Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Crystal-Donna Roberts: ’n Vrou buite die boks
8 Augustus 2018


As jy kos op die tafel wil sit, kan jy as aktrise nie altyd kies watter rol jy wil speel nie en moet jy dikwels vat wat jy kry.

Maar Crystal-Donna Roberts (33) beskou haarself as gelukkig en geseënd, omdat sy die afgelope tyd besig kon wees en ikoniese rolle soos haar een in die bekroonde fliek, Krotoa, kon vertolk en steeds in verskeie mediums van die bedryf kan groei en haar passie uitleef. En of dit nou in haar persoonlike lewe of haar werk as aktrise is, droom Crystal-Donna steeds groot en sê sy niemand anders se persepsies, opinies of invloed sal haar sukses, lewe of drome bepaal nie.

Crystal-Donna is tans te sien in die nuwe kykNET-drama, Fynskrif, wat oor die regsfirma Van Wyk & Vennote gaan. In elk van die 13 episodes het die prokureurs ’n saak wat hulle tussendeur persoonlike en familiedramas moet hanteer.

Mense mag dalk gewoond wees daaraan dat Crystal-Donna gewoonlik ernstige karakters aanpak, maar in hierdie drama geniet sy dit om die rol van Thandi Ndlovu te vertolk. Sy beskryf die karakter as die snaaksste karakter wat sy al vertolk het en een van haar gunstelinge wat sy al ooit gespeel het.

“Al is dit ’n regsdrama is daar baie elemente van haar persoonlikheid wat snaaks is soos die feit dat sy alles wil hashtag en Instagram. Maar sy weet wanneer om ernstig te wees en het ’n klassieke tipe A-persoonlikheid. As jy iets gedoen wil hê, gaan sy dit doen. Sy sê wat sy wil en daar is nie regtig ’n filterproses nie. Sy dink iets en sê dit,” vertel sy opgewonde. “Die klere wat hulle vir haar gegee het, was ook amazing. Dit was vir my groot pret om hierdie karakter te vertolk,” vertel sy.

Die tye het verander en ’n mens hoef nie meer vir ’n man te wag om dinge vir jou te doen nie.
Crystal-Donna Roberts

Basta met geslagsrol

Toe Crystal-Donna besluit om ’n aktrise te word, het sy geweet sy wou hard werk om hopelik toekennings te wen, dinge te bereik en ’n verskil in sowel die filmbedryf as die samelewing te maak. Sy wil mense en haarself uitdaag om buite die boksies waarin hulle geplaas word, te dink. Sy wil ook hê dat mense in iemand anders se skoene moet stap sodat hulle mekaar beter kan leer ken en respekteer.

Dit is ook met hierdie ingesteldheid teenoor mense en hul situasies dat sy droom alle vroue sal kan leef op die manier en tydlyn wat vir hulle die gemaklikste is, sonder die druk van die samelewing wat steeds ’n sekere persepsie oor vroue en hul rol in die samelewing het.

Ons het Crystal-Donna as ’n sterk en dinamiese vrou leer ken wat die meeste van die tyd, ten spyte van haar stralende persoonlikheid, ernstige rolle aanpak om vir ander dapper en kwesbare vroue ’n stem te gee.

En al is sy mal oor teater, sê Crystal-Donna, is dit juis die proses om heeltemal jouself te omskep in iemand anders en as daardie persoon te kan leef vir ’n tydjie wat haar so opgewonde maak oor film en televisie. Die energie op stel is iets wat sy nie kan beskryf nie en iets wat sy nooit genoeg van kan kry nie.

Sy is mal oor die uitdaging om ’n karakter te skep en lewe aan daardie persoon te bring. Nie net deur die fisiese veranderings nie, maar ook deur outentieke storievertelling en sy glo elke karakter wat sy al vertolk het, leer haar en die gehoor iets anders. “Film is ’n uitstekende manier om boodskappe oor te dra aan baie mense op dieselfde tyd en dit is hoekom ek mal is daaroor. Wat ons doen, is meer as net stories vertel en dit is iets wat vir my baie belangrik is,” sê sy.

