Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Covid-19 eis suster: Geliefdes diep geruk
28 Mei 2020


Vir die familie van Petronella Benjamin (61) van Eersterivier in die Kaap is haar skielike afsterwe steeds ’n hartseer onwerklikheid, want slegs ’n paar weke gelede het hulle nog saam met hul blakende gesonde mammie op die stoep gesit en haar aftrede beplan.

Petronella, beter bekend as Ma Nellie of Nurse Benji, is die eerste gesondheidswerker in die Wes-Kaap wat weens Covid-19 gesterf het. Ná meer as 30 jaar diens as ’n verpleegster wou Ma Nellie haar laaste dae by die werk gebruik om vir al haar pasiënte en medewerkers totsiens te sê. Nooit sou dié getroue verpleegster kon raai dat dit sý is wat gegroet sou word nie . . .

’n Dag voor Petronella se aftrede het die koue hand van die dood haar kom haal op 29 April. En in plaas van toegegooi word onder afskeidgeskenke en blomme, moes haar naastes hul laaste eer aan haar betoon met begrafnisruikers op 5 Mei. Ma Nellie word oorleef deur haar man, vyf kinders en nege kleinkinders.

Enkele dae nadat Ma Nellie ter ruste gelê is, het die tweede Wes-Kaapse gesondheidswerker afgesterf. Ntombizakithi Ngidi, ’n verpleegster in die Tygerberg-hospitaal, is die tweede verpleegster in die provinsie wat die stryd teen Covid-19 verloor het. Tygerberg-hospitaal is een van die eerste designated gesondheidsfasiliteite in die Wes-Kaap wat toegerus is om mense vir Covid-19 te toets en te behandel. Wat Petronella se storie so besonders maak, is dat hierdie vrou tot op die laaste mense versorg en gedien het.

Benewens haar werk as ’n verpleegster by verskeie hospitale, laaste by ’n kliniek in Langstraat in Kaapstad, was sy ook ’n pastoor by die Full Gospel-kerk met ’n graad in teologie. Dié getroue Godsvrou het ná werk en naweke dié roeping vervul. En wat dinge boonop nog erger maak vir die Benjamin-familie, is die feit dat hul pa ook die virus opgedoen het. Edwin Benjamin (60) is steeds in die intensiewesorg-eenheid by ’n hospitaal in Kuilsrivier.

Ten tyde van sy vrou se begrafnis was Edwin in ’n kritieke toestand in die hospitaal en kon hy nie vir die vrou, saam met wie hy vir meer as 38 jaar getroud was, totsiens sê nie. Edwin moet in die hospitaal bly tot hy negatief vir die virus toets.

Ontroosbaar

Covid-19 saai al vir die laaste paar maande verwoesting regoor die wêreld. Die lewe soos ons dit voorheen geken het, is op sy kop gedraai. Een van die ergste dinge om in dié tyd te gebeur, is om ’n geliefde aan die dood af te staan, want in hierdie tyd kan julle nie eens, soos altyd, mekaar vertroos nie. Daai drukkie, wat enige seer ’n bietjie beter kan maak, is nou die drukkie wat jou lewe in gevaar kan stel.

Dis die drukkie wat kan veroorsaak dat ook jy die stryd teen die onsigbare vyand, Covid-19, kan verloor. Ook vir die Benjamin-familie was dié seer baie seerder omdat die nabyheid en genesing van familie in hierdie moeilike tye ontbreek. “Om in normale omstandighede iemand te verloor, is hartverskeurend, maar wanneer jy ’n groot gees soos my ma verloor en dan nie eens jou broers kan vertroos nie, is iets wat my hart keer op keer breek wanneer ek daaraan dink,” sê Alicia Maart (41), Ma Nellie se dogter, terwyl haar keel toetrek voor die trane oor haar wange begin loop.

Wanneer ’n mens haar egter vra oor die soort mens wat haar ma was, maak dié vrou se trane vinnig plek vir ’n glimlag op haar gesig. “Sy was die backbone van die familie. Sy het nie net ons gesin nie, maar die breër familie bymekaargehou. Sy was die gom van die Benjamin-gesin. ’n Vrou wat gelewe het vir God en haar werk.”

