Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Crystal-Donna straal: '2020 is my jaar!'
8 Januarie 2020


Toe Crystal-Donna Roberts (35) in Maart verlede jaar met haar welige bos hare op ons voorblad verskyn het, het dié gesoute akteur reeds geweet 2019 gaan die moeilikste jaar van haar lewe wees. Sy is enkele dae voor dié onderhoud met fase twee borskanker gediagnoseer, maar soos altyd het Crystal-Donna die blink kant bo gehou en niks laat blyk nie.

Vir haar was dit lights, camera en action! ’n Paar maande later het sy in ’n oop en eerlike onderhoud met die tydskrif Rooi Rose vertel oor haar kankerstryd. Vir weke lank het mense gegons oor die nuus, want die sterk en private Crystal-Donna het haar stryd teen die groot K agter die kameras gestry. Nou net bietjie minder as ’n jaar later is Crystal-Donna kankervry en gaan sy die jaar 2020 sonder handskoene aanpak.

Laasjaar hierdie tyd sou sy nooit kon raai dat die jaar 2019 haar lewe en perspektief oor die lewe heeltemal sou verander nie. Nou aan die begin van ’n splinternuwe jaar sien sy uit na ’n jaar vol uitdagings en lewenslustigheid! Soos sy dit stel: “2019 was kanker s’n, maar 2020 is Crystal s’n!”

Dis Kuier se eerste onderhoud met Crystal-Donna ná haar stryd teen kanker. Sy is ietwat dieselfde, maar tog so anders – sterker en wyser. Haar natuurlike bos hare het plek gemaak vir ’n pruik, maar haar borrelende persoonlikheid en kenmerkende breë glimlag is steeds dieselfde.

En al het sy aanvanklik ’n bietjie gesukkel om haar haarverlies as gevolg van chemo te aanvaar, het sy in November vir die eerste keer ’n foto op sosiale media gedeel wat wys hoe haar hare nou lyk – #Chemotookmyhair. Op dié foto kom ’n mens presies agter hoeveel kanker van Crystal-Donna weggevat het, maar jy besef ook opnuut dat wanneer die lewe jou ’n tweede kans bied, jy dit met albei hande moet gryp en jouself unapologetically moet aanvaar.

Alles staan stil

Crystal-Donna het met dié foto op sosiale media die tol gewys wat kankerbehandeling op haar hare geëis het.
Ek wou nie hê my hele lewe moes verander nie. Ek wou dinge hou soos wat dit was omdat ek geweet het ek sou die ding oorwin.

Crystal-Donna moes noodgedwonge as gevolg van chemoterapie die kykNET&kie telenovela Arendsvlei verlaat, maar het kykers met haar terugkoms sommer op die punt van hul stoele gehad.

Haar karakter, Janice Cupido met die vlymskerp tong, is soos gewoonlik nie op haar mond geval nie en kykers kan uitsien na sê-goedjies soos min. Kanker kan enigeen tref, maar die diagnose in die derde maand van 2019 was steeds ’n skok. Sy vertel sy het reeds in 2018 vir biopsies gegaan nadat sy erge borspyne ervaar het.

“Ek het in November 2018 vir biopsies gegaan, maar het nooit regtig gedink die diagnose sou positief wees nie. Ek het wel die vrees gehad – dit is mos maar hoe ’n mens is, senuweeagtig.” Sy onthou die dag asof dit gister was. “Dit was 7 Maart en ons was op die stel, besig om te skiet toe ek die oproep van my dokter kry. Ek het onmiddellik daarna hospitaal toe gegaan om met die dokters te gesels.” Direk ná die gesprek met dokters is sy terug na die stel. “Ek was in ’n toestand, in ’n dwaal en het nie geweet of ek kom of gaan nie. ’n Mens berei jou altyd voor op die ergste, maar wanneer dit jou regtig tref, is dit ’n heel ander ball game. Die absolute paniek en vrees oorval jou en dit is asof jy van buite jou liggaam die situasie aanskou.” Sy is met fase twee kanker gediagnoseer.

Crystal-Donna vertolk die rissiepit Janice in Arendsvlei. Hier is sy met haar eksman op skerm, Thys.

Volgens haar was die belangrikste om ’n game plan uit te werk. “Ek wou nie hê my hele lewe moes verander nie. Ek wou dinge hou soos wat dit was omdat ek geweet het ek sou die ding oorwin. My plan was om te veg tot die laaste kankersel uit my liggaam gedryf sou word. Bejammering is ook iets wat ek glad nie gesoek het nie, so ek het die blink kant bo gehou ten alle tye.”

Sy sug diep voor sy sê sy het drie biopsies, ’n dubbelmastektomie, vier reekse chemoterapie en 25 behandelinge met bestraling deurgemaak. “Sjoe, toe ek daar lê en besef ek het lewend aan die ander kant uitgekom, het emosies my oorweldig. Ek het kanker se gat geskop!” Crystal-Donna erken sy is senuweeagtig dat die kanker dalk terug kan keer, maar meen sy gaan nie toelaat dat vrees die koers van haar lewe bepaal nie.