“Mense besef daar is steeds ’n groot probleem wanneer dit kom by die manier hoe stories oor vroue vertel word. Daar is ’n gebrek aan die gebruik van sterk vrouerolle in ons bedryf en om die stories van ander sterk vroue te vertel. Ja, dit gebeur al hoe meer, maar dit is steeds nie genoeg nie. As ’n mens kyk na wat op die oomblik in Suid-Afrika met ons vroue en meisies gebeur; dit is nie reg hoe ons behandel word nie en dit is omdat mans dink dat dit oukei is om vroue en meisies sleg te behandel.”

Rolmodelle is nodig

Sy sê dit is belangrik dat vroue en meisies moet leer oor hoe om hulself te beskerm en wanneer hulle verkeerd behandel word, maar as daar nie iemand is om vir ’n jong meisie dit te sê nie, meen Crystal-Donna, is film en televisie ’n sterk platform om hierdie boodskappe oor te dra.

Sy jaag al haar drome na sonder om te skroom.

Terselfdertyd voel sy is dit ook belangrik om goeie rolmodelle rondom ons te hê en sy voel dit hoef nie net in die werklike lewe te wees nie, maar dit kan ook op televisie of in film wees. Crystal-Donna, wat ’n self ’n groot aanhanger van televisiereekse is, lag lekker wanneer sy vertel mense kyk haar altyd snaaks aan wanneer sy sê sy kyk televisie om navorsing te doen. Só word sy self deur ander sterk vroue in die bedryf geïnspireer soos skrywer en vervaardiger, Shonda Rhimes en aktrise, Viola Davis.

Dit is vir haar veral aangrypend dat vroue nou ook stories vertel wat hulle opbou en nie net stories of rolle speel waarin vroue die slagoffer is nie. “Dit is lekker om te sien dat vroue empowered word en dat daar sterk vrouekarakters op televisie is om ander jong meisies te inspireer. Ek het nou die dag ’n T-hemp gesien met die woorde: ‘Be the doctor your parents wanted you to marry’. Ek dink dit is so belangrik dat ons sulke boodskappe met ons kinders deel,” sê sy.

“Die tye het verander en ’n mens hoef nie meer vir ’n man te wag om dinge vir jou te doen nie. Nog minder moet ’n mens verwag dat ’n vrou se drome of lewe moet verander wanneer sy trou. ’n Huwelik is daar sodat julle mekaar kan ondersteun. Die een se drome is nie belangriker as die ander se drome nie en daar moet nie net verwag word van ’n vrou om net ’n ma en vrou te wees nie. Elkeen moet mekaar ondersteun vir hul eie drome en doelwitte.”

Crystal-Donna sê dit is ’n saak waaroor sy baie sterk voel en persepsie wat sy graag wil hê die samelewing moet verander. Toe sy vyf haar gelede getrou het, het sy en haar man ’n ernstige gesprek gehad waarin sy aan hom verduidelik het en hulle saam besluit het dat hulle met ’n gesin sal begin wanneer die tyd vir hulle reg is en nie wanneer ander besluit dit is tyd nie.

Sy meen baie keer ervaar ’n mens druk van familie, vriende of selfs vreemdelinge, maar dit is eintlik net ’n man en vrou se besluit wat ander moet respekteer.

“Hy het geweet daar gaan tye wees wanneer ek vir vyf weke in Johannesburg of iewers anders moet gaan bly, maar hy is fine daarmee omdat hy weet dit my droom is wat ek uitleef. Ons het saam besluit ons sal dit maak. Ek is dankbaar om ’n man en familie te hê wat my drome ondersteun en wat nog altyd vir my gesê het dat ek enigiets kan bereik wat my hart begeer,” sê sy.

“Dit is iets wat so belangrik is en wat ons vir al ons jong mense en veral meisies moet leer. Jy kan enigiets bereik en dus is dit vir my lekker wanneer ek geleenthede kry soos onlangs toe ek die Cannes Film Festival kon bywoon. Dit was omdat ek ondersteuning gehad en hard gewerk het om ’n toekenning te wen. Dít het my die geleentheid gegee om een van die oudste film festivals te kon bywoon. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie.”Foto’s: Jacques Stander 

Hare, grimering en stilering: Kyra Loubser
Klere, skoene en bykomstighede: Miladys, Alessia Boutique (Kaapstad), Maya Maya Clothing, Jakes Clothing, Cherrie Couture, Needles and Things


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif.



Meer oor:  Bekendes  |  Kuier  |  Aktrise  |  Crystal Donna Roberts  |  Fynskrif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.