Die begrafnis van Petronella Benjamin.

Geliefd deur baie

Dis haar tweede jongste seun, Marvin (34), wat saggies vertel dat sy ma nie net vir hulle ’n ma was nie, maar ook vir die gemeenskap en die bure. “Sy was ’n commissioner of oaths en ook ’n pastoor. So baie mense het hier by die huis in en uit gekom om net met haar te praat, want sy het altyd reggestaan met bemoedigende woorde en raad. Dit is ook wat baie van haar pasiënte gesê het ná haar afsterwe. Jy kan by haar kom en dan voel dit asof die hele wêreld op jou skouers rus, maar as jy van haar weggegaan het, was jou lewe weer ’n bietjie beter.”

Toe Ma Nellie se dood aan die lig kom, het verskeie mense op sosiale media hul medelye aan die familie betoon en staaltjies gedeel oor hul ervarings met haar. Een emosionele inskrywing lui: “Ek onthou eendag toe ek by die kliniek in Langstraat instap vir my behandeling, het ek met selfmoord geworstel. Ek wou nie meer aangaan met die lewe nie, maar sy het vir my ’n woord van bemoediging gegee en my laat besef dat ek op aarde is vir ’n rede. Ek maak saak. Dit is hoe ek haar altyd sal onthou – ’n vrou wat ’n mens nie net fisiek genees het nie, maar ook emosioneel.”

In nog ’n inskrywing vertel iemand hoe lief Ma Nellie haar familie gehad het. “Sy was baie lief vir haar familie. Die laaste keer toe ek haar gesien het, was net voor die lockdown. Sy het so uitgesien na haar aftrede en meer tyd met haar familie.” Dit is duidelik dat hierdie vrou diep spore in mense se harte getrap het. Haar kinders sê hoewel hulle geweet het dat hul ma vir baie mense ’n vertroueling en vriend was, het hulle eers met haar dood regtig die omvang daarvan besef.

“Elkeen wat ’n boodskap gestuur het, het vertel van die invloed wat sy op hulle lewens gehad het. Hulle vertel van haar liefde vir God en haar familie. En ons is bly dít is hoe mense haar sal onthou – as ’n steunpilaar, ’n ma vir baie, iemand wat altyd haar laaste gegee het,” vertel Marvin voorts. En dit is juis omdat hul ma so lief was vir haar werk dat sy nie in haar laaste dae nog siekverlof wou neem nie. Petronella was ongeveer twee weke voor sy positief getoets het vir Covid-19 siek.

Volgens Alicia, wat ook ’n verpleegster is, het haar ma griep onder lede gehad. Alicia vertel: “Dit is griepseisoen, so dit is glad nie ongewoon dat mense griep kry nie. My ma het baie gekla van kopsere en sy het ook baie gelê.” Omdat Petronella daarvan bewus was dat sy dalk Covid-19 êrens kon opgedoen het, het sy ’n dokter besoek. “Sy is getoets vir die virus en die uitslae was negatief. Die dokter het vir haar medisyne gegee en ’n week van die werk afgeboek.”

Alicia onthou hoe ontsteld haar ma was omdat die dokter haar vir ’n hele week afgeboek het. “Sy was baie upset omdat sy gevoel het dat sy haar laaste weke by die werk voluit wou doen. Dit was altyd haar redenasie. Sy wou liewer haar laaste dae op ’n hoë noot afsluit as om siek te wees en by die huis te lê.” Ná ’n week se rus was Petronella terug by die werk. “Sy was nog nie 100% nie, maar dit is hoe my ma was.

Vir haar was haar werk alles en sy was toegewyd. Haar aftrede was klaar bevestig vir 30 April. Maar toe sy weer op die been was, is sy terug werk toe. Dit was ná die Paasnaweek. Sy het gesê haar werk is nog nie klaar nie.” Haar kinders het haar tóé al gevra om nie weer werk toe te gaan nie – tevergeefs. Die kinders het besluit om nie meer aan hulle ma te karring nie omdat sy in elk geval sou doen wat sy wou doen. Die week ná Paasnaweek het Petronella weer olik begin voel.

Haar ander seun, Oneal (31), wat saam met sy ouers in die huis bly, sê hy het haar daaroor uitgevra, maar dat sy dit weggesteek het. “Sy het ’n hoes gehad, maar het gesê dis heel waarskynlik nog die griep. Elke keer wanneer ek aan haar gesê het: ‘Mammie lyk nie vir my lekker nie,’ het sy net gesê ‘ek is fine, moenie worry nie.’ ” siekte & sterfte tref Volgens Alicia wou haar ma nie by die huis bly nie omdat sy closure wou hê en al haar pasiënte en medewerkers wou groet. “Ek dink dit het meer gegaan daaroor dat sy nie op só ’n noot die departement wou verlaat nie. Al was sy siek en het sy nie soos haarself gevoel nie, wou sy steeds 100% van haarself gee.”

Volgens die familie het Petronella die daaropvolgende Maandag, 20 April, heeltemal die effek van haar siekte begin voel. “Sy het gaan werk, maar het direk ná werk gaan lê. Sy was altyd moeg en het sekere simptome getoon.” Alicia onthou hoe haar ma die Woensdag in haar kantoor gesit en haar toe gebel het. “Toe ek die foon optel en haar stem hoor, kon ek onmiddellik agterkom iets is fout. Sy het in haar kantoor gesit en opgooi en sy het ook gesê sy het ’n temperatuur. Haar asemhaling was ook nie reg nie.” Alicia se verpleeg-instinkte het ingeskop en sy het onmiddellik vir haar ma ’n toets by die hospitaal waar sy werk, gereël.

“Toe my ma daai Donderdag hier instap toe kon ek sien my ma is siek. Daai dag was ek amper 90% seker dat my ma die virus onder lede het. Ek het nog saam met my ma gestap tot by die kar en dit was die laaste wat ek haar gesien het.” Alicia se stem breek terwyl sy dink aan die laaste oomblikke toe sy haar mammie lewend gesien het. Die nuus wat hulle die meeste gevrees het, is toe bevestig – Petronella het positief getoets vir die virus en twee dae later is sy in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Alicia sê haar ma het nog die Vrydag op die foon gepraat. “Ons kon haar nog bel en sy het op WhatsApp gereageer. Dit was egter baie moeilik vir haar om op die foon te praat. Met elke oproep het sy ons net gevra om na ons pa te kyk.”

Ma Nellie het vermoedelik die corona-virus opgetel in haar eerste week terug by die werk nadat sy aanvanklik negatief getoets het. Petronella se toestand het vinnig vererger. ”Die verpleegpersoneel wat daai naweek aan diens was, was so geduldig en het ons op die hoogte gehou van haar toestand. Ek onthou die een verpleegster het nog die Saterdag vir my gesê hulle gaan vir Mammie op ’n kalmeerpilletjie sit omdat sy baie restless is.” Teen die Sondag het Petronella se toestand so verswak dat hulle haar op ’n ventilator moes sit.

“Die suster aan diens het vir my gesê Mammie het ingestem dat hulle dit kan doen solank sy net nie dood gaan nie. En toe gaan sy dood . . .” Alicia, wat gedurende die onderhoud haar emosies baie goed hanteer het, kan die trane nie meer keer nie. En op 29 April, ’n dag voor sy veronderstel was om af te tree, het Petronella haar stryd teen die virus verloor. “My pa was by die huis en heeltyd in isolasie. Hy het nog heeltyd vir my gewag en het elke keer gevra wanneer sy dan nou huis toe kom. Sy het nooit gekom nie en ook hy is hospitaal toe.”

Die kinders sê natuurlik het hulle gevrees dat hulle ook hul pa weens Covid-19 gaan verloor. “Toe ons die nuus van my ma se dood kry, het sy toestand vinnig agteruitgegaan en hy is toe ook in die intensiewe-sorgeenheid opgeneem.” Ma Nellie is op Dinsdag 5 Mei ter ruste gelê. “Ek dink dit was vir ons die moeilikste. Om iemand gedurende die pandemie te verloor, is self ’n gesukkel.”

Ingevolge die lockdown-regulasies kan slegs 50 mense ’n begrafnis bywoon en die diens mag nie langer as ’n uur duur nie. “Ons moes vir Daddy inlig dat ons sy vrou sonder hom sal moet begrawe, dit was so seer,” vertel Marvin terwyl sy stem bewe. Oor die begrafnis self is die familie steeds emosioneel. Alicia sê dit was veral moeilik vir die familie om te besluit vir wie hulle op die lys van begrafnisgangers gaan sit.

“Dit was moeilik om te besluit vir wie om op die lys te sit omdat so baie mense hul laaste eer aan haar wou betoon. Sy het op soveel mense se lewens ’n invloed gehad en dit het nie reg gevoel dat sy so ’n klein diens moet hê nie.”

Maar al was die begrafnis baie klein en kon slegs ’n klein groepie mense die diens bywoon, moet Alicia bieg dat dit ’n beautiful send-off was. “ ’n Mens kon letterlik Mammie se teenwoordigheid voel. Jy kon voel dat sy daar was en dat sy at peace is. Ook die boodskap by die diens was gepas – ‘Ons gun jou die ewige rus’. Dit was ’n emosiebelaaide diens en het elke persoon wat teenwoordig was, aangeraak.”

Die familie en vriende wat die begrafnis kon bywoon, is na die begrafnisonderneming en daarna reguit na die begraafplaas. Die familie vertel terwyl hulle van die huis na die begraafplaas in Kraaifontein gery het, het verskeie mense wat hul ma geken het, teen die pad gestaan met plakkate en blomme terwyl ander weer vir haar gesalueer het.

Marvin sê hulle het dit glad nie verwag nie, maar dit was weereens ’n bewys watter groot gees hulle ma was. “Dit was beautiful om te sien hoeveel mense actually uitgekom het net om hulle laaste eer aan haar te betoon. Dit is ’n bewys van wie sy was – ’n ma vir almal en steunpilaar.” wil reg afskeid neem Wanneer die inperking gelig word, wil die familie graag vir hul ma ’n diens hou waar haar lewe in sy volheid gevier kan word. “Dit gaan ook ons pa kans gee om totsiens te sê, om deel te wees daarvan. Ons wil ook almal die geleentheid gee om haar lewe te kom vier en hul medelye te betuig. Dit sal net gepas wees om op dié manier van haar afskeid te neem.”

In ’n persverklaring van die nasionale gesondheidsdepartement, het die nasionale minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sy medelye met Ma Nellie se familie betuig. Volgens hom het sy nié die virus by die werk opgedoen nie. Hieroor was die familie baie ontsteld. Alicia sê hulle wil nie die departement aanval nie, maar hulle moet tog hul frustrasie uiter.

“Ons is nie kwaad nie, maar ons wil net hê dat hulle dinge moet regstel. Mammie het die virus by die werk opgedoen.” Hoewel die familie nog treur oor hul ma se heengaan moet hulle positief en biddend bly vir hul pa. Marvin sê hy praat elke dag met sy pa en dié word sterker by die dag. “My ma se sterfte het hom baie erg geraak. Hy weet egter dat hy nou positief moet bly om sterker en gesond aan die ander kant uit te kom.” Die kinders sê hulle kan nie wag vir hul pa om ontslaan te word nie.

“Ons wil hom net liefhê. Die vrees dat ons albei ouers op een slag kon verloor het, is een wat jou vinnig laat besef dat die lewe kort is. ’n Mens moet die mense in jou lewe liefhê en waardeer terwyl hulle nog daar is. Een dag is hulle daar en die volgende dag nie.”

En al sit die seer van die familie nog vlak, glo Alicia haar ma het voluit gelewe. “Ja, ons wou nog so baie dinge gedoen het, sy en Daddy wou nog so baie saam gedoen het, maar ’n mens bevraagteken nie God se wil nie. Ons weet sy is gelukkig waar sy is en dat sy jubel met die engele.” Teen druktyd het 328 Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers reeds positief getoets vir Covid-19, van wie drie gesterf het.

Meer oor:  Korona-Virus  |  Kuier  |  Covid-19 Sterfte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.