“Ek is so trots op myself en opgewonde om die lewe weer vierkantig in die oë te kyk. Ek het weer die geleentheid om te lewe, om voluit te lewe en trust me, dit is presies wat ek gaan doen dié jaar.”

Terwyl sy na haar verstrengelde vingers kyk, sê sy oop en eerlik. “Die jaar 2019 was die mees uitmergelende jaar nog. Dis die reine waarheid wanneer ek sê 2019 was die uitdagendste, veeleisendste, mees openbarende en insiggewendste jaar in my lewe. Dit het soveel van my energie in beslag geneem, maar ek moet tog erken ek het ook baie dinge oor myself en dié na aan my geleer.”

Crystal-Donna is reg vir die nuwe jaar en al sy uitdagings!

Voorkoms

Dan vertel Crystal-Donna van die wrede ontnugtering wat sy ervaar het gedurende chemoterapie. Sy was eendag in die stort toe haar hare begin uitval het. “ ’n Mens weet dit gaan gebeur, maar niks kan jou voorberei vir die oomblik wanneer dit eintlik gebeur nie.” Crystal moes vir haar ’n pruik kry. “Ek het toe ’n pruik gekry wat so na as moontlik aan my hare lyk, maar dit het my net meer selfbewus laat voel.”

Ook haar wenkbroue en ooghare het uitgeval as gevolg van die behandeling. “Daar was tye wanneer ek nêrens wou gaan nie. Ek wou nie in die publieke oog wees nie en het tyd gevat vir myself. Ek het dit nodig gehad.”

Tog erken Crystal-Donna dat sy weer wou sexy voel en na haarself in die spieël wou kyk. “My hare is nou kort en ek is nog nie heeltemal gewoond daaraan nie, maar elke dag is beter as die vorige dag. Wanneer ek na myself kaalbolyf in die spieël kyk is dit natuurlik nie maklik nie, maar dit is vir my ’n herinnering van waardeur ek is.” Sy raak emosioneel wanneer sy praat oor die feit dat sy moontlik die stryd kon verloor het.

“Ek moes myself telkemale herinner dat ek nie die eerste persoon met kanker is nie en definitief ook nie die laaste nie. Dit was rof en moeilik, maar dit het my dinge oor myself en liggaam geleer wat ek nooit geweet het nie. Ek moes aankap en dit is presies hoekom dit vir my so belangrik is om my beste lewe te lewe in 2020.” En dié vrou is vasbeslote.

“Ek het na my chemobehandeling gaan gym en my liggaam weer topfiks gekry. Dit is nog nie waar dit moet wees nie, maar dit is sterk op pad. My liggaam het so gou herstel dat selfs ek blown away is daarmee, maar dit is die resultaat wanneer jy aanhou en uithou.”

Nuwe begin

Sy dra nou ’n pruik totdat haar hare weer heeltemal teruggroei.

Sy lag voor sy sê 2019 het ook haar siening oor die lewe verander. “ ’n Mens besef nie hoe geseënd jy is om nog ’n dag te kan lewe nie. Ons vat die klein dingetjies vir granted. Vir my gaan dit beslis nie meer die geval wees nie. Ek gaan alles en almal waardeer vir alles wat dit en hulle is. Ek is dankbaar, dankbaar dat ek nog ’n jaar het om alles te bereik wat ek nog altyd wou.”

Met ’n glimlag wat van oor tot oor strek, vertel sy dit is frustrerend dat kanker haar hele 2019 opgeneem het, maar tot hier toe en nie verder nie. “My voorneme vir die nuwe jaar is om te leef en te werk asof elke dag my laaste is. Ek wil die beste ek wees wat ek kan wees – nie net vir my nie, maar ook vir my familie.”

Sy sê haar familie en veral haar man, Schalk, het haar baie ondersteun. “Hulle het nooit gemaak of ek siek is nie en het my onvoorwaardelik ondersteun. En die waarde van hul omgee en liefde is van onskatbare waarde.” Met ’n trotse glimlag en in haar spontane stem sê sy 2020 is die jaar van verbetering, groei, geluk en liefde. “Wanneer iemand vir my gaan sê iets is onmoontlik gaan ek hulle wys dat selfs die onmoontlike moontlik is. Ek kan alles doen wat ek glo ek kan doen. Niks en niemand gaan my keer nie!”

En dan sê Crystal-Donna vasbeslote “My moue is opgerol en die handskoene is af – wees reg 2020, want Crystal-Donna is vuur en vlam terug.” Beter as dit kon ons dit nie stel nie.

* Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

* Grimering en stilering: Kyra Loubser

* Klere en skoene: Industri SA, Gabriella Boutique, Iconic Designs by Gabriella Boutique en MRP

Meer oor:  Kuier  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.