg wees of jy ’n man of ’n vrou is. Dit gaan oor die werk wat jy doen, nie oor wie dit doen nie. Toe ek begin het, het mense altyd vir my gevra hoe ek kan opereer met sulke klein hande of hulle is verbaas om te sien hoe kort ek is. Moet ek dan nou lank wees?” grap sy.

“Ek het nie tyd gehad om te dink aan wat die mans besig was om te doen nie. Dit was baie harde werk. Ek het net my kop bo water gehou en gefokus.” Harde werk werp vrugte af, maar tydens haar finale jaar voordat sy as ’n chirurg gekwalifiseer het, is haar ma, Evelyn (79) met borskanker gediagnoseer. Dit was ook in daardie jaar toe sy in Tygerberg-hospitaal se borskankereenheid begin werk het en waar sy steeds vandag werk. “Dit is nie wat my gedryf het nie. Borskanker is so algemeen. Baie van my vriende se ma’s het dit al gehad. Baie mense ken iemand wat dit al gehad het.”

Karin (links voor) is besig in die teater by Tygerberg-hospitaal met ’n borskankerpasiënt as deel van die Flamingo-projek.

Haar ma se diagnose het ’n beduidende impak op haar gehad en die feit dat sy ’n dokter is, het dit soveel meer uitdagend gemaak. “Sy het ’n operasie en behandeling ontvang. Dis baie anders om die dokter te wees as om die dogter te wees. Dis ’n heeltemal ander ball game. Dis baie moeilik, want jou ouer kyk ook na jou om advies te gee en haar gerus te stel. Dit was moeilik om haar nie te behandel nie en om die kind te bly, want dis wat jy bedoel is om te doen, om ondersteuning te gee, nie om te behandel nie. Ek het ook by haar gebly.”

Karin moes dus borskanker by die huis en by die werk in die gesig staar. Haar gesig helder egter op terwyl sy oor haar ma se komende verjaardag praat. “Sy word op 15 Augustus 80. Ons is almal baie opgewonde daaroor.”

Karin is vanjaar as hoof van die Universiteit Stellenbosch se afdeling Anatomie en Histologie aangestel. Karin handig ook binnekort haar tesis vir haar PhD in. Haar onderwerp kyk na ’n tipe behandeling wat postmenopousale vroue vir borskanker ontvang. Dis iets wat haar sewe jaar geneem het om te voltooi en ’n opgewonde Karin het reeds ’n lys dinge saamgestel wat sy gaan doen wanneer sy klaar is. “Ek hou van reis. My werk het my baie geleenthede gegee om te reis. Ek wil graag Denemarke toe gaan. Ek wil ook meer hardloop, want jy voel net soveel beter.”

Karin beplan ook om blatjang en konfyt te maak, ’n stokperdjie wat sy ’n ruk gelede begin het. Sy het ook altyd vir haar vriende gekook. “Al hierdie dinge wat ek altyd gedoen het, wil ek weer doen.” Sy sien die meeste daarna uit om tyd met haar familie te spandeer. “My familie is belangriker as enigiets anders,” benadruk sy.

Help ander

Sy het geen kinders van haar eie nie en voel daarom baie sterk daaroor dat sy van haar vermoëns moet oordra om ander mense se kinders se lewens ’n bietjie makliker te maak. As individu help sy altyd wanneer sy gevra word by skole en ander plekke. In 2015 het sy 440 baadjies en 700 pare sokkies vir leerders by ’n skool in Delft ingesamel.

En vir haar 42ste verjaardag het sy besluit om ’n 42 km-marathon te hardloop met die doel om R42 000 in te samel. “Ek hou van syfers,” lag Karin. Sy het verwagtinge oortref deur R57 000 vir die borskanker-ondersteuningsorganisasie, Reach for Recovery se DITTO-projek in te samel.

Die projek verskaf eksterne prosteses wat vroue wie se borste verwyder is, in hul bra’s sit. Sy is ook ’n raadslid van Reach for Recovery. Die projek waaraan sy tans die meeste van haar tyd spandeer, is die spensprojek by die mediese kampus. Dis basies ’n oop kas met kos en higiëniese produkte vir studente wat in die nood is. Elke koshuis het so ’n kas en aan die begin het Karin van haar eie geld gebruik om produkte vir die projek te koop. Hulle hou nou elke kwartaal ’n wedloop om produkte en geld vir die projek in te samel. Karin voel veral baie sterk daaroor dat daar higiëniese produkte moet wees.

“Dis maklik om vir iemand ’n sny brood te vra. Dis nie maklik om iemand vir enige tipe higiëniese produk te vra nie.” Karin is ook betrokke by Project Flamingo, waar dokters hul dienste gratis beskikbaar stel deur elke tweede maand op borskankerpasiënte by Tygerberg- en Groote Schuur-hospitale te opereer. Karin is onseker hoe om te reageer op die vraag oor waar sy tyd kry vir alles. “Ek doen baie van my navorsing ná-ure. As jy wil en jy voel baie sterk oor iets, sal jy tyd maak.” Sy mag baie suksesvol wees, maar dr. Karin Baatjes is saggeaard en plat op die aarde met ’n sagte plek in haar hart vir haar medemens.


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Inspirasie  |  Borskanker  